Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Die Aborsiedilemma—Is 60 miljoen moorde die oplossing?

Die Aborsiedilemma—Is 60 miljoen moorde die oplossing?

VERWARD, verskrik, met haar oë vol trane kyk ’n 15-jarige meisie hoe haar kêrel verergd wegstap. Hy het gesê sy is onnosel omdat sy swanger geraak het. Sy het gedink hulle het mekaar lief.

’n Vrou is wanhopig wanneer sy besef dat sy haar sesde kind verwag. Haar man het nie werk nie en die kinders gaan elke aand honger slaap. Hoe op aarde kan hulle vir nog ’n kind sorg?

“Dit kon nie op ’n slegter tyd gebeur het nie”, verduidelik ’n goed geklede vrou aan haar dokter. Sy het eindelik haar ingenieursgraad verwerf en staan op die punt om met haar nuwe loopbaan te begin. Haar man is heeltemal verdiep in sy regspraktyk. Waar gaan hulle vir ’n baba tyd kry?

Hierdie mense se lewens verskil hemelsbreed en hulle staan voor verskillende dilemmas, maar hulle kies dieselfde oplossing: aborsie.

Aborsie is een van die mees omstrede vraagstukke van die dekade en veroorsaak hewige debatte op politieke, sosiale, mediese en teologiese gebied. In die Verenigde State hou pro-lewe-groepe betogings vir die regte van die ongeborenes. Die pro-keuse-groep staan op die beginsel van vryheid en ’n vrou se reg om te besluit. Pro-lewe-stryders beveg vryheidsvegters by verkiesings, in hofsale, in kerke, selfs op straat.

Miljoene is in ’n stryd gewikkel omdat hulle deur albei kante se vurige argumente verdeel word. Selfs die uitdrukkings “pro-keuse” en “pro-lewe” is versigtig gekies om die besluiteloses oor te haal. Wie sal nie in hierdie tyd wanneer vryheid verafgood word ten gunste van vrye keuse wees nie? Maar wie sal daarenteen nie ten gunste van lewe wees nie? Pro-keuse-groepe betoog met klerehangers om die dood van verdrukte vroue wat onveilige, onwettige aborsies ondergaan het te dramatiseer. Pro-lewe-voorstanders betoog met flesse geaborteerde fetusse as ’n sombere herinnering aan miljoene ongebore dooies.

Hierdie hele, verskriklike tragedie word raak beskryf in Laurence H. Tribe se boek Abortion: The Clash of Absolutes. “Talle wat die tasbare mensheid van ’n fetus besef, wat hoë waarde daaraan heg en daaroor huil, sien skaars die vrou wat dit dra en die verknorsing waarin sy haar as mens bevind. . . . Baie ander, wat vir die vrou en haar liggaam begrip het, wat daarop aandring dat sy die reg het om haar lot te bepaal, sien skaars die fetus wat sy dra raak en beskou nie die lewe wat dit moontlik kon lei as ’n werklikheid nie.”

Terwyl hierdie morele oorlog voortwoed, sal tussen 50 miljoen en 60 miljoen ongeborenes vanjaar die slagoffers word van hierdie stryd om regte.

Wat is jou standpunt ten opsigte van hierdie emosionele kwessie? Hoe sal jy op die volgende belangrike vrae antwoord: Het ’n vrou die fundamentele reg om te besluit? Is ’n aborsie onder enige omstandighede geregverdig? Wanneer begin lewe? En die belangrikste vraag, maar een wat selde gevra word: Hoe beskou die Skepper van die lewe en van geboorte aborsie?

Aborsie het ’n lang geskiedenis. In antieke Griekeland en Rome was aborsie iets algemeens.  In Europa is dit gedurende die Middeleeue en die Renaissance as toelaatbaar beskou tot lewetoning, dit wil sê, wanneer die moeder lewe in die baarmoeder kon voel. Die seksuele revolusie het gevolge meegebring—miljoene ongewenste swangerskappe.

Een kenmerk van die sestigerjare was die opkoms van die vrouebeweging, wat die sogenaamde voortplantingsreg as ’n hoeksteen het. Party eis aborsieregte vir swanger slagoffers van verkragting of bloedskande of wanneer die moeder se gesondheid in gevaar is. Die mediese tegnologie het dit moontlik gemaak om ’n kykie in die baarmoeder te kry sodat moontlike geboortedefekte en die baba se geslag vasgestel kan word. Swangerskappe word op grond van ’n dokter se pessimistiese prognose beëindig. Vroue bo 40 bekommer hulle dalk oor misvormdheid.

In armoedige lande meen baie vroue vir wie geboortebeperkingsmiddele nie geredelik beskikbaar is nie dat hulle nie nog meer kinders kan onderhou nie. En party swanger vroue, wat die definisie van pro-keuse tot die uiterste voer, besluit om ’n fetus af te dryf omdat hulle meen dat dit net nie die regte tyd vir ’n swangerskap is nie of omdat hulle uitvind wat die geslag van die ongebore kind is en hulle eenvoudig nie die kind wil hê nie.

Talle aggressiewe argumente wat oor hierdie konflik aangevoer word, het te doen met die vraag oor wanneer lewe begin. Die meeste mense sal saamstem dat die bevrugte eiersel lewe. Die vraag is: As wat lewe dit? As blote weefsel? Of is dit ’n mens? Is ’n akker ’n eikeboom? Is ’n fetus dan ’n persoon? Het hy burgerregte? Die woordestryd het geen einde nie. Hoe ironies is dit tog dat daar in dieselfde hospitaal dokters is wat moontlik grootmoedig vir die lewe van ’n vroeggebore baba veg en tog die lewe van ’n fetus van dieselfde ouderdom neem! Die wet laat hulle dalk toe om ’n baba in die baarmoeder dood te maak, maar as die baba buite die baarmoeder is, is dit moord.

Diegene wat die sterkste op wettige aborsie aandring, is “bevryde” feministe vir wie geboortebeperkingsmetodes om swangerskap in die eerste plek te verhinder geredelik beskikbaar is. Hulle maak heftig aanspraak op iets wat voortplantingsregte genoem word, hoewel hulle in werklikheid reeds gebruik gemaak het van hulle vermoë om lewe te verwek en voort te plant. Wat hulle eintlik wil hê, is die reg om daardie voortplanting ongedaan te maak. Hoe word dit geregverdig? “Dit is my liggaam!” Maar is dit werklik?

Moeder: “Dit is my liggaam!”

Baba: “Nee! Dit is my liggaam!”

Abortion—A Citizens’ Guide to the Issues sê dat “die klein hoeveelheid jellieagtige weefsel baie maklik verwyder kan word” binne die eerste 12 weke van swangerskap. Kan aborsie tereg beskou word as “die verwydering van ’n stukkie weefsel” of “die beëindiging van die produk van  bevrugting”? Of is hierdie verbloemde uitdrukkings bedoel om die bittere waarheid aanvaarbaar te maak en gekwelde gewetens te sus?

Daardie ongewenste stukkie weefsel is ’n groeiende, ontwikkelende, volwaardige lewe met sy eie groep chromosome. Dit vertel, soos ’n profetiese outobiografie, in besonderhede die verhaal van hoe ’n unieke individu besig is om te ontwikkel. A. W. Liley, beroemde navorsingsprofessor in fetologie, verduidelik: “Ons kan op geen tydstip biologies saamstem met die sienswyse dat die fetus bloot ’n aanhangsel van die moeder is nie. Geneties gesproke is die moeder en die baba van bevrugting af afsonderlike individue.”

Onverantwoordelike gedrag

Talle meen nietemin dat hulle nie werklik teen ongewenste swangerskap hoef te waak nie aangesien ’n aborsie so maklik verkry kan word. Hulle verkies aborsie as ’n opsie om ontslae te raak van enige “ongelukkies” wat hulle oorkom.

Statistiek toon dat geslagsrypheid in hierdie eeu op ’n vroeër ouderdom bereik word. Gevolglik is jonger kinders in staat om geboorte te gee. Word hulle geleer met watter groot verantwoordelikheid daardie voorreg gepaardgaan? Die gemiddelde Amerikaner verloor sy of haar maagdelikheid teen 16 en 1 uit 5 voor 13. Een derde van die getroude mans en vrouens het ’n buite-egtelike verhouding of het in die verlede een gehad. Aborsie vind veral byval onder dié wat promisku is. Net soos mense van tyd tot tyd vra dat prostitusie gewettig moet word om die verspreiding van vigs te bekamp, het die wettiging van aborsie die gebruik moontlik medies effens veiliger gemaak, maar dit het terselfdertyd ’n vrugbare omgewing geskep waarin sedelike verdorwenheid kan floreer, en dit floreer wel.

Slagoffers van geweld of van omstandighede?

Studies toon, interessant genoeg, dat swangerskap weens verkragting baie selde voorkom. Een opname het getoon dat daar onder 3500 slagoffers van opeenvolgende verkragtingsgevalle in Minneapolis, VSA, nie ’n enkele geval van swangerskap was nie. Slegs 22 van die 86 000 aborsies in die eertydse Tsjeggo-Slowakye is weens verkragting uitgevoer. Daar is dus net ’n klein persentasie vroue wat om hierdie redes ’n aborsie aanvra.

Wat van die ontstellende voorspellings van vreeslik misvormde babas met onherstelbare geboortedefekte? Party dokters beveel sommer by die eerste teken van probleme ’n aborsie aan. Kan hulle heeltemal seker wees van die diagnose? Baie ouers kan getuig dat sulke sombere voorspellings ongegrond kan wees en hulle het gelukkige, gesonde kinders as bewys daarvan. Ander, met kinders wat as gestremdes beskou word, is net so bly om ouers te wees. Trouens, slegs 1 persent van diegene wat in die Verenigde State ’n aborsie aanvra, doen dit omdat hulle uitvind dat die fetus dalk die een of ander gebrek het.

Nogtans het honderde ongebore babas gesterf gedurende die tyd wat dit jou geneem het om hierdie artikel te lees. Waar gebeur dit? En hoe raak dit die lewe van diegene wat daarby betrokke is?