Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Australië: Die witbord-tekenprent Wat is ’n ware vriend?

 AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Oseanië

Oseanië
  • LANDE 29

  • BEVOLKING 40 642 855

  • VERKONDIGERS 98 353

  • BYBELSTUDIES 66 022

Die moed om te getuig

Die twaalfjarige Emily woon in Australië. Eendag het haar onderwyser met haar klas gepraat oor hoe belangrik dit is om goeie vriende te kies. Dit het Emily beweeg om die witbord-tekenprent Wat is ’n ware vriend? vir haar onderwyser te wys. Toe die onderwyser later die video vir die klas gewys het, het die leerders noukeurig aandag geskenk. Daarna het hulle die video ’n uur lank  bespreek. Die onderwyser het die video ook vir ’n hele paar ander klasse gewys. Toe het Emily jw.org vir haar onderwyser en klasmaats gewys. “Jehovah het my die moed gegee om honderde skoolmaats van die webwerf te vertel”, sê Emily. “Hy het my werklik geseën.”

’n Handelskou op ’n afgeleë plek

Vyf verkondigers het nege uur lank oor ruwe bergagtige paaie gereis om ’n lektuurstaander by ’n handelskou in Suai, Timor-Leste, op te rig. Mense wat na die lektuuruitstalling kom kyk het, was verbaas om Bybellektuur in 12 plaaslike tale te sien, aangesien daar min of geen gedrukte leesstof in die meeste van hierdie tale is nie. ’n Vrou het die titel van ’n brosjure gesien en uitgeroep: “Dis my taal!” Dit was die eerste keer dat sy enige gedrukte leesstof in haar moedertaal, Bunak, gelees het. Binne net vier dae het die verkondigers 4 571 stukke lektuur versprei, en talle mense het gevra dat hulle hulle tuis kom besoek. Die meeste belangstellendes het nog nooit met Jehovah se Getuies gepraat nie. Kinders het ure lank na video’s in die reeks Word Jehovah se vriend in die Tetun Dili-taal gekyk. Party kinders het selfs die woorde van die liedjies in hierdie reeks uit hulle kop geleer en dit opgeruimd gesing.

Timor-Leste: Kinders geniet dit om na video’s te kyk in die reeks Word Jehovah se vriend

 ‘Dit is presies wat die studente nodig het’

Sendelinge Brian en Roxanne het toestemming gevra om ’n lektuurtrollie op die kampus van die universiteit op die eiland Palau op te stel. Hulle het met die universiteitshoof vergader en vir hom ’n video op jw.org gewys oor ons openbare getuieniswerk. Hulle het ook die lektuur wat hulle op die lektuurtrollie sou vertoon, by hom gelaat. Die hoof het vir Brian en Roxanne gesê dat hulle  met ’n direkteur van die universiteit moet praat. Ná hierdie vergadering het hulle gehoor dat hulle nog ’n vergadering moet hou, maar hierdie keer met die dekaan.

“Ons het ’n goeie bespreking met die dekaan gehad,” het Brian gesê, “maar hy het ons teruggestuur na die universiteitshoof se kantoor, waar ons gesê is om ’n brief te skryf waarin ons toestemming vra om ons lektuurtrollie op te stel. Dit het gelyk asof ons rond en bont gestuur word, en al was ons ’n bietjie mismoedig, het ons tog die brief geskryf.”

Palau: Roxanne en Brian het talle goeie gesprekke met studente gehad toe hulle hulle lektuurtrollie naby ’n universiteitskampus opgestel het

Nadat Brian en Roxanne die brief geskryf het, het hulle die dekaan weer besoek en verwag dat hy hulle versoek  sou weier. “Ons was baie verbaas”, sê Brian, “toe die dekaan sê dat hy ons boeke gelees het en gedink het dat dit uitstekende boeke is. Hy het gesê dat dit presies is wat die studente nodig het.” Ja, hulle versoek is toegestaan!

Brian gaan voort: “Toe het die direkteur van die universiteit ons in kennis gestel dat studente wat in koshuise bly, Sondae na die kerk van hulle keuse vervoer kan word. ‘As hulle na jou kerk toe wil gaan,’ het hy gesê, ‘kan ons hulle daarheen neem.’ Ek en Roxanne was stomgeslaan. In plaas daarvan dat die universiteit ons versoek geweier het, het hulle aangebied om die studente na die Koninkryksaal te neem!”

Die eerste dag dat Brian en Roxanne ’n lektuurtrollie op die kampus opgestel het, het hulle 65 boeke, 8 tydskrifte en 11 brosjures versprei. Hulle het ook talle goeie gesprekke met die studente gehad. Die dekaan sowel as die direkteur van die universiteit het hulle aangespoor om weer te kom.

Kliënte kyk na ons video’s

Lipson, ’n Betheliet, het ná ’n oggend in die predikingswerk teruggekeer na die takkantoor in die Salomonseilande. Terwyl hy op pad was, het hy ’n Koninkrykslied in ’n winkel hoor speel. Hy was nuuskierig en het besluit om in te gaan. Tot sy verbasing het hy ’n groep kinders en volwassenes gesien wat na die video gekyk het van lied 55, “Eindelik kan ons vir ewig leef!” in die reeks Word Jehovah se vriend. Toe die lied klaar was, het die winkeleienaar vir hulle gesê: “Ek het nog ’n video wat ek vir julle wil wys.” Toe speel hy die geanimeerde video Dit is verkeerd om te steel. Ná die video het hy vir almal gesê om nie by sy winkel te steel nie.

Aangesien baie ander by die winkel ingekom het terwyl die video gespeel het, het die winkeleienaar vir hulle  gesê: “Ek wil vir julle my gunstelingliedjie speel.” Toe speel hy weer lied 55. Daarna het die winkeleienaar besluit om die video’s Waarom moet jy die Bybel studeer? en Wat gebeur tydens ’n Bybelstudie? in Salomonseilandse Pidgin te speel.

Salomonseilande: ’n Winkeleienaar geniet dit om video’s op jw.org vir mense te wys

Min mense op die Salomonseilande het toegang tot die Internet omdat dit baie duur is en nie vryelik beskikbaar is nie. Maar hierdie winkeleienaar, wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, help om saadjies van waarheid te plant deur ons video’s te wys vir almal wat na sy winkel toe kom.

Sy het God se naam in die boek gevind

’n Jong egpaar geniet dit om Maandae met ’n lektuurtrollie velddiens te doen in ’n deel van Nouméa, die hoofstad van Nieu-Kaledonië. Eendag het ’n vrou huiwerig na die lektuurtrollie gekom en sonder om ’n woord  te sê, het sy die boek Wat leer die Bybel werklik? geneem. ’n Halfuur later het sy teruggekom met die boek in haar hand. Sy het vir die egpaar gesê: “Het julle dit al gesien?” Sy het die boek oopgemaak en na Jehovah se naam gewys. “Dis God se naam!” het sy gesê. “Ek doen al weke lank navorsing by die biblioteek om die waarheid oor God te verstaan. Maar toe het ek julle boek geneem en in my motor geklim. Toe ek die boek oopmaak, was God se naam, Jehovah, die eerste ding wat ek gesien het. Ek het gedink ek moet terugkom en julle bedank.” Die egpaar het ’n aangename bespreking met hierdie vrou gehad en haar aandag gevestig op die deel “God se naam—Die gebruik en betekenis daarvan” in die aanhangsel van die Leer Bybel-boek. Die vrou het verduidelik dat sy eers haar navorsing by die biblioteek wil voortsit, maar dat sy nou weet waar om die lektuurtrollie elke Maandag te vind!