Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 25

“Die tere medelye van ons God”

“Die tere medelye van ons God”

1, 2. (a) Hoe reageer ’n moeder natuurlikerwys wanneer haar baba huil? (b) Watter gevoel is selfs sterker as ’n moeder se medelye?

IN DIE middel van die nag huil ’n baba. Die moeder is onmiddellik wakker. Vandat haar baba gebore is, slaap sy nie meer so vas soos vroeër nie. Sy het geleer om te onderskei tussen die baba se verskillende maniere van huil. Sy weet dus dikwels of haar pasgebore baba gevoed of bietjie geliefkoos moet word en of hy iets anders nodig het. Maar ongeag waarom die baba huil, die moeder reageer daarop. Haar hart laat haar nie toe om die behoeftes van haar kind te ignoreer nie.

2 Die medelye wat ’n moeder voel vir die kind wat sy in die lewe gebring het, is van die teerste gevoelens wat die mens ken. Daar is egter ’n gevoel wat oneindig sterker is—die tere medelye van ons God, Jehovah. ’n Ondersoek van hierdie mooi eienskap kan ons nader aan Jehovah laat kom. Laat ons dan bespreek wat medelye is en hoe ons God dit openbaar.

Wat is medelye?

3. Wat beteken die Hebreeuse werkwoord wat met “barmhartigheid bewys” of “ontferm” weergegee word?

3 In die Bybel is daar ’n noue verband tussen medelye en barmhartigheid. ’n Aantal Hebreeuse en Griekse woorde dra die gedagte van tere medelye oor. Kyk byvoorbeeld na die Hebreeuse werkwoord ra·chamʹ, wat dikwels met “barmhartigheid bewys” of “ontferm” weergegee word. Een naslaanwerk verduidelik dat die werkwoord ra·chamʹ “’n diepe en tere gevoel van medelye uitdruk, soos wat gewek word wanneer ons sien dat diegene wat vir ons dierbaar  is of ons hulp nodig het, swak is of ly”. Hierdie Hebreeuse term, wat Jehovah op homself toepas, is verwant aan die woord vir “moederskoot” en kan as “moederlike medelye” beskryf word. *Eksodus 33:19; Jeremia 33:26.

‘Kan ’n vrou die seun van haar moederskoot vergeet?’

4, 5. Hoe gebruik die Bybel die gevoelens wat ’n moeder vir haar baba het om ons van Jehovah se medelye te leer?

4 Die Bybel gebruik die gevoelens wat ’n moeder vir haar baba het om ons te leer wat Jehovah se medelye beteken. In Jesaja 49:15 lees ons: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet, sodat sy nie medelye [ra·chamʹ] met die seun van haar moederskoot het nie? Ja, hulle vergeet dalk, maar ek sal jou nie vergeet nie” (The Amplified Bible). Hierdie aangrypende beskrywing beklemtoon hoe diep Jehovah se medelye met sy volk is. Hoe so?

5 ’n Mens kan jou nouliks voorstel dat ’n moeder sal vergeet om haar suigeling te voed en te versorg. ’n Baba is immers hulpeloos; hy het sy moeder se aandag en liefde dag en nag nodig. Maar ongelukkig is moederlike verwaarlosing niks vreemds nie, veral in hierdie “kritieke tye” wat deur ’n gebrek aan “natuurlike geneentheid” gekenmerk word (2 Timoteus 3:1, 3). “Maar”, sê Jehovah, “ek sal jou nie vergeet nie.” Die tere medelye wat Jehovah met sy knegte het, is onfeilbaar. Dit is oneindig sterker as die teerste natuurlike gevoel wat ons ons kan voorstel—die medelye wat ’n moeder gewoonlik vir haar baba voel. Geen wonder nie dat een kommentator van Jesaja 49:15 gesê het: “Dit is een van die sterkste, indien nie dié sterkste uitdrukking van God se liefde in die Ou Testament nie.”

6. Hoe het talle onvolmaakte mense medelye beskou, maar waarvan verseker Jehovah ons?

6 Is tere medelye ’n teken van swakheid? Talle onvolmaakte mense het dit so beskou. Die Romeinse filosoof  Seneka, wat ’n tydgenoot van Jesus en ’n vooraanstaande intellektuele figuur in Rome was, het byvoorbeeld gesê dat “ontferming ’n swakheid van die verstand is”. Seneka was ’n voorstander van die Stoïsisme, ’n filosofie wat kalmte sonder enige gevoel beklemtoon het. ’n Wyse persoon kan mense help wat hulp nodig het, het Seneka gesê, maar hy moet nooit toelaat dat hy medelye voel nie, want so ’n gevoel sal hom sy kalmte ontneem. Hierdie selfsugtige lewensbeskouing het geen plek gelaat vir innige medelye nie. Maar Jehovah is heeltemal anders! Jehovah verseker ons in sy Woord dat hy “baie teer in geneentheid en barmhartig [letterlik, “medelydend”] is” (Jakobus 5:11). Soos ons sal sien, is medelye nie ’n swakheid nie maar ’n sterk, uiters belangrike eienskap. Kom ons kyk hoe Jehovah, soos ’n liefdevolle ouer, dit openbaar.

Toe Jehovah medelye met ’n nasie betoon het

7, 8. Hoe het die Israeliete in eertydse Egipte gely, en hoe het Jehovah op hulle lyding gereageer?

7 Jehovah se medelye kan duidelik gesien word in die manier waarop hy die nasie Israel behandel het. Teen die einde van die 16de eeu v.G.J. was miljoene Israeliete slawe in eertydse Egipte, waar hulle swaar onderdruk is. Die Egiptenaars “het aangehou om hulle lewe bitter te maak deur harde slawearbeid met messelklei en stene” (Eksodus 1:11, 14). In hulle benoudheid het die Israeliete tot Jehovah om hulp geroep. Hoe het die God van tere medelye gereageer?

8 Jehovah se hart is geraak. Hy het gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep gehoor oor dié wat hulle dryf om te werk; want ek weet goed watter pyn hulle ly” (Eksodus 3:7). Jehovah kon nie die lyding van sy volk aanskou of hulle geroep hoor sonder om medelye vir hulle te voel nie. Soos  ons in Hoofstuk 24 van hierdie boek gesien het, is Jehovah ’n God van empatie. En empatie—die vermoë om ander se pyn te voel—is nou verwant aan medelye. Maar Jehovah het nie net medelye vir sy volk gevoel nie; hy is beweeg om ten behoewe van hulle op te tree.Jesaja 63:9 sê: “Deur sy liefde en deur sy medelye het hy hulle teruggekoop.” Jehovah het die Israeliete “met ’n sterk hand” uit Egipte gered (Deuteronomium 4:34). Daarna het hy wonderdadig voedsel aan hulle voorsien en hulle in ’n vrugbare land ingebring wat aan hulle sou behoort.

9, 10. (a) Waarom het Jehovah die Israeliete herhaaldelik verlos nadat hulle hulle in die Beloofde Land gevestig het? (b) Van watter onderdrukking het Jehovah die Israeliete in die dae van Jefta verlos, en wat het hom beweeg om dit te doen?

9 Jehovah se medelye het nie daar opgehou nie. Nadat Israel hulle in die Beloofde Land gevestig het, het hulle herhaaldelik in ontrouheid verval en gevolglik gely. Maar dan het die volk tot besinning gekom en Jehovah aangeroep. Hy het hulle keer op keer verlos. Waarom? “Omdat hy medelye met sy volk . . . gehad het.”—2 Kronieke 36:15; Rigters 2:11-16.

10 Dink aan wat in die dae van Jefta gebeur het. Aangesien die Israeliete valse gode begin aanbid het, het Jehovah toegelaat dat hulle 18 jaar lank deur die Ammoniete onderdruk word. Uiteindelik het die Israeliete berou gehad. Die Bybel vertel ons: “Hulle het die vreemde gode uit hulle midde begin verwyder en Jehovah gedien, sodat sy siel ongeduldig geraak het weens die moeite van Israel” (Rigters 10:6-16). * Nadat sy volk opregte berou getoon het, kon Jehovah dit nie meer verduur om hulle te sien ly nie. Daarom  het die God van tere medelye Jefta die krag gegee om die Israeliete uit die hand van hulle vyande te verlos.—Rigters 11:30-33.

11. Wat leer ons omtrent medelye uit Jehovah se handelinge met die Israeliete?

11 Wat leer Jehovah se handelinge met die nasie Israel ons omtrent tere medelye? In die eerste plek sien ons dat dit meer is as net ’n simpatieke bewustheid van die ontberinge wat mense verduur. Dink weer aan die voorbeeld van ’n moeder wie se medelye haar beweeg om op die gehuil van haar baba te reageer. So ook sluit Jehovah nie sy ore vir die geroep van sy volk nie. Sy tere medelye beweeg hom om hulle lyding te verlig. Daarbenewens leer ons uit die manier waarop Jehovah met die Israeliete gehandel het dat medelye geensins ’n swakheid is nie, want hierdie tere eienskap het hom beweeg om kragtig en daadwerklik ten behoewe van sy volk op te tree. Maar betoon Jehovah medelye net met sy knegte as ’n groep?

Jehovah se medelye met individue

12. Hoe het die Wet Jehovah se medelye met individue weerspieël?

12 Die Wet wat God aan die nasie Israel gegee het, het sy medelye met individue geopenbaar. Kyk byvoorbeeld na sy besorgdheid oor die armes. Jehovah het geweet dat daar onvoorsiene omstandighede kon ontstaan wat ’n Israeliet in armoede kon dompel. Hoe moes armes behandel word? Jehovah het die Israeliete streng beveel: “Jy [moet] nie jou hart verhard of jou hand toehou vir jou arm broer nie. Jy moet vir seker aan hom gee, en jou hart moenie suinig wees wanneer jy aan hom gee nie, want Jehovah jou God sal jou hiervoor seën in al jou werk” (Deuteronomium 15:7, 10). Jehovah het verder beveel dat die Israeliete nie die rande van hulle landerye heeltemal moes afoes of enige oorblyfsels moes optel nie. Hierdie oorblyfsels was vir die minderbevoorregtes (Levitikus 23:22; Rut 2:2-7). Wanneer die  nasie hierdie bedagsame wet ten behoewe van die armes onder hulle nagekom het, was dit nie vir behoeftiges in Israel nodig om kos te bedel nie. Was dit nie ’n weerspieëling van Jehovah se tere medelye nie?

13, 14. (a) Hoe verseker Dawid se woorde ons dat Jehovah diep besorg is oor ons as individue? (b) Hoe kan dit toegelig word dat Jehovah naby diegene is wat ‘gebroke van hart’ of ‘verbrysel van gees’ is?

13 Ons liefdevolle God is ook vandag diep besorg oor ons as individue. Ons kan seker wees dat hy deeglik bewus is van enige lyding wat ons verduur. Die psalmis Dawid het geskryf: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep. Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy” (Psalm 34:15, 18). ’n Bybelkommentator het oor diegene wat met hierdie woorde beskryf word, gesê: “Hulle het ’n gebroke hart en ’n verslae gees, dit wil sê, hulle is verootmoedig weens sonde en het geen selfrespek nie; hulle het ’n swak selfbeeld en geen vertroue in hulle eie waarde nie.” Sulke persone voel dalk dat Jehovah ver van hulle is en dat hulle so onbelangrik is dat hy nie vir hulle sal omgee nie. Maar dit is nie die geval nie. Dawid se woorde verseker ons dat Jehovah nie mense met “’n swak selfbeeld” verlaat nie. Ons medelydende God weet dat ons hom gedurende sulke tye nodiger het as ooit, en hy is naby.

14 Beskou ’n ondervinding. ’n Moeder in die Verenigde State moes met haar tweejarige seuntjie na die hospitaal jaag omdat hy ’n ernstige kroepaanval gehad het. Nadat die dokters die kind ondersoek het, het hulle die moeder meegedeel dat hulle hom oornag in die hospitaal sou moes hou. Waar het die moeder die nag deurgebring? In ’n stoel in die hospitaalkamer, reg langs haar kind se bed! Haar seuntjie was siek en sy moes eenvoudig naby hom wees. Ons kan beslis selfs meer van ons liefdevolle hemelse Vader verwag! Ons is immers na sy beeld gemaak (Genesis 1:26). Die roerende woorde van Psalm 34:18 sê vir ons dat Jehovah,  soos ’n liefdevolle ouer, ‘naby is’—altyd vol medelye en gereed om te help—wanneer ons ‘gebroke van hart’ of ‘verbrysel van gees’ is.

15. Op watter maniere help Jehovah ons as individue?

15 Hoe help Jehovah ons dan as individue? Hy verwyder nie noodwendig die oorsaak van ons lyding nie. Maar Jehovah het ’n oorvloed voorsienings beskikbaar gestel vir diegene wat tot hom om hulp roep. Sy Woord, die Bybel, bied praktiese raad wat ’n verskil kan maak. In die gemeente voorsien Jehovah geestelik bekwame opsieners, wat probeer om sy medelye te weerspieël wanneer hulle medegelowiges help (Jakobus 5:14, 15). As die “Hoorder van die gebed” gee hy “heilige gees . . . aan dié wat hom vra” (Psalm 65:2; Lukas 11:13). Hierdie gees kan ons “krag wat bo die normale is”, gee sodat ons kan volhard totdat God se Koninkryk alle spanningsvolle probleme uit die weg ruim (2 Korintiërs 4:7). Is ons nie dankbaar vir al hierdie voorsienings nie? Laat ons nie vergeet dat hulle blyke van Jehovah se tere medelye is nie.

16. Wat is die grootste voorbeeld van Jehovah se medelye, en hoe raak dit ons as individue?

16 Die grootste voorbeeld van Jehovah se medelye is natuurlik dat hy die Een wat vir hom die dierbaarste is, as ’n losprys vir ons gegee het. Dit was ’n liefdevolle opoffering van Jehovah se kant, en dit het die weg gebaan vir ons redding. Onthou, daardie losprysvoorsiening is ten behoewe van ons as individue gemaak. Sagaria, die vader van Johannes die Doper, het tereg voorspel dat hierdie voorsiening “die tere medelye van ons God” verheerlik het.—Lukas 1:78.

Wanneer Jehovah nie medelye betoon nie

17-19. (a) Hoe toon die Bybel dat Jehovah se medelye perke het? (b) Wat het veroorsaak dat Jehovah se medelye vir sy volk tot ’n einde gekom het?

17 Moet ons dink dat Jehovah se tere medelye geen perke  het nie? Inteendeel, die Bybel toon duidelik dat Jehovah tereg nie medelye betoon aan mense wat hulle teen sy regverdige weë verset nie (Hebreërs 10:28). Om te sien waarom hy so optree, kan ons aan die voorbeeld van die nasie Israel dink.

18 Hoewel Jehovah die Israeliete herhaaldelik van hulle vyande verlos het, het sy medelye uiteindelik tot ’n einde gekom. Hierdie hardnekkige volk het afgodediens beoefen en het selfs hulle afstootlike afgode tot in Jehovah se tempel gebring! (Esegiël 5:11; 8:17, 18). Ons word verder ingelig: “Hulle het voortdurend die boodskappers van die ware God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete die spot gedryf, totdat die woede van Jehovah teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing was nie” (2 Kronieke 36:16). Die Israeliete het ’n stadium bereik waar daar nie meer ’n gepaste grondslag vir medelye was nie, en hulle het Jehovah se regverdige toorn gewek. Met watter gevolg?

19 Jehovah kon nie meer medelye vir sy volk voel nie. Hy het verklaar: “Ek sal geen medelye betoon of jammer voel nie, en ek sal nie so barmhartig wees dat ek hulle nie sal verdelg nie” (Jeremia 13:14). Jerusalem en sy tempel is dus vernietig, en die Israeliete is as gevangenes na Babilon weggevoer. Hoe tragies is dit tog wanneer sondige mense so opstandig raak dat daar geen Goddelike medelye meer vir hulle oor is nie!—Klaagliedere 2:21.

20, 21. (a) Wat sal gebeur wanneer Goddelike medelye in ons dag tot ’n einde kom? (b) Watter medelydende voorsiening van Jehovah sal in die volgende hoofstuk bespreek word?

20 Wat van vandag? Jehovah het nie verander nie. Uit medelye het hy sy Getuies die opdrag gegee om die “goeie nuus van die koninkryk” in die hele bewoonde aarde te verkondig (Matteus 24:14). Wanneer regskape mense gehoor  gee, help Jehovah hulle om die Koninkryksboodskap te verstaan (Handelinge 16:14). Maar hierdie werk sal nie vir ewig voortduur nie. Dit sou nouliks medelydend wees as Jehovah hierdie goddelose wêreld, met al sy ellende en lyding, onbepaald sou laat voortduur. Wanneer Goddelike medelye tot ’n einde kom, sal Jehovah kom om oordeel aan hierdie stelsel van dinge te voltrek. Selfs dan sal hy uit medelye optree—medelye met sy “heilige naam” en met sy toegewyde knegte (Esegiël 36:20-23). Jehovah sal goddeloosheid uit die weg ruim en ’n regverdige nuwe wêreld tot stand bring. Jehovah sê van die goddeloses: “My oog sal nie jammer voel nie, en ook sal ek geen medelye betoon nie. Hulle weg sal ek beslis op hulle eie hoof laat neerkom.”—Esegiël 9:10.

21 Tot dan voel Jehovah medelye vir mense, selfs vir dié wat vernietiging in die gesig staar. Sondige mense wat opreg berouvol is, kan baat vind by een van Jehovah se mees medelydende voorsienings—vergifnis. In die volgende hoofstuk sal ons van die pragtige illustrasies in die Bybel bespreek wat die volkomenheid van Jehovah se vergifnis toelig.

^ par. 3 Dit is egter interessant dat die Hebreeuse werkwoord ra·chamʹ in Psalm 103:13 verwys na die barmhartigheid, of medelye, wat ’n vader aan sy kinders bewys.

^ par. 10 Die uitdrukking “sy siel [het] ongeduldig geraak” beteken letterlik “sy siel is verkort; sy geduld was op”. The New English Bible sê: “Hy kon dit nie meer verduur om die Israeliete se benarde toestand te sien nie.” Tanakh—A New Translation of the Holy Scriptures gee dit soos volg weer: “Hy kon nie die ellende van Israel verduur nie.”