Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LES 10

Jesus was altyd gehoorsaam

Jesus was altyd gehoorsaam

Is dit altyd maklik om gehoorsaam te wees aan jou ouers?— Partykeer is dit moeilik. Het jy geweet dat Jesus gehoorsaam was aan Jehovah én aan sy ouers?— Sy voorbeeld kan jou help om gehoorsaam te wees aan jou ouers, selfs wanneer dit nie maklik is nie. Kom ons leer meer hieroor.

Voordat Jesus op die aarde was, was hy saam met sy Vader, Jehovah, in die hemel. Maar Jesus het ook ouers hier op die aarde gehad. Hulle name was Josef en Maria. Weet jy hoe hulle sy ouers geword het?—

Jehovah het Jesus se lewe uit die hemel geneem en dit in Maria gesit sodat Jesus gebore kon word en op die aarde kon lewe. Dit was ’n wonderwerk! Jesus het in Maria gegroei soos ander babas in hulle mammas groei. Omtrent nege maande later is Jesus gebore. Dit is hoe Maria en haar man, Josef, Jesus se ouers hier op die aarde geword het.

Toe Jesus net 12 jaar oud was, het hy iets gedoen wat gewys het hoe lief hy is vir sy Vader, Jehovah. Jesus en sy gesin het ver gereis om in Jerusalem te wees vir die Pasga. Op pad terug huis toe kon Josef en Maria Jesus nêrens kry nie. Weet jy waar hy was?—

Hoekom was Jesus by die tempel?

Josef en Maria het vinnig na Jerusalem toe teruggegaan en oral na Jesus gesoek. Hulle was baie bekommerd omdat hulle hom nie kon kry nie. Maar ná drie dae het hulle hom in die tempel gekry! Weet jy hoekom Jesus by die tempel was?— Omdat hy daar van sy Vader, Jehovah, kon leer. Hy was lief vir Jehovah en wou leer hoe om hom bly te maak. Selfs toe Jesus ’n grootmens was, was hy altyd gehoorsaam aan Jehovah. Jesus was gehoorsaam selfs wanneer dit vir hom moeilik was en dit beteken het dat hy sou swaarkry. Was Jesus ook gehoorsaam aan Josef en Maria?— Ja, die Bybel sê hy was.

Wat kan jy uit Jesus se voorbeeld leer?— Jy moet gehoorsaam wees aan jou ouers, selfs wanneer dit moeilik is. Sal jy dit doen?—