Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Ons is almal een familie

Ons is almal een familie

HOE voel jy oor mense met ’n ander velkleur of van ’n ander etniese groep? Beskou jy hulle as jou gelyke? Ongelukkig beskou baie mense sekere rasse as minderwaardig. “Rassisme” is, volgens een naslaanwerk, “’n opvatting dat ras die vernaamste faktor is wat menslike karaktertrekke en vermoëns bepaal en dat rasseverskille ’n inherente meerderwaardigheid aan ’n spesifieke ras verleen”.

Hierdie opvatting het baie skade veroorsaak. Gevoelens van rassemeerderwaardigheid het “regverdiging voorsien vir koloniale oorheersing en die slawerny van ander groepe mense”, het professor Wen-Shing Tseng in sy Handbook of Cultural Psychiatry geskryf. Hy het bygevoeg dat ras al gebruik is “om sosiale, ekonomiese en politieke ongelykhede te regverdig”. Vandag kom rassisme nog steeds in baie wêrelddele voor. Maar is hierdie skadelike opvatting op die waarheid gegrond? Wat sê die wetenskap en die Bybel?

Wat sê die wetenskap?

Ontdekkings in genetika het bevestig hoe verkeerd rassisme is. Navorsers wat mense van verskillende vastelande bestudeer het, het gevind dat die verskille in DNS tussen enige twee individue wat lukraak uit feitlik enige plek in die wêreld gekies is, sowat 0,5 persent is. * En 86 tot 90 persent van hierdie verskille het in enige van dieselfde rassegroepe voorgekom. Net 14 persent of minder van die 0,5-persent-variasie het dus tussen die rassegroepe voorgekom.

Omdat “mense . . . op genetiese gebied homogeen [is]”, sê die tydskrif Nature, “kan en moet genetika ’n belangrike hulpmiddel wees om lig te werp op die rassekwessie sowel as om dit te ontlont”.

“Mense is op genetiese gebied homogeen”, of wesenlik dieselfde

Sulke denke is nie nuut nie. Van 1950 af het die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie ’n reeks  verklarings gepubliseer om rassisme te probeer teëwerk. Die verklarings is deur antropoloë, genetici en sosioloë geskryf. Nogtans duur rassisme voort. Dit is duidelik dat kennis van die feite nie genoeg is nie. Die hart, of die innerlike mens, moet ook bereik word. “Uit die hart kom daar . . . goddelose redenasies”, het Jesus Christus gesê.—Matteus 15:19, 20.

Die Bybel se beskouing

Die Bybel is geskryf om die hart te raak. Byvoorbeeld, die Bybel meld nie net die wetenskaplike waarheid dat “[God] uit een mens elke nasie van die mense gemaak [het] om op die hele oppervlak van die aarde te woon” nie, maar dit sê ook dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35; 17:26). Voel jy nie aangetrokke tot so ’n regverdige God nie?—Deuteronomium 32:4.

Jehovah God wil hê dat ons ons liefde vir hom moet toon deur soos hy te word. “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel”, sê Efesiërs 5:1, 2. “Om in liefde te wandel”, behels dat ons mense moet liefhê soos God hulle liefhet, ongeag hulle velkleur of etniese agtergrond.—Markus 12:31.

God sal nie mense wie se harte vol slegtheid is, waaronder haat en rassevooroordeel, as sy knegte aanvaar nie (1 Johannes 3:15). Trouens, die tyd kom vinnig nader wanneer God alle goddelose mense van die aarde af sal verdelg. Slegs diegene wat sy eienskappe naboots, sal behoue bly. Dan sal die mensdom waarlik net een familie wees—fisies en geestelik.—Psalm 37:29, 34, 38.

^ par. 5 Die relatief min genetiese verskille tussen mense kan egter op mediese gebied betekenisvol wees, aangesien sommige siektes blykbaar ’n genetiese verband het.