Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 AANHANGSEL

Wat is Sjeool en Hades?

Wat is Sjeool en Hades?

IN SY oorspronklike tale gebruik die Bybel die Hebreeuse woord sjeʼoolʹ en die Griekse ekwivalent daarvan, haiʹdes, meer as 70 keer. Albei woorde hou verband met die dood. Party Bybelvertalings vertaal dit as “graf”, “hel” of “kuil”. Maar in die meeste tale is daar geen woorde wat die presiese betekenis van hierdie Hebreeuse en Griekse woorde weergee nie. Die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik dus die woorde “Sjeool” en “Hades”. Wat beteken hierdie woorde werklik? Kom ons kyk hoe hulle in verskillende Skrifgedeeltes gebruik word.

Prediker 9:10 sê: “Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool, die plek waarheen jy gaan nie.” Beteken dit dat Sjeool na ’n spesifieke graf verwys waar ons ’n geliefde begrawe het? Nee. Wanneer die Bybel van ’n spesifieke graf praat, gebruik dit ander Hebreeuse en Griekse woorde, nie sjeʼoolʹ of haiʹdes nie (Genesis 23:7-9; Matteus 28:1). Die Bybel gebruik ook nie die woord “Sjeool” vir ’n graf waar etlike persone saam begrawe is, soos ’n familiegraf of ’n massagraf nie.—Genesis 49:30, 31.

Na watter soort plek verwys “Sjeool” dan? God se Woord toon dat “Sjeool” of “Hades” na iets verwys wat baie meer is as selfs ’n groot massagraf. Jesaja 5:14 sê byvoorbeeld dat Sjeool ‘ruim is en sy mond oneindig wyd oopgemaak het’. Hoewel Sjeool as ’t ware reeds tallose dooies ingesluk het, is dit blykbaar altyd honger vir nog meer (Spreuke 30:15, 16). In teenstelling met enige letterlike graf, wat net ’n beperkte aantal dooies kan bevat, ‘raak Sjeool nie versadig nie’ (Spreuke 27:20). Dit wil sê, Sjeool word nooit vol nie. Dit het geen perke nie. Sjeool, of Hades, is dus nie ’n letterlike plek met ’n spesifieke ligging nie. Dit is eerder die gemeenskaplike graf van die dooie mensdom, die figuurlike plek waar die meeste van die mensdom in die dood slaap.

Die Bybellering van die opstanding help ons om verdere insig in die betekenis van “Sjeool” en “Hades” te verkry. God se Woord verbind Sjeool en Hades met die soort dood waaruit daar ’n opstanding sal wees (Job 14:13; Handelinge 2:31;  Openbaring 20:13). * God se Woord toon ook dat diegene wat in Sjeool, of Hades, is, nie net diegene insluit wat Jehovah gedien het nie, maar ook baie wat hom nie gedien het nie (Genesis 37:35; Psalm 55:15). Daarom leer die Bybel dat daar “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges” sal wees.—Handelinge 24:15.

^ par. 4 In teenstelling hiermee word daar van die dooies wat nie opgewek gaan word nie, gesê dat hulle “in Gehenna” is, nie in Sjeool, of Hades, nie (Matteus 5:30; 10:28; 23:33). Soos Sjeool en Hades, is Gehenna nie ’n letterlike plek nie.