Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK SES

Sy het haar hart in gebed voor God uitgestort

Sy het haar hart in gebed voor God uitgestort

1, 2. (a) Waarom was Hanna ongelukkig toe sy vir ’n reis voorberei het? (b) Wat kan ons uit Hanna se verhaal leer?

HANNA het doenig gebly met voorbereidings vir die reis in ’n poging om haar gedagtes besig te hou. Dit moes eintlik ’n gelukkige tyd gewees het; dit was Elkana, haar man, se gewoonte om die hele gesin op hierdie jaarlikse reise te neem om by die tabernakel in Silo te gaan aanbid. Jehovah wou hê dat hierdie geleenthede vreugdevol moes wees. (Lees Deuteronomium 16:15.) En Hanna het dit ongetwyfeld van kleins af baie geniet om hierdie feeste by te woon. Maar in onlangse jare het dinge vir haar verander.

2 Sy was geseën met ’n man wat haar liefgehad het. Maar Elkana het nog ’n vrou gehad. Haar naam was Peninna, en sy was blykbaar daarop uit om Hanna se lewe te vergal. Peninna het ’n manier gevind om selfs hierdie jaarlikse geleenthede vir Hanna ’n marteling te maak. Hoe? Nog belangriker, hoe het Hanna se geloof in Jehovah haar gehelp om ’n situasie te verduur wat dikwels ondraaglik gelyk het? As jy met uitdagings te kampe het wat jou van jou lewensvreugde beroof, sal Hanna se verhaal jou moontlik diep raak.

“Waarom is jou hart bedroef?”

3, 4. Watter twee groot probleme het Hanna gehad, en waarom was albei ’n uitdaging?

3 Die Bybel toon dat Hanna twee groot probleme in haar lewe gehad het. Sy het min beheer oor die eerste gehad en hoegenaamd geen beheer oor die tweede nie. In die eerste plek was sy in ’n veelwywige huwelik, en haar mededingster het haar gehaat. In die tweede plek was sy onvrugbaar. Hierdie toestand is moeilik vir enige vrou wat daarna smag om kinders te hê; maar in Hanna se tyd en kultuur was dit ’n bron van groot smart. Elke gesin het staatgemaak op ’n nageslag om die familienaam te laat voortbestaan. Onvrugbaarheid is beskou as ’n bittere smaad en skande.

4 Hanna sou dalk haar las moedig kon verduur het as dit nie vir Peninna was nie. Veelwywery was nooit ’n ideale situasie nie. Wedywering, twis en hartseer was baie algemeen. Die gebruik was ’n groot  afwyking van die standaard van monogamie wat God in die tuin van Eden gestel het (Gen. 2:24). Die Bybel skets dus ’n droewige prentjie van veelwywery, en die aangrypende uitbeelding van die lewe in Elkana se huishouding is een van die sprekende potloodstrepe in daardie skets.

5. Waarom wou Peninna hê dat Hanna moes ly, en hoe het sy Hanna seergemaak?

5 Elkana het Hanna die liefste gehad. Volgens Joodse oorlewering het hy eers met Hanna getrou en toe ’n paar jaar later met Peninna. Hoe dit ook al sy, Peninna, wat uiters jaloers was op Hanna, het baie maniere gevind om haar mededingster te laat ly. Die groot voordeel wat Peninna bo Hanna gehad het, het verband gehou met vrugbaarheid. Peninna het die een kind ná die ander gehad, en met elke nuwe kind het sy al hoe verwaander geraak. Pleks van jammer te voel vir Hanna en haar in haar teleurstelling te vertroos, het Peninna hierdie sensitiewe punt uitgebuit. Die Bybel sê dat Peninna Hanna erg getart het “om haar ontsteld te laat voel” (1 Sam. 1:6). Peninna het dit opsetlik gedoen. Sy wou Hanna seermaak, en sy het dit reggekry.

Hanna was baie ongelukkig oor haar onvrugbaarheid, en Peninna het alles in haar vermoë gedoen om Hanna nog erger te laat voel

6, 7. (a) Waarom het Hanna Elkana dalk nie alles vertel nie, ten spyte van sy pogings om haar te vertroos? (b) Het Hanna se onvrugbaarheid beteken dat Jehovah ontevrede was met haar? Verduidelik. (Sien die voetnoot.)

6 Die jaarlikse pelgrimsreis na Silo was blykbaar vir Peninna die ideale geleentheid om Hanna te tart. Elkana het aan elkeen van Peninna se baie kinders—“al haar seuns en haar dogters”—dele van die offerandes gegee wat aan Jehovah gebring is. Die geliefde Hanna het egter ’n spesiale deel ontvang. Die jaloerse Peninna het haar dan in so mate bo Hanna verhef en haar aan haar onvrugbaarheid herinner dat die arme vrou begin huil het en selfs haar eetlus verloor het. Elkana het natuurlik gesien dat sy dierbare Hanna ontsteld is en nie eet nie, en daarom het hy haar probeer vertroos. “Hanna”, het hy gevra, “waarom huil jy, en waarom eet jy nie, en waarom is jou hart bedroef? Is ek nie vir jou beter as tien seuns nie?”—1 Sam. 1:4-8.

7 Dit strek Elkana tot eer dat hy besef het dat Hanna se ontsteltenis verband hou met haar onvrugbaarheid. En Hanna het ongetwyfeld die tere versekerings van sy liefde baie waardeer. * Maar Elkana  het niks oor Peninna se kwaadwilligheid gesê nie; die Bybelverslag gee ook nie te kenne dat Hanna hom daarvan vertel het nie. Dalk het sy besef dat dit haar situasie net sou vererger as sy Peninna aan die kaak stel. Sou Elkana werklik dinge verander? Sou Peninna nie dalk net groter minagting vir Hanna hê nie, en sou daardie venynige vrou se kinders en die knegte nie miskien haar voorbeeld volg nie? Hanna sou net al hoe meer soos ’n uitgeworpene in haar eie huis voel.

Hanna het haar tot Jehovah gewend om vertroosting toe sy gemene behandeling by die huis verduur het

8. Waarom is dit vertroostend om te onthou dat Jehovah die God van geregtigheid is wanneer jy met kleinlike gemeenheid of onregverdigheid te kampe het?

8 Of Elkana bewus was van presies hoe kleinlik en gemeen Peninna was of nie, Jehovah God het alles gesien. Sy Woord openbaar die volle prentjie en voorsien sodoende ’n ernstige waarskuwing aan almal wat hulle skuldig maak aan jaloerse en haatlike dade wat op die oog af nie so erg lyk nie. Daarenteen kan die onskuldiges en die vredeliewendes, soos Hanna, vertroosting put uit die wete dat die God van geregtigheid alles op sy tyd en op sy manier regstel. (Lees Deuteronomium 32:4.) Dalk het Hanna dit geweet, want sy het haar tot Jehovah gewend om hulp.

‘Nie meer besorg oor haar situasie nie’

9. Watter les kan ons leer uit Hanna se bereidwilligheid om na Silo te reis, al het sy geweet hoe haar mededingster sou optree?

9 Die huisgesin was van die vroeë oggendure af bedrywig. Almal het gereedgemaak vir die reis, selfs die kinders. Die reis na Silo sou die groot gesin meer as 30 kilometer oor die heuwelagtige terrein van Efraim neem. * Dit sou ’n dag of twee neem om die reis te voet af te lê. Hanna het geweet hoe haar mededingster sou optree. Maar Hanna het nie by die huis gebly nie. Dit maak haar vandag nog ’n navolgenswaardige voorbeeld vir aanbidders van God. Dit is nooit verstandig om toe te laat dat ander se swak gedrag ons aanbidding van God belemmer nie. As ons dit doen, sal ons die einste seëninge verbeur wat ons versterk om te volhard.

10, 11. (a) Waarom het Hanna by die eerste geleentheid na die tabernakel gegaan? (b) Hoe het Hanna haar hart in gebed voor haar hemelse Vader uitgestort?

10 Ná ’n lang dag se gestap op kronkelende bergpaaie het die groot gesin uiteindelik naby Silo gekom. Daar het dit gelê, op ’n heuwel wat byna omring was deur hoër heuwels. Terwyl hulle nader gestap het, het Hanna waarskynlik lank nagedink oor wat sy vir Jehovah in gebed sou sê. Met hulle aankoms het die gesin saam geëet. Hanna het by die eerste geleentheid van die groep af weggeglip en na die tabernakel van Jehovah gegaan. Die hoëpriester Eli was daar  en het naby die deurpos gesit. Maar Hanna se aandag was gevestig op haar God. Sy het die vertroue gehad dat sy hier by die tabernakel verhoor sou word. Miskien kon niemand anders haar jammerlike situasie verstaan nie, maar haar Vader in die hemel kon wel. Haar bitterheid het in haar opgewel, en sy het begin huil.

11 Met snikke wat deur haar liggaam ruk, het Hanna in haar hart met Jehovah gepraat. Haar lippe het gebewe terwyl sy die woorde in haar gedagtes gevorm het om haar pyn uit te druk. En sy het lank gebid en haar hart voor haar Vader uitgestort. Haar gebed was egter meer as ’n blote versoek aan God om haar oorweldigende begeerte te bevredig om ’n nageslag voort te bring. Hanna wou nie net graag God se seëninge ontvang nie, maar sy wou hom ook gee wat sy kon. Daarom het sy ’n gelofte gedoen en gesê dat sy, as sy ’n seun sou hê, die kind al die dae van sy lewe aan Jehovah sou gee om hom te dien.—1 Sam. 1:9-11.

12. Wat moet ons, na aanleiding van Hanna se voorbeeld, in gedagte hou in verband met gebed?

12 So het Hanna vir al God se knegte ’n voorbeeld gestel wat gebed betref. Jehovah nooi sy knegte liefdevol om openhartig, sonder voorbehoud, met hom te praat en hulle sorge voor hom uit te stort soos ’n kind sou doen wat sy liefdevolle ouer vertrou. (Lees Psalm 62:8; 1 Tessalonisense 5:17.) Die apostel Petrus is geïnspireer om hierdie vertroostende woorde oor gebed tot Jehovah neer te skryf: ‘Werp al julle sorge op hom, want hy sorg vir julle.’—1 Pet. 5:7.

13, 14. (a) Watter verkeerde, oorhaastige gevolgtrekking het Eli oor Hanna gemaak? (b) Hoe is Hanna se antwoord aan Eli ’n merkwaardige voorbeeld van geloof?

13 Mense het egter nie soveel begrip en empatie soos Jehovah nie. Terwyl Hanna gehuil en gebid het, het ’n stem haar laat skrik. Dit was Eli, die hoëpriester, wat haar dopgehou het. Hy het gesê: “Hoe lank sal jy jou soos ’n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg.” Eli het Hanna se bewende lippe, haar snikke en haar emosionele gedrag gesien. Pleks van te vra wat verkeerd is, het hy oorhaastig die gevolgtrekking gemaak dat sy dronk is.—1 Sam. 1:12-14.

14 Hoe seer moes so ’n ongegronde beskuldiging Hanna tog op daardie oomblik van smart gemaak het—en dít deur ’n man wat so ’n geëerde posisie beklee het! Sy het nietemin weer ’n prysenswaardige voorbeeld van geloof gestel. Sy het nie toegelaat dat ’n man se onvolmaakthede haar aanbidding van Jehovah negatief beïnvloed nie. Sy het Eli respekvol geantwoord en haar situasie verduidelik. Hy het moontlik besef dat hy verkeerd was en het op ’n sagter toon geantwoord: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou versoek toestaan wat jy van hom gevra het.”—1 Sam. 1:15-17.

15, 16. (a) Watter uitwerking het dit op Hanna gehad om haar hart voor Jehovah uit te stort en hom by die tabernakel te aanbid? (b) Hoe kan ons Hanna se voorbeeld volg wanneer ons met negatiewe gevoelens worstel?

 15 Watter uitwerking het dit op Hanna gehad om haar hart voor Jehovah uit te stort en hom daar by sy tabernakel te aanbid? Die verslag sê: “Die vrou het weggegaan en geëet, en haar gesig het nie meer besorgdheid oor haar situasie getoon nie” (1 Sam. 1:18). The Jerusalem Bible sê hier: “Haar gesig was nie meer hartseer nie.” Hanna was verlig. Sy het as ’t ware die gewig van haar emosionele las verskuif na skouers wat oneindig breër en sterker was as haar eie, dié van haar hemelse Vader. (Lees Psalm 55:22.) Is enige probleem te swaar vir hom? Nee—nie toe nie, nie nou nie, nooit nie!

16 Wanneer ons swaar belas is, oorweldig voel of baie hartseer is, kan ons gerus Hanna se voorbeeld volg en openhartig praat met die Een wat die Bybel die “Hoorder van die gebed” noem (Ps. 65:2). As ons dit in geloof doen, sal ons ook moontlik vind dat ons hartseer vervang word deur “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”.—Fil. 4:6, 7.

“Daar is geen rots soos ons God nie”

17, 18. (a) Hoe het Elkana getoon dat hy Hanna se gelofte ondersteun het? (b) Watter vermoë het Peninna verloor?

17 Die volgende oggend het Hanna saam met Elkana na die tabernakel teruggekeer. Sy het hom waarskynlik vertel van haar versoek en haar gelofte, want die Mosaïese Wet het gesê dat ’n man die reg het om ’n gelofte wat sy vrou sonder sy toestemming afgelê het, nietig te verklaar (Num. 30:10-15). Maar daardie getroue man het niks van die aard gedoen nie. Hy en Hanna het Jehovah eerder saam by die tabernakel aanbid voordat hulle teruggekeer het huis toe.

18 Presies wanneer het Peninna besef dat sy nie meer die vermoë het om Hanna te ontstel nie? Die verslag sê nie, maar die uitdrukking ‘nie meer besorg oor haar situasie nie’ gee te kenne dat Hanna van toe af baie beter gevoel het. Hoe dit ook al sy, Peninna het gou agtergekom dat haar venynige gedrag geen uitwerking het nie. Die Bybel maak nooit weer melding van haar nie.

19. Watter seën het Hanna ontvang, en hoe het sy getoon dat sy weet waar hierdie seën vandaan kom?

19 Ná verloop van maande het Hanna se gemoedsrus verander in onbeteuelde vreugde. Sy was swanger! In haar vreugde het Hanna nie vir ’n oomblik vergeet waar hierdie seën vandaan kom nie. Toe die seun gebore is, het sy die naam Samuel gekies, wat “Naam van God” beteken en wat klaarblyklik verwys na die aanroep van die goddelike naam, soos Hanna gedoen het. Daardie jaar het sy nie saam met Elkana en die gesin die reis na Silo afgelê nie. Sy het drie jaar lank met die kind by die huis gebly, totdat hy gespeen is. Toe het sy haar  gestaal vir die dag waarop sy van haar geliefde seun sou moes afskeid neem.

20. Hoe het Hanna en Elkana die belofte nagekom wat hulle aan Jehovah gemaak het?

20 Die afskeid kon nie maklik gewees het nie. Hanna het natuurlik geweet dat daar in Silo goed na Samuel omgesien sou word, moontlik deur party van die vroue wat by die tabernakel gedien het. Tog was hy so klein, en watter moeder smag nie daarna om by haar kind te wees nie? Nogtans het Hanna en Elkana die seun geneem, nie met teësin nie, maar met dankbaarheid. Hulle het offerandes by die huis van God gebring, en hulle het Samuel vir Eli aangebied en Eli herinner aan die gelofte wat Hanna jare tevore daar gedoen het.

Hanna was ’n ware seën vir haar seun Samuel

21. Hoe het Hanna se gebed tot Jehovah die diepte van haar geloof geopenbaar? (Sien ook die venster “ Twee merkwaardige gebede”.)

21 Toe het Hanna ’n gebed gedoen wat deur God waardig geag is om in sy geïnspireerde Woord op te neem. Wanneer jy haar woorde in 1 Samuel 2:1-10 lees, sal jy vind dat elke reël die diepte van haar geloof openbaar. Sy het Jehovah geloof vir die wonderlike wyse waarop hy sy krag gebruik—vir sy weergalose vermoë om die hoogmoediges te verneder, die onderdruktes te seën en om lewe te beëindig of dit selfs van die dood te red. Sy het haar Vader geloof vir sy unieke heiligheid, sy geregtigheid en sy getrouheid. Hanna kon met goeie rede sê: “Daar is geen rots soos ons God nie.” Jehovah is heeltemal betroubaar en onveranderlik, ’n toevlug vir alle onderdruktes en vertraptes wat hulle tot hom wend om hulp.

22, 23. (a) Hoe kan ons seker wees dat Samuel grootgeword het met die wete dat sy ouers hom liefhet? (b) Hoe het Jehovah Hanna verder geseën?

22 Die klein Samuel was gewis bevoorreg om ’n moeder te hê wat sulke groot geloof in Jehovah gehad het. Hoewel hy haar ongetwyfeld gemis het terwyl hy grootgeword het, het hy nooit gevoel dat sy hom vergeet het nie.  Jaar ná jaar het Hanna na Silo teruggekeer en vir hom ’n moulose oorkleed vir sy diens by die tabernakel gebring. Elke steek het getuig van haar liefde vir haar seun en haar besorgdheid oor hom. (Lees 1 Samuel 2:19.) Ons kan ons net voorstel hoe sy die nuwe oorkleed vir die seun aangetrek het, dit glad gestryk het en teer na hom gekyk het terwyl sy liefdevol met hom praat en hom aanmoedig. Samuel was geseënd om so ’n moeder te hê, en toe hy grootgeword het, was hy vir sy ouers en vir die hele Israel ’n seën.

23 En Hanna is ook nie vergeet nie. Jehovah het haar met vrugbaarheid geseën, en sy het vir Elkana nog vyf kinders gegee (1 Sam. 2:21). Maar Hanna se grootste seën was moontlik die band tussen haar en haar Vader, Jehovah, wat deur die jare heen al hoe sterker geword het. Mag dieselfde met jou gebeur, terwyl jy Hanna se geloof navolg.

^ par. 7 Hoewel die Bybelverslag sê dat Jehovah ‘Hanna se moederskoot toegesluit het’, is daar geen bewys dat God ontevrede was met hierdie nederige en getroue vrou nie (1 Sam. 1:5). Soms skryf die Bybel gebeure aan God toe wat hy bloot ’n tyd lank toegelaat het.

^ par. 9 Die afstand is gegrond op die waarskynlikheid dat Elkana se tuisdorp, Rama, dieselfde plek is wat in Jesus se dag as Arimatea bekend gestaan het.