Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 29

“Om die liefde van die Christus te ken”

“Om die liefde van die Christus te ken”

1-3. (a) Wat het Jesus beweeg om soos sy Vader te wil wees? (b) Watter fasette van Jesus se liefde sal ons beskou?

HET jy al ’n seuntjie gesien wat soos sy pa probeer wees? Hy boots moontlik die manier na waarop sy pa loop, praat en optree. Die seun sal dalk mettertyd selfs sy pa se sedelike en geestelike waardes aanneem. Ja, die liefde en bewondering wat ’n seun vir ’n liefdevolle pa het, maak dat hy soos sy pa wil wees.

2 Wat van die verhouding tussen Jesus en sy hemelse Vader? ‘Ek het die Vader lief’, het Jesus by een geleentheid gesê (Johannes 14:31). Niemand anders kan Jehovah ooit liewer hê as hierdie Seun nie, wat by die Vader was lank voordat enige ander skepsel geskep is. Dié liefde het hierdie toegewyde Seun beweeg om soos sy Vader te wil wees.—Johannes 14:9.

3 In vroeëre hoofstukke van hierdie boek het ons bespreek hoe Jesus Jehovah se krag, geregtigheid en wysheid volmaak nagevolg het. Maar hoe het Jesus sy Vader se liefde weerspieël? Kom ons beskou drie fasette van Jesus se liefde—sy selfopofferende gees, sy tere medelye en sy vergewensgesindheid.

“Niemand het groter liefde as dít nie”

4. Hoe het Jesus die grootste menslike voorbeeld van selfopofferende liefde gestel?

4 Jesus het ’n uitsonderlike voorbeeld van selfopofferende liefde gestel. Selfopoffering beteken dat ’n mens die behoeftes en belange van ander op onselfsugtige wyse bo jou eie stel. Hoe het Jesus sulke liefde betoon? Hy het self verduidelik: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy  siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Johannes 15:13). Jesus het sy volmaakte lewe gewillig vir ons afgelê. Dit was die grootste liefdeblyk wat nog ooit deur ’n mens getoon is. Maar Jesus het ook op ander maniere selfopofferende liefde geopenbaar.

5. Waarom was dit ’n liefdevolle opoffering deur God se enigverwekte Seun om die hemel te verlaat?

5 In sy voormenslike bestaan het die enigverwekte Seun van God ’n bevoorregte en verhewe posisie in die hemel gehad. Hy het intieme omgang met Jehovah en met ’n menigte geesskepsele geniet. Ondanks hierdie persoonlike voordele het hierdie geliefde Seun “homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword” (Filippense 2:7). Hy het gewillig onder sondige mense kom lewe in ’n wêreld wat ‘in die mag van die bose lê’ (1 Johannes 5:19). Was dit nie ’n liefdevolle opoffering deur God se Seun nie?

6, 7. (a) Op watter maniere het Jesus gedurende sy aardse bediening selfopofferende liefde betoon? (b) Watter roerende voorbeeld van onselfsugtige liefde is in Johannes 19:25-27 opgeteken?

6 Jesus het dwarsdeur sy aardse bediening op verskillende maniere selfopofferende liefde betoon. Hy was heeltemal onselfsugtig. Hy was so besig met sy bediening dat hy die normale geriewe waaraan mense gewoond is, prysgegee het. “Jakkalse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke”, het hy gesê, “maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie” (Matteus 8:20). As ’n vaardige timmerman kon Jesus van sy tyd gebruik het om vir hom ’n gerieflike huis te bou of om mooi meubels te maak om te verkoop sodat hy ’n bietjie ekstra geld kon hê. Maar hy het nie sy vaardighede gebruik om materiële dinge te verkry nie.

7 ’n Waarlik roerende voorbeeld van Jesus se selfopofferende liefde is opgeteken in Johannes 19:25-27. Stel jou voor hoeveel dinge die middag van Jesus se dood swaar op sy verstand en hart moes gedruk het. Terwyl hy aan die folterpaal  gely het, het hy hom bekommer oor sy dissipels, oor die predikingswerk en veral oor sy onkreukbaarheid en hoe dit sy Vader se naam sou raak. Ja, die mensdom se hele toekoms het op sy skouers gerus! En tog het Jesus net oomblikke voor sy dood ook besorgdheid getoon oor sy moeder, Maria, wat blykbaar toe al ’n weduwee was. Jesus het die apostel Johannes gevra om vir Maria te sorg asof sy Johannes se eie moeder is, en die apostel het Maria daarna na sy huis geneem. So het Jesus reëlings vir sy moeder se fisiese en geestelike welsyn getref. Wat ’n tere blyk van onselfsugtige liefde tog!

“Hy is ontroer deur innige jammerte”

8. Wat beteken die Griekse woord wat die Bybel gebruik om Jesus se medelye te beskryf?

8 Soos sy Vader was Jesus medelydend. Die Skrif beskryf Jesus as iemand wat hom ingespan het om mense te help wat in nood verkeer, omdat dit hom diep ontroer het. Om Jesus se medelye te beskryf, gebruik die Bybel ’n Griekse woord wat weergegee word met “ontroer deur innige jammerte”. Een geleerde sê: “Dit beskryf . . . ’n emosie wat ’n mens tot in sy diepste wese raak. Dit is die sterkste woord in Grieks vir die gevoel van medelye.” Kyk na ’n paar situasies waarin Jesus deur ’n diep medelye ontroer is wat hom gedring het om op te tree.

9, 10. (a) Watter omstandighede het Jesus en sy apostels ’n stil plek laat soek? (b) Hoe het Jesus gereageer toe sy privaatheid deur ’n skare versteur is, en waarom?

9 Beweeg om op geestelike behoeftes te reageer. Die verslag in Markus 6:30-34 wys wat Jesus hoofsaaklik beweeg het om sy innige jammerte te toon. Stel jou die toneel voor. Die apostels was opgewonde, want hulle het pas ’n uitgebreide predikingsreis voltooi. Hulle het teruggekom by Jesus en gretig vertel wat hulle alles gesien en gehoor het. Maar ’n groot skare het bymekaargekom sodat Jesus en sy apostels nie eens tyd gehad het om te eet nie. Jesus, wat altyd opmerksaam was, het gesien dat die apostels moeg is. “Kom  julle alleen na ’n eensame plek en rus ’n bietjie”, het hy vir hulle gesê. Hulle het in ’n boot geklim en oor die noordelike punt van die See van Galilea na ’n stil plek gevaar. Maar die skare het hulle sien vertrek. Ander het ook daarvan gehoor. Hulle het almal al langs die noordelike oewer gehardloop en nog voor die boot aan die ander kant gekom!

10 Was Jesus ontsteld dat sy privaatheid versteur is? Glad nie! Hy was diep geroer toe hy hierdie skare van duisende op hom sien wag. Markus het geskryf: “Hy [het] ’n groot skare gesien, maar hy is ontroer deur innige jammerte vir hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder. En hy het hulle baie dinge begin leer.” Jesus het hierdie mense gesien as individue met geestelike behoeftes. Hulle was soos skape wat hulpeloos ronddwaal sonder enige herder om hulle te lei of te beskerm. Jesus het geweet dat die gevoellose godsdiensleiers, wat veronderstel was om liefdevolle herders te wees, die gewone mense verwaarloos het (Johannes 7:47-49). Sy hart het na die mense uitgegaan, en daarom het hy hulle “oor die koninkryk van God” begin leer (Lukas 9:11). Let op dat Jesus deur innige jammerte vir die mense ontroer is nog voordat hy hulle reaksie gesien het op wat hy hulle geleer het. Met ander woorde, tere medelye was nie die gevolg van sy onderrigting van die skare nie, maar eerder die beweegrede daarvoor.

Hy het “sy hand uitgesteek en hom aangeraak”

11, 12. (a) Hoe is melaatses in Bybeltye beskou, maar hoe het Jesus gereageer toe hy deur ’n man “vol melaatsheid” genader is? (b) Hoe het Jesus se aanraking die melaatse moontlik laat voel, en hoe lig die ondervinding van ’n dokter dit toe?

11 Beweeg om lyding te verlig. Mense met verskillende kwale het besef dat Jesus medelye gehad het, en gevolglik het hulle tot hom aangetrokke gevoel. Dit was veral duidelik toe Jesus, met skares wat hom volg, deur ’n man “vol melaatsheid” genader is (Lukas 5:12). In Bybeltye is melaatses onder kwarantyn geplaas om ander mense teen besmetting te beskerm (Numeri 5:1-4). Met verloop van tyd het  rabbynse leiers egter ’n hartelose beskouing van melaatsheid bevorder en hulle eie onderdrukkende reëls ingestel. * Maar let op hoe Jesus die melaatse behandel het: “Daar het ook ’n melaatse na hom toe gekom wat selfs gekniel en hom gesoebat het en vir hom gesê het: ‘As u net wil, kan u my rein maak.’ En beweeg deur innige jammerte het hy sy hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: ‘Ek wil. Word gereinig.’ En onmiddellik het die melaatsheid van hom verdwyn” (Markus 1:40-42). Jesus het geweet dat die melaatse nie eens daar mag gewees het nie. Tog het Jesus hom nie weggestuur nie; hy was eerder so diep ontroer dat hy iets ondenkbaars gedoen het. Jesus het hom aangeraak!

12 Kan jy jou voorstel wat daardie aanraking vir die melaatse moes beteken het? Kyk na ’n ondervinding om dit toe te lig. Dr. Paul Brand, ’n spesialis in melaatsheid, vertel van ’n melaatse wat hy in Indië behandel het. Gedurende die ondersoek het die dokter sy hand op die melaatse se skouer gesit en deur middel van ’n tolk verduidelik watter behandeling die man sou moes ondergaan. Skielik het die melaatse begin huil. “Het ek iets verkeerds gesê?” het die dokter gevra. Die tolk het die jong man in sy taal uitgevra en geantwoord: “Nee, dokter. Hy sê hy huil omdat jy jou hand om sy skouer gesit het. Totdat hy hierheen gekom het, het niemand in baie jare aan hom geraak nie.” Vir die melaatse wat na Jesus toe gekom het, het dit selfs meer beteken dat hy aangeraak is. Ná daardie een aanraking het die siekte wat hom ’n uitgeworpene gemaak het, verdwyn!

13, 14. (a) Watter stoet het Jesus teëgekom toe hy naby die stad Nain gekom het, en wat het dit ’n besonder droewige situasie gemaak? (b) Wat het Jesus se medelye hom beweeg om vir die weduwee van Nain te doen?

 13 Beweeg om droefheid te verdryf. Jesus is diep ontroer deur ander se droefheid. Kyk byvoorbeeld na die verslag in Lukas 7:11-15. Dit het omtrent halfpad deur Jesus se bediening plaasgevind, toe hy die buitewyke van die Galilese stad Nain bereik het. Toe Jesus naby die stadspoort kom, het hy ’n lykstoet teëgekom. Die omstandighede was besonder tragies. ’n Jong man, wat die enigste seun was, het gesterf, en die moeder was ’n weduwee. Sy was waarskynlik al een keer tevore in so ’n stoet—dié van haar man. Hierdie keer was dit haar seun, wat dalk die enigste een was wat vir haar kon sorg. Die skare wat haar vergesel het, het moontlik bykomende rouklaers ingesluit wat klaagliedere gesing het en musikante wat treurige deuntjies gespeel het (Jeremia 9:17, 18; Matteus 9:23). Jesus se oë was egter gevestig op die bedroefde moeder, wat ongetwyfeld naby die baar geloop het waarop die lyk van haar seun gedra is.

14 Jesus is “ontroer deur innige jammerte” vir die bedroefde moeder. Op ’n gerusstellende toon het hy vir haar gesê: “Hou op huil.” Hy het uit sy eie nader gegaan en die baar aangeraak. Die draers—en moontlik die res van die skare—het gaan staan. Met ’n gesaghebbende stem het Jesus vir die lewelose liggaam gesê: “Jong man, ek sê vir jou: ‘Staan op!’” Wat het toe gebeur? “Die dooie man het regop gaan sit en begin praat” asof hy uit ’n diep slaap wakker gemaak is! Dan volg die uiters roerende woorde: “En [Jesus] het hom aan sy moeder gegee.”

15. (a) Watter verband tussen medelye en optrede kan gesien word in die Bybelverslae oor hoe Jesus deur innige jammerte ontroer is? (b) Hoe kan ons Jesus in hierdie opsig navolg?

15 Wat leer ons uit hierdie verslae? Let in elke geval op die verband tussen medelye en optrede. Jesus kon nie die benarde situasie van ander aanskou sonder om deur innige jammerte ontroer te word nie, en hy kon nie sulke medelye voel  sonder om op te tree nie. Hoe kan ons sy voorbeeld volg? As Christene het ons ’n verpligting om die goeie nuus te verkondig en om dissipels te maak. Ons word hoofsaaklik deur liefde vir God beweeg. Maar ons moet onthou dat hierdie werk ook medelye vereis. Wanneer ons, soos Jesus, meegevoel met mense het, sal ons hart ons beweeg om alles in ons vermoë te doen om die goeie nuus aan hulle bekend te maak (Matteus 22:37-39). Wat van medelye met medegelowiges wat ly of treur? Ons kan nie fisiese lyding wonderdadig wegneem of die dooies opwek nie. Maar ons kan medelye daadwerklik betoon deur die inisiatief te neem om ons besorgdheid uit te spreek of gepaste praktiese hulp te verleen.—Efesiërs 4:32.

“Vader, vergewe hulle”

16. Hoe was Jesus se bereidwilligheid om te vergewe selfs duidelik toe hy aan die folterpaal gehang het?

16 Jesus het sy Vader se liefde op nog ’n belangrike manier volmaak weerspieël—hy was “vergewensgesind” (Psalm 86:5). Hierdie bereidwilligheid om te vergewe, was duidelik selfs toe hy aan die folterpaal gehang het. Waaroor het Jesus gepraat terwyl hy ’n skandelike dood in die gesig gestaar het en spykers sy hande en voete deurboor het? Het hy Jehovah aangeroep en hom gevra om sy teregstellers te straf? Inteendeel, van Jesus se laaste woorde was: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”—Lukas 23:34. *

17-19. Hoe het Jesus getoon dat hy die apostel Petrus vergewe het dat hy Hom drie keer verloën het?

17 ’n Voorbeeld van Jesus se vergifnis wat moontlik selfs  aangrypender is, kan gesien word in die manier waarop hy met die apostel Petrus gehandel het. Daar bestaan geen twyfel dat Petrus Jesus baie liefgehad het nie. Op 14 Nisan, die laaste aand van Jesus se lewe, het Petrus vir hom gesê: “Here, ek is gereed om saam met u in die gevangenis sowel as in die dood in te gaan.” Maar net ’n paar uur later het Petrus drie keer ontken dat hy Jesus enigsins ken! Die Bybel vertel ons wat gebeur het toe Petrus dit die derde keer ontken het: “Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk.” Verpletter deur die erns van sy sonde het Petrus “buitentoe gegaan en bitterlik gehuil”. Toe Jesus later daardie dag gesterf het, het die apostel moontlik gewonder: ‘Het my Here my vergewe?’—Lukas 22:33, 61, 62.

18 Dit was nie vir Petrus nodig om lank op ’n antwoord te wag nie. Jesus is die oggend van 16 Nisan opgewek, en blykbaar het hy Petrus daardie selfde dag persoonlik besoek (Lukas 24:34; 1 Korintiërs 15:4-8). Waarom het Jesus sulke spesiale aandag aan die apostel gegee wat so heftig ontken het dat hy Hom ken? Jesus wou moontlik die berouvolle Petrus daarvan verseker dat sy Here hom nog liefhet en waardeer. Maar Jesus het nog meer gedoen om Petrus gerus te stel.

19 ’n Ruk later het Jesus by die See van Galilea aan die dissipels verskyn. By hierdie geleentheid het Jesus Petrus (wat sy Here drie keer verloën het) drie keer gevra of Petrus hom liefhet. Ná die derde keer het Petrus geantwoord: “Here, u weet alles; u weet dat ek geneentheid vir u het.” Ja, Jesus, wat harte kan lees, was heeltemal bewus van Petrus se liefde en geneentheid vir hom. Maar Jesus het Petrus die geleentheid gegee om sy liefde te bevestig. Daarbenewens het Jesus Petrus beveel om Sy ‘skapies te voed’ en ‘as herder oor hulle toesig te hou’ (Johannes 21:15-17). Petrus het vroeër ’n toewysing ontvang om te preek (Lukas 5:10). Maar nou, in ’n merkwaardige bewys van vertroue, het Jesus hom nog ’n gewigtige verantwoordelikheid gegee—om te sorg vir diegene wat Christus se volgelinge sou word. Kort daarna het Jesus Petrus ’n belangrike rol in die bedrywighede van die dissipels  gegee (Handelinge 2:1-41). Hoe verlig moes Petrus tog gewees het om te weet dat Jesus hom vergewe het en hom nog vertrou het!

Ken jy “die liefde van die Christus”?

20, 21. Hoe kan ons “die liefde van die Christus” ten volle leer ken?

20 Jehovah se Woord gee werklik ’n pragtige beskrywing van die liefde van die Christus. Maar hoe moet ons op Jesus se liefde reageer? Die Bybel spoor ons aan “om die liefde van die Christus te ken, wat kennis oortref” (Efesiërs 3:19). Soos ons gesien het, leer die Evangelieverslae oor Jesus se lewe en bediening ons baie van Christus se liefde. Maar om “die liefde van die Christus” ten volle te ken, behels meer as om net te leer wat die Bybel oor hom sê.

21 Die Griekse term wat met “te ken” weergegee word, beteken om “prakties, deur ondervinding” te ken. Wanneer ons liefde betoon soos Jesus gedoen het—deur onselfsugtig ten behoewe van ander van onsself te gee, met medelye op hulle behoeftes te reageer, hulle uit ons harte te vergewe—dan kan ons sy gevoelens werklik verstaan. So leer ken ons deur ondervinding “die liefde van die Christus . . . wat kennis oortref”. En laat ons nooit vergeet nie: Hoe meer ons soos Christus word, hoe nader sal ons kom aan die een vir wie Jesus volmaak nagevolg het, ons liefdevolle God, Jehovah.

^ par. 11 Rabbynse reëls het bepaal dat niemand nader as vier el (ongeveer 1,8 meter) aan ’n melaatse mag kom nie. Maar wanneer die wind gewaai het, moes die melaatse ten minste 100 el (ongeveer 45 meter) van ander bly. Die Midrasj Rabba vertel van een rabbi wat vir melaatses weggekruip het en van ’n ander wat melaatses met klippe gegooi het om hulle weg te hou. Melaatses was dus vertroud met die pyn van verwerping en die gevoel dat hulle verag word of onwelkom is.

^ par. 16 Die eerste deel van Lukas 23:34 word uit sekere ou manuskripte weggelaat. Maar omdat hierdie woorde in baie ander gesaghebbende manuskripte verskyn, word dit in die Nuwe Wêreld-vertaling en talle ander vertalings ingesluit. Jesus het blykbaar van die Romeinse soldate gepraat wat hom aan die paal gehang het. Hulle het nie geweet wat hulle doen nie, want hulle het nie geweet wie Jesus werklik was nie. Die godsdiensleiers wat die aanstigters van die teregstelling was, was natuurlik baie laakbaarder, want hulle het doelbewus en kwaadwillig opgetree. Vir baie van hulle was geen vergifnis moontlik nie.—Johannes 11:45-53.