Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK TIEN

Hy het rein aanbidding verdedig

Hy het rein aanbidding verdedig

1, 2. (a) Onder wat het Elia se volksgenote gebuk gegaan? (b) Voor watter teenstand het Elia op die berg Karmel te staan gekom?

ELIA het uitgekyk oor die skare terwyl hulle met moeite teen die hange van die berg Karmel oploop. Selfs in die dowwe vroeë oggendlig was dit duidelik te sien dat hierdie mense onder armoede en ontbering gebuk gaan. Die droogte van drie en ’n half jaar het diep spore op hulle nagelaat.

2 Tussen hulle het die 450 profete van Baäl windmakerig geloop, vol trots en met ’n brandende haat teen Elia, Jehovah se profeet. Koningin Isebel het al baie knegte van Jehovah tereggestel, maar hierdie man het nog steeds vasgestaan teen Baälaanbidding. Maar hoe lank nog? Miskien het hierdie priesters geredeneer dat ’n enkele man nooit teen hulle almal sou kon staande bly nie (1 Kon. 18:4, 19, 20). Koning Agab het ook gekom, in sy koninklike strydwa. Hy het ook niks van Elia gehou nie.

3, 4. (a) Waarom het Elia moontlik ’n mate van vrees ervaar toe ’n belangrike dag aangebreek het? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

3 ’n Dag vol dramatiese gebeure het vir hierdie profeet voorgelê. Terwyl Elia toegekyk het, is die toneel voorberei vir een van die skouspelagtigste konfrontasies tussen goed en kwaad wat die wêreld ooit gesien het. Hoe het hy gevoel toe hierdie dag aangebreek het? Hy was nie immuun teen vrees nie, want hy was “’n mens met gevoelens soos ons s’n”. (Lees Jakobus 5:17.) Ons kan ten minste hiervan seker wees: Omring deur die ontroue volk, hulle afvallige koning en daardie moorddadige priesters het Elia baie alleen gevoel.—1 Kon. 18:22.

4 Maar hoe het Israel in hierdie krisis beland? En wat het hierdie verslag met jou te doen? Beskou Elia se voorbeeld van geloof en kyk hoe prakties dit vandag vir ons kan wees.

’n Lang stryd bereik ’n klimaks

5, 6. (a) In die greep van watter stryd was Israel? (b) Hoe het koning Agab Jehovah ernstig aanstoot gegee?

5 Gedurende die grootste deel van sy lewe het Elia magteloos  toegekyk terwyl die beste aspek van sy vaderland en sy volk verwaarloos en vertrap word. Israel was in die greep van ’n lang stryd, ’n oorlog tussen rein en valse godsdiens, tussen die aanbidding van Jehovah God en die afgodediens van die omliggende nasies. Hierdie stryd het in Elia se dag ’n besonder lelike wending geneem.

6 Koning Agab het Jehovah ernstig aanstoot gegee. Hy het getrou met Isebel, die dogter van die koning van Sidon. Isebel was vasbeslote om Baälaanbidding in die land van Israel te versprei en om die aanbidding van Jehovah uit te wis. Agab het gou voor haar invloed geswig. Hy het ’n tempel en ’n altaar vir Baäl gebou en die leiding geneem in die aanbidding van hierdie heidense god.—1 Kon. 16:30-33.

7. (a) Waarom was Baälaanbidding so aanstootlik? (b) Waarom kan ons seker wees dat daar in die Bybel geen weerspreking met betrekking tot die lengte van die droogte in Elia se dag is nie? (Sluit die  venster in.)

7 Waarom was Baälaanbidding so aanstootlik? Dit het Israel verlei en talle van die ware God af weggelok. Dit was ook ’n walglike en wrede godsdiens. Dit het manlike en vroulike tempelprostitusie, seksorgieë en selfs kinderofferandes ingesluit. Jehovah het hierop gereageer deur Elia na Agab te stuur om ’n droogte aan te kondig wat sou voortduur totdat God se profeet die einde daarvan bekend maak (1 Kon. 17:1). Etlike jare het verloop voordat Elia hom aan Agab vertoon het en vir hom gesê het om die volk en die Baälprofete op die berg Karmel te laat vergader. *

In sekere sin is die kragtigste elemente wat Baälaanbidding gekenmerk het, vandag nog steeds baie algemeen

8. Wat beteken die verslag oor Baälaanbidding vandag vir ons?

8 Maar wat beteken hierdie stryd vandag vir ons? Party meen dalk dat ’n verhaal oor Baälaanbidding nou van geen belang is nie, aangesien ons nie tempels en altare vir Baäl om ons sien nie. Maar hierdie verslag is nie net ou geskiedenis nie (Rom. 15:4). Die woord “Baäl” beteken “eienaar” of “heer”. Jehovah het vir sy volk gesê dat hulle hom as hulle “baäl”, of eggenoot-eienaar, moet kies (Jes. 54:5). Stem jy nie saam dat mense nog steeds ’n verskeidenheid ander here as God die Almagtige dien nie? Of mense nou hulle lewe gebruik om geld, ’n loopbaan, ontspanning of seksuele genot na te jaag of om enige van die tallose gode te dien wat in plaas van Jehovah aanbid word, hulle kies ’n heer. (Matt. 6:24; lees Romeine 6:16.) In sekere sin is die kragtigste elemente wat Baälaanbidding gekenmerk het, vandag nog steeds baie algemeen.  As ons peins oor daardie eertydse stryd tussen Jehovah en Baäl, kan dit ons help om ’n verstandige keuse te maak oor wie ons sal dien.

Hulle het ‘op twee verskillende gedagtes gehink’—Hoe?

9. (a) Waarom was die berg Karmel ’n ideale plek om Baälaanbidding bloot te lê? (Sien ook die voetnoot.) (b) Wat het Elia vir die volk gesê?

9 Die berg Karmel het ’n wye uitsig oor Israel gebied—van die Kisonstroomvallei daar onder tot die Groot See (die Middellandse See) daar naby en tot by die Libanongebergte aan die verre noordelike horison. * Maar toe die son op hierdie kritieke dag opkom, was dit duidelik dat die land in ’n ellendige toestand was. ’n Sombere skaduwee het gehang oor die eens vrugbare land wat Jehovah aan die kinders van Abraham gegee het. Die land was nou verskroei deur die  genadelose son, verwoes deur die dwaasheid van God se eie volk! Terwyl die mense saamgedrom het, het Elia na hulle toe gekom en gesê: “Hoe lank sal julle op twee verskillende gedagtes hink? As Jehovah die ware God is, gaan volg hom; maar as dit Baäl is, gaan volg hom.”—1 Kon. 18:21.

10. Hoe het Elia se volksgenote ‘op twee verskillende gedagtes gehink’, en watter basiese waarheid het hulle vergeet?

10 Wat het Elia bedoel met die uitdrukking “op twee verskillende gedagtes hink”? Wel, daardie volk het nie besef dat hulle moet kies tussen die aanbidding van Jehovah en die aanbidding van Baäl nie. Hulle het gedink dat hulle albei kan aanbid—dat hulle Baäl met hulle walglike rituele kan paai en Jehovah God nog steeds om gunste kan vra. Miskien het hulle geredeneer dat Baäl hulle gewasse en kuddes sou seën, terwyl “Jehovah van die leërs” hulle op die slagveld sou beskerm (1 Sam. 17:45). Hulle het ’n basiese waarheid vergeet—’n waarheid wat baie mense vandag nog steeds ontwyk. Jehovah deel sy aanbidding met niemand nie. Hy eis uitsluitlike toegewydheid en is dit waardig. Enige aanbidding van hom wat met ’n ander vorm van aanbidding vermeng word, is vir hom onaanneemlik, selfs aanstootlik!—Lees Eksodus 20:5.

11. Hoe dink jy kan Elia se woorde op die berg Karmel ons help om ons prioriteite en aanbidding weer in oënskou te neem?

11 Daardie Israeliete het dus ‘gehink’ soos ’n man wat tegelykertyd twee paadjies probeer volg. Baie mense maak vandag ’n soortgelyke fout deur toe te laat dat ander “baäls” in hulle lewe insluip en die aanbidding van God verdring. As ons ag slaan op Elia se wekroep om op te hou hink, kan dit ons help om ons eie prioriteite en aanbidding weer in oënskou te neem.

’n Kritieke toets

12, 13. (a) Watter toets het Elia voorgestel? (b) Hoe kan ons toon dat ons net soveel vertroue het as wat Elia gehad het?

12 Elia het toe ’n toets voorgestel. Dit was baie eenvoudig. Die Baälpriesters moes ’n altaar oprig en ’n offerande daarop sit; dan moes hulle tot hulle god bid om die vuur aan te steek. Elia sou dieselfde doen. Hy het gesê: “[Die] God wat deur vuur antwoord, is die ware God.” Elia het goed geweet wie die ware God is. Sy geloof was so sterk dat hy nie gehuiwer het om dit vir sy teenstanders in elke opsig maklik te maak nie. Hy het daardie Baälprofete eerste laat probeer. Hulle het dus ’n bul gekies om te offer en Baäl genader. *1 Kon. 18:24, 25.

 13 Ons lewe nie in ’n tyd van wonderwerke nie. Maar Jehovah het nie verander nie. Ons kan net soveel vertroue in hom hê as wat Elia gehad het. Wanneer ander byvoorbeeld nie saamstem met wat die Bybel leer nie, hoef ons nie bang te wees om hulle eerste hulle sê te laat sê nie. Soos Elia, kan ons op die ware God vertrou om die saak reg te stel. Ons doen dit deur nie op onsself staat te maak nie, maar op sy geïnspireerde Woord, wat bedoel is “om dinge reg te stel”.—2 Tim. 3:16.

Elia het Baälaanbidding as ’n belaglike bedrogspul beskou, en hy wou hê dat God se volk moet sien hoe vals dit is

14. Hoe het Elia die spot met die Baälprofete gedryf, en waarom?

14 Die Baälprofete het hulle offerande gereedgemaak en hulle god begin aanroep. “O Baäl, antwoord ons!” het hulle oor en oor uitgeroep. Hulle het aangehou terwyl die minute en toe die ure verstryk het. “Maar daar was geen stem nie, en niemand het geantwoord nie”, sê die Bybel. Op die middaguur het Elia die spot met hulle begin dryf en sarkasties gesê dat Baäl seker te besig is om hulle te antwoord, dat hy sy behoefte in die gemakhuisie doen of dat hy slaap en iemand hom moet wakker maak. “Roep so hard soos julle kan”, het Elia daardie bedrieërs aangespoor. Dit is duidelik dat hy hierdie Baälaanbidding as ’n belaglike bedrogspul beskou het, en hy wou hê dat God se volk moet sien hoe vals dit is.—1 Kon. 18:26, 27.

15. Hoe toon die geval van die Baälpriesters hoe dwaas dit is om enige ander heer as Jehovah te kies?

15 In reaksie hierop het die Baälpriesters selfs rasender geword en ‘so hard soos hulle kon uitgeroep en hulle volgens hulle gebruik met dolke en met lanse gesny, totdat hulle die bloed op hulle laat uitvloei het’. Alles tevergeefs! “Daar [was] geen stem nie, en niemand het geantwoord nie, en daar is geen aandag geskenk nie” (1 Kon. 18:28, 29). Ja, daar was geen Baäl nie. Hy was ’n versinsel van Satan om mense van Jehovah af weg te lok. Die feit is: Om enige ander heer as Jehovah te kies, lei tot teleurstelling, selfs skande.—Lees Psalm 25:3; 115:4-8.

Die antwoord

16. (a) Waaraan het dit miskien die volk herinner toe Elia die altaar van Jehovah op die berg Karmel herstel het? (b) Hoe het Elia verder sy vertroue in sy God getoon?

16 Laat die middag was dit Elia se beurt om ’n offerande te bring. Hy het ’n altaar van Jehovah herstel wat afgebreek is, ongetwyfeld deur vyande van rein aanbidding. Hy het 12 klippe gebruik, wat  miskien baie mense in die tienstammeryk van Israel daaraan herinner het dat die Wet wat aan al 12 stamme gegee is, nog steeds vir hulle bindend was. Toe het hy sy offerande daarop gesit en water, wat moontlik uit die Middellandse See daar naby verkry is, oor alles laat uitgooi. Hy het selfs ’n sloot om die altaar laat grawe en dit vol water gemaak. Net soos hy dit vir die Baälprofete in elke opsig maklik gemaak het, het hy dit vir Jehovah in elke opsig moeilik gemaak—so groot was sy vertroue in sy God.—1 Kon. 18:30-35.

Elia se gebed het getoon dat hy nog steeds vir sy volksgenote omgegee het, want hy was gretig om te sien dat Jehovah “hulle hart laat terugkeer”

17. Hoe het Elia se gebed getoon wat sy prioriteite is, en hoe kan ons sy voorbeeld in ons eie gebede volg?

17 Toe alles gereed was, het Elia ’n gebed gedoen. Die gebed, wat treffend was in sy eenvoud, het duidelik getoon wat Elia se prioriteite was. Eerstens wou hy hê dat die mense moet weet dat Jehovah, nie hierdie Baäl nie, “God in Israel” is. Tweedens wou hy hê dat almal moet weet dat sy rol dié van Jehovah se kneg is; alle heerlikheid en eer kom God toe. Laastens het hy getoon dat hy nog steeds vir sy volksgenote omgegee het, want hy was gretig om te sien dat Jehovah “hulle hart laat terugkeer” (1 Kon. 18:36, 37). Ondanks al die ellende wat hulle deur hulle ontrouheid veroorsaak het, was Elia nog steeds lief vir hulle. Kan ons in ons eie gebede tot God soortgelyke nederigheid toon, asook besorgdheid oor God se naam en medelye met ander wat hulp nodig het?

18, 19. (a) Hoe het Jehovah Elia se gebed verhoor? (b) Wat het Elia die volk beveel om te doen, en waarom het die Baälpriesters geen barmhartigheid verdien nie?

18 Voor Elia se gebed het die skare daar miskien gewonder of Jehovah net so ’n teleurstellende leuen soos Baäl sou wees. Maar ná die gebed was daar nie tyd om te wonder nie. Die verslag sê: “Daarop het die vuur van Jehovah neergeval en die brandoffer en die stukke hout en die klippe en die stof verteer, en dit het die water opgelek wat in die sloot was” (1 Kon. 18:38). Wat ’n skouspelagtige antwoord! En hoe het die volk gereageer?

“Daarop het die vuur van Jehovah neergeval”

19 “Jehovah is die ware God! Jehovah is die ware God!” het hulle almal uitgeroep (1 Kon. 18:39). Uiteindelik het hulle gesien wat die waarheid is. Maar tot dusver het hulle nog geen geloof getoon nie. Om eerlik te wees, dit is nie juis ’n indrukwekkende blyk van geloof om te erken dat Jehovah die ware God is nadat jy in antwoord op ’n gebed vuur uit die hemel sien val het nie. Elia het dus meer  van hulle gevra. Hy het hulle gevra om te doen wat hulle baie jare vroeër al moes gedoen het—om die Wet van Jehovah te gehoorsaam. God se Wet het gesê dat valse profete en afgodedienaars doodgemaak moet word (Deut. 13:5-9). Hierdie Baälpriesters was geswore vyande van Jehovah God, en hulle het sy voornemens opsetlik gedwarsboom. Het hulle barmhartigheid verdien? Wel, watter barmhartigheid het hulle ooit aan al daardie onskuldige kinders bewys wat lewend verbrand is as offerandes aan Baäl? (Lees Spreuke 21:13; Jer. 19:5.) Hierdie manne het geen barmhartigheid verdien nie! Elia het dus beveel dat hulle tereggestel moet word, en hulle is toe ook tereggestel.—1 Kon. 18:40.

20. Waarom is hedendaagse kritici se besorgdheid oor Elia se teregstelling van die Baälpriesters ongegrond?

20 Hedendaagse kritici keur miskien die uitkoms van hierdie toets op die berg Karmel sterk af. Party mense is dalk bekommerd dat godsdiensyweraars dit sal gebruik om gewelddade van godsdiensonverdraagsaamheid te regverdig. En ongelukkig is daar vandag talle gewelddadige godsdiensfanatici. Maar Elia was nie ’n fanatikus nie. Hy het namens Jehovah opgetree in ’n regverdige teregstelling. Verder weet ware Christene dat hulle nie Elia se weg kan volg deur die swaard teen die goddeloses op te neem nie. Hulle volg eerder die standaard vir al Jesus se dissipels soos gevind word in Christus se woorde aan Petrus: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matt. 26:52). Jehovah sal sy Seun gebruik om in die toekoms goddelike geregtigheid te volbring.

21. Hoe is Elia se voorbeeld gepas vir ware Christene van vandag?

21 ’n Ware Christen se verantwoordelikheid is om ’n lewe van geloof te lei (Joh. 3:16). Dit kan onder andere gedoen word deur getroue manne soos Elia na te volg. Hy het Jehovah uitsluitlik aanbid en ander aangespoor om dit ook te doen. Hy het ’n godsdiens wat Satan gebruik het om mense van Jehovah af weg te lok, moedig as vals blootgelê. En hy het op Jehovah vertrou om sake reg te stel eerder as om op sy eie vermoëns en wil staat te maak. Elia het rein aanbidding verdedig. Mag ons almal sy geloof navolg!

^ par. 9 Die berg Karmel is gewoonlik geil en groen, aangesien vogtige winde van die see teen die hange opstyg en dikwels reën en baie dou bring. Omdat reën aan Baäl toegeskryf is, was hierdie berg blykbaar ’n belangrike plek vir Baälaanbidding. ’n Dorre, droë Karmel was dus ’n ideale plek om Baälaanbidding as vals bloot te lê.

^ par. 12 Dit is interessant dat Elia vir hulle gesê het: “Julle mag nie vuur maak” om die offerande aan die brand te steek nie. Party geleerdes sê dat sulke afgodedienaars soms altare met ’n versteekte ruimte daaronder gebruik het sodat dit sou lyk asof ’n vuur op bonatuurlike wyse aangesteek word.