Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Oseanië

Oseanië
  • LANDE 29

  • BEVOLKING 40 208 390

  • VERKONDIGERS 97 583

  • BYBELSTUDIES 64 675

Hulle het lektuurpakkies opgemaak

Baie eilande in Mikronesië word selde met die goeie nuus bereik, en daarom het ’n groep verkondigers in die Marshalleilande ’n twee week lange bootrit beplan. Hulle het van die eiland Majuro vertrek en na die eilande Wotje en Ormed in die Wotje-ringeiland gevaar.

Voordat die groep vertrek het, het hulle lektuurpakkies opgemaak  sodat soveel mense as moontlik met die goeie nuus bereik kon word. Daar was vier tydskrifte en twee brosjures in elke pakkie. Omdat die verkondigers nie geweet het wanneer hulle na die eilande sou terugkeer nie, het hulle ’n pakkie by belangstellendes gelaat en hulle gevra om van die lektuur vir hulle familie en vriende te gee. Gedurende die twee week lange bootrit het die verkondigers altesaam 531 brosjures, 756 tydskrifte en 7 boeke versprei.

“Dankie dat Tannie nie van ons vergeet het nie”

In Februarie 2014 het ses Getuies van Papoea-Nieu-Guinee op ’n tien dae lange predikingsreis na dorpies op die vulkaniese eiland Karkar vertrek. Hulle het baie belangstellendes gevind en 1 064 publikasies versprei. ’n Suster met die naam Relvie het gesê: “Die eerste dag was ons teen drieuur die middag nog besig om te preek. Ons waterbottels was al leeg, ons kakebene lam en ons monde droog van al die gepraat. Terwyl ek met ’n jong meisie gepraat het, wou ek ’n teks lees, maar ek kon nie omdat my keel so droog was. Gelukkig het sy toe vir my water gegee.”

Die aand voordat die verkondigers een van die dorpies verlaat het, was daar ’n groot vergadering met lede van die gemeenskap, en plaaslike kerkleiers was ook daar. Relvie vertel: “Ek het soos Stefanus gevoel toe hy die waarheid voor die Sanhedrin moes verdedig, maar ons gehoor was darem vriendelik.” Nadat die ses verkondigers klaar gepraat het, het die Lutherse Sondagskoolleier opgestaan en haar tante, een van die verkondigers, bedank omdat sy en haar vriende die waarheid na haar mense gebring het.  “Tannie se goeie voorbeeld”, het sy gesê, “is soos dié van die Samaritaanse vrou wat vir haar familie gaan vertel het van die goeie dinge wat sy by Jesus gehoor het. Dankie dat Tannie nie van ons vergeet het nie.”

Te jonk om te preek?

Kiribati: Teariki en Tueti

Toe Teariki, ’n sewejarige seuntjie op die eiland Tarawa, wat deel is van Kiribati, een oggend saam met sy pa, Tueti, velddiens gedoen het, het hulle by ’n huis ingegaan waar daar omtrent tien mans en vroue was wat in hulle 20’s was. Nadat Teariki se pa hulle van die Koninkryksboodskap vertel het, het een van hulle vir Tueti gesê: “Ons het opgelet dat julle almal julle kinders by julle het. Waarom bring julle hulle saam? Hulle is te jonk om oor God te preek.”

Tueti het geantwoord: “Wil julle sien of my seun kan preek? Ek sal uitgaan, en dan kan julle hoor wat hy te sê het.” Die hele groep het gesê: “Ja, ons sal graag wil hoor.”

Nadat Tueti die vertrek verlaat het, het Teariki die groep gevra: “Weet julle wat God se naam is?”

“Ja. Dis Jesus!” het een van hulle gesê. “God”, het ’n ander gesê. En iemand anders het gesê: “Here.”

Teariki het gesê: “Kom ons kyk wat die Bybel sê. Ons kan Jesaja 42:5 saam lees.” Nadat hy die teks gelees het, het hy gevra: “Van wie praat hierdie teks?”

’n Jong vrou het geantwoord: “Van God.” Teariki het toe gesê: “Ja, van die ware God. En wat sê die ware God vir ons hier in vers agt? ‘Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie.’ Het julle gesien wat God se naam is?”

Die groep het geantwoord: “Jehovah.”

Teariki het toe almal se aandag gehad en gevra: “Hoekom moet ons God se naam, Jehovah, gebruik? Kom ons  blaai na Handelinge 2:21. Dit sê: ‘Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.’ Hoekom moet ons God se naam gebruik?”

Iemand in die groep het gesê: “Ons sal gered word.”

Op hierdie stadium het Teariki se pa weer ingekom. Toe het hy die groep gevra: “En, wat dink julle? Kan ons kinders preek? Dink julle dat ons hulle maar kan saambring?” Die groep het saamgestem dat die kinders baie bekwaam is en dat hulle wel aan die predikingswerk kan deelneem. Tueti het toe gesê: “As julle leer wat die Bybel sê, sal julle ook, soos Teariki, Bybelwaarhede kan verkondig.”

 Die goeie nuus bereik ’n dorpie in die berge

In November 2013 het Jean-Pierre, wat by die satellietvertaalkantoor in Port-Vila op Vanuatu werk, na sy tuiseiland gevlieg om ’n kringbyeenkoms by te woon. Toe Jean-Pierre daar geland het, het ’n groep belangstellendes, wat op die suidelike deel van die eiland woon, na hom toe gekom en vir Bybellektuur gevra. Hy het byna al die tydskrifte wat hy by hom gehad het, vir hulle gegee. Toe het ’n godsdiensleier na Jean-Pierre toe gekom en ook vir lektuur gevra. Hierdie man het hom gesmeek om na sy dorpie te kom en gesê: “Ons is geestelik uitgehonger. Jy moet na ons dorpie toe kom en al ons vrae beantwoord.” Die dag ná die byeenkoms het Jean-Pierre vroeg die oggend in die pad geval en teen ’n steil berg opgestap. Hy het uiteindelik by die afgeleë dorpie bo-op die berg aangekom. Nadat die dorpsbewoners Jean-Pierre hartlik verwelkom het, het hy Koninkryksnuus Nr. 38, “Kan die dooies werklik weer lewe?” bespreek. Hy het die sowat 30 mense wat teenwoordig was, aangespoor om die tekste in hulle eie Bybel na te slaan. Die bespreking het amper sewe uur geduur. Die dorpsbewoners was beslis uitgehonger! ’n Sewentigjarige man het gesê: “Dis die eerste keer in my lewe dat ek so ’n duidelike verduideliking oor die dooies hoor!”

Jean-Pierre het in die dorpie oornag. Hy het ’n kamer gedeel met die pastoor. Toe hy die volgende oggend wakker word, was die pastoor besig om een van ons tydskrifte te lees. Jean-Pierre het hom gevra wat hy lees, en hy het opgewonde gesê dat hy ’n artikel oor God se Koninkryk lees. Hy het saamgestem dat God se Koninkryk nie in die harte van die Fariseërs was, wat deur Jesus in Lukas 17:21 veroordeel is nie. Hy het tot die slotsom gekom dat  God se Koninkryk dus nie in ’n persoon se hart kan wees, soos sy kerk leer nie. Jean-Pierre het na Port-Vila teruggekeer, maar hy bly in aanraking met die belangstellendes in die dorpie deur hulle gereeld te bel. Drie broers van ’n nabygeleë gemeente het aangebied om na die dorpie toe te gaan vir die Gedenkmaal, en 109 mense het dit bygewoon!

Vanuatu