Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Aborsie se tragiese slagoffers

Aborsie se tragiese slagoffers

TUSSEN 50 miljoen en 60 miljoen ongebore babas sterf jaarliks weens aborsie. Besef jy hoeveel dit is? Dit is soos om elke week die hele bevolking van die Hawaii-eilande uit te wis!

Dit is moeilik om juiste syfers in die hande te kry aangesien die meeste regerings nie noukeurig van aborsies verslag hou nie. En waar aborsies beperk word of onwettig is, kan deskundiges net ’n raaiskoot waag. Maar ’n oorsig van wêreldwye aborsies lyk min of meer soos volg:

In die Verenigde State is aborsie naas mangeluitsnyding die algemeenste operasie wat uitgevoer word. Daar word jaarliks meer as 1,5 miljoen aborsies gedoen. Die oorgrote meerderheid van die vroue—4 uit 5—is ongetroud. Ongetroude vroue beëindig hulle swangerskap twee keer so dikwels as wat hulle geboorte gee, terwyl getroude vrouens gemiddeld tien keer meer geboorte gee as wat hulle ’n aborsie ondergaan.

Sentraal- en Suid-Amerika—wat grotendeels Katoliek is—het die strengste aborsiewette ter wêreld. Onwettige aborsie kom nietemin volop voor en hou ernstige gesondheidsgevare vir vroue in. Verlede jaar het Brasiliaanse vroue byvoorbeeld viermiljoen aborsies ondergaan. Meer as 400 000 van hulle moes weens komplikasies mediese behandeling kry. In Latyns-Amerika word sowat ’n kwart van alle swangerskappe beëindig.

Aan die anderkant van die Atlantiese Oseaan, op die vasteland van Afrika, is die wette ook streng. Fisiese beserings en sterfgevalle is iets algemeens, veral onder arm vroue wat by vrugafdrywers om hulp aanklop.

Baie lande in die Midde-Oose het streng geskrewe wette, maar aborsies word steeds algemeen aangevra en uitgevoer op dié vroue wat die hoë fooie kan bekostig.

Die meeste Wes-Europese lande laat sekere aborsies toe, en Skandinawië is die liberaalste. Brittanje se Nasionale Gesondheidsdiens hou al van aborsies verslag sedert die prosedure in 1967 gewettig is. Hulle het opgemerk dat die aantal aborsies verdubbel het en dat daar ’n toename in buite-egtelike geboortes, seksueel oordraagbare siektes, prostitusie en ’n hele klomp voortplantingskwale was.

In Oos-Europa vind daar op die oomblik baie veranderinge plaas, en aborsiewette daar is ook besig om te verander. In die eertydse Sowjetunie word daar na skatting jaarliks 11 miljoen aborsies gedoen, een van die hoogste syfers ter wêreld. Aangesien voorbehoedmiddels skaars is en ekonomiese toestande sleg is, kan die gemiddelde vrou in daardie gebied tydens haar lewe tussen ses en nege aborsies ondergaan.

In die hele Oos-Europa is die algemene neiging een van liberalisering. ’n Dramatiese voorbeeld hiervan is Roemenië, waar die vorige regeringstelsel aborsie en geboortebeperking daadwerklik verbied het ten einde bevolkingsaanwas aan te moedig. Vroue was verplig om ten minste vier kinders te hê en teen 1988 was Roemeense weeshuise propvol weggooikinders. Aangesien die revolusionêre regering van 1989 hierdie beperkings op aborsie opgehef het, word 3 uit elke 4 babas nou afgedryf, wat dit Europa se hoogste verhoudingsyfer maak.

Asië het die meeste aborsies. Die Volksrepubliek van China, met sy eenkindbeleid en verpligte aborsies, staan boaan die lys en meld 14 miljoen per jaar aan. In Japan versier vrouens  klein beeldjies met borslappies en speelgoed ter herinnering aan hulle geaborteerde kinders. Die publiek is baie bang om geboortebeperkingspille te gebruik en aborsie is die vernaamste gesinsbeplanningsmetode.

In die hele Asië, en veral in Indië, het die mediese tegnologie stryders vir vroueregte in ’n moeilike posisie geplaas. Tegnieke soos amniosentese en ultraklank kan gebruik word om ’n baba se geslag al hoe vroeër in die swangerskap vas te stel. Die Oosterse kultuur heg lank reeds meer waarde aan seuns as aan dogters. Groot aantalle vroulike fetusse word dus afgedryf op plekke waar geslagsbepalingsprosedures sowel as aborsie maklik verkrygbaar is, en dit veroorsaak dat die verhouding tussen seuns en dogters wat gebore word ongebalanseerd is. Die vrouebeweging bevind hulle nou in die teenstrydige posisie waar hulle in werklikheid eis dat die vrou die reg moet hê om haar vroulike fetus af te dryf.

In Asië, waar seuntjies verkies word, dryf dokters duisende vroulike fetusse af

Wat ’n moeder voel

Soos dit met ander mediese prosedures die geval is, gaan aborsie met ’n mate van risiko en pyn gepaard. Tydens swangerskap is die baarmoedernek, of serviks, ter wille van die baba se veiligheid styf toe. As dit oopgerek word en instrumente daarin gesteek word, kan dit pynlik en traumaties wees. Die suigaborsie kan sowat 30 minute duur, waartydens party vroue matige tot hewige pyn en krampe kan ondervind. In die geval van ’n soutoplossingaborsie word vervroegde kraam teweeggebring, soms met behulp van prostaglandien, ’n middel wat die geboorteproses aan die gang sit. Die kontraksies kan ure of selfs dae duur en kan pynlik en emosioneel uitputtend wees.

Onmiddellike komplikasies by aborsie is onder andere bloeding, skade aan of skeuring van die serviks, deurboring van die baarmoeder, bloedklonte, ’n reaksie op die narkose, stuiptrekkings, koors, kouekoors en braking. Die gevaar van infeksie is veral hoog as dele van die baba of nageboorte in die baarmoeder agterbly. Onvoltooide aborsies kom algemeen voor en ’n operasie kan dan nodig wees om verrottende weefsel wat agtergebly het, of selfs die hele baarmoeder, te verwyder. Regeringstudies in die Verenigde State, Brittanje en die eertydse Tsjeggo-Slowakye dui daarop dat aborsie die latere kanse op onvrugbaarheid, buisswangerskap, miskrame, vroeggeboorte en geboortedefekte grootliks vermeerder.

C. Everett Koop, die destydse geneesheer-generaal van Amerika, het opgemerk dat niemand nog “’n studie [gedoen het] oor die emosionele reaksie of die skuldgevoel van die vrou wat ’n aborsie gehad het en nou bitter graag ’n baba wil hê, maar nie kan nie”.

 Studies oor aborsie moes in hulle kontrolegroepe kuis, jong Christene ingesluit het wat uit respek vir God se wette en vir die lewe maagde bly. Die studies sou bevind het dat hierdie jongmense gesonder verhoudings, groter selfrespek en blywende gemoedsrus geniet.

Wat ’n ongebore baba voel

Hoe voel dit vir ’n ongebore baba wat veilig in die warmte van sy moeder se baarmoeder lê om ewe skielik met dodelike geweld aangeval te word? Ons kan ons dit slegs voorstel, want die verhaal sal nooit eerstehands vertel word nie.

Die meeste aborsies word binne die eerste 12 weke van lewe uitgevoer. Teen daardie tyd begin die klein fetussie al asemhaal en sluk, en sy hartjie klop. Hy kan sy toontjies omkrul, ’n vuisie maak, in sy waterwêreld bollemakiesie slaan—en pyn voel.

Baie fetusse word van die baarmoeder losgeruk en deur ’n vakuumbuis met ’n skerp rand in ’n fles ingesuig. Die prosedure word vakuumsuiging genoem. Die sterk suigaksie (29 keer sterker as ’n huishoudelike stofsuier) skeur die klein liggaampie uitmekaar. Ander babas word deur dilatasie en kurettasie verwyder, wanneer ’n lepelvormige mes die baarmoederwand skoon skraap en die baba in stukkies sny.

Die soutoplossingsmetode, of soutvergiftiging, kan op fetusse gebruik word wat ouer as  16 weke is. ’n Lang naald word in die sak vrugwater gesteek en van die vrugwater word uitgetrek en met ’n sterk soutoplossing vervang. Wanneer die baba sluk en asemhaal en sy delikate longetjies met die gifoplossing gevul word, spartel hy en kry hy stuiptrekkings. Die byt-effek van die gif brand die boonste lagie vel weg sodat dit rou en verskrompeld is. Sy brein kan begin bloei. ’n Pynlike dood volg miskien na ure, maar soms word daar ’n lewende, maar sterwende baba gebore wanneer die ma ’n dag of wat later begin kraam.

As die baba te groot is om deur hierdie of soortgelyke metodes doodgemaak te word, bly daar een opsie oor—histerotomie, ’n keisersnee met ’n ander doel, naamlik om ’n lewe te beëindig pleks van te red. ’n Sny word in die moeder se buik gemaak en daar word feitlik altyd ’n lewende baba uitgehaal. Hy mag selfs huil. Maar hy moet eenkant gelaat word om te sterf. Party word opsetlik doodgemaak deur hulle te versmoor, te verdrink en op ander maniere om die lewe te bring.

Wat ’n dokter voel

Dokters aanvaar al eeue lank die waardes wat vervat word in die gerespekteerde Hippokratiese eed wat ten dele sê: “Ek sal aan niemand ’n dodelike verdowingsmiddel gee nie, al word ek ook om een gevra, of iemand aanraai om een te neem nie, en ek sal aan geen vrou ’n dodelike preparaat gee [om vrugafdrywing te veroorsaak] nie, maar ek sal my beroep skuldeloos en eervol beoefen.”

Voor watter etiese stryd kom dokters te staan wat die lewe in die baarmoeder beëindig? Dr. George Flesh beskryf dit só: “My eerste aborsies, as ’n intern en ’n inwonende dokter, het my nie emosioneel geraak nie. . . . My verwyt het begin nadat ek honderde aborsies uitgevoer het. . . . Waarom het ek verander? Vroeg in my praktyk het ’n egpaar my genader en om ’n aborsie gevra. Aangesien die pasiënt se serviks hard was, kon ek dit nie ooprek om die aborsie uit te voer nie. Ek het haar gevra om die volgende week terug te kom, wanneer die serviks sagter sou wees. Die egpaar het teruggekom en gesê dat hulle van plan verander het. Sewe maande later het ek die bevalling behartig.

“Jare later het ek met klein Jeffrey gespeel in die swembad van die tennisklub waarvan ek en sy ouers lede is. Hy was ’n gelukkige en pragtige kind. Dit het my met afgryse vervul om te dink dat slegs ’n tegniese hindernis voorkom het dat ek Jeffrey se potensiële lewe beëindig het. . . . Om ’n ontwikkelde fetus bloot op die moeder se versoek uitmekaar te skeur, is volgens my mening ’n daad van verdorwenheid wat nie deur die gemeenskap toegelaat behoort te word nie.”

In die Verenigde State is 4 uit 5 van die vroue wat aborsies aanvra ongetroud

’n Verpleegster wat opgehou het om met aborsies te help, het die volgende oor haar werk in ’n aborsiekliniek gesê: “Een van ons take was om die liggaamsdele te tel. . . . As die meisie huis toe gaan terwyl daar nog dele van die baba in haar baarmoeder is, kan dit ernstige probleme veroorsaak. Ek het die dele versigtig nagegaan om seker te maak dat daar twee armpies, twee beentjies, ’n lyfie, ’n koppie was. . . . Ek het vier kinders. . . . My beroepslewe en my persoonlike lewe het kwaai gebots en ek kon hulle nie met mekaar versoen nie. . . . Aborsie is ’n netelige saak.”