Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 26

Hoekom dit moeilik is om te doen wat goed is

Hoekom dit moeilik is om te doen wat goed is

WIE was bly toe Saulus slegte dinge gedoen het?— Satan die Duiwel. Maar die godsdiensleiers van die Jode was ook bly. Maar toe Saulus ’n dissipel van die Groot Onderwyser geword het en Paulus genoem is, het daardie godsdiensleiers hom begin haat. Kan jy sien hoekom dit vir ’n dissipel van Jesus moeilik is om te doen wat goed is?—

Wat het met Paulus gebeur toe hy gedoen het wat goed is?

Die hoëpriester wat Ananias genoem is, het eenkeer vir manne gesê om Paulus in die gesig te slaan. Ananias het selfs probeer om Paulus in die tronk te laat gooi. Paulus het baie swaar gekry toe hy ’n dissipel van Jesus geword het. Slegte mense het Paulus byvoorbeeld geslaan en hom met groot klippe probeer doodgooi.—Handelinge 23:1, 2; 2 Korintiërs 11:24, 25.

Baie mense sal probeer om ons dinge te laat doen waarvan God nie hou nie. Die vraag is dan: Hoe lief is jy vir wat goed is? Is jy so  lief daarvoor dat jy sal doen wat goed is selfs wanneer ander mense jou daarvoor haat? Dit kos moed om dit te doen, nè?—

Jy wonder dalk: ‘Hoekom sal mense ons haat omdat ons doen wat goed is? Moet hulle nie bly wees nie?’ ’n Mens sou so dink. Mense het baiekeer van Jesus gehou omdat hy goeie dinge gedoen het. Eenkeer het al die mense van ’n stad bymekaargekom voor die deur van die huis waar hy gebly het. Hulle het gekom omdat Jesus siek mense gesond gemaak het.—Markus 1:33.

Maar partykeer het mense nie gehou van wat Jesus hulle geleer het nie. Al het hy altyd geleer wat reg is, het party mense hom baie  gehaat omdat hy die waarheid gepraat het. Dit het eendag in Nasaret gebeur, die stad waar Jesus grootgeword het. Hy het in die sinagoge ingegaan, ’n plek waar Joodse mense bymekaargekom het om God te aanbid.

Daar het Jesus ’n mooi toespraak uit die Skrif gehou. Aan die begin het die mense daarvan gehou. Hulle was baie verbaas oor die mooi woorde wat uit sy mond uitgekom het. Hulle kon skaars glo dat dit die jong man was wat in hulle stad grootgeword het.

Maar toe het Jesus iets anders gesê. Hy het gepraat van tye toe God spesiale guns betoon het aan mense wat nie Jode was nie. Toe Jesus dit sê, het die mense in die sinagoge kwaad geword. Weet jy hoekom?— Hulle het gedink dat hulle die enigstes is wat God se spesiale guns het. Hulle het gedink dat hulle beter is as ander mense. Daarom het hulle Jesus gehaat vir wat hy gesê het. En weet jy wat het hulle probeer om aan hom te doen?—

Die Bybel sê: ‘Hulle het Jesus gegryp en hom vinnig uit die stad gejaag. Hulle het hom tot op die rand van ’n berg gelei en wou hom van die krans afgooi en hom doodmaak! Maar Jesus het van hulle af weggekom.’—Lukas 4:16-30.

Hoekom probeer hierdie mense om Jesus dood te maak?

As dit met jou gebeur, sal jy ooit teruggaan om met daardie mense oor God te praat?— Dit sal moed kos, nè?— Wel, omtrent ’n jaar later hét Jesus teruggegaan na Nasaret toe. Die Bybel sê: “Hy [het] hulle in hulle sinagoge begin leer.” Jesus het nie opgehou om die waarheid te praat omdat hy bang was vir mense wat geen liefde vir God gehad het nie.—Matteus 13:54.

Op ’n ander dag, ’n sabbatdag, was Jesus op ’n plek waar daar ’n man was wie se hand verdor, of gebreklik, was. Jesus het krag van God gehad om daardie man gesond te maak. Maar party van die mense daar het probeer om vir Jesus moeilikheid te maak. Wat sou die Groot Onderwyser doen?— Hy het eers gevra: ‘As julle ’n skaap  gehad het wat op die Sabbat in ’n groot gat geval het, sou julle dit uithaal?’

Ja, hulle sou dit vir ’n skaap doen, selfs op die Sabbat, die dag waarop hulle eintlik moes rus. Toe het Jesus gesê: ‘Dit is selfs beter om ’n mens op die Sabbat te help, want ’n mens is meer werd as ’n skaap!’ Hoe duidelik was dit tog dat Jesus hierdie man moes help deur hom gesond te maak!

Jesus het vir die man gesê om sy hand uit te steek. Dadelik is dit genees. Hoe bly was daardie man tog! Maar wat van daardie ander mense? Was hulle bly?— Nee. Hulle het Jesus selfs nog meer gehaat. Hulle het uitgegaan en planne gemaak om hom dood te maak!—Matteus 12:9-14.

Dit is vandag ook so. Dit maak nie saak wat ons doen nie, ons kan nooit almal bly maak nie. Daarom moet ons besluit wie ons die graagste wil bly maak. As dit Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, is, moet ons altyd doen wat hulle ons leer. Maar wie sal ons haat as ons dit doen? Wie sal dit vir ons moeilik maak om te doen wat goed is?—

Satan die Duiwel. Maar wie nog?— Die mense wat deur die Duiwel mislei is om verkeerde dinge te glo. Jesus het vir die godsdiensleiers van sy dag gesê: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen.”—Johannes 8:44.

Daar is baie mense van wie die Duiwel hou. Jesus het hulle “die wêreld” genoem. Wat dink jy is “die wêreld” waarvan Jesus gepraat het?— Wel, kom ons kyk na Johannes hoofstuk 15, vers 19, om uit te vind. Daar lees ons hierdie woorde van Jesus: “As julle ’n deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. En omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.”

Die wêreld wat Jesus se dissipels haat, bestaan dan uit al die mense  wat nie sy volgelinge is nie. Hoekom haat die wêreld Jesus se dissipels?— Dink ’n bietjie daaraan. Wie is die heerser van die wêreld?— Die Bybel sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.” Daardie bose persoon is Satan die Duiwel.—1 Johannes 5:19.

Sien jy nou hoekom dit so moeilik is om te doen wat goed is?— Satan en sy wêreld maak dit moeilik. Maar daar is nog ’n rede. Onthou jy wat dit is?— In Hoofstuk 23 van hierdie boek het ons geleer dat ons almal met sonde gebore word. Sal dit nie wonderlik wees wanneer sonde, die Duiwel en sy wêreld nie meer daar is nie?—

Wat sal met die mense gebeur wat doen wat goed is, wanneer hierdie wêreld verbygaan?

Die Bybel belowe: “Die wêreld gaan verby.” Dit beteken dat almal wat nie volgelinge van die Groot Onderwyser is nie, nie meer daar sal wees nie. Hulle sal nie toegelaat word om vir ewig te lewe nie. Weet jy wie sal vir ewig lewe?— Die Bybel sê verder: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Ja, net die mense wat doen wat goed is, wat “die wil van God” doen, sal vir ewig in God se nuwe wêreld lewe. Daarom wil ons doen wat goed is, al is dit moeilik, nè?—

Kom ons lees hierdie tekste wat toon hoekom dit nie maklik is om te doen wat goed is nie: Matteus 7:13, 14; Lukas 13:23, 24 en Handelinge 14:21, 22.