Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 Die Bybel se beskouing

Wie is Satan? Bestaan hy werklik?

Wie is Satan? Bestaan hy werklik?

SOMMIGE hedendaagse geleerdes sê dat Satan nie ’n werklike persoon is nie. Hulle beweer dat hy bloot in die verbeelding van mense geskep is. Hierdie omstrede kwessie is niks nuuts nie. “Die Duiwel se slinkste set”, het die 19de-eeuse digter Charles-Pierre Baudelaire geskryf, “is om ons te oortuig dat hy nie bestaan nie.”

Is Satan ’n werklike persoon? Indien wel, waar het hy vandaan gekom? Is hy die onsigbare mag agter die probleme wat ons wêreld teister? Hoe kan jy sy bose invloed vermy?

Is Satan die onsigbare mag agter die probleme wat ons wêreld teister?

Wat die Bybel sê

Die Bybel beskryf Satan as ’n werklike persoon wat in die onsigbare geesteryk bestaan (Job 1:6). Dit vertel ons van sy boosaardige en hartelose eienskappe sowel as sy bose dade (Job 1:13-19; 2:7, 8; 2 Timoteus 2:26). Dit bevat selfs verslae van gesprekke wat Satan met God en Jesus gehad het.—Job 1:7-12; Matteus 4:1-11.

Waar het so ’n bose wese vandaan gekom? Lank voordat die mens bestaan het, het God sy ‘eersgebore’ Seun, wat later as Jesus bekend geword het, geskep (Kolossense 1:15). Mettertyd is ander “seuns van God”, wat engele genoem word, ook geskep (Job 38:4-7). Almal van hulle was volmaak en regverdig. Maar een van daardie engele het Satan geword.

Satan is nie die naam wat aan hom gegee is toe hy geskep is nie. Dit is ’n beskrywende  naam wat “Teenstander; Vyand; Beskuldiger” beteken. Hy is later Satan genoem omdat hy ’n lewensweg in verset teen God gekies het.

’n Gevoel van trots en wedywering teenoor God het in hierdie geesskepsel ontwikkel. Hy wou hê dat ander hom moet aanbid. Toe God se eersgebore Seun, Jesus, op aarde was, het Satan selfs probeer om Jesus oor te haal om “’n daad van aanbidding” teenoor hom te verrig.—Matteus 4:9.

Satan het “nie in die waarheid vasgestaan nie” (Johannes 8:44). Hy het geïmpliseer dat God ’n leuenaar is, terwyl hý in werklikheid die leuenaar is. Hy het vir Eva gesê dat sy soos God kan word, maar hý wou soos God wees. En deur middel van sy bedrieglike taktieke het hy sy selfsugtige begeerte vervul. In sy optrede teenoor Eva het hy hom bo God verhef. Deur Satan te gehoorsaam, het Eva Satan as haar god aanvaar.—Genesis 3:1-7.

Deur opstand aan te stook, het hierdie eens vertroude engel homself Satan gemaak—’n teenstander en vyand van God en die mens. Die naam “Duiwel”, wat “Lasteraar” beteken, is ook aan hierdie bose geesskepsel gegee om hom te beskryf. Hierdie aanstigter van sonde het uiteindelik ander engele beïnvloed sodat hulle ongehoorsaam aan God was en saam met hom in opstand gekom het (Genesis 6:1, 2; 1 Petrus 3:19, 20). Hierdie engele het die mensdom se situasie nie verbeter nie. Omdat hulle Satan se selfsugtige weë gevolg het, het “die aarde . . . vol geweld geraak”.—Genesis 6:11; Matteus 12:24.

Hoe kragtig is Satan se invloed?

’n Misdadiger verwyder dalk sy vingerafdrukke van ’n misdaadtoneel in ’n poging om geen spoor van sy identiteit agter te laat nie. Maar wanneer die polisie daar aankom, weet hulle dat daar ’n misdadiger moet wees, aangesien ’n misdaad gepleeg is. Satan, die oorspronklike “mensemoordenaar”, probeer om geen spoor van sy identiteit agter te laat nie (Johannes 8:44; Hebreërs 2:14). Toe Satan met Eva gepraat het, het hy ’n slang gebruik om sy identiteit weg te steek. Hy probeer vandag nog wegkruip. Hy het “die verstande van die ongelowiges verblind” om die omvang van sy kragtige invloed te verberg.—2 Korintiërs 4:4.

Jesus het Satan egter geïdentifiseer as die meesterbrein agter die korrupte wêreld waarin ons lewe. Hy het hom “die heerser van hierdie wêreld” genoem (Johannes 12:31; 16:11). “Die hele wêreld lê in die mag van die bose”, het die apostel Johannes geskryf (1 Johannes 5:19). Satan maak op doeltreffende wyse gebruik van “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” om “die hele bewoonde aarde [te] mislei” (1 Johannes 2:16; Openbaring 12:9). Die mensdom oor die algemeen is dus in werklikheid gehoorsaam aan hóm.

Soos die geval was met Eva, maak diegene wat Satan gehoorsaam, hom in werklikheid hulle god. Satan is dus “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Korintiërs 4:4). Die gevolge van sy heerskappy sluit in huigelary en leuens; oorlog, marteling en vernietiging; misdaad, hebsug en korrupsie.

Hoe jy sy invloed kan vermy

Die Bybel waarsku: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam.” Waarom? Want “julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Hoewel hierdie teks ons tot nadenke stem, is dit gerusstellend om te weet dat ‘Satan die oorhand sal kry’ slegs oor diegene wat nie nugter van verstand bly nie—diegene wat nie aanhou waak nie.—2 Korintiërs 2:11.

Dit is noodsaaklik om te aanvaar dat Satan werklik bestaan en toe te laat dat God ons “standvastig maak” en ons “sterk maak”. Sodoende kan ons “[Satan] weerstaan” en ons aan God se kant skaar.—1 Petrus 5:9, 10.