Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Die Amerikas

Die Amerikas
  • LANDE 57

  • BEVOLKING 980 780 095

  • VERKONDIGERS 4 034 693

  • BYBELSTUDIES 4 339 285

Weeskinders woon vergaderinge by

Angela, wat in Suriname woon, het ’n weeshuis naby haar huis besoek. Die hoof van die weeshuis was ’n onbedrywige suster, en daarom het sy Angela toestemming gegee om vir die kinders te getuig. Angela het met 85 kinders gepraat en vir hulle video’s op jw.org gewys. Sy het toe met baie van hulle begin studeer. Twee pioniers het haar  gaan help, en elkeen het met ’n afsonderlike groep kinders gestudeer. Die onbedrywige suster het gesê dat sy die kinders liedere uit een van ons liedereboeke geleer het en dat sy saans vir hulle Bybelverhale lees. Sy het gesê dat sy die vergaderinge wil bywoon, maar dat sy die 85 kinders nie alleen by die weeshuis kan los nie. Gevolglik is reëlings getref sodat hulle almal na die Koninkryksaal kon kom. Aangesien die weeshuis binne loopafstand was, het broers saam met hulle na die Koninkryksaal gestap. Nou woon die suster en al 85 kinders die vergaderinge gereeld by.

Gabriel het sy oupa gehelp

Paraguay: Gabriel gesels met sy oupa

Op pad huis toe van ’n streekbyeenkoms in Paraguay, het die sesjarige Gabriel nagedink oor hoe belangrik dit is om die Koninkryksboodskap te verkondig. Hy het toe gedink aan ’n spesiale persoon saam met wie hy graag in die Paradys wil wees—sy oupa. Maar sy oupa het nooit belangstelling in die waarheid getoon nie en het sy vrou en kinders wat Getuies was, teëgestaan.

Dieselfde dag het Gabriel sy ouers gevra om ’n video-oproep te maak na sy oupa en ouma wat in Argentinië woon. Gabriel het vir sy oupa verduidelik waarom dit so belangrik is om die Bybel te studeer en het hom reguit gevra: “Oupa, kan ek met Oupa ’n Bybelstudie hou?” Sy oupa het ingestem. Gabriel het voorgestel dat hulle die Luister na God en lewe vir ewig-brosjure studeer. Hulle het die volgende paar maande die brosjure saam gestudeer. Aangesien hulle albei nie vlot kon lees nie, het hulle vooraf geoefen. Gabriel het vir elke studiesessie sy les voorberei en ’n hemp en das aangetrek.

 Die oupa en ouma het later besluit om ’n paar weke lank by Gabriel se gesin te gaan kuier. Tydens hulle besoek het sy oupa gemeentelike vergaderinge saam met die gesin bygewoon. Toe Gabriel se oupa na Argentinië teruggekeer het, het hy sy Bybelstudie met ’n plaaslike broer voortgesit en later ’n ongedoopte verkondiger geword. Nou bid Gabriel se oupa en ouma elke dag saam. Die jong Gabriel het ook goeie vordering gemaak. Hy is ook nou ’n ongedoopte verkondiger. Sy oupa het gesê dat hy sy toewyding aan Jehovah deur waterdoop wil simboliseer.

‘Jou besoek was nie toevallig nie’

In Brasilië het Jennifer, tydens die verspreiding van die traktaat Kan die dooies werklik weer lewe?, aan die deur geklop van ’n vrou wat haastig op pad uit was na die begrafnis van ’n dierbare vriendin. Jennifer het vir  haar gesê dat sy vir haar ’n traktaat wil gee wat toevallig handel oor die hoop om geliefdes wat gesterf het, weer te sien. Die vrou was vir ’n oomblik verbaas oor die titel, maar sy het die traktaat geneem. Toe Jennifer haar vra of sy ’n paar ekstra traktate wil hê om vir die bedroefde familie te gee, het die vrou gedink dat dit ’n goeie idee is en vir nog nege traktate gevra.

Jennifer het later ’n herbesoek by die vrou gedoen, wat vir haar gesê het: “Die dag toe ons ontmoet het, het ek besef dat jou besoek nie toevallig was nie. God het jou gestuur met ’n vertroostende boodskap wat ek baie nodig gehad het.” Sy het al die traktate versprei. ’n Familielid wat die begrafnisdiens gehou het, het die hele traktaat voorgelees. Almal het dit waardeer en haar bedank vir die vertroostende boodskap. Die vrou het ’n Bybelstudie aanvaar.

Tap-tap-getuieniswerk

Drie Betheliete in Haïti het eenkeer gebruik gemaak van kleurvolle taxi’s wat tap-taps genoem word. Gedurende die rit van twee en ’n half uur het hulle ander passasiers van die Koninkrykshoop vertel en altesaam 50 tydskrifte en 30 traktate versprei. Een van die Betheliete, Gurvitch, het ’n uittreksel uit ’n Ontwaak! vir ’n passasier gelees. ’n Jong man met die naam Pépé het geluister en kort voor lank saamgesels. Hy het vir ’n Bybelstudie gevra, en heel toevallig het hy in die gebied gewoon van die gemeente waar Gurvitch gedien het. Sedert Pépé die boodskap in Januarie 2014 gehoor het, het hy byna al die vergaderinge en byeenkomste bygewoon. Hy vertel ander van sy nuutgevonde geloof en hoop om binnekort ’n ongedoopte verkondiger te word.