Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Kanada: Die Innuïet-dorpie genaamd Kangirsuk in die noorde van Quebec

 GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

Nuus van regoor die wêreld

Nuus van regoor die wêreld

’n Kampanje om alle Kanadese te bereik

Die video Waarom moet jy die Bybel studeer? is nou in agt inheemse tale vertaal sodat daar in die behoeftes van die gebied waaroor die takkantoor in Kanada toesig hou, voorsien kan word. Gedurende ’n tien dae lange kampanje in Oktober 2014 in Nunavik in die Arktiese gebied, is die video in die Inoektitoet-taal aan amper elke huisgesin in 14 gemeenskappe gewys, dit wil sê aan meer as 12 000 mense.

Die bestuurder was beïndruk

In September 2014 is die internasionale byeenkoms in Seoel by die Wêreldbeker-stadion in Suid-Korea gehou.  Meer as 56 000 mense het die program bygewoon. Die bestuurder van die stadion het sy waardering uitgespreek vir die goeie gedrag en samewerking van die Getuies gedurende die byeenkoms. Hy het gesê: “Almal het hulle so goed gedra. Ek was verbaas om te sien dat hulle die stadion beter skoongemaak het as ons professionele skoonmakers. Ek wens ons personeel het dieselfde gesindheid wanneer hulle hulle werk doen. As ons ons godsdiens op die regte manier wil beoefen, moet ons soos Jehovah se Getuies word.”

Suid-Korea: Die internasionale byeenkoms in 2014 in Seoel

Jehovah het die nodige opleiding voorsien

In Mei 2012 het die regering van Swede ’n aansoek verwerp wat Jehovah se Getuies ingedien het om ekonomiese voordele te ontvang wat aan ander godsdienste gegee  word. Die Bestuursliggaam het toestemming gegee dat appèl teen die besluit by die land se Administratiewe Hooggeregshof aangeteken kan word.

Die Hof het besluit om die saak aan te hoor voordat ’n besluit geneem word. Talle broers uit verskillende lande het bymekaargekom om te bespreek hoe om vrae te beantwoord wat moontlik by die verhoor gevra sou word. Die oefensessie is by ’n Koninkryksaal in Stockholm gehou.

Gedurende die oefensessie het die deurklokkie by die saal gelui. ’n Broer het die deur oopgemaak en twee meisies, 13 en 14 jaar oud, het hulleself voorgestel. Hulle het gesê dat hulle ’n paar vrae oor Jehovah se Getuies het. Die broer vertel: “Ek wou vir hulle sê dat hulle op ’n ander dag moet terugkom, aangesien ons besig was en nie tyd gehad het vir onderbrekings nie.”

Die broer het nietemin besluit om met hulle te praat. Die meisies het baie vrae gehad, waarvan party spesifiek verband gehou het met sosiale kwessies en ons standpunt ten opsigte van verkiesings. Daarna het die broer by die ander broers aangesluit en hulle vertel watter vrae die meisies hom gevra het en hoe hy hulle geantwoord het.

Die volgende dag was die broers tydens die verhoor verbaas omdat baie van die Hof se vrae soortgelyk was aan die vrae wat die meisies gevra het. ’n Broer wat die organisasie verteenwoordig, sê: “Ek was baie kalm, hoewel ek eintlik baie senuweeagtig moes gewees het omdat ek voor die land se mees vooraanstaande regsgeleerdes gestaan het. Maar ek het gevoel dat Jehovah reeds vir ons getoon het dat hy met ons is omdat hy ons die vorige dag die nodige opleiding gegee het.”

Die Hof het in ons guns beslis en die saak is na die regering terugverwys vir ’n nuwe uitspraak.

 Ken se sak rys

Ken, wat ses jaar oud is, woon in Haïti. Hy was bly om te hoor dat ’n nuwe Koninkryksaal binnekort vir sy gemeente gebou sou word. Hy het besluit om ’n geheime bydraebussie te maak en dit in sy kamer weg te steek. In plaas daarvan dat hy sy sakgeld by die skool uitgegee het, het hy dit in sy bussie gesit. Hy het dit getrou gedoen totdat die Koninkryksaalbougroep gekom het om met die bouwerk te begin. Hy het sy geheime bussie vir hulle gegee, en daar was genoeg geld in om ’n groot sak rys te koop. Die broers op die bouterrein het dae lank tydens middagete van Ken se rys geëet.

’n Bevel van die generaal

Gedurende die afgelope jaar moes spesiale toestemming verkry word om na dele van Sierra Leone te reis wat as gevolg van die Ebolakrisis onder kwarantyn was. Kringopsieners wat hierdie gebiede wou besoek, sowel as koeriers wat die lektuur en korrespondensie afgelewer het, moes permitte vir hulle en hulle voertuie verkry. Die Noodlenigingskomitee moes infrarooi-termometers, bleikmiddel en kos vir die broers neem. Verbasend genoeg is die nodige dokumentasie altyd verkry.

Een ondervinding is veral geloofversterkend. Die broers het aansoek gedoen om permitte vir 34 broers en 11 voertuie te verkry, maar hulle moes na ’n generaal in die weermag gaan sodat hy die aansoek kan goedkeur. Twee broers van die takkantoor het die generaal besoek op die dag waarop hulle gehoop het om die permitte te ontvang. Maar die aansoek was nêrens te vinde nie. Die broers is gevra om dit self tussen die stapels aansoekvorms te soek, maar hulle kon dit nêrens kry nie. Die generaal het toe vir sy sekretaresse gesê dat hy die kantoor  gaan toemaak en dat geen aansoeke in die volgende twee weke oorweeg sal word nie. Die broers het vurig in stilte tot Jehovah oor die saak gebid. Die generaal het toe na die broers gekyk en gevra: “Hoeveel permitte het julle nodig?” Toe hulle vir hom sê hoeveel hulle nodig het, het hy van sy stoel af opgestaan en met ’n harde stem gesê: “Dis veels te veel!”

Die broers het die aard van ons werk aan hom verduidelik en hoe ons noodlenigingsvoorraad mense tydens die Ebolakrisis help. Die generaal het ’n oomblik stilgebly, na sy sekretarisse gekyk en gesê: “Gee hulle alles wat hulle nodig het.”

Guinee en Sierra Leone: By al die Koninkryksale moes die broers hulle hande ontsmet