Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK VYFTIEN

Sy het opgekom vir God se volk

Sy het opgekom vir God se volk

1-3. (a) Waarom was dit moontlik vir Ester ’n intimiderende vooruitsig om na haar man toe te gaan? (b) Watter vrae aangaande Ester sal ons bespreek?

ESTER het haar bonsende hart probeer kalmeer terwyl sy na die voorhof in die paleis in Susan loop. Dit was nie maklik nie. Alles omtrent die kasteel was bedoel om ontsag te wek—die veelkleurige reliëfafbeeldings van gevleuelde bulle, boogskutters en leeus van glasuursteen, die gegroefde klippilare en indrukwekkende standbeelde, selfs die ligging van die gebou op groot platforms naby die sneeubedekte Zagros-gebergte, met ’n uitsig oor die skoon waters van die Choaspes-rivier. Alles sou besoekers herinner aan die ontsaglike mag van die man na wie Ester op pad was, die een wat homself “die groot koning” genoem het. Hy was ook haar man.

2 Haar man! Hoe het Ahasveros tog verskil van die soort man wat enige getroue Joodse meisie dalk verwag het om te hê! * Hy het nie voorbeelde gevolg soos Abraham, ’n man wat nederig God se instruksie gehoorsaam het om na Sara, sy vrou, te luister nie (Gen. 21:12). Die koning het min of niks van Ester se God, Jehovah, of van Sy Wet, geweet nie. Ahasveros het egter die Persiese wet geken, insluitende ’n wet wat verbied het juis wat Ester op die punt gestaan het om te doen. Wat was dit? Wel, die wet het gesê dat enigiemand wat voor die Persiese monarg verskyn sonder om deur die koning ontbied te word, tereggestel kan word. Ester is nie ontbied nie, maar sy was in elk geval op pad na die koning toe. Toe sy naby die binneste voorhof kom, waar sy van die koning se troon sigbaar sou wees, het sy dalk gevoel dat sy haar dood tegemoetloop.—Lees Ester 4:11; 5:1.

3 Waarom het sy haar aan hierdie gevaar blootgestel? En wat kan ons uit die geloof van hierdie merkwaardige vrou leer? Kom ons kyk eers hoe Ester in die buitengewone situasie beland het dat sy ’n koningin in Persië was.

 Ester se agtergrond

4. Wat was Ester se agtergrond, en waarom het sy by haar neef Mordegai gewoon?

4 Ester was ’n weeskind. Ons weet baie min van die ouers wat haar Hadassa genoem het, ’n Hebreeuse woord vir “mirt”, ’n mooi struik met wit blomme. Toe Ester se ouers gesterf het, het ’n familielid, ’n goedhartige man met die naam Mordegai, hom oor die kind ontferm. Mordegai was haar neef, maar hy was baie ouer as sy. Hy het Ester ingeneem en haar soos sy eie dogter behandel.—Est. 2:5-7, 15.

Mordegai het goeie rede gehad om trots te wees op sy aangenome dogter

5, 6. (a) Hoe het Mordegai Ester grootgemaak? (b) Watter soort lewe het Ester en Mordegai in Susan gelei?

5 Mordegai en Ester het as Joodse ballinge in daardie Persiese hoofstad gewoon, waar daar waarskynlik op hulle neergesien is weens hulle godsdiens en die Wet wat hulle probeer volg het. Maar Ester het sekerlik nader aan haar neef gekom terwyl hy haar geleer het van Jehovah, die barmhartige God wat Sy volk dikwels in die verlede uit die moeilikheid gered het—en dit weer sou doen (Lev. 26:44, 45). ’n Band van liefde en lojaliteit het ongetwyfeld tussen Ester en Mordegai ontwikkel.

6 Mordegai het blykbaar as ’n amptenaar by die kasteel in Susan gewerk, waar hy gereeld saam met ander knegte van die koning in die poort gesit het (Est. 2:19, 21; 3:3). Ons weet nie hoe die jong Ester haar tyd deurgebring het terwyl sy grootgeword het nie, maar ons kan met redelike sekerheid sê dat sy goed na haar ouer neef en sy huis omgesien het, wat waarskynlik in die meer beskeie buurt oorkant die rivier van die koninklike kasteel geleë was. Miskien het sy dit geniet om na die mark in Susan te gaan, waar goudsmede, silwersmede en ander handelaars hulle ware ten toon gestel het. Ester het sekerlik nooit gedink dat sulke luukshede later vir haar iets alledaags sou word nie; sy het geen idee gehad van wat die toekoms vir haar ingehou het nie.

“Pragtig in voorkoms”

7. Waarom is Vasti as koningin onttroon, en wat was die gevolg?

7 Eendag het Susan gegons van skinderpraatjies  oor moeilikheid in die koning se huishouding. By ’n groot fees, waartydens Ahasveros sy edelmanne met heerlike kos en wyn onthaal het, het die koning besluit om sy pragtige koningin, Vasti, wat elders saam met die vroue feesgevier het, te ontbied. Maar Vasti het geweier om te kom. Verneder en woedend het die koning sy raadgewers gevra hoe Vasti gestraf moet word. Die gevolg? Sy is as koningin onttroon. Die koning se knegte het oral in die land na pragtige jong maagde begin soek; een van hulle sou deur die koning as sy nuwe koningin gekies word.—Est. 1:1–2:4.

8. (a) Waarom was Mordegai dalk besorg oor Ester terwyl sy grootgeword het? (b) Hoe dink jy kan ons die Bybel se gebalanseerde beskouing van fisiese skoonheid toepas? (Sien ook Spreuke 31:30.)

8 Ons kan ons voorstel hoe Mordegai van tyd tot tyd liefdevol na Ester gekyk het en met gemengde gevoelens van trots en besorgdheid opgemerk het dat sy jong niggie nie meer ’n kind is nie—sy het ’n beeldskone vrou geword. “Die jong vrou was mooi van gestalte en pragtig in voorkoms”, lees ons (Est. 2:7). Die Bybel bied ’n gebalanseerde beskouing van fisiese skoonheid—dit is iets pragtigs, maar dit moet met wysheid en nederigheid gepaardgaan. Andersins kan dit tot verwaandheid, trots en ander lelike eienskappe van die hart lei. (Lees Spreuke 11:22.) Het jy dit al ooit sien gebeur? Wat sou skoonheid in Ester se geval wees—’n voordeel of ’n nadeel? Die tyd sou leer.

9. (a) Wat het gebeur toe die koning se knegte Ester opgemerk het, en waarom moes haar afskeid van Mordegai moeilik gewees het? (b) Waarom het Mordegai Ester toegelaat om met ’n heidense ongelowige te trou? (Sluit die venster in.)

9 Die koning se knegte het Ester opgemerk. Hulle het haar dus van Mordegai af weggeneem, na die groot paleis oorkant die rivier (Est. 2:8). Dit moes ’n moeilike afskeid gewees het, want die twee was soos vader en dogter. Mordegai sou nie wou gehad het dat sy aangenome dogter met ’n ongelowige moet trou nie, nie eens ’n koning nie, maar dit was buite sy beheer. * Hoe aandagtig moes Ester tog na Mordegai se raad geluister het voordat sy weggeneem is! Terwyl sy na die kasteel Susan geneem is, het baie vrae deur haar gedagtes gemaal. Watter soort lewe het op haar gewag?

Sy het “guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het”

10, 11. (a) Watter uitwerking kon Ester se nuwe milieu maklik op haar gehad het? (b) Hoe het Mordegai getoon dat hy besorg is oor Ester se welsyn?

10 Ester is in ’n wêreld ingebring wat vir haar heeltemal nuut  en vreemd was. Sy was een van “talle jong vroue” wat van heinde en verre in die Persiese Ryk bymekaargebring is. Hulle gebruike, tale en gesindhede het ongetwyfeld grootliks verskil. Die jong vroue, wat onder die toesig van ’n amptenaar met die naam Hegai geplaas is, sou ’n jaar lank intensiewe skoonheidsbehandeling ondergaan, wat massering met welriekende olies ingesluit het (Est. 2:8, 12). So ’n milieu en lewenstyl kon maklik by hierdie jong vroue ’n obsessie met hulle voorkoms laat ontstaan het en hulle ook verwaand en mededingend laat word het. Watter uitwerking het dit op Ester gehad?

11 Niemand op aarde was meer besorg oor Ester as Mordegai nie. Ons lees dat hy dag ná dag tot so naby moontlik aan die huis van die vroue gegaan het en probeer uitvind het hoe dit met Ester gaan (Est. 2:11). Wanneer hy af en toe iets van haar gehoor het,  moontlik deur middel van behulpsame knegte in die huishouding, het hy ongetwyfeld gestraal van vaderlike trots. Waarom?

12, 13. (a) Watter indruk het Ester op die mense om haar gemaak? (b) Waarom sou Mordegai bly gewees het om uit te vind dat Ester nie haar Joodse herkoms geopenbaar het nie?

12 Ester het Hegai so beïndruk dat hy haar met groot liefderyke goedhartigheid behandel het en haar sewe diensmeisies sowel as die beste plek in die huis van die vroue gegee het. Die verslag sê selfs: “Die hele tyd het Ester steeds guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het” (Est. 2:9, 15). Sou skoonheid alleen almal so diep beïndruk het? Nee, daar het baie meer in Ester gesteek.

Ester het geweet dat nederigheid en wysheid baie belangriker is as fisiese voorkoms

13 Ons lees byvoorbeeld: “Ester het niks vertel van haar volk of haar familielede nie, want Mordegai het haar beveel om dit nie te vertel nie” (Est. 2:10). Mordegai het vir die jong vrou gesê om te  swyg oor haar Joodse herkoms; hy het ongetwyfeld gesien dat daar in die Persiese koningshuis groot vooroordeel teenoor sy volk was. Hoe bly moes dit hom tog gemaak het om uit te vind dat Ester nog net so wys en gehoorsaam was soos altyd, al was sy nie meer onder sy toesig nie!

14. Hoe kan jongmense vandag Ester se voorbeeld volg?

14 Jongmense kan vandag ook hulle ouers en voogde se hart verbly. Wanneer hulle nie by hulle ouers is nie—selfs al is hulle omring deur oppervlakkige, onsedelike of boosaardige mense—kan hulle slegte invloede weerstaan en bly by die standaarde wat hulle weet reg is. Wanneer hulle dit doen, maak hulle, net soos Ester, die hart van hulle hemelse Vader bly.—Lees Spreuke 27:11.

15, 16. (a) Hoe het Ester die koning se liefde gewen? (b) Waarom was die veranderinge in Ester se lewe moontlik vir haar ’n uitdaging?

15 Toe die tyd aangebreek het vir Ester om voor die koning te verskyn, is sy toegelaat om enigiets te kies wat sy gedink het sy nodig het, moontlik om haarself nog mooier te maak. Maar uit beskeidenheid het sy niks meer gevra as wat Hegai vir haar genoem het nie (Est. 2:15). Sy het waarskynlik besef dat skoonheid alleen nie die koning se hart sou wen nie; ’n beskeie en nederige gees sou ’n baie seldsamer eienskap in daardie hof wees. Was sy reg?

16 Die verslag antwoord: “Die koning het Ester meer liefgekry as al die ander vroue, sodat sy meer guns en liefderyke goedhartigheid voor hom gevind het as al die ander maagde. En hy het die koninklike hooftooisel op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti” (Est. 2:17). Dit moes vir hierdie nederige Joodse meisie moeilik gewees het om by die verandering in haar lewe aan te pas—sy was die nuwe koningin, die vrou van die magtigste koning op die aarde in daardie tyd! Het haar nuwe posisie na haar kop toe gegaan en haar trots gemaak? Glad nie!

17. (a) Hoe het Ester gehoorsaam gebly aan haar pleegvader? (b) Waarom is Ester se voorbeeld vandag vir ons belangrik?

17 Ester het gehoorsaam gebly aan haar pleegvader, Mordegai. Sy het haar verwantskap met die Joodse volk geheim gehou. En toe Mordegai ’n sameswering om Ahasveros dood te maak, ontdek het, het Ester sy waarskuwing gehoorsaam oorgedra aan die koning, en die samesweerders is gefnuik (Est. 2:20-23). Sy het steeds geloof in haar God getoon deur ’n nederige, gehoorsame gees te openbaar. Hoe nodig het ons tog Ester se voorbeeld in ons dag, wanneer daar selde waarde aan gehoorsaamheid geheg word en ongehoorsaamheid en opstandigheid aan die orde van die dag is! Maar mense met ware geloof beskou gehoorsaamheid as iets kosbaars, net soos Ester gedoen het.

 Ester se geloof word op die proef gestel

18. (a) Waarom het Mordegai moontlik geweier om voor Haman neer te buig? (Sien ook die voetnoot.) (b) Hoe volg manne en vroue van geloof vandag Mordegai se voorbeeld?

18 ’n Man met die naam Haman het ’n prominente posisie in Ahasveros se hof verkry. Die koning het hom as eerste minister aangestel, wat beteken het dat Haman sy hoofraadgewer en tweede in bevel in die ryk was. Die koning het selfs beveel dat almal wat hierdie amptenaar sien, voor hom moet neerbuig (Est. 3:1-4). Hierdie wet het vir Mordegai ’n probleem geskep. Hy het geglo dat hy aan die koning gehoorsaam moet wees, maar nie ten koste van eerbied teenoor God nie. Hou in gedagte dat Haman ’n Agagiet was. Dit beteken blykbaar dat hy ’n nakomeling was van Agag, die Amalekitiese koning wat deur God se profeet Samuel tereggestel is (1 Sam. 15:33). Die Amalekiete was so goddeloos dat hulle vyande van Jehovah en Israel geword het. As ’n volk is die Amalekiete deur God veroordeel (Deut. 25:19). * Hoe kon ’n getroue Jood voor ’n Amalekiet neerbuig? Mordegai kon nie. Hy het voet by stuk gehou. Vandag nog plaas manne en vroue van geloof hulle lewe op die spel deur getrou te bly aan hierdie beginsel: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Hand. 5:29.

19. Wat wou Haman doen, en hoe het hy die koning oorreed?

19 Haman was woedend. Maar dit was nie vir hom genoeg om ’n manier te vind om Mordegai dood te maak nie. Hy wou Mordegai se hele volk uitwis! Haman het die koning oorreed deur ’n negatiewe beeld van die Jode te skilder. Sonder om hulle by name te noem, het hy te kenne gegee dat hulle onbeduidend is, ’n volk “verstrooid en afgesonderd . . . onder die volke”. Nog erger, hy het gesê dat hulle nie die koning se wette gehoorsaam nie; gevolglik was hulle gevaarlike rebelle. Hy het aangebied om ’n groot som geld aan die koning se skatkamer te skenk om die onkoste te dek om al die Jode in die ryk dood te maak. * Ahasveros het die koning se seëlring aan Haman gegee om enige bevel wat hy in gedagte het, te bekragtig.—Est. 3:5-10.

20, 21. (a) Watter uitwerking het Haman se proklamasie op die Jode in die hele Persiese Ryk, insluitende Mordegai, gehad? (b) Wat het Mordegai Ester gesmeek om te doen?

20 Kort voor lank het boodskappers hulle te perd na elke  uithoek van die uitgestrekte ryk gehaas om die nuus van die doodsvonnis wat oor die Joodse volk uitgespreek is, te versprei. Stel jou voor watter uitwerking so ’n proklamasie moes gehad het toe dit die vergeleë Jerusalem bereik het, waar ’n oorblyfsel Jode wat uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, gesukkel het om ’n stad te herbou wat nog steeds geen beskermende muur gehad het nie. Dalk het Mordegai aan hulle sowel as aan sy eie vriende en familie in Susan gedink toe hy die verskriklike nuus gehoor het. Hewig ontsteld het hy sy klere geskeur, hom in saklinne geklee, as op sy kop gegooi en hard geskreeu in die middel van die stad. Haman het egter saam met die koning gesit en drink, min gepla oor die droefheid wat hy onder al die Jode en hulle vriende in Susan veroorsaak het.—Lees Ester 3:12–4:1.

21 Mordegai het geweet dat hy iets moes doen. Maar wat kon hy doen? Ester het gehoor hoe ontsteld hy is en het vir hom klere gestuur, maar Mordegai het geweier om vertroos te word. Miskien het hy reeds lank gewonder waarom sy God, Jehovah, toegelaat het dat sy geliefde Ester van hom weggeneem word en die koningin van ’n heidense heerser gemaak word. Nou het die rede vir hom begin duidelik word. Mordegai het ’n boodskap aan die koningin gestuur en Ester gesmeek om by die koning voorspraak te  doen, om vir “haar volk” op te kom.—Est. 4:4-8.

22. Waarom was Ester bang om voor haar man, die koning, te verskyn? (Sien ook die voetnoot.)

22 Ester se hart het sekerlik in haar skoene gesak toe sy hierdie boodskap hoor. Hier was die grootste toets van haar geloof. Sy was bang, en sy het dit openlik erken in haar antwoord aan Mordegai. Sy het hom aan die koning se wet herinner. Om voor die koning te verskyn sonder om ontbied te word, het ’n doodsvonnis beteken. Slegs as die koning sy goue septer uitgesteek het, is die oortreder gespaar. En het Ester enige rede gehad om sulke genade te verwag, veral met die oog op wat met Vasti gebeur het toe sy die koning se bevel om voor hom te verskyn, geïgnoreer het? Ester het vir Mordegai gesê dat dit al 30 dae is sedert die koning haar genooi het om na hom toe te kom! Hierdie gebrek aan aandag het haar genoeg rede gegee om te wonder of sy die wispelturige monarg se guns verloor het.—Est. 4:9-11. *

23. (a) Wat het Mordegai gesê om Ester se geloof te versterk? (b) Waarom is Mordegai ’n navolgenswaardige voorbeeld?

23 Mordegai het ferm geantwoord om Ester se geloof te versterk. Hy het haar verseker dat as sy niks doen nie, redding vir die Jode uit ’n ander oord sou kom. Maar hoe kon sy verwag om gespaar te word wanneer die vervolging toeneem? Hier het Mordegai sy vaste geloof in Jehovah getoon, wat nooit sou toelaat dat Sy volk uitgewis word en Sy beloftes onvervuld bly nie (Jos. 23:14). Toe het Mordegai vir Ester gevra: “Wie weet of jy nie met die oog op ’n tyd soos hierdie tot koninklike waardigheid gekom het nie?” (Est. 4:12-14). Is Mordegai nie ’n navolgenswaardige voorbeeld nie? Hy het ten volle op sy God, Jehovah, vertrou. Doen ons dit?—Spr. 3:5, 6.

 Geloof sterker as vrees vir die dood

24. Hoe het Ester geloof en moed aan die dag gelê?

24 Vir Ester het die tyd aangebreek om ’n besluit te neem. Sy het vir Mordegai gevra om te reël dat haar landgenote drie dae lank saam met haar vas, en sy het haar boodskap afgesluit met woorde wat vandag nog weerklink weens die sterk geloof en moed waarvan dit getuig: “As ek moet omkom, dan moet ek omkom” (Est. 4:15-17). Sy het ongetwyfeld in daardie drie dae vuriger gebid as ooit tevore in haar lewe. Maar uiteindelik het die oomblik aangebreek. Sy het haar mooiste koninklike klere aangetrek—sy het alles in haar vermoë gedoen om die koning se guns te wen. Toe het sy gegaan.

Ester het haar lewe op die spel geplaas om God se volk te beskerm

25. Beskryf hoe gebeure ontvou het toe Ester voor haar man verskyn het.

25 Soos aan die begin van hierdie hoofstuk beskryf is, het Ester na die koning se hof gegaan. Ons kan ons net voorstel hoe angstige gedagtes en vurige gebede haar verstand en hart moes gevul het. Sy het in die voorhof ingekom, waar sy Ahasveros op sy troon kon sien. Miskien het sy die uitdrukking op sy gesig probeer lees—die gesig wat geraam is deur die goed versorgde, simmetriese krulle van sy hare en van sy vierkantige baard. As sy moes wag, het dit seker soos ’n ewigheid gevoel. Maar die oomblik het verstryk—haar man het haar gesien. Hy was ongetwyfeld verbaas, maar sy gesigsuitdrukking het versag. Hy het sy goue septer uitgesteek!—Est. 5:1, 2.

26. Waarom het ware Christene moed soos dié van Ester nodig, en waarom het sy nog baie gehad om te doen?

26 Ester het ’n horende oor verkry. Sy het haar standpunt ingeneem vir haar God en vir haar volk, waardeur sy ’n pragtige voorbeeld van geloof gestel het vir al God se knegte deur die eeue heen. Ware Christene van vandag waardeer sulke voorbeelde. Jesus het gesê dat sy ware volgelinge deur selfopofferende liefde gekenmerk sou word. (Lees Johannes 13:34, 35.) Om hierdie liefde te toon, verg dikwels moed soos dié van Ester. Maar selfs nadat Ester daardie dag haar standpunt vir God se volk ingeneem het, het sy nog baie gehad om te doen. Hoe sou sy die koning oortuig dat sy gunstelingraadgewer, Haman, ’n bose konkelaar is? Hoe kon sy help om haar volk te red? Ons sal hierdie vrae in die volgende hoofstuk bespreek.

^ par. 2 Daar word algemeen geglo dat Ahasveros Xerxes I was, wat vroeg in die vyfde eeu VHJ oor die Persiese Ryk regeer het.

^ par. 9 Sien die venster “Vrae oor Ester”, in Hoofstuk 16.

^ par. 18 Haman was moontlik een van die allerlaaste Amalekiete, aangesien “die oorblyfsel” van hulle in die dae van koning Hiskia uitgeroei is.—1 Kron. 4:43.

^ par. 19 Haman het 10 000 talente silwer aangebied, wat vandag honderdmiljoene rande werd is. As Ahasveros Xerxes I was, het die geld Haman se aanbod moontlik aantrekliker gemaak. Xerxes het ’n fortuin nodig gehad om sy lang voorgenome maar uiteindelik rampspoedige oorlog teen Griekeland te voer.

^ par. 22 Xerxes I was bekend vir sy onvoorspelbare, vreeslike humeur. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus het voorbeelde hiervan opgeteken uit Xerxes se oorlog teen Griekeland. Die koning het beveel dat ’n pontonbrug van skepe oor die Straat van Hellespont gebou word. Toe ’n storm die brug verwoes het, het Xerxes beveel dat die ingenieurs onthoof word en het hy selfs sy manskappe die Hellespont laat “straf” deur die water met swepe te slaan terwyl ’n beledigende verklaring voorgelees is. Toe ’n ryk man gedurende dieselfde krygstog gesmeek het dat sy seun van militêre diens vrygestel word, het Xerxes die seun middeldeur laat sny en sy liggaam as ’n waarskuwing laat ten toon stel.