Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK DRIE-EN-TWINTIG

Hy het vergewensgesindheid by sy Heer geleer

Hy het vergewensgesindheid by sy Heer geleer

1. Wat was moontlik die ergste oomblik van Petrus se lewe?

PETRUS sou nooit daardie verskriklike oomblik vergeet toe hulle oë ontmoet het nie. Het hy teleurstelling of verwyt in Jesus se oë gesien? Ons kan nie vir seker sê nie; die geïnspireerde verslag sê net: “Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk” (Luk. 22:61). Maar in hierdie enkele blik het Petrus gesien hoe ernstig hy te kort geskiet het. Hy het besef dat hy so pas presies gedoen het wat Jesus voorspel het, die een ding wat Petrus volgehou het hy nooit sou doen nie—hy het sy geliefde Heer verloën. Dit was ’n laagtepunt vir Petrus, moontlik die ergste oomblik van die ergste dag van sy lewe.

2. Watter les moes Petrus leer, en hoe kan ons by sy verhaal baat vind?

2 Alles was egter nie verlore nie. Omdat Petrus ’n man van groot geloof was, het hy nog die geleentheid gehad om van sy foute te herstel en een van Jesus se grootste lesse te leer. Dit het te doen gehad met vergewensgesindheid. Elkeen van ons moet dieselfde les leer; kom ons vergesel Petrus dus op hierdie moeilike reis.

’n Man wat nog baie moes leer

3, 4. (a) Watter vraag het Petrus Jesus gevra, en wat het Petrus moontlik gedink? (b) Hoe het Jesus getoon dat Petrus beïnvloed is deur die gees wat destyds geheers het?

3 Ongeveer ses maande vroeër in sy tuisdorp Kapernaum het Petrus na Jesus toe gegaan en gevra: “Here, hoeveel keer kan my broer teen my sondig en moet ek hom vergewe? Tot sewe keer?” Petrus het waarskynlik gedink dat hy groothartig is. Die godsdiensleiers van daardie tyd het immers geleer dat ’n mens net drie keer hoef te vergewe! Jesus het geantwoord: “Nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’.”—Matt. 18:21, 22.

4 Het Jesus bedoel dat Petrus moet boekhou van ’n oortreder se dade? Nee; deur Petrus se 7 in 77 te verander, het hy eerder gesê dat liefde ons nie toelaat om ’n arbitrêre beperking op vergewensgesindheid te plaas nie (1 Kor. 13:4, 5). Jesus het getoon dat Petrus beïnvloed is deur die hardvogtige en onvergewensgesinde gees wat  destyds geheers het en wat mense vergifnis laat skenk het asof hulle daarvan boekhou. God vergewe egter oorvloedig, mildelik.—Lees 1 Johannes 1:7-9.

5. Wanneer leer ons moontlik die meeste omtrent vergifnis?

5 Petrus het nie met Jesus gestry nie. Maar het Jesus se les werklik sy hart bereik? Soms leer ons die meeste omtrent vergifnis wanneer ons besef hoe dringend ons dit self nodig het. Kom ons gaan dus terug na die gebeure wat Jesus se dood voorafgegaan het. In daardie moeilike ure het Petrus sy Heer baie gegee om te vergewe.

’n Toenemende behoefte aan vergifnis

6. Hoe het Petrus gereageer toe Jesus die apostels oor nederigheid probeer leer het, maar hoe het Jesus hom nietemin behandel?

6 Dit was ’n belangrike aand—die laaste nag van Jesus se aardse lewe. Jesus het nog baie gehad om sy apostels te leer—byvoorbeeld oor nederigheid. Jesus het ’n voorbeeld gestel deur nederig hulle voete te was, ’n taak wat gewoonlik aan die geringste van die knegte toegewys is. Eers het Petrus Jesus se optrede bevraagteken. Toe het hy geweier om sy voete te laat was. Daarna het hy daarop aangedring dat Jesus nie net sy voete was nie, maar ook sy hande en sy kop! Jesus het nie ongeduldig geword nie, maar het kalm die belangrikheid en betekenis verduidelik van wat hy doen.—Joh. 13:1-17.

7, 8. (a) Hoe het Petrus Jesus se geduld weer op die proef gestel? (b) Hoe het Jesus voortgegaan om ’n liefdevolle, vergewensgesinde gees te openbaar?

7 Maar kort daarna het Petrus Jesus se geduld weer op die proef gestel. Die apostels het begin stry oor wie van hulle die grootste is, en Petrus het sekerlik ’n aandeel gehad aan hierdie skandelike vertoon van menslike trots. Jesus het hulle nietemin liefdevol reggehelp en hulle selfs geprys vir wat hulle goed gedoen het; hulle was getrou deur altyddeur by hulle Heer te bly. Hy het egter voorspel dat hulle almal hom sou verlaat. Petrus het hierop geantwoord dat hy by Jesus sou bly selfs al sou dit sy dood beteken. Maar Jesus het voorspel dat Petrus sy Heer daardie selfde nag, voordat ’n haan twee keer gekraai het, drie keer sou verloën. Toe het Petrus Jesus nie net weerspreek nie, maar gespog dat hy getrouer as al die ander apostels sou wees!—Matt. 26:31-35; Mark. 14:27-31; Luk. 22:24-28; Joh. 13:36-38.

8 Was Jesus op die punt om sy geduld met Petrus te verloor? Nee, selfs gedurende hierdie moeilike tyd het Jesus na die goeie in sy onvolmaakte apostels bly soek. Hy het geweet dat Petrus hom sou teleurstel, en tog het Hy gesê: “Ek het ’n smeekbede vir jou gedoen dat jou geloof jou nie begewe nie; en wanneer jy dan teruggekeer  het, moet jy jou broers versterk” (Luk. 22:32). Jesus het só die vertroue uitgespreek dat Petrus geestelik sou herstel en God weer getrou sou dien. Wat ’n liefdevolle, vergewensgesinde gees!

9, 10. (a) Hoe moes Petrus in die tuin van Getsemane reggehelp word? (b) Waaraan herinner Petrus se geval ons dalk?

9 Later, in die tuin van Getsemane, moes Petrus meer as een keer reggehelp word. Jesus het hom, sowel as Jakobus en Johannes, gevra om aan te hou waak terwyl Hy bid. Jesus het in sielsangs verkeer en het ondersteuning nodig gehad, maar Petrus en die ander het herhaaldelik aan die slaap geraak. Jesus het empatie en vergewensgesindheid geopenbaar deur te sê: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak.”—Mark. 14:32-41.

10 Kort voor lank het ’n oproerige skare daar aangekom, met fakkels in die hand en gewapen met swaarde en knuppels. Dít was ’n tyd om omsigtig en verstandig te werk te gaan. Maar Petrus het voortvarend opgetree deur met ’n swaard na die kop van Malgus, ’n slaaf van die hoëpriester, te swaai en een van die man se ore af te kap. Jesus het Petrus kalm reggehelp, die wond genees en die beginsel van geweldloosheid uiteengesit waardeur sy volgelinge vandag nog gerig word (Matt. 26:47-55; Luk. 22:47-51; Joh. 18:10, 11). Petrus het alreeds sy Heer baie gegee om te vergewe. Sy geval herinner ons dalk daaraan dat ons almal dikwels sondig. (Lees Jakobus 3:2.) Wie van ons het nie elke dag God se vergifnis nodig nie? Maar vir Petrus was die nag nog lank nie verby nie. Die ergste het nog voorgelê.

Petrus se ergste misstap

11, 12. (a) Hoe het Petrus ná Jesus se inhegtenisname ’n mate van moed aan die dag gelê? (b) Hoe het Petrus se voorbeeld te kort geskiet aan wat hy self verklaar het?

11 Jesus het met die skare geredeneer dat hulle, as hulle na hom soek, sy apostels moet laat gaan. Petrus het hulpeloos toegekyk terwyl die skare Jesus boei. Toe het Petrus gevlug, en so ook sy medeapostels.

12 Petrus en Johannes het moontlik opgehou vlug naby die huis van die voormalige hoëpriester Annas, waarheen Jesus eers geneem is om ondervra te word. Toe Jesus daarvandaan weggelei word, het Petrus en Johannes hom gevolg, maar “op ’n aansienlike afstand” (Matt. 26:58; Joh. 18:12, 13). Petrus was glad nie ’n lafaard nie. Dit het beslis ’n mate van moed geverg om die skare hoegenaamd te volg. Die skare was gewapen, en Petrus het reeds een van hulle gewond. Nogtans sien ons nie hier in Petrus se voorbeeld die soort lojale liefde wat hy self verklaar het nie—’n bereidwilligheid om aan sy Heer se sy te sterf indien nodig.—Mark. 14:31.

13. Wat is die enigste regte manier om Christus te volg?

 13 Soos Petrus, probeer baie mense vandag om Christus “op ’n aansienlike afstand” te volg—op so ’n manier dat niemand anders dit sal opmerk nie. Maar soos Petrus self later geskryf het, is die enigste regte manier om Christus te volg, om so na as moontlik aan Hom te bly en Sy voorbeeld in alles te volg, ongeag die gevolge.—Lees 1 Petrus 2:21.

14. Hoe het Petrus die nagtelike ure gedurende Jesus se verhoor deurgebring?

14 Petrus se versigtige treë het hom uiteindelik tot by die poort van een van Jerusalem se indrukwekkendste huise geneem. Dit was die huis van Kajafas, die ryk en magtige hoëpriester. Sulke huise is gewoonlik om ’n binnehof gebou, met ’n poort aan die voorkant. Petrus het die poort bereik en is toegang geweier. Johannes, wat die hoëpriester geken het en reeds binne was, het die deurwagter kom oortuig om Petrus in te laat. Petrus het blykbaar nie naby Johannes gebly nie; ook het hy nie in die huis probeer inkom om aan sy Heer se sy te staan nie. Hy het in die binnehof gebly, waar ’n paar slawe en diensknegte die koue nagtelike ure voor ’n helder vuur deurgebring het, terwyl hy toegekyk het hoe die valse getuies teen Jesus in- en uitgaan vir die verhoor wat binne aan die gang was.—Mark. 14:54-57; Joh. 18:15, 16, 18.

15, 16. Verduidelik hoe Jesus se profesie oor drie ontkennings vervul is.

15 In die lig van die vuur kon die meisie wat Petrus by die poort ingelaat het, hom beter sien. Sy het hom herken. Sy het beskuldigend gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër!” Petrus, wat onkant gevang is, het ontken dat hy Jesus ken—of selfs weet waarvan die meisie praat. Hy het naby die poorthuis gaan staan en probeer om onopsigtelik te wees, maar ’n ander meisie het hom opgemerk en dieselfde gesê: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” Petrus het gesweer: “Ek ken die man nie!” (Matt. 26:69-72; Mark. 14:66-68). Miskien was dit ná hierdie tweede ontkenning dat Petrus ’n haan hoor kraai het, maar hy was te verbouereerd om te dink aan die profesie wat Jesus net ure tevore uitgespreek het.

16 ’n Rukkie later het Petrus nog steeds desperaat probeer om onopgemerk te bly. Maar ’n groep mense wat in die binnehof rondgestaan het, het nader gekom. Een van hulle was ’n familielid van Malgus, die slaaf wat deur Petrus gewond is. Hy het vir Petrus gesê: “Ek het jou in die tuin saam met hom gesien, nie waar nie?” Petrus het gevoel dat hy hulle eenvoudig moes oortuig dat hulle verkeerd is. Hy het dus oor die saak gesweer, waardeur hy blykbaar gesê het dat ’n vloek oor hom sou kom as hy lieg. Dit was Petrus se derde ontkenning. Sy woorde was skaars koud toe ’n haan kraai—die  tweede wat Petrus daardie aand gehoor het.—Joh. 18:26, 27; Mark. 14:71, 72.

“Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk”

17, 18. (a) Hoe het Petrus gereageer toe hy besef het hoe verskriklik hy sy Heer in die steek gelaat het? (b) Waaroor het Petrus dalk gewonder?

17 Jesus het kort tevore uitgekom op ’n balkon wat oor die binnehof uitgekyk het. Op daardie oomblik, wat aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is, het sy oë Petrus s’n ontmoet. Petrus het besef hoe verskriklik hy sy Heer in die steek gelaat het. Petrus het die binnehof verlaat, verpletter deur sy skuldgevoelens. Hy het die strate van die stad ingevaar, sy pad verlig deur die dalende volmaan. Sy oë het vol trane geskiet. Hy het alles deur ’n newel gesien. Toe het hy bitterlik begin huil.—Mark. 14:72; Luk. 22:61, 62.

18 Ná so ’n misstap kan ’n persoon baie maklik aanneem dat sy sonde te erg is om vergewe te word. Petrus het dalk self hieroor gewonder. Was dit die geval?

Was Petrus se misstap onvergeeflik?

19. Hoe moes Petrus oor sy misstap gevoel het, maar hoe weet ons dat hy nie aan wanhoop toegegee het nie?

19 Dit is moeilik om ons voor te stel hoe intens Petrus se pyn was toe die son opgekom en die gebeure van die dag ontvou het. Hoe moes hy homself tog nie verwyt het toe Jesus later daardie dag ná ure van marteling gesterf het nie! Petrus moes gesidder het om te dink hoe hy tot sy Heer se pyn bygedra het op die laaste dag van Sy lewe as ’n mens. Hoe diep bedroef Petrus ook al was, hy het nie aan wanhoop toegegee nie. Ons weet dit, want ons vind hom kort daarna weer saam met sy geestelike broers (Luk. 24:33). Al die apostels was ongetwyfeld spyt oor hoe hulle op daardie verskriklike nag opgetree het, en hulle het mekaar ’n mate van vertroosting gebied.

20. Wat kan ons leer uit Petrus se optrede toe hy een van sy beste besluite geneem het?

20 In sekere sin sien ons hier dat Petrus een van sy beste besluite neem. Wanneer ’n kneg van God val, is die belangrikste nie hoe ver hy val nie, maar hoe vasbeslote hy is om weer op te staan, om dinge reg te stel. (Lees Spreuke 24:16.) Petrus het ware geloof getoon deur saam met sy broers bymekaar te kom ondanks sy terneergedruktheid. Wanneer ’n mens gebuk gaan onder hartseer of spyt, kan jy in die versoeking kom om jou af te sonder, maar dit is gevaarlik (Spr. 18:1). Dit is verstandig om na aan medegelowiges te bly en weer geestelik sterk te word.—Heb. 10:24, 25.

21. Watter nuus het Petrus gehoor omdat hy saam met sy geestelike broers was?

 21 Omdat Petrus saam met sy geestelike broers was, het hy die skokkende nuus gehoor dat Jesus se liggaam nie in die graf is nie. Petrus en Johannes het na die graf gehardloop waar Jesus begrawe is en waarvan die ingang verseël was. Johannes, waarskynlik ’n jonger man, het eerste daar aangekom. Toe hy die ingang van die graf oop vind, het hy gehuiwer. Nie Petrus nie. Al was hy uitasem, het hy dadelik ingegaan. Dit was leeg!—Joh. 20:3-9.

22. Wat het alle spore van hartseer en twyfel uit Petrus se hart laat verdwyn?

22 Het Petrus geglo dat Jesus opgewek is? Nie aanvanklik nie, selfs al het getroue vroue berig dat engele aan hulle verskyn het om aan te kondig dat Jesus uit die dood opgestaan het (Luk. 23:55–24:11). Maar teen die einde van daardie dag het alle spore van hartseer en twyfel uit Petrus se hart verdwyn. Jesus het gelewe, nou as ’n magtige gees! Hy het aan al sy apostels verskyn. Maar hy het eers iets anders gedoen, iets privaats. Die apostels het daardie dag gesê: “Die Here is werklik opgewek en het aan Simon verskyn!” (Luk. 24:34). Die apostel Paulus het ook later geskryf oor daardie merkwaardige dag waarop Jesus “aan Sefas verskyn het, toe aan die twaalf” (1 Kor. 15:5). Sefas en Simon is ander name vir Petrus. Jesus het daardie dag aan hom verskyn—klaarblyklik toe Petrus alleen was.

Petrus het sy Heer baie gegee om te vergewe, maar wie van ons het nie elke dag vergifnis nodig nie?

23. Waarom moet Christene van vandag wat in sonde verval, aan Petrus dink?

23 Die Bybel verstrek nie besonderhede oor hierdie hartroerende ontmoeting nie. Dit bly tussen Jesus en Petrus. Ons kan ons net indink hoe ontroer Petrus was om sy geliefde Heer weer lewend te sien en om die geleentheid te hê om sy droefheid en berou uit te spreek. Wat Petrus meer as enigiets anders in die wêreld wou hê, was vergifnis. Wie kan dit betwyfel dat Jesus dit geskenk het, en boonop in oorvloed? Christene van vandag wat in sonde verval, moet aan Petrus dink. Ons moet nooit tot die slotsom kom dat ons buite die bereik van God se vergifnis is nie. Jesus is ’n volmaakte weerspieëling van sy Vader, wat ‘ryklik sal vergewe’.—Jes. 55:7.

Verdere bewys van vergifnis

24, 25. (a) Beskryf Petrus se nag toe hy op die See van Galilea gaan visvang het. (b) Wat was Petrus se reaksie op die wonderwerk wat Jesus die volgende oggend verrig het?

24 Jesus het vir sy apostels gesê om na Galilea te gaan, waar hulle hom weer sou sien. Toe hulle daar aankom, het Petrus besluit om op die See van Galilea te gaan visvang. ’n Hele paar van die ander het by hom aangesluit. Petrus het hom weer eens bevind op die meer waar hy ’n groot deel van sy vroeëre lewe deurgebring het.  Die gekraak van die boot, die geklots van die golwe, die gevoel van die growwe nette in sy hande moes alles vir hom bekend en vertroostend gewees het. Die manne het daardie hele nag niks gevang nie.—Matt. 26:32; Joh. 21:1-3.

Petrus het uit die boot gespring en na die oewer geswem

25 Maar met dagbreek het iemand van die oewer af geroep en die vissers aangespoor om hulle nette aan die ander kant van die boot uit te gooi. Hulle het dit gedoen en ’n yslike vangs van 153 visse ingetrek! Petrus het geweet wie dit is. Hy het uit die boot gespring en na die oewer geswem. Op die strand het Jesus vir sy  getroue vriende ’n ete van vis gegee wat op ’n houtskoolvuur gaargemaak is. Hy het sy aandag op Petrus gevestig.—Joh. 21:4-14.

26, 27. (a) Watter geleentheid het Jesus Petrus drie keer gegee? (b) Watter bewys het Jesus voorsien dat hy Petrus ten volle vergewe het?

26 Jesus het vir Petrus gevra of hy sy Heer “liewer as hulle” het—terwyl hy klaarblyklik na die groot visvangs gewys het. Sou liefde vir die vissersbedryf in Petrus se hart met liefde vir Jesus wedywer? Net soos Petrus sy Heer drie keer verloën het, het Jesus hom nou die geleentheid gegee om sy liefde drie keer voor sy vriende te bevestig. Elke keer dat Petrus dit gedoen het, het Jesus vir hom gesê hoe om hierdie liefde te toon: deur heilige diens bo alle ander dinge te stel en Christus se kudde, Sy getroue volgelinge, te voed, te versterk en as herder oor hulle toesig te hou.—Luk. 22:32; Joh. 21:4-17.

27 Jesus het sodoende bevestig dat Petrus nog steeds vir hom en sy Vader van nut is. Petrus sou onder Christus se leiding ’n waardevolle rol in die gemeente speel. Wat ’n kragtige bewys dat Jesus hom ten volle vergewe het! Hierdie barmhartigheid het Petrus sekerlik diep geraak, en hy het dit ter harte geneem.

28. Hoe het Petrus eindelik sy naam gestand gedoen?

28 Petrus het jare lank sy toewysing getrou uitgevoer. Hy het sy broers versterk, soos Jesus op die aand van Sy dood beveel het. Petrus het liefdevol en geduldig sy bes gedoen om Christus se volgelinge te voed en as herder oor hulle toesig te hou. Die man wat Simon genoem is, het eindelik die naam wat Jesus hom gegee het—Petrus, of Rots—gestand gedoen deur ’n bestendige, sterk, betroubare krag ten goede in die gemeente te word. Baie bewyse hiervan word gevind in Petrus se twee hartlike, persoonlike briewe wat waardevolle boeke van die Bybel geword het. Hierdie briewe toon ook dat Petrus nooit die les wat hy by Jesus oor vergewensgesindheid geleer het, vergeet het nie.—Lees 1 Petrus 3:8, 9; 4:8.

29. Hoe kan ons Petrus se geloof en sy Heer se barmhartigheid navolg?

29 Mag ons ook hierdie les leer. Vra ons elke dag God se vergifnis vir al ons foute? Aanvaar ons dan daardie vergifnis en glo ons in die reinigende krag daarvan? En vergewe ons die mense om ons? Indien wel, sal ons Petrus se geloof—en sy Heer se barmhartigheid—navolg.