Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 Die Bybelse beskouing

Moet Christene vir ander preek?

Moet Christene vir ander preek?

VOLGENS jou opvoeding of kultuur word godsdiens moontlik nie buite die gesin of die kerk bespreek nie. Gevolglik raak jy dalk geïrriteerd as iemand ongenooid met ’n Bybel in die hand na jou huis toe kom. Party mense het hierdie beskouing as gevolg van gewelddade in die geskiedenis van die godsdiens wat gepleeg is onder die skyn van veldtogte om siele te red.

In die geskiedenis van baie volke lees ons van massabekerings, waarvan die dryfveer nie die liefde vir die Christus was nie, maar eerder vrees vir die skerpte van die swaard. Baie mense het weggekruip, hulle tuiste en land verlaat of selfs hulle lewe verloor—sommige op die brandstapel—eerder as om hulle tot hulle vervolgers se godsdiens te bekeer.

Die Bybel se geïnspireerde woorde ondersteun nie sulke gedwonge bekerings nie. Beteken dit dan dat ’n mens nie met ander oor jou godsdiensoortuigings kan praat nie? Die Bybel self gee die antwoord.

Onderrigting met gesag

Kyk eerstens na die voorbeeld wat Jesus Christus gestel het. Hy was ’n meesterlike onderrigter wat ’n invloed gehad het op die lewe van diegene wat na hom geluister het (Johannes 13:13, 15). In die Bergpredikasie het hy op eenvoudige maar tog kragtige wyse onderrig. Diegene wat na hom geluister het, was gevolglik “verstom . . . oor die manier waarop hy geleer het; want hy het hulle geleer soos iemand wat gesag het” (Matteus 7:28, 29). Sowat 2 000 jaar later het sy leringe nog steeds ’n invloed op diegene wat dit ondersoek. Professor Hans Dieter Betz het hierdie beskouing beaam en gesê: “Die invloed wat die Bergpredikasie uitoefen, strek oor die algemeen baie verder as die grense van Judaïsme en die Christelike godsdiens, of selfs van die Westerse kultuur.”

Net voor Jesus in die hemel opgevaar het, het hy ’n gebod gegee wat verseker het dat die onderrigtingswerk waarmee hy begin het, ná sy dood sou voortduur en selfs sou uitbrei (Johannes 14:12). Hy het sy dissipels die opdrag gegee om na mense van alle nasies te gaan en ‘hulle te leer om alles te onderhou’ wat hy beveel het. Jesus het verduidelik wat die hoofdoel van hierdie opdrag was toe hy terselfdertyd gesê het: “Gaan dus en maak dissipels.”Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8.

Dink ook aan die voorbeeld van die apostel Paulus. Nadat hy hom tot die Christelike godsdiens bekeer het, het hy nie gehuiwer om oor sy nuutgevonde geloof te praat nie (Handelinge 9:17-19, 22). Dit was Paulus se gewoonte om in sinagoges te praat en “deur verwysings [te] bewys dat die Christus moes ly en uit die dode moes opstaan”. Hy het op bekwame wyse “uit die Skrif met hulle geredeneer” om “Jode en Grieke [te] oorreed”.  Volgens een naslaanwerk beteken die Griekse woord wat met “oorreed” vertaal word, “om ’n verandering in denke deur middel van redenering of sedelike oorwegings teweeg te bring”. Die gevolg van Paulus se oortuigende argumente was dat hy “’n aansienlike menigte oorreed het en hulle tot ’n ander mening gebring het”.—Handelinge 15:3; 17:1-4, 17; 18:4; 19:26.

Dwang of oortuiging—Watter een?

In hedendaagse tye verwys die term “proselitisme” na die een of ander vorm van gedwonge bekering. Hierdie gebruik word nie deur die Bybel ondersteun nie. Dit leer eerder dat mense met wilsvryheid geskep is en die voorreg en verantwoordelikheid het om self te kies hoe hulle hulle lewe wil lei. Dit sluit ook hulle keuse in wat die aanbidding van God betref.—Deuteronomium 30:19, 20; Josua 24:15.

Jesus het respek getoon vir hierdie godgegewe reg deur nooit sy ontsagwekkende krag en gesag te gebruik om enigiemand te dwing om sy woorde te aanvaar nie (Johannes 6:66-69). Hy het diegene wat na hom geluister het, gemotiveer deur gegronde redenasies, illustrasies en beskouingsvrae te gebruik—dit alles sodat hy hulle hart kon bereik (Matteus 13:34; 22:41-46; Lukas 10:36). Jesus het sy dissipels geleer om hierdie selfde respek vir ander te toon.—Matteus 10:14.

Dit is duidelik dat Paulus Jesus se voorbeeld in sy bediening nagevolg het. Hoewel Paulus diegene wat na hom geluister het, deur middel van gegronde skriftuurlike redenasies oortuig het, het hy die gevoelens en beskouings van ander gerespekteer (Handelinge 17:22, 23, 32). Hy het besef dat dit ons liefde vir God en vir Christus moet wees wat ons aanspoor om ons Skepper daadwerklik te dien (Johannes 3:16; 21:15-17). Dit is dus ’n persoonlike besluit.

’n Persoonlike besluit

Wanneer verstandige mense belangrike besluite in die lewe neem, soos om ’n huis te koop, waar om te werk en hoe om kinders groot te maak, doen hulle dit nie op die ingewing van die oomblik nie. Hulle ondersoek moontlik hulle opsies, dink na oor wat hulle uitgevind het en vra waarskynlik raad. Eers nadat hulle hierdie dinge oorweeg het, sal hulle ’n besluit neem.

Die besluit oor hoe ons God moet aanbid, verdien meer van ons tyd en inspanning as enige ander besluit in die lewe. Dit sal ’n invloed hê op die manier waarop ons ons lewe nou lei; en nog belangriker, dit sal ’n invloed hê op ons vooruitsig op die ewige lewe in die toekoms. Die eerste-eeuse Christene in Berea het dit duidelik ingesien. Al het die apostel Paulus persoonlik die goeie nuus aan hulle verduidelik, het hulle nog steeds die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek om seker te maak dat wat hulle geleer is, die waarheid was. “Baie van hulle het dus gelowiges geword.”—Handelinge 17:11, 12.

Jehovah se Getuies gaan vandag voort met die onderrigtings- en dissipelmaakwerk wat deur Jesus ingestel is (Matteus 24:14). Hulle respekteer die reg van ander om hulle eie geloof te hê. Maar wanneer hulle met ander oor hulle godsdiensoortuigings praat, volg hulle die patroon wat in die Bybel uiteengesit is. Ja, hulle maak van eerlike redenasies uit die Skrif gebruik in ’n werk wat hulle as lewensreddend beskou.—Johannes 17:3; 1 Timoteus 4:16.