Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 23

‘Hy het ons eerste liefgehad’

‘Hy het ons eerste liefgehad’

1-3. Wat is enkele faktore wat Jesus se dood anders as enige ander dood in die geskiedenis gemaak het?

OP ’N lentedag amper 2 000 jaar gelede is ’n onskuldige man verhoor, skuldig verklaar aan misdade wat hy nooit gepleeg het nie en toe doodgemartel. Dit was nie die eerste wrede en onregverdige teregstelling in die geskiedenis nie; en ongelukkig was dit ook nie die laaste nie. Maar hierdie dood was anders as enige ander dood.

2 Terwyl hierdie man sy laaste, pynlike ure deurgemaak het, het tekens aan die hemele getoon hoe belangrik die gebeurtenis was. Hoewel dit die middel van die dag was, het daar skielik duisternis oor die land gekom. Soos ’n geskiedskrywer dit gestel het: “Die sonlig het verdwyn” (Lukas 23:44, 45). Toe, net voordat die man sy laaste asem uitgeblaas het, het hy hierdie onvergeetlike woorde gespreek: “Dit is volbring!” Ja, deur sy lewe af te lê, het hy iets wonderliks bereik. Sy offerande was die grootste liefdedaad wat ooit deur ’n mens verrig is.—Johannes 15:13; 19:30.

3 Dié man was natuurlik Jesus Christus. Sy lyding en dood op daardie sombere dag, 14 Nisan 33 G.J., is welbekend. Maar ’n belangrike feit word dikwels geïgnoreer. Hoewel Jesus verskriklik gely het, het iemand anders nog meer gely. Trouens, iemand anders het daardie dag ’n selfs groter opoffering gemaak—die grootste liefdedaad wat ooit deur enigiemand in die heelal verrig is. Wat was daardie daad? Die antwoord bied ’n gepaste inleiding tot die allerbelangrikste onderwerp: Jehovah se liefde.

 Die grootste liefdedaad

4. Wat het ’n Romeinse soldaat laat besef dat Jesus nie ’n gewone mens was nie, en tot watter slotsom het daardie soldaat gekom?

4 Die Romeinse hoofman oor honderd wat toesig gehou het oor Jesus se teregstelling, het hom verwonder oor die duisternis wat Jesus se dood voorafgegaan het, asook oor die geweldige aardbewing wat daarop gevolg het. “Hy was beslis God se Seun”, het hy gesê (Matteus 27:54). Dit was duidelik dat Jesus nie ’n gewone mens was nie. Daardie soldaat het gehelp om die enigverwekte Seun van die Allerhoogste God tereg te stel! Presies hoe kosbaar was hierdie Seun vir sy Vader?

5. Hoe kan die ontsaglike lang tyd wat Jehovah en sy Seun saam in die hemel deurgebring het, toegelig word?

5 Die Bybel noem Jesus “die eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). Dink net—Jehovah se Seun het voor die fisiese heelal bestaan. Hoe lank was Vader en Seun dan saam? Party wetenskaplikes skat dat die heelal 13 miljard jaar oud is. Kan jy jou selfs voorstel hoe lank dit is? Om mense te help verstaan hoe oud die heelal volgens die skatting van wetenskaplikes is, het een planetarium ’n 110 meter lange tydkaart vertoon. Wanneer besoekers al langs dié tydkaart loop, verteenwoordig elke tree wat hulle gee, ongeveer 75 miljoen jaar in die bestaan van die heelal. Aan die einde van die tydkaart word die hele mensegeskiedenis deur ’n strepie so dik soos ’n mensehaar verteenwoordig! Maar selfs al is hierdie skatting reg, sou daardie hele tydkaart nie lank genoeg wees om die lewensduur van Jehovah se Seun te verteenwoordig nie! Waarmee was hy gedurende al daardie eeue besig?

6. (a) Waarmee was Jehovah se Seun gedurende sy voormenslike bestaan besig? (b) Watter soort band bestaan daar tussen Jehovah en sy Seun?

6 Die Seun het vreugdevol as sy Vader se “meesterwerker” gedien (Spreuke 8:30). Die Bybel sê: “Sonder [die Seun] het nie eers een ding ontstaan nie” (Johannes 1:3). Jehovah en sy Seun het dus saam gewerk om alle ander dinge te skep. Watter opwindende, vreugdevolle tye het hulle tog geniet! Baie sal saamstem dat die liefde tussen ouer en kind verbasend  sterk is. En liefde “is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Wie van ons kan ons dan enigsins voorstel hoe sterk ’n band is wat so ontsettend lank bestaan het? Dit is duidelik dat Jehovah God en sy Seun verenig is deur die sterkste band van liefde wat nog ooit gesmee is.

7. Hoe het Jehovah sy gevoelens oor sy Seun uitgedruk toe Jesus gedoop is?

7 Nietemin het die Vader sy Seun aarde toe gestuur om as ’n mensebaba gebore te word. Dit het beteken dat Jehovah intieme omgang met sy geliefde Seun in die hemel vir ’n paar dekades moes prysgee. Hy het met groot belangstelling vanuit die hemel toegekyk terwyl Jesus opgegroei en ’n volmaakte man geword het. Jesus is gedoop toe hy omtrent 30 jaar oud was. Ons hoef nie te raai hoe Jehovah oor hom gevoel het nie. Die Vader het self vanuit die hemel gepraat: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Dit moes die Vader baie bly gemaak het om te sien dat Jesus getrou alles doen wat voorspel is, alles wat van hom verwag is!—Johannes 5:36; 17:4.

8, 9. (a) Wat het Jesus op 14 Nisan 33 G.J. deurgemaak, en hoe het dit sy hemelse Vader geraak? (b) Waarom het Jehovah toegelaat dat sy Seun ly en sterf?

8 Maar hoe het Jehovah op 14 Nisan 33 G.J. gevoel? Hoe het hy gevoel toe Jesus verraai en daarna in die nag deur ’n oproerige skare in hegtenis geneem is? Toe Jesus se vriende hom in die steek gelaat het en hy aan ’n onwettige verhoor onderwerp is? Toe hy bespot, daar op hom gespoeg en hy met vuiste geslaan is? Toe hy gegesel is totdat sy rug die ene skeurwonde was? Toe hy aan sy hande en voete aan ’n houtpaal genael is en daar gehang het terwyl mense hom gesmaad het? Hoe het die Vader gevoel toe sy geliefde Seun hom aangeroep het terwyl hy in hewige pyn verkeer het? Hoe het Jehovah gevoel toe Jesus sy laaste asem uitgeblaas het en sy dierbare Seun vir die eerste keer van die begin van die hele skepping af nie bestaan het nie?—Matteus 26:14-16, 46, 47, 56, 59, 67; 27:38-44, 46; Johannes 19:1.

“God het . . . sy enigverwekte Seun gegee”

 9 Woorde ontbreek ons. Aangesien Jehovah gevoelens het, kan ons die pyn wat hy oor die dood van sy Seun verduur het, nie in woorde uitdruk nie. Wat uitgedruk kan word, is watter beweegrede Jehovah gehad het om toe te laat dat dit gebeur. Waarom het die Vader homself aan hierdie gevoelens onderwerp? Jehovah openbaar iets wonderliks aan ons in Johannes 3:16—’n Bybelvers wat so belangrik is dat dit al die klein Evangelie genoem is. Dit sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” Jehovah se beweegrede het dus hierop neergekom: liefde. Jehovah se gawe—die feit dat hy sy Seun gestuur het om vir ons te ly en te sterf—was die grootste liefdedaad van alle tye.

Definisie van Goddelike liefde

10. Watter behoefte het mense, en wat het met die betekenis van die woord “liefde” gebeur?

10 Wat beteken hierdie woord “liefde”? Liefde is al beskryf as die mens se grootste behoefte. Mense soek van die wieg tot die graf na liefde, floreer daarop, kwyn weg en sterf selfs weens ’n gebrek daaraan. Dit is nietemin verbasend moeilik om dit te definieer. Mense praat natuurlik baie oor liefde. Daar is ’n eindelose stroom boeke, liedjies en gedigte daaroor. Al hierdie dinge maak nie altyd die betekenis van liefde duidelik nie. Trouens, die woord word so baie gebruik dat dit lyk of die werklike betekenis daarvan net al hoe vaer word.

11, 12. (a) Waar kan ons baie van liefde leer, en waarom daar? (b) Watter soorte liefde is in Ou Grieks omskryf, en watter woord vir “liefde” word die meeste in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik? (Sien ook voetnoot.) (c) Wat is a·gaʹpe?

11 Wat die Bybel oor liefde leer, is egter baie duidelik. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words sê: “Liefde kan slegs herken word aan die dade waartoe dit aanleiding gee.” Die Bybelverslag van Jehovah se dade leer ons baie van sy liefde—die tere geneentheid wat hy vir sy skepsele het. Wat kan byvoorbeeld meer omtrent hierdie eienskap openbaar as  Jehovah se allergrootste liefdedaad wat vroeër beskryf is? In die volgende hoofstukke sal ons baie ander voorbeelde sien van hoe Jehovah se liefde daadwerklik getoon is. Ons kan ook insig verkry uit die oorspronklike woorde vir “liefde” wat in die Bybel gebruik word. In Ou Grieks was daar vier woorde vir “liefde”. * Die een wat die meeste in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik word, is a·gaʹpe. Een Bybelwoordeboek noem dit “die kragtigste woord denkbaar vir liefde”. Waarom?

12 A·gaʹpe verwys na liefde wat deur beginsels gerig word. Dit is dus meer as net ’n emosionele reaksie op ’n ander persoon. Dit is breër in omvang, meer deurdag en berus op doelbewuste oorweging. Bowenal is a·gaʹpe heeltemal onselfsugtig. Kyk byvoorbeeld weer na Johannes 3:16. Wat is “die wêreld” wat God so liefgehad het dat hy sy enigverwekte Seun gegee het? Dit is die wêreld van loskoopbare mense. Dit sluit baie mense in wat ’n sondige lewe lei. Het Jehovah elkeen as ’n persoonlike vriend lief, soos hy getroue Abraham liefgehad het? (Jakobus 2:23). Nee, maar uit liefde bewys Jehovah goedheid aan almal, al verg dit ’n groot opoffering van hom. Hy wil hê dat almal berou moet toon en hulle weë moet verander (2 Petrus 3:9). Baie doen dit. Hy neem hulle met vreugde as sy vriende aan.

13, 14. Wat toon dat a·gaʹpe dikwels innige geneentheid insluit?

13 Party het egter die verkeerde idee van a·gaʹpe. Hulle dink dat dit ’n koue, intellektuele soort liefde is. Feit is dat a·gaʹpe dikwels innige persoonlike geneentheid insluit. Byvoorbeeld,  toe Johannes geskryf het: “Die Vader het die Seun lief”, het hy ’n vorm van die woord a·gaʹpe gebruik. Is hierdie liefde sonder innige geneentheid? Let daarop dat Jesus gesê het: “Die Vader het geneentheid vir die Seun” en ’n vorm van die woord fi·leʹo gebruik het (Johannes 3:35; 5:20). Jehovah se liefde sluit dikwels tere geneentheid in. Maar sy liefde word nooit deur blote sentiment gelei nie. Dit word altyd deur sy wyse en regverdige beginsels gerig.

14 Soos ons gesien het, is al Jehovah se eienskappe voortreflik, volmaak en aantreklik. Maar liefde is die aantreklikste. Niks anders trek ons so kragtig tot Jehovah aan nie. Gelukkig is liefde ook sy vernaamste eienskap. Hoe weet ons dit?

“God is liefde”

15. Watter verklaring maak die Bybel oor Jehovah se liefde, en in watter opsig is hierdie verklaring uniek? (Sien ook voetnoot.)

15 Die Bybel sê iets van liefde wat dit nooit van Jehovah se ander hoofeienskappe sê nie. Die Skrif sê nie dat God krag is of dat God geregtigheid is of selfs dat God wysheid is nie. Hy besit hierdie eienskappe, is die uiteindelike bron daarvan en is weergaloos wat al drie betref. Maar van die vierde eienskap word iets betekenisvoller gesê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). * Wat beteken dit?

16-18. (a) Waarom sê die Bybel “God is liefde”? (b) Waarom is die mens, van al die skepsele op aarde, ’n gepaste simbool van Jehovah se liefde?

16 “God is liefde” is nie bloot ’n vergelyking asof dit sê “God is gelyk aan liefde” nie. Ons kan nie die verklaring omdraai en sê “liefde is God” nie. Jehovah is baie meer as ’n abstrakte eienskap. Hy is ’n persoon met ’n groot verskeidenheid  gevoelens en eienskappe benewens liefde. Maar liefde is ’n fundamentele eienskap van Jehovah. ’n Naslaanwerk sê gevolglik oor hierdie vers: “God se wese of natuur is liefde.” In ’n algemene sin kan ons so daaraan dink: Jehovah se krag stel hom in staat om op te tree. Sy geregtigheid en sy wysheid rig die manier waarop hy optree. Maar Jehovah se liefde beweeg hom om op te tree. En sy liefde is altyd teenwoordig in die manier waarop hy sy ander eienskappe gebruik.

17 Daar word dikwels gesê dat Jehovah die verpersoonliking van liefde is. As ons dus van beginselvaste liefde wil leer, moet ons van Jehovah leer. Ons kan natuurlik hierdie pragtige eienskap ook in mense sien. Maar waarom is dit daar? Tydens die skepping het Jehovah hierdie woorde gespreek, blykbaar tot sy Seun: “Laat ons mense maak na ons beeld, ooreenkomstig ons gelykenis” (Genesis 1:26). Van al die skepsele op hierdie aarde kan net mans en vroue besluit om lief te hê en sodoende hulle hemelse Vader navolg. Onthou dat Jehovah verskillende skepsele gebruik het om sy hoofeienskappe voor te stel. Maar Jehovah het sy hoogste aardse skepping, die mens, gekies as die simbool van Sy vernaamste eienskap, liefde.—Esegiël 1:10.

18 As ons liefde op ’n onselfsugtige, beginselvaste wyse openbaar, weerspieël ons Jehovah se vernaamste eienskap. Dit is net soos die apostel Johannes geskryf het: “Wat ons betref, ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). Maar in watter opsigte het Jehovah ons eerste liefgehad?

Jehovah het die inisiatief geneem

19. Waarom kan daar gesê word dat liefde ’n sleutelrol in Jehovah se skeppingswerk gespeel het?

19 Liefde is nie iets nuuts nie. Wat het Jehovah per slot van rekening beweeg om te begin skep? Dit was nie omdat hy eensaam was en kameraadskap nodig gehad het nie. Jehovah is in homself volkome en onafhanklik en kom niks kort wat iemand anders kan voorsien nie. Maar sy liefde, ’n aktiewe  eienskap, het hom natuurlikerwys beweeg om die vreugdes van die lewe te wil deel met intelligente skepsele wat so ’n gawe kan waardeer. “Die begin van die skepping deur God” was sy enigverwekte Seun (Openbaring 3:14). Toe het Jehovah hierdie Meesterwerker gebruik om alle ander dinge te skep, waarvan die engele eerste was (Job 38:4, 7; Kolossense 1:16). Geseënd met vryheid, intelligensie en gevoelens het hierdie magtige geeste die geleentheid gehad om self liefdevolle bande te smee—met mekaar en bowenal met Jehovah God (2 Korintiërs 3:17). Hulle het dus liefgehad omdat hy hulle eerste liefgehad het.

20, 21. Watter bewys het Adam en Eva van Jehovah se liefde vir hulle gehad, maar hoe het hulle daarop gereageer?

20 Dit was ook die geval met die mensdom. Van die begin af was Adam en Eva as ’t ware omhul deur liefde. Oral waar hulle in hulle Paradystuiste in Eden gekyk het, kon hulle bewys sien van die Vader se liefde vir hulle. Let op wat die Bybel sê: “Jehovah God [het] ’n tuin in Eden geplant, na die ooste, en daar het hy die mens geplaas wat hy gevorm het” (Genesis 2:8). Was jy al ooit in ’n baie mooi tuin of park? Wat was vir jou die mooiste? Die lig wat in ’n skaduryke hoekie sag deur die blare skyn? Al die pragtige kleure in ’n blombedding? Die agtergrondmusiek van ’n murmelende stroompie, singende voëls en gonsende insekte? Wat van die geure van bome, vrugte en bloeisels? Hoe dit ook al sy, geen hedendaagse park is met die een in Eden te vergelyk nie. Waarom nie?

21 Daardie tuin is deur Jehovah self geplant! Dit moes onbeskryflik mooi gewees het. Daar was allerhande bome wat ’n lus vir die oog was of heerlike vrugte gedra het. Die tuin het baie water gehad, dit was groot en het gewemel van ’n fassinerende verskeidenheid diere. Adam en Eva het alles gehad om hulle lewe gelukkig en sinvol te maak, insluitende bevredigende werk en volmaakte kameraadskap. Jehovah het hulle eerste liefgehad, en hulle het alle rede gehad om hom lief te hê. Maar hulle het nie. In plaas van hulle hemelse Vader  uit liefde te gehoorsaam, het hulle uit selfsug teen hom in opstand gekom.—Genesis, hoofstuk 2.

22. Hoe het Jehovah se reaksie op die opstand in Eden bewys dat sy liefde lojaal is?

22 Hoe moes dit Jehovah tog nie seergemaak het nie! Maar het hierdie opstand sy liefdevolle hart verbitter? Nee! “Sy liefderyke goedhartigheid [of, “lojale liefde”, voetnoot in NW] is tot onbepaalde tyd” (Psalm 136:1). Hy het hom dus onmiddellik voorgeneem om liefdevolle reëlings te tref om alle nakomelinge van Adam en Eva wat die regte gesindheid het, los te koop. Soos ons gesien het, het daardie reëlings die losprysoffer van sy geliefde Seun ingesluit, wat ’n baie groot opoffering van die Vader geverg het.—1 Johannes 4:10.

23. Wat is een rede waarom Jehovah “die gelukkige God” is, en watter belangrike vraag sal in die volgende hoofstuk bespreek word?

23 Ja, van die begin af het Jehovah die inisiatief geneem om liefde aan die mensdom te betoon. In tallose opsigte het “hy ons eerste liefgehad”. Liefde bevorder eensgesindheid en vreugde; dit is derhalwe geen wonder dat Jehovah as “die gelukkige God” beskryf word nie (1 Timoteus 1:11). Maar ’n belangrike vraag ontstaan. Het Jehovah ons werklik as individue lief? Die volgende hoofstuk sal hierdie onderwerp bespreek.

^ par. 11 Die werkwoord fi·leʹo, wat beteken “om geneentheid te hê vir, om lief te wees vir, of om te hou van (soos ’n mens moontlik oor ’n intieme vriend of broer voel)”, word dikwels in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik. ’n Vorm van die woord stor·geʹ, of innige familieliefde, word in 2 Timoteus 3:3 gebruik om te toon dat daar gedurende die laaste dae ’n groot gebrek aan hierdie liefde sal wees. Eʹros, of romantiese liefde tussen die geslagte, word nie in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik nie, hoewel hierdie soort liefde in die Bybel bespreek word.—Spreuke 5:15-20.

^ par. 15 Ander verklarings in die Bybel het ’n soortgelyke konstruksie. Byvoorbeeld: “God [is] lig” en “God is . . . ’n verterende vuur” (1 Johannes 1:5; Hebreërs 12:29). Maar dit moet verstaan word as metafore, want dit vergelyk Jehovah met fisiese dinge. Jehovah is soos lig, want hy is heilig en regverdig. Daar is geen “duisternis”, of onreinheid, in hom nie. En hy kan met vuur vergelyk word weens die gebruik van sy vernietigingskrag.