Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 33

Jesus kan ons beskerm

Jesus kan ons beskerm

Hoe dink jy aan Jesus—as ’n magtige Koning of ’n hulpelose baba?

DINK jy Jesus het tot Jehovah gebid en vir hom dankie gesê toe hy ouer geword en uitgevind het hoe hy beskerm is toe hy klein was?— Wat dink jy het Jesus moontlik later vir Maria en Josef gesê toe hy uitgevind het dat hulle sy lewe gered het deur hom na Egipte toe te neem?—

Jesus is natuurlik nie meer ’n baba nie. Hy lewe nie eens meer op die aarde soos vroeër nie. Maar het jy al agtergekom dat party mense deesdae net aan Jesus dink as ’n baba in ’n krip?— Dit is die geval gedurende Kerstyd wanneer ’n mens in baie plekke prente van Jesus as ’n baba sien.

Jesus lewe nie meer op die aarde nie, maar glo jy dat hy nog steeds lewe?— Ja, hy is uit die dode opgewek, en hy is nou ’n magtige Koning in die hemel. Wat dink jy kan hy doen om die mense te beskerm wat hom dien?— Wel, toe Jesus op die aarde was, het hy gewys hoe hy die mense kan beskerm wat hom liefhet. Kom ons kyk hoe hy dit eendag gedoen het toe hy saam met sy dissipels op ’n boot was.

 Dit was laat in die middag. Jesus het mense die hele dag lank by die See van Galilea geleer, wat ’n groot meer van omtrent 20 kilometer lank en 12 kilometer breed is. Toe het hy vir sy dissipels gesê: “Laat ons oorvaar na die oorkant van die meer.” Hulle het toe in ’n boot oor die meer begin seil. Jesus was baie moeg, en hy het agter in die boot op ’n kussing gaan lê. Hy was gou vas aan die slaap.

Wat sê Jesus vir die wind en die golwe?

Die dissipels het wakker gebly om die boot op koers te hou. Vir ’n rukkie het alles goed gegaan, maar toe het ’n sterk wind opgekom. Dit het al hoe harder gewaai, en die golwe het al hoe groter geword. Die golwe het by die boot begin inslaan, en die boot het vol water begin word.

Die dissipels was bang dat hulle gaan sink. Maar Jesus was nie bang nie. Hy het nog agter in die boot geslaap. Uiteindelik het die dissipels hom wakker gemaak en gesê: ‘Leermeester, Leermeester, red ons; ons gaan in hierdie storm sterf.’ Toe het Jesus opgestaan en met die wind en die golwe gepraat. “Bedaar! Wees stil!” het hy gesê.

 Die wind het dadelik gaan lê, en die meer het kalm geword. Die dissipels was baie verbaas. Hulle het nog nooit so iets gesien nie. Hulle het vir mekaar begin sê: “Wie is hy tog, want hy beveel selfs die winde en die water, en dit gehoorsaam hom?”—Lukas 8:22-25; Markus 4:35-41.

Weet jy wie Jesus is?— Weet jy waar hy sy groot krag vandaan kry?— Die dissipels moes nie bang gewees het terwyl Jesus daar by hulle was nie, want Jesus was nie ’n gewone mens nie. Hy kon wonderlike dinge doen wat geen ander mens kon doen nie. Kom ek vertel jou van iets anders wat hy eendag op ’n stormagtige see gedoen het.

Dit was ’n ruk later, op ’n ander dag. Toe dit aand geword het, het Jesus vir sy dissipels gesê om in ’n boot te klim en voor hom uit na die oorkant van die see te gaan. Toe het Jesus alleen teen die berg opgegaan. Dit was ’n stil plek waar hy tot sy Vader, Jehovah God, kon bid.

 Die dissipels het in die boot geklim en oor die see begin seil. Maar ná ’n kort rukkie het ’n wind begin waai. Dit het al hoe harder gewaai. Dit was toe al donker. Die manne het die seil laat sak en begin roei. Maar hulle het nie ver gekom nie, want die sterk wind was teen hulle. Die boot het heen en weer geskommel in die groot golwe, en die water het ingespat. Die manne het hard probeer om by die strand uit te kom, maar hulle kon nie.

Jesus was nog steeds alleen op die berg. Hy was al lank daar. Maar hy kon nou sien dat sy dissipels in gevaar is in die groot golwe. Daarom het hy van die berg afgekom tot by die kant van die see. Omdat Jesus sy dissipels wou help, het hy oor die stormagtige see na hulle toe begin loop!

Wat sal gebeur as jy op water probeer loop?— Jy sal sink, en jy sal dalk verdrink. Maar Jesus is anders. Hy het spesiale krag. Jesus moes ver loop om by die boot te kom. Dit was al amper dagbreek toe die dissipels Jesus oor die water na hulle toe sien aankom. Maar hulle kon nie glo wat hulle sien nie. Hulle was baie bang, en hulle het bevrees uitgeroep. Toe het Jesus met hulle gepraat: “Skep moed, dit is ek; moenie vrees nie.”

Hoekom het Jesus wonderwerke gedoen?

Net toe Jesus in die boot klim, het die storm gaan lê. Die dissipels was weer baie verbaas. Hulle het voor Jesus neergeval en gesê: “U is werklik God se Seun.”—Matteus 14:22-33; Johannes 6:16-21.

Sou dit nie wonderlik gewees het as ons in daardie tyd geleef het en gesien het hoe Jesus sulke dinge doen nie?— Weet jy hoekom Jesus daardie wonderwerke gedoen het?— Hy het daardie dinge gedoen, want hy het sy dissipels liefgehad en wou hulle help. Maar hy het dit ook gedoen om te wys watter groot krag hy het en in die toekoms as die Heerser van God se Koninkryk gaan gebruik.

Hoe beskerm Jesus vandag sy volgelinge?

 Jesus gebruik selfs vandag baiekeer sy krag om sy volgelinge te beskerm wanneer Satan hulle probeer keer om vir ander mense van God se Koninkryk te vertel. Maar Jesus gebruik nie sy krag om sy dissipels teen siektes te beskerm of om hulle gesond te maak wanneer hulle siek is nie. Selfs Jesus se apostels het almal uiteindelik doodgegaan. Johannes se broer Jakobus is vermoor, en Johannes self is in die tronk gegooi.—Handelinge 12:2; Openbaring 1:9.

Dit is vandag ook so. Alle mense word siek en gaan dood, of hulle Jehovah dien of nie. Maar binnekort, wanneer Jesus as Koning van God se regering heers, sal dinge anders wees. Dan sal niemand ooit hoef bang te wees nie, want Jesus sal sy krag gebruik om almal te help wat aan hom gehoorsaam is.—Jesaja 9:6, 7.

Ander tekste wat die groot krag van Jesus toon, die een vir wie God Heerser in die Koninkryk van God gemaak het, is Daniël 7:13, 14; Matteus 28:18 en Efesiërs 1:20-22.