Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK SEWE

Hy “het grootgeword by Jehovah”

Hy “het grootgeword by Jehovah”

1, 2. Onder watter omstandighede het Samuel die volk Israel toegespreek, en waarom moes hy hulle beweeg om berou te toon?

SAMUEL het na die gesigte van sy volksgenote gekyk. Die nasie het by die dorp Gilgal vergader nadat hulle byeengeroep is deur hierdie getroue man, wat dekades lank as profeet en rigter gedien het. Dit was Mei of Junie volgens die hedendaagse kalender, diep in die droë seisoen. Die koring was goud op die lande, gereed om geoes te word. ’n Stilte het oor die skare gesak. Hoe kon Samuel hulle harte bereik?

2 Die volk het nie verstaan hoe ernstig hulle situasie is nie. Hulle het vroeër daarop aangedring dat ’n mensekoning oor hulle heers. Hulle het nie begryp dat hulle ’n ernstige gebrek aan eerbied vir hulle God, Jehovah, en vir sy profeet getoon het nie. Hulle het in werklikheid Jehovah verwerp as hulle Koning! Hoe kon Samuel hulle beweeg om berou te toon?

Samuel se kinderjare kan ons baie leer oor hoe om geloof in Jehovah op te bou ten spyte van slegte invloede

3, 4. (a) Waarom het Samuel oor sy jeug gepraat? (b) Waarom is Samuel se voorbeeld van geloof vandag vir ons nuttig?

3 Samuel het gepraat. “Ek het oud en grys geword”, het hy vir die skare gesê. Sy grys hare het gewig aan sy woorde verleen. Toe het hy gesê: “Ek het van my jeug af tot vandag toe voor julle gewandel” (1 Sam. 11:14, 15; 12:2). Hoewel Samuel oud was, het hy nie sy jeug vergeet nie. Sy herinneringe aan daardie vroeë dae was nog helder. Die besluite wat hy destyds as ’n seun geneem het, het hom gelei tot ’n lewe van geloof en toegewydheid aan sy God, Jehovah.

4 Samuel moes geloof opbou en dit handhaaf, hoewel hy keer op keer deur ontroue en dislojale mense omring is. Vandag is dit net so ’n uitdaging om geloof op te bou, aangesien ons in ’n ontroue en  verdorwe wêreld lewe. (Lees Lukas 18:8.) Kom ons kyk wat ons uit Samuel se voorbeeld kan leer deur by sy vroeë kinderjare te begin.

Hy het “as ’n seun voor Jehovah gedien”

5, 6. In watter opsig was Samuel se kinderjare buitengewoon, maar waarom was sy ouers seker dat daar goed na hom omgesien word?

5 Samuel se kinderjare was buitengewoon. Kort nadat hy gespeen is, moontlik op die ouderdom van drie of ’n bietjie ouer, het hy ’n lewe van diens begin by die heilige tabernakel van Jehovah by Silo, meer as 30 kilometer van sy ouerhuis in Rama. Sy ouers, Elkana en Hanna, het hulle seun in ’n spesiale vorm van diens aan Jehovah gewy, wat beteken het dat hy lewenslank ’n Nasireër sou wees. * Beteken dit dat Samuel se ouers hom verstoot het en nie liefgehad het nie?

6 Beslis nie! Hulle het geweet dat daar in Silo na hulle seun omgesien sou word. Die hoëpriester Eli het ongetwyfeld oor sake toesig gehou, want Samuel het ten nouste saam met hom gewerk. Daar was ook ’n aantal vroue wat die een of ander diens in verband met die tabernakel verrig het, klaarblyklik op ’n georganiseerde wyse.—Eks. 38:8; Rigt. 11:34-40.

7, 8. (a) Hoe het Samuel se ouers hom jaar ná jaar liefdevolle aanmoediging gegee? (b) Wat kan ouers van vandag by Samuel se ouers leer?

7 Daarbenewens het Hanna en Elkana nooit hulle geliefde eersgeborene, wie se geboorte ’n antwoord op ’n gebed was, vergeet nie. Hanna het God vir ’n seun gevra en het belowe om hom in ’n lewe van heilige diens aan God te wy. Wanneer Hanna Samuel elke jaar besoek het, het sy vir hom ’n nuwe moulose oorkleed gebring wat sy vir sy diens by die tabernakel gemaak het. Die seuntjie het daardie besoeke sekerlik baie waardeer. Hy het ongetwyfeld gefloreer op sy ouers se liefdevolle aanmoediging en leiding terwyl hulle hom geleer het wat ’n voorreg dit is om Jehovah by daardie unieke plek te dien.

8 Ouers van vandag kan baie by Hanna en Elkana leer. In die grootmaak van hulle kinders spits ouers hulle dikwels geheel en al op materiële dinge toe en ignoreer hulle geestelike behoeftes. Maar Samuel se ouers het geestelike dinge eerste gestel, en dit het ’n groot invloed gehad op die soort man wat hulle seun geword het.—Lees Spreuke 22:6.

9, 10. (a) Beskryf die tabernakel en hoe die jong Samuel oor hierdie heilige plek gevoel het. (Sien ook die voetnoot.) (b) Wat het Samuel se verantwoordelikhede dalk ingesluit, en hoe dink jy kan jongmense van vandag sy voorbeeld volg?

9 Ons kan ons voorstel hoe die seun groter geword en die heuwels  om Silo verken het. Terwyl hy uitgekyk het oor die dorp en die vallei wat daaronder aan die een kant uitgesprei gelê het, het sy hart waarskynlik oorgeloop van vreugde en trots wanneer hy Jehovah se tabernakel gesien het. Die tabernakel was inderdaad ’n heilige plek. * Dit is byna 400 jaar tevore onder die toesig van Moses gebou en was die enigste sentrum van die ware aanbidding van Jehovah in die hele wêreld.

10 Die jong Samuel het lief geword vir die tabernakel. In die verslag wat hy later geskryf het, lees ons: “Samuel het as ’n seun voor Jehovah gedien, omgord met ’n linne-efod” (1 Sam. 2:18). Hierdie eenvoudige moulose kleed het blykbaar aangedui dat Samuel die priesters by die tabernakel gehelp het. Hoewel Samuel nie tot die priesterlike klas behoort het nie, het hy pligte gehad, soos om soggens die deure wat op die tabernakel se voorhof uitgeloop het, oop te maak en die bejaarde Eli te bedien. Maar al het hy sy voorregte baie geniet, het sy onskuldige hart ná verloop van tyd verontrus geraak. Daar was groot fout by Jehovah se huis.

Hy het rein gebly te midde van verdorwenheid

11, 12. (a) Wat was Hofni en Pinehas se grootste tekortkoming? (b) Watter soort goddeloosheid en verdorwenheid het Hofni en Pinehas by die tabernakel beoefen? (Sien ook die voetnoot.)

11 Samuel het op ’n jong ouderdom groot goddeloosheid en verdorwenheid gesien. Eli het twee seuns gehad, Hofni en Pinehas. Samuel se verslag sê: “Die seuns van Eli was deugniete; hulle het Jehovah nie erken nie” (1 Sam. 2:12). Die twee gedagtes in hierdie vers gaan hand aan hand. Hofni en Pinehas was “deugniete”—letterlik “seuns van waardeloosheid”—omdat hulle geen agting vir Jehovah gehad het nie. Hulle het hulle glad nie aan sy regverdige standaarde en vereistes gesteur nie. Uit hierdie een tekortkoming het al hulle ander sondes voortgespruit.

12 God se Wet het die priesters se pligte en die manier waarop hulle offerandes by sy tabernakel moes bring, duidelik uiteengesit. En met goeie rede! Hierdie offerandes het God se voorsienings verteenwoordig om sondes te vergewe sodat mense in sy oë rein kon wees en vir sy seën en leiding in aanmerking kon kom. Maar Hofni en  Pinehas het hulle medepriesters beïnvloed om die offers met groot minagting te behandel. *

13, 14. (a) Watter uitwerking het die goddeloosheid by die tabernakel ongetwyfeld op opregte mense gehad? (b) Hoe het Eli as vader sowel as hoëpriester gefaal?

13 Stel jou voor hoe die jong Samuel met groot oë toekyk terwyl hierdie ernstige misbruike ongestraf voortduur. Hoeveel mense—insluitende armes, nederiges, onderdruktes—het hy na daardie heilige tabernakel sien kom in die hoop om geestelike vertroosting en krag te vind, maar teleurgesteld, gekwets of verneder daar sien weggaan? En hoe het hy gevoel toe hy uitvind dat Hofni en Pinehas ook Jehovah se wette oor geslagsedelikheid verontagsaam het, aangesien hulle geslagsomgang gehad het met party van die vroue wat daar by die tabernakel gedien het? (1 Sam. 2:22). Dalk het hy gehoop dat Eli iets daaromtrent sou doen.

Dit moes Samuel diep verontrus het om die goddeloosheid van Eli se seuns te sien

14 Eli was in die beste posisie om die groeiende probleem reg te stel. As hoëpriester was hy verantwoordelik vir wat by die tabernakel gebeur. As vader was dit sy plig om sy seuns tereg te wys. Hulle het immers hulleself sowel as baie ander in die land skade berokken. Eli het egter in albei opsigte gefaal, as vader en as hoëpriester. Hy het sy seuns net ligtelik berispe. (Lees 1 Samuel 2:23-25.) Maar sy seuns het baie strenger dissipline nodig gehad. Hulle het sondes gepleeg wat die dood verdien het!

15. Watter sterk boodskap het Jehovah aan Eli gestuur, en hoe het Eli se familie op die waarskuwing gereageer?

15 Dinge het so erg geword dat Jehovah “’n man van God”, ’n ongenoemde profeet, met ’n sterk oordeelsboodskap na Eli gestuur het. Jehovah het vir Eli gesê: “Jy [bly] jou seuns meer as my eer.” God het dus voorspel dat Eli se goddelose seuns op een dag sou sterf en dat Eli se familie grootliks sou ly en selfs hulle bevoorregte posisie in die priesterlike klas sou verloor. Het hierdie kragtige waarskuwing ’n verandering in daardie familie teweeggebring? Die verslag toon nie dat daar enige verandering van hartstoestand was nie.—1 Sam. 2:27–3:1.

16. (a) Watter verslae lees ons aangaande die jong Samuel se vooruitgang? (b) Is hierdie verslae vir jou hartverblydend? Verduidelik.

16 Watter uitwerking het al hierdie verdorwenheid op die jong Samuel  gehad? Van tyd tot tyd vind ons in hierdie sombere verslag helder ligstrale, goeie nuus oor Samuel se ontwikkeling en vooruitgang. Onthou dat ons in 1 Samuel 2:18 gelees het dat Samuel getrou “as ’n seun voor Jehovah gedien” het. Selfs op daardie jong ouderdom het Samuel sy diens aan God die middelpunt van sy lewe gemaak. In vers 21 van dieselfde hoofstuk lees ons iets wat selfs hartverblydender is: “Die seun Samuel het grootgeword by Jehovah.” Namate hy ouer geword het, het sy band met sy hemelse Vader sterker geword. So ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah is die beste beskerming teen enige vorm van verdorwenheid.

17, 18. (a) Hoe kan jong Christene Samuel se voorbeeld volg wanneer hulle voor verdorwenheid te staan kom? (b) Wat toon dat Samuel die regte weg gekies het?

17 Samuel kon maklik geredeneer het dat hy net so wel kan doen wat hy wil, aangesien die hoëpriester en sy seuns voor sonde geswig het. Maar die verdorwenheid van ander, insluitende dié in gesagsposisies, is nooit ’n verskoning om te sondig nie. Vandag volg talle jong Christene Samuel se voorbeeld en ‘word hulle groot by Jehovah’—selfs wanneer party om hulle nie ’n goeie voorbeeld stel nie.

18 Hoe het hierdie weg vir Samuel afgeloop? Ons lees: “Die hele tyd het die seun Samuel groter en meer geliefd geword vanuit Jehovah se standpunt sowel as vanuit dié van mense” (1 Sam. 2:26). Samuel was dus geliefd, ten minste by dié wie se opinies saak gemaak het. Jehovah het hierdie seun gekoester weens sy getrouheid. En Samuel het sekerlik geweet dat sy God teen al die verdorwenheid in Silo sou optree, maar dalk het hy gewonder wanneer dit sou gebeur. Een nag is hierdie vraag beantwoord.

 “Spreek, want u kneg luister”

19, 20. (a) Beskryf wat laat een nag met Samuel by die tabernakel gebeur het. (b) Hoe het Samuel uitgevind wie die bron van die boodskap was, en hoe het hy Eli behandel?

19 Dit was amper oggend maar nog donker; die flikkerende lig van die tent se groot lamp het nog gebrand. In die stilte het Samuel ’n stem gehoor wat sy naam roep. Hy het gedink dat dit Eli is, wat teen dié tyd al baie oud en byna blind was. Samuel het opgestaan en na die ou man toe “gehardloop”. Kan jy in jou verbeelding sien hoe die seun kaalvoet na Eli toe hardloop om uit te vind wat hy nodig het? Dit is aangrypend om te sien dat Samuel Eli met respek en liefde behandel het. Ondanks al sy sondes was Eli nog steeds Jehovah se hoëpriester.—1 Sam. 3:2-5.

20 Samuel het Eli wakker gemaak en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Maar Eli het gesê dat hy nie geroep het nie en het die seun teruggestuur bed toe. Wel, dieselfde ding het weer en toe weer gebeur! Uiteindelik het Eli besef wat aangaan. Jehovah het selde ’n visioen of ’n profetiese boodskap aan sy volk gestuur, en dit is nie moeilik om te sien waarom nie. Maar Eli het geweet dat Jehovah nou weer spreek—dié keer tot hierdie seun! Eli het Samuel teruggestuur bed toe en vir hom gesê hoe om op gepaste wyse te antwoord. Samuel het na hom geluister. Kort voor lank het hy die stem hoor roep: “Samuel, Samuel!” Die seun het geantwoord: “Spreek, want u kneg luister.”—1 Sam. 3:1, 5-10.

21. Hoe kan ons vandag na Jehovah luister, en waarom is dit voordelig om dit te doen?

21 Jehovah het uiteindelik ’n kneg in Silo gehad wat na hom luister. Dít het Samuel se lewenspatroon geword. Is dit die geval met jou? Ons hoef nie te wag dat ’n bonatuurlike stem in die nag met ons praat nie. Vandag is God se stem in sekere sin altyd daar. Dit is daar in sy voltooide Woord, die Bybel. Hoe meer ons na God luister en hom gehoorsaam, hoe sterker sal ons geloof word. Dit was die geval met Samuel.

Ten spyte van sy vrees het Samuel Jehovah se oordeelsboodskap getrou aan Eli oorgedra

22, 23. (a) Hoe is die boodskap wat Samuel aanvanklik bang was om oor te dra, bewaarheid? (b) Waarom het Samuel se reputasie bly toeneem?

22 Daardie nag in Silo was ’n mylpaal in Samuel se lewe, want van toe af het hy Jehovah in ’n spesiale sin leer ken en God se profeet en woordvoerder geword. Die seun was aanvanklik bang om Jehovah se boodskap aan Eli oor te dra, want dit was ’n finale uitspraak dat die profesie teen daardie familie weldra bewaarheid sou word. Maar Samuel het die moed bymekaargeskraap—en Eli het hom nederig berus by God se oordeel. Kort daarna is alles wat Jehovah gesê het, vervul: Israel het teen die Filistyne gaan oorlog voer, Hofni en Pinehas is op een dag doodgemaak en Eli het gesterf toe hy  hoor dat Jehovah se heilige Ark buitgemaak is.—1 Sam. 3:10-18; 4:1-18.

23 Maar Samuel se reputasie as ’n getroue profeet het bly toeneem. “Jehovah was met hom”, sê die verslag en voeg by dat Jehovah geeneen van Samuel se profesieë laat faal het nie.—Lees 1 Samuel 3:19.

‘Samuel het Jehovah aangeroep’

24. Wat het die Israeliete ná verloop van tyd besluit, en waarom was dit ’n ernstige sonde?

24 Het die Israeliete Samuel se voorbeeld gevolg en ’n geestelike, getroue volk geword? Nee. Ná verloop van tyd het hulle besluit dat hulle nie wou hê dat ’n blote profeet hulle moet rig nie. Hulle wou soos ander nasies wees en ’n mensekoning hê wat oor hulle heers. Op Jehovah se bevel het Samuel aan hulle versoek voldoen. Maar hy moes Israel die erns van hulle sonde laat besef. Hulle het nie ’n blote mens verwerp nie, maar Jehovah self! Daarom het hy die volk by Gilgal byeengeroep.

Samuel het in geloof gebid, en Jehovah het met ’n donderstorm geantwoord

25, 26. Hoe het die bejaarde Samuel sy volksgenote by Gilgal uiteindelik help besef hoe ernstig hulle sonde teen Jehovah is?

25 Kom ons sluit weer by hom aan op daardie spanningsvolle oomblik dat hy Israel by Gilgal toespreek. Daar het die bejaarde Samuel Israel aan sy ongebroke rekord van onkreukbaarheid herinner. Dan lees ons: “Samuel [het] Jehovah aangeroep.” Hy het Jehovah gevra om ’n donderstorm te stuur.—1 Sam. 12:17, 18.

26 ’n Donderstorm? In die droë seisoen? So iets was ongehoord! As enigiemand hoegenaamd skepties was of gespot het, het dit nie lank geduur nie. Donker wolke het skielik saamgepak. Die wind het die koring op die lande platgewaai. Donderslae het gedreun en gerommel. En die reën het neergestort. Die reaksie? “Die hele volk [het] Jehovah en Samuel baie gevrees.” Uiteindelik het hulle besef hoe ernstig hulle gesondig het.—1 Sam. 12:18, 19.

27. Hoe voel Jehovah oor diegene wat Samuel se geloof navolg?

27 Nie Samuel nie, maar sy God, Jehovah, het hulle opstandige harte bereik. Van sy jeug af tot op sy oudag het Samuel geloof gestel in sy God. En Jehovah het hom beloon. Jehovah het tot vandag toe nie verander nie. Hy onderskraag nog steeds dié wat Samuel se geloof navolg.

^ par. 5 Die Nasireërs is gebind deur ’n gelofte waarvolgens hulle nie toegelaat is om alkohol te drink of hulle hare te sny nie. Die meeste het so ’n gelofte net vir ’n bepaalde tyd afgelê, maar ’n paar, soos Simson, Samuel en Johannes die Doper, was lewenslank Nasireërs.

^ par. 9 Die tabernakel was reghoekig, basies ’n groot tent oor ’n houtraamwerk. Maar dit was gemaak van die allerbeste materiale—robbevelle, pragtig geborduurde doeke asook duur hout wat met silwer en goud bedek was. Die tabernakel het in ’n reghoekige voorhof gestaan waarin daar ook ’n indrukwekkende altaar vir offerandes was. Mettertyd is ander vertrekke klaarblyklik aan die kante van die tabernakel opgerig vir die gebruik van die priesters. Samuel het blykbaar in een van hierdie vertrekke geslaap.

^ par. 12 Die verslag bevat twee voorbeelde van minagting. Eerstens, die Wet het voorgeskryf watter dele van ’n offerande aan die priesters gegee moes word om te eet (Deut. 18:3). Maar by die tabernakel het die goddelose priesters ’n heeltemal ander gebruik gevolg. Hulle het hulle dienaars eenvoudig ’n groot vurk in die pot waarin die vleis gekook het, laat steek en enige smaaklike stuk wat uitgekom het, laat neem! Tweedens, wanneer mense hulle offerandes gebring het om op die altaar gebrand te word, het die goddelose priesters ’n dienaar gekry om die offeraar te intimideer en die rou vleis te eis nog voordat die vet van die offerande aan Jehovah geoffer is.—Lev. 3:3-5; 1 Sam. 2:13-17.