Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 21

Jesus openbaar die “wysheid wat van God kom”

Jesus openbaar die “wysheid wat van God kom”

1-3. Hoe het Jesus se voormalige bure op sy onderrigting gereageer, en wat omtrent hom het hulle nie besef nie?

DIE gehoor was verstom. Die jong man Jesus het voor hulle in die sinagoge gestaan en onderrig gegee. Hulle het hom geken—hy het in hulle stad grootgeword, en hy het jare lank as ’n timmerman onder hulle gewerk. Miskien het party van hulle in huise gewoon wat Jesus help bou het, of dalk het hulle hulle grond bewerk met ploeë en jukke wat hy met sy eie hande gemaak het. * Maar hoe sou hulle reageer op die onderrigting van hierdie voormalige timmerman?

2 Die meeste van dié wat geluister het, was verstom en het gevra: “Waar het hierdie man hierdie wysheid . . . vandaan gekry?” Maar hulle het ook gesê: “Hy [is] die timmerman, die seun van Maria” (Matteus 13:54-58; Markus 6:1-3). Ongelukkig het Jesus se voormalige bure geredeneer: ‘Hierdie timmerman is maar net een van ons.’ Hulle het hom ondanks die wysheid van sy woorde verwerp. Min het hulle geweet dat die wysheid wat hy bekend gemaak het, nie sy eie was nie.

3 Waar het Jesus hierdie wysheid vandaan gekry? “Wat ek leer, is nie myne nie”, het hy gesê, “maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). Die apostel Paulus het verduidelik dat Jesus “vir ons wysheid wat van God kom, geword het” (1 Korintiërs 1:30). Jehovah se wysheid word deur middel van sy Seun, Jesus, geopenbaar. Trouens, dit was in so ’n mate die geval dat Jesus kon sê: “Ek en die Vader  is een” (Johannes 10:30). Kom ons ondersoek drie gebiede waarop Jesus die “wysheid wat van God kom”, geopenbaar het.

Sy leringe

4. (a) Wat was die tema van Jesus se boodskap, en waarom was dit baie belangrik? (b) Waarom was Jesus se raad altyd prakties en tot voordeel van dié wat na hom geluister het?

4 Eerstens, dink aan Jesus se leringe. Die tema van sy boodskap was “die goeie nuus van die koninkryk” (Lukas 4:43). Dit was baie belangrik weens die rol wat die Koninkryk sou speel om Jehovah se soewereiniteit te regverdig en blywende seëninge vir die mensdom te bring. Jesus het ook in sy onderrigting wyse raad vir die daaglikse lewe gegee. Hy het getoon dat hy die voorspelde “Wonderlike Raadgewer” was (Jesaja 9:6). Hoe kon sy raad dan anders as wonderlik wees? Hy het ’n grondige kennis van God se Woord en wil gehad, asook ’n goeie begrip van die menslike natuur en groot liefde vir die mensdom. Gevolglik was sy raad altyd prakties en tot voordeel van dié wat na hom geluister het. Jesus het “woorde van die ewige lewe” gespreek. Ja, wanneer sy raad gevolg word, lei dit tot redding.—Johannes 6:68.

5. Wat is party van die onderwerpe wat Jesus in die Bergpredikasie gedek het?

5 Die Bergpredikasie is ’n uitstekende voorbeeld van die ongeëwenaarde wysheid wat in die leringe van Jesus gevind word. Hierdie preek, wat in Matteus 5:3–7:27 opgeteken staan, kan waarskynlik in net 20 minute gelewer word. Maar die raad daarin is tydloos—vandag nog net soveel van toepassing as toe dit aanvanklik gegee is. Jesus het ’n groot verskeidenheid onderwerpe gedek, onder meer hoe om beter verhoudinge met ander te geniet (5:23-26, 38-42; 7:1-512), hoe om sedelik rein te bly (5:27-32) en hoe om ’n sinvolle lewe te lei (6:19-24; 7:24-27). Maar Jesus het die mense wat na hom geluister het, nie net vertel wat die verstandige weg  is nie; hy het hulle ook gewys deur te verduidelik, te redeneer en bewyse te gee.

6-8. (a) Watter dwingende redes gee Jesus om angstigheid te vermy? (b) Wat toon dat Jesus se raad wysheid van bo weerspieël?

6 Dink byvoorbeeld aan Jesus se wyse raad oor hoe om angstigheid oor materiële dinge te verwerk, soos opgeteken in Matteus hoofstuk 6. “Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra”, maan Jesus ons (Vers 25). Kos en klere is basiese benodigdhede, en dit is net natuurlik om besorg te wees oor hoe ’n mens dit kan verkry. Maar Jesus sê vir ons om ‘ons op te hou kwel’ oor sulke dinge. * Waarom?

7 Luister na Jesus se oortuigende redenasie. Aangesien Jehovah vir ons lewe en ’n liggaam gegee het, kan hy tog sekerlik kos voorsien om daardie lewe te onderhou en klere om daardie liggaam te klee (Vers 25). As God voëls van kos voorsien en blomme met prag beklee, hoeveel te meer sal hy dan vir sy menslike aanbidders sorg! (Verse 26, 28-30). En onnodige kommer het in elk geval geen sin nie. Dit kan ons lewe nie eens met ’n fraksie verleng nie (Vers 27). * Hoe kan ons angstigheid vermy? Jesus gee ons die raad: Hou aan om God se aanbidding eerste in die lewe te stel. Diegene wat dit doen, kan die vertroue hê dat al hulle daaglikse behoeftes vir hulle ‘bygevoeg sal word’ deur hulle hemelse Vader (Vers 33). Laastens maak Jesus ’n baie praktiese voorstel—neem een dag op ’n slag. Waarom sal ons môre se sorge by vandag s’n voeg? (Vers 34). En waarom sal ons ons onnodig bekommer oor dinge wat dalk nooit sal gebeur nie? As ons hierdie wyse  raad toepas, kan dit ons groot verdriet in hierdie spanningsvolle wêreld spaar.

8 Dit is duidelik dat die raad wat Jesus gegee het, vandag nog net so prakties is as toe dit feitlik 2 000 jaar gelede gegee is. Getuig dit nie van wysheid van bo nie? Selfs die beste raad van menseraadgewers raak verouderd en word gou hersien of vervang. Die leringe van Jesus het egter die toets van die tyd deurstaan. Maar dit behoort ons nie te verbaas nie, want hierdie Wonderlike Raadgewer het “die woorde van God” gespreek.—Johannes 3:34.

Die manier waarop hy onderrig het

9. Wat het ’n paar soldate van Jesus se onderrigting gesê, en waarom was dit geen oordrywing nie?

9 ’n Tweede gebied waarop Jesus die wysheid van God weerspieël het, was die manier waarop hy onderrig het. By een geleentheid het ’n paar soldate wat gestuur is om hom in hegtenis te neem, met leë hande teruggekeer en gesê: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie” (Johannes 7:45, 46). Dit was geen oordrywing nie. Van alle mense wat nog ooit gelewe het, het Jesus, wat “van die ryke daar bo” was, die grootste skat van kennis en ondervinding gehad waarvan hy gebruik kon maak (Johannes 8:23). Hy het waarlik onderrig soos geen ander mens kon onderrig nie. Kyk na net twee van hierdie wyse Leermeester se metodes.

‘Die skare was verstom oor die manier waarop hy geleer het’

10, 11. (a) Waarom kan ons nie anders as om ons te verwonder oor Jesus se gebruik van illustrasies nie? (b) Wat is gelykenisse, en watter voorbeeld toon waarom Jesus se gelykenisse so ’n doeltreffende onderrigmetode is?

10 Die doeltreffende gebruik van illustrasies. “Al hierdie dinge het Jesus deur illustrasies vir die skare gesê”, word ons vertel. “Ja, sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie” (Matteus 13:34). Ons kan nie anders as om ons te verwonder oor sy onvergelyklike vermoë om diep waarhede deur middel van alledaagse dinge aan ander te leer nie. Landbouers wat saad plant, vroue wat deeg aanmaak om brood te bak, kinders wat op die markplein speel, vissers wat nette intrek,  herders wat verlore skape soek—dit was dinge wat die mense wat na hom geluister het, dikwels gesien het. Wanneer belangrike waarhede met bekende dinge verbind word, word hierdie waarhede gou en diep in die verstand en hart ingeprent.—Matteus 11:16-19; 13:3-8, 33, 47-50; 18:12-14.

11 Jesus het dikwels gelykenisse gebruik, kort stories wat sedelike of geestelike waarhede bevat. Aangesien stories makliker is om te verstaan en te onthou as abstrakte idees, het die gelykenisse gehelp om Jesus se leringe te bewaar. In baie gelykenisse het Jesus sy Vader met lewendige illustrasies beskryf wat nie maklik vergeet kon word nie. Wie kan byvoorbeeld nie verstaan waaroor die gelykenis van die verlore seun gaan nie—wanneer iemand wat afgedwaal het, opregte berou toon, sal Jehovah medelye hê en hom liefdevol terugneem?—Lukas 15:11-32.

12. (a) Hoe het Jesus vrae in sy onderrigting gebruik? (b) Hoe het Jesus diegene wat sy gesag bevraagteken het, die swye opgelê?

12 Die vaardige gebruik van vrae. Jesus het vrae gebruik sodat dié wat na hom geluister het, hulle eie gevolgtrekkings kon maak, hulle beweegredes kon ondersoek of besluite kon neem (Matteus 12:24-30; 17:24-27; 22:41-46). Toe die godsdiensleiers dit bevraagteken het of Jesus godgegewe gesag het, het hy geantwoord: “Was die doop deur Johannes uit die hemel of uit die mense?” Verstom oor die vraag het hulle onder mekaar geredeneer: “As ons sê: ‘Uit die hemel’, sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ As ons egter sê: ‘Uit die mense’, het ons die skare om te vrees, want hulle almal beskou Johannes as ’n profeet.” Uiteindelik het hulle geantwoord: “Ons weet nie” (Markus 11:27-33; Matteus 21:23-27). Met ’n eenvoudige vraag het Jesus hulle sprakeloos gelaat en die verraderlikheid in hulle harte geopenbaar.

13-15. Hoe weerspieël die gelykenis van die barmhartige Samaritaan die wysheid van Jesus?

13 Jesus het soms metodes gekombineer deur gedagteprikkelende vrae in sy illustrasies in te weef. Toe ’n Joodse regsgeleerde Jesus gevra het wat nodig is om die ewige lewe te verkry,  het Jesus hom na die Mosaïese Wet verwys, wat beveel dat mense God en hulle naaste moet liefhê. Die man wou wys dat hy regverdig is en het gevra: “Wie is dan my naaste?” Jesus het geantwoord deur ’n storie te vertel. ’n Sekere Joodse man het alleen gereis toe hy deur rowers aangeval is wat hom halfdood agtergelaat het. Twee Jode het daar verbygekom, eers ’n priester en toe ’n Leviet. Albei het hom geïgnoreer. Maar toe het ’n sekere Samaritaan daar aangekom. Ontroer deur jammerte het hy die slagoffer se wonde sagkens verbind en die man liefdevol na die veiligheid van ’n herberg gebring waar hy kon herstel. Jesus het sy storie afgesluit en vir die man wat die vraag gestel het, gevra: “Wie van hierdie drie, lyk dit vir jou, het hom die naaste gemaak van die man wat in die hande van die rowers geval het?” Die man was verplig om te antwoord: “Die een wat barmhartig teenoor hom opgetree het.”—Lukas 10:25-37.

14 Hoe weerspieël die gelykenis die wysheid van Jesus? In Jesus se dag het die Jode die term “naaste” net op diegene toegepas wat hulle tradisies gehou het—beslis nie op Samaritane nie (Johannes 4:9). Sou dit die vooroordeel uit die weg geruim het as Jesus die storie vertel het met ’n Samaritaanse slagoffer en ’n Joodse helper? Jesus het die storie wyslik so vertel dat ’n Samaritaan liefdevol na ’n Jood omgesien het. Let ook op die vraag wat Jesus aan die einde van die storie gevra het. Hy het die fokus van die term “naaste” verskuif. Die regsgeleerde het in werklikheid gevra: ‘Aan wie moet ek naasteliefde betoon?’ Maar Jesus het gevra: “Wie van hierdie drie, lyk dit vir jou, het hom [’n] naaste gemaak?” Jesus het die aandag toegespits, nie op die een wat die goedhartigheid ontvang het nie, maar op die een wat die goedhartigheid betoon het, naamlik die Samaritaan. Iemand wat sy naaste werklik liefhet, neem die inisiatief om liefde aan ander te betoon ongeag hulle etniese agtergrond. Jesus kon sy punt nouliks op ’n doeltreffender wyse gestel het.

15 Geen wonder dat mense verstom was oor “die manier waarop [Jesus] geleer het” en tot hom aangetrokke gevoel het nie (Matteus 7:28, 29). By een geleentheid het “’n groot  skare” drie dae lank by hom gebly, en dit sonder om te eet!—Markus 8:1, 2.

Sy lewenswyse

16. Hoe het Jesus “praktiese bewys” gelewer dat hy deur Goddelike wysheid gerig is?

16 ’n Derde gebied waarop Jesus Jehovah se wysheid weerspieël het, was sy lewenswyse. Wysheid is prakties; dit werk. “Wie is wys onder julle?” het die dissipel Jakobus gevra. Toe het hy sy eie vraag beantwoord en gesê: “Laat sy regte gedrag praktiese bewys daarvan lewer” (Jakobus 3:13, The New English Bible). Jesus se gedrag het “praktiese bewys” gelewer dat hy deur Goddelike wysheid gerig is. Kom ons kyk hoe hy gesonde oordeel aan die dag gelê het, in sy lewenswyse sowel as in sy handelinge met ander.

17. Wat toon dat Jesus volkome gebalanseerd was in sy lewe?

17 Het jy al opgemerk dat mense wat ’n gebrek aan gesonde oordeel het, dikwels tot uiterstes gaan? Ja, dit verg wysheid om gebalanseerd te wees. Jesus het Goddelike wysheid weerspieël deur volkome gebalanseerd te wees. Hy het geestelike dinge heel eerste in sy lewe gestel. Hy was intens besig met die werk om die goeie nuus te verkondig. “Daarvoor het ek uitgegaan”, het hy gesê (Markus 1:38). Materiële dinge was natuurlik nie vir hom van die grootste belang nie; dit lyk of hy baie min op materiële gebied gehad het (Matteus 8:20). Hy was egter nie ’n askeet nie. Soos sy Vader, “die gelukkige God”, was Jesus ’n vreugdevolle persoon, en hy het ander se vreugde vergroot (1 Timoteus 1:11; 6:15). Toe hy ’n huweliksfees bygewoon het—’n geleentheid wat gewoonlik deur musiek, sang en vreugde gekenmerk word—was hy nie daar om almal se pret te bederf nie. Toe die wyn opraak, het hy water verander in goeie wyn, iets wat “die hart van die sterflike mens vrolik maak” (Psalm 104:15; Johannes 2:1-11). Jesus het baie uitnodigings na etes aanvaar, en hy het hierdie geleenthede dikwels gebruik om ander te leer.—Lukas 10:38-42; 14:1-6.

18. Hoe het Jesus onberispelike oordeel in sy handelinge met sy dissipels geopenbaar?

 18 Jesus het onberispelike oordeel in sy handelinge met ander geopenbaar. Sy insig in die menslike natuur het hom ’n realistiese beskouing van sy dissipels gegee. Hy het goed geweet dat hulle nie volmaak is nie. Tog het hy hulle goeie eienskappe opgemerk. Hy het die potensiaal in hierdie manne gesien wat deur Jehovah getrek is (Johannes 6:44). Jesus was bereid om hulle te vertrou ondanks hulle tekortkominge. Hy het daardie vertroue getoon deur ’n groot verantwoordelikheid aan sy dissipels te gee. Hy het hulle beveel om die goeie nuus te verkondig, en hy het vertroue gestel in hulle vermoë om dié opdrag te vervul (Matteus 28:19, 20). Die boek Handelinge getuig dat hulle die werk wat hy hulle beveel het om te doen, getrou uitgevoer het (Handelinge 2:41, 42; 4:33; 5:27-32). Dit is dus duidelik dat dit wys was van Jesus om hulle te vertrou.

19. Hoe het Jesus getoon dat hy “saggeaard en nederig van hart” is?

19 Soos ons in Hoofstuk 20 gesien het, verbind die Bybel nederigheid en sagmoedigheid met wysheid. Jehovah stel natuurlik die beste voorbeeld in hierdie opsig. Maar wat van Jesus? Dit is bemoedigend om die nederigheid te sien wat Jesus in sy handelinge met sy dissipels geopenbaar het. As ’n volmaakte man was hy bo hulle verhewe. Tog het hy  nie op sy dissipels neergesien nie. Hy het nooit probeer om hulle minderwaardig of onbekwaam te laat voel nie. Inteendeel, hy het hulle beperkings in ag geneem en was geduldig met hulle tekortkominge (Markus 14:34-38; Johannes 16:12). Is dit nie betekenisvol dat selfs kinders op hulle gemak gevoel het by Jesus nie? Hulle het ongetwyfeld tot hom aangetrokke gevoel omdat hulle besef het dat hy “saggeaard en nederig van hart” is.—Matteus 11:29; Markus 10:13-16.

20. Hoe het Jesus redelikheid getoon in sy handelinge met die nie-Joodse vrou wie se dogter van ’n demoon besete was?

20 Jesus het Goddelike nederigheid in nog ’n belangrike opsig getoon. Hy was redelik, of toegewend, wanneer barmhartigheid dit gepas gemaak het. Dink byvoorbeeld aan die keer toe ’n nie-Joodse vrou hom gesmeek het om haar dogter te genees wat erg van ’n demoon besete was. Jesus het aanvanklik op drie maniere getoon dat hy haar nie gaan help nie—eerstens deur haar nie te antwoord nie; tweedens deur reguit te sê dat hy nie na die nie-Jode gestuur is nie, maar na die Jode; en derdens deur ’n illustrasie te gee wat dieselfde punt op liefdevolle wyse toegelig het. Maar die vrou het volhard en sodoende uitsonderlike geloof getoon. Hoe het Jesus in die lig van hierdie buitengewone situasie gereageer? Hy het gedoen juis wat hy aangedui het hy nie sou doen nie. Hy het die vrou se dogter genees (Matteus 15:21-28). Merkwaardige nederigheid, nie waar nie? En onthou, nederigheid is die grondslag van ware wysheid.

21. Waarom moet ons die persoonlikheid, woorde en handelswyse van Jesus probeer navolg?

21 Hoe dankbaar kan ons tog wees dat die Evangelies vir ons die woorde en dade openbaar van die wysste mens wat nog gelewe het! Laat ons onthou dat Jesus ’n volmaakte weerspieëling van sy Vader was. As ons die persoonlikheid, woorde en handelswyse van Jesus navolg, sal ons die wysheid van bo aankweek. In die volgende hoofstuk sal ons sien hoe ons Goddelike wysheid in ons lewe kan toepas.

^ par. 1 In Bybeltye het timmermanne huise gebou en meubels asook landbougereedskap gemaak. Justinus die Martelaar, van die tweede eeu G.J., het van Jesus geskryf: “Hy het as ’n timmerman gewerk toe hy onder die mense was en het ploeë en jukke gemaak.”

^ par. 6 Die Griekse werkwoord wat met “kwel” weergegee word, beteken “om die aandag af te trek”. Soos dit in Matteus 6:25 gebruik word, verwys dit na kommer en vrees wat die aandag aftrek of verdeel en die lewe van alle vreugde ontneem.

^ par. 7 Trouens, wetenskaplike navorsing het getoon dat oormatige kommer en spanning hartvatsiekte en ’n menigte ander kwale kan veroorsaak wat die lewe kan verkort.