Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 6

Vernietigingskrag—“Jehovah is ’n krygsman”

Vernietigingskrag—“Jehovah is ’n krygsman”

1-3. (a) Hoe het die Egiptenaars die Israeliete bedreig? (b) Hoe het Jehovah vir sy volk geveg?

DIE Israeliete was vasgekeer—aan die een kant deur hoë kranse en aan die ander kant deur ’n ondeurganklike see. Die Egiptiese leër, ’n genadelose moordmasjien, was kort op hulle hakke en was vasbeslote om hulle uit te wis. * Tog het Moses God se volk aangespoor om nie moed te verloor nie. “Jehovah sal vir julle veg”, het hy hulle verseker.—Eksodus 14:14.

2 Nietemin het Moses Jehovah klaarblyklik aangeroep, en God het geantwoord: “Waarom bly jy tot my roep? . . . Lig jou staf op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit” (Eksodus 14:15, 16). Stel jou net voor hoe die gebeure ontvou het. Jehovah gee onmiddellik opdrag aan sy engel, en die wolkkolom trek na Israel se agterhoede, terwyl dit moontlik soos ’n muur uitsprei en die Egiptiese aanval stuit (Eksodus 14:19, 20; Psalm 105:39). Moses steek sy hand uit. ’n Sterk wind verdeel die see. Die waters stol op die een of ander manier en staan soos mure, met ’n pad daartussen wat wyd genoeg is vir die hele nasie om deur te trek!—Eksodus 14:21; 15:8.

3 In die lig van hierdie vertoning van krag moet Farao eintlik sy troepe beveel om die aftog te blaas. Maar trotse Farao beveel hulle om aan te val (Eksodus 14:23). Die Egiptenaars jaag die see in agter die Israeliete aan, maar hulle aanval verander gou in chaos wanneer die wiele van hulle  strydwaens begin afval. Toe die Israeliete veilig aan die ander kant is, beveel Jehovah Moses: “Steek jou hand oor die see uit, sodat die waters oor die Egiptenaars, hulle strydwaens en hulle ruiters kan terugvloei.” Die watermure stort ineen en oordek Farao en sy krygsmag!—Eksodus 14:24-28; Psalm 136:15.

By die Rooi See het Jehovah “’n krygsman” geword

4. (a) Wat het Jehovah by die Rooi See geword? (b) Hoe reageer party dalk op hierdie voorstelling van Jehovah?

4 Die verlossing van die nasie Israel by die Rooi See was ’n betekenisvolle gebeurtenis in die geskiedenis van God se handelinge met die mens. Daar het Jehovah “’n krygsman” geword (Eksodus 15:3). Maar hoe voel jy oor hierdie voorstelling van Jehovah? Om eerlik te wees, oorlog het die mensdom al baie pyn en lyding besorg. Lyk God se gebruik van vernietigingskrag dalk meer na iets wat ons daarvan afskrik om nader aan hom te kom as iets wat ons aanspoor om dit te doen?

Goddelike oorlogvoering teenoor mensekonflikte

5, 6. (a) Waarom word God gepas “Jehovah van die leërs” genoem? (b) Hoe verskil Goddelike oorlogvoering van menslike oorlogvoering?

5 God word byna driehonderd keer in die Hebreeuse Geskrifte en twee keer in die Christelike Griekse Geskrifte die titel “Jehovah van die leërs” gegee (1 Samuel 1:11). As Soewereine Heerser voer Jehovah bevel oor ’n ontsaglike engeleleër (Josua 5:13-15; 1 Konings 22:19). Die vernietigingspotensiaal van hierdie leër is ontsagwekkend (Jesaja 37:36). Dit is nie aangenaam om aan die vernietiging van mense te dink nie. Maar ons moet onthou dat God se oorloë van kleinlike mensekonflikte verskil. Militêre en politieke leiers probeer dalk edele beweegredes aan hulle aggressie toeskryf. Maar menseoorloë het sonder uitsondering met gierigheid en selfsug te doen.

 6 Jehovah daarenteen word nie deur blinde emosie gedryf nie.Deuteronomium 32:4 sê: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy.” God se Woord veroordeel onbeheerste woede, wreedheid en geweld (Genesis 49:7; Psalm 11:5). Jehovah tree dus nooit sonder rede op nie. Hy gebruik sy vernietigingskrag spaarsaam en as ’n laaste uitweg. Dit is soos hy deur sy profeet Esegiël gesê het: “‘Skep ek enigsins behae in die dood van ’n goddelose’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah, ‘en nie daarin dat hy hom afkeer van sy weë en bly lewe nie?’”—Esegiël 18:23.

7, 8. (a) Tot watter verkeerde slotsom het Job met betrekking tot sy lyding gekom? (b) Hoe het Elihu Job se denke in hierdie opsig reggestel? (c) Watter les kan ons uit Job se ondervinding leer?

7 Waarom gebruik Jehovah dan vernietigingskrag? Voordat ons antwoord, kan ons miskien eers aan die regverdige man Job dink. Satan het dit bevraagteken of Job—of enige ander mens—sy onkreukbaarheid onder beproewing sou handhaaf. Jehovah het op daardie uitdaging geantwoord deur Satan toe te laat om Job se onkreukbaarheid op die proef te stel. Job het gevolglik siek geword en sy besittings asook sy kinders verloor (Job 1:1–2:8). Omdat Job nie bewus was van die betrokke geskille nie, het hy verkeerdelik tot die slotsom gekom dat sy lyding onregverdige straf van God was. Hy het God gevra waarom Hy hom ’n “teiken”, “’n vyand”, gemaak het.—Job 7:20; 13:24.

8 ’n Jong man met die naam Elihu het getoon dat Job se denke verkeerd was en gesê: “U het gesê: ‘My regverdigheid is groter as dié van God’” (Job 35:2). Ja, dit is onwys om te dink dat ons beter as God weet of om aan te neem dat hy onregverdig opgetree het. “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel”, het Elihu verklaar. Later het hy gesê: “Wat die Almagtige betref, ons het hom nie deurgrond nie; hy is verhewe  in krag, en geregtigheid en ’n oorvloed van regverdigheid sal hy nie geringag nie” (Job 34:10; 36:22, 23; 37:23). Ons kan seker wees dat God ’n goeie rede het wanneer hy veg. Laat ons, terwyl ons dit in gedagte hou, kyk na party van die redes waarom die God van vrede soms ’n krygsman word.—1 Korintiërs 14:33.

Waarom die God van vrede verplig is om te veg

9. Waarom veg die God van vrede?

9 Nadat Moses God as “’n krygsman” geloof het, het hy gesê: “Wie onder die gode is soos u, o Jehovah? Wie is soos u, magtig in heiligheid?” (Eksodus 15:11). Die profeet Habakuk het eweneens geskryf: “U is te suiwer van oë om die kwaad te sien; en na moeite kan u nie kyk nie” (Habakuk 1:13). Hoewel Jehovah ’n God van liefde is, is hy ook ’n God van heiligheid, regverdigheid en geregtigheid. Soms verplig hierdie eienskappe hom om sy vernietigingskrag te gebruik (Jesaja 59:15-19; Lukas 18:7). God skend dus nie sy heiligheid wanneer hy veg nie. Hy veg eerder omdat hy heilig is.—Eksodus 39:30.

10. (a) Wanneer en hoe het die nodigheid ontstaan vir God om oorlog te voer? (b) Slegs hoe kan die vyandskap wat in Genesis 3:15 voorspel is, beëindig word, en met watter voordele vir regverdige mense?

10 Dink aan die situasie wat ontstaan het nadat die eerste mensepaar, Adam en Eva, teen God in opstand gekom het (Genesis 3:1-6). As Jehovah hulle onregverdigheid toegelaat het, sou hy sy posisie as Universele Soewerein ondermyn het. As ’n regverdige God was hy verplig om hulle ter dood te veroordeel (Romeine 6:23). In die eerste Bybelprofesie het hy voorspel dat daar vyandskap tussen sy knegte en die volgelinge van die “slang”, Satan, sou bestaan (Openbaring 12:9; Genesis 3:15). Hierdie vyandskap sou uiteindelik slegs beëindig kon word wanneer Satan verbrysel word (Romeine 16:20). Maar daardie oordeelsdaad sou groot seëninge vir regverdige mense meebring deur Satan se invloed van  die aarde te verwyder en die weg tot ’n wêreldwye paradys te baan (Matteus 19:28). Tot dan sou diegene wat hulle aan Satan se kant skaar, altyd ’n bedreiging wees vir die fisiese en geestelike welsyn van God se volk. Soms sou dit vir Jehovah nodig wees om in te gryp.

God tree op om goddeloosheid uit die weg te ruim

11. Waarom het God verplig gevoel om ’n wêreldvloed te bring?

11 Die Vloed van Noag se dag was ’n geval van hierdie soort ingryping.Genesis 6:11, 12 sê: “Die aarde het verdorwe geraak voor die oë van die ware God en die aarde het vol geweld geraak. Toe het God die aarde gesien, en kyk! dit was verdorwe, want alle vlees het sy weg op die aarde verderf.” Sou God die goddeloses toelaat om die laaste greintjie sedelikheid op die aarde uit te wis? Nee. Jehovah het verplig gevoel om ’n wêreldvloed te bring om diegene wat daarop uit was om geweld en onsedelikheid te pleeg, van die aarde te verwyder.

12. (a) Wat het Jehovah omtrent Abraham se “saad” voorspel? (b) Waarom moes die Amoriete uitgeroei word?

12 Dit was ook die geval met God se oordeel oor die Kanaäniete. Jehovah het geopenbaar dat daar uit Abraham ’n “saad” sou kom deur wie al die families van die aarde hulleself sou seën. In ooreenstemming met dié voorneme het God verklaar dat die land Kanaän, ’n land wat bewoon is deur ’n volk wat die Amoriete genoem is, aan Abraham se nageslag gegee sou word. Hoe kon dit geregverdig word dat God hierdie volk met geweld uit hulle land verdryf? Jehovah het voorspel dat die uitsetting eers ná sowat 400 jaar sou plaasvind—wanneer “die oortreding van die Amoriete . . . tot voltooiing gekom het” (Genesis 12:1-3; 13:14, 15; 15:13, 16; 22:18). * Gedurende daardie tyd het die Amoriete al  hoe dieper in sedelike verdorwenheid verval. Kanaän het ’n land van afgodediens, bloedvergieting en verdorwe seksgebruike geword (Eksodus 23:24; 34:12, 13; Numeri 33:52). Die inwoners van die land het selfs kinders in offervure geoffer. Kon ’n heilige God sy volk aan sulke goddeloosheid blootstel? Nee! Hy het gesê: “Die land [is] onrein, en ek sal straf daaroor bring vir sy oortreding, en die land sal sy inwoners uitbraak” (Levitikus 18:21-25). Maar Jehovah het die mense nie sommer voor die voet doodgemaak nie. Kanaäniete met die regte gesindheid, soos Ragab en die Gibeoniete, is gespaar.—Josua 6:25; 9:3-27.

God veg ter wille van sy naam

13, 14. (a) Waarom was Jehovah verplig om sy naam te heilig? (b) Hoe het Jehovah sy naam van smaad gesuiwer?

13 Omdat Jehovah heilig is, is sy naam heilig (Levitikus 22:32). Jesus het sy dissipels leer bid: “Laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Die opstand in Eden het God se naam ontheilig deur twyfel te wek oor God se reputasie en die manier waarop hy heers. Jehovah kon nooit sulke laster en opstand oorsien nie. Hy was verplig om sy naam van smaad te suiwer.—Jesaja 48:11.

14 Dink weer aan die Israeliete. Solank hulle slawe in Egipte was, het God se belofte aan Abraham dat al die families van die aarde hulleself deur middel van sy Saad sou seën, hol geklink. Maar deur hulle te verlos en hulle ’n nasie te maak, het Jehovah sy naam van smaad gesuiwer. Die profeet Daniël het dus in gebed gesê: “O Jehovah ons God, u [het] u volk met ’n sterk hand uit Egipteland uitgelei . . . en vir u ’n naam gemaak.”—Daniël 9:15.

15. Waarom het Jehovah die Jode uit gevangenskap in Babilon bevry?

15 Dit is interessant dat Daniël hierdie gebed gedoen het toe die Jode in ’n situasie verkeer het waarin dit vir Jehovah nodig was om weer ter wille van Sy naam op te tree. Die ongehoorsame Jode was in gevangenskap, dié keer in Babilon.  Hulle eie hoofstad, Jerusalem, het in puin gelê. Daniël het geweet dat dit Jehovah se naam sou verheerlik as die Jode in hulle vaderland herstel word. Daniël het dus gebid: “O Jehovah, vergewe tog. O Jehovah, skenk tog aandag en tree op. Moenie talm nie, ter wille van uself, o my God, want u naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”—Daniël 9:18, 19.

God veg ten behoewe van sy volk

16. Verduidelik waarom die feit dat Jehovah daarin belangstel om sy naam te verdedig, nie beteken dat hy koud en egosentries is nie.

16 Beteken die feit dat Jehovah daarin belangstel om sy naam te verdedig, dat hy koud en egosentries is? Nee, want hy beskerm sy volk deur in ooreenstemming met sy heiligheid en liefde vir geregtigheid op te tree. Kyk na Genesis hoofstuk 14. Daar lees ons van vier invallende konings wat Abraham se neef Lot sowel as Lot se familie ontvoer het. Met God se hulp het Abraham ’n ongelooflike oorwinning oor ’n groot oormag behaal! Die verslag van hierdie oorwinning was waarskynlik die eerste inskrywing in “die boek van die Oorloë van Jehovah”, ’n boek wat blykbaar ook verslae bevat het van sommige gevegte wat nie in die Bybel opgeteken is nie (Numeri 21:14). Daar sou nog baie oorwinnings wees.

17. Wat toon dat Jehovah vir die Israeliete geveg het nadat hulle die land Kanaän binnegegaan het? Gee voorbeelde.

17 Kort voor die Israeliete die land Kanaän binnegegaan het, het Moses hulle verseker: “Jehovah julle God trek voor julle uit. Hy sal vir julle veg ooreenkomstig alles wat hy . . . met julle in Egipte gedoen het” (Deuteronomium 1:30; 20:1). Van Moses se opvolger, Josua, af en dwarsdeur die tyd van die rigters en die bewind van die getroue konings van Juda het Jehovah inderdaad vir sy volk geveg en aan hulle talle dramatiese oorwinnings oor hulle vyande gegee.—Josua 10:1-14; Rigters 4:12-17; 2 Samuel 5:17-21.

18. (a) Waarom kan ons dankbaar wees dat Jehovah nie verander het nie? (b) Wat sal gebeur wanneer die vyandskap wat in Genesis 3:15 beskryf word, ’n klimaks bereik?

 18 Jehovah het nie verander nie; en ook het sy voorneme om hierdie planeet ’n vreedsame paradys te maak, nie verander nie (Genesis 1:27, 28). God haat goddeloosheid nog steeds. Terselfdertyd het hy sy volk baie lief en sal hy binnekort ten behoewe van hulle optree (Psalm 11:7). Trouens, die vyandskap wat in Genesis 3:15 beskryf word, sal na verwagting in die nabye toekoms ’n dramatiese en vernietigende wending neem. Jehovah sal weer eens “’n krygsman” word om sy naam te heilig en sy volk te beskerm!—Sagaria 14:3; Openbaring 16:14, 16.

19. (a) Lig toe waarom God se gebruik van vernietigingskrag ons nader aan hom kan bring. (b) Watter uitwerking moet God se bereidwilligheid om te veg, op ons hê?

19 Dink aan ’n illustrasie: Gestel ’n man se gesin word deur ’n kwaai dier aangeval en die man spring in en maak die wrede dier dood. Sou jy verwag dat sy vrou en kinders deur hierdie daad afgestoot sou word? Inteendeel, jy sou verwag dat hulle diep getref sou wees deur sy onselfsugtige liefde vir hulle. Net so moet ons ook nie deur God se gebruik van  vernietigingskrag afgestoot word nie. Sy bereidwilligheid om te veg om ons te beskerm, moet ons liefde vir hom vergroot. Dit moet ons ook groter respek vir sy onbeperkte krag laat opbou. Ons kan dus “heilige diens aan God . . . verrig met godvrugtige vrees en ontsag”.—Hebreërs 12:28.

Kom nader aan die “krygsman”

20. Hoe moet ons reageer as ons Bybelverslae oor Goddelike oorlogvoering lees wat ons miskien nie ten volle verstaan nie, en waarom?

20 Die Bybel verstrek natuurlik nie in elke geval al die besonderhede oor Jehovah se besluite aangaande sy oorlogvoering nie. Maar ons kan hiervan seker wees: Jehovah oefen nooit vernietigingskrag op ’n onregverdige, onbeheerste of wrede manier uit nie. As ons die konteks van ’n Bybelverslag of sekere agtergrondinligting ondersoek, kan dit ons dikwels help om dinge in perspektief te sien (Spreuke 18:13). Selfs wanneer ons nie al die besonderhede het nie, kan dit ons help om van enige moontlike twyfelgedagtes ontslae te raak as ons eenvoudig meer van Jehovah leer en oor sy kosbare eienskappe peins. As ons dit doen, sien ons dat ons meer as genoeg rede het om ons God, Jehovah, te vertrou.—Job 34:12.

21. Watter soort persoon is Jehovah in wese, hoewel hy soms “’n krygsman” is?

21 Hoewel Jehovah “’n krygsman” is wanneer die situasie dit vereis, beteken dit nie dat hy oorlogsugtig is nie. In Esegiël se visioen van die hemelse strydwa word Jehovah uitgebeeld as iemand wat gereed is om teen sy vyande te veg. En tog het Esegiël ’n reënboog—’n simbool van vrede—rondom God gesien (Genesis 9:13; Esegiël 1:28; Openbaring 4:3). Dit is duidelik dat Jehovah kalm en vredeliewend is. “God is liefde”, het die apostel Johannes geskryf (1 Johannes 4:8). Al Jehovah se eienskappe is in volmaakte ewewig. Hoe bevoorreg is ons dan om nader aan so ’n kragtige dog liefdevolle God te kan kom!

^ par. 1 Volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus is die Hebreërs “agternagesit deur 600 strydwaens sowel as 50 000 ruiters en ongeveer 200 000 swaar gewapende voetsoldate”.—Jewish Antiquities, II, 324 [xv, 3].

^ par. 12 Hier sluit die term “Amoriete” blykbaar al die volke van Kanaän in.—Deuteronomium 1:6-8, 19-21, 27; Josua 24:15, 18.