Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Die vroeë dae

Die vroeë dae

 Die vroeë dae

Op Sondag 1 April 1945 het die Gileadgegradueerdes Lennart en Virginia Johnson in Ciudad Trujillo (nou Santo Domingo), die hoofstad van die Dominikaanse Republiek, aangekom. Hulle was die eerste Getuies in hierdie land—’n land met ’n lang geskiedenis van konflik. * “Dit is werklik pioniergebied”, het die 1946 Yearbook gesê, “en hierdie Gileadgegradueerdes moes die baanbrekerswerk doen.” Stel jou net voor: Daar was geen takkantoor, geen Koninkryksale en geen gemeentes nie. Die sendelinge het niemand in die land geken nie, hulle kon skaars Spaans praat en hulle het geen huis of meubels gehad nie. Wat sou hulle doen?

“Ons het na die Victoria-hotel gegaan en verblyf daar gekry—vyf dollar per dag vir ons albei, maaltye ingesluit”, vertel Lennart. “Daardie selfde middag het ons ons eerste tuisbybelstudie begin. Dit het so gebeur: Twee Dominikaanse vroue met wie ons die Bybel in Brooklyn gestudeer het, het ons die name van familielede en kennisse gegee, onder andere ’n dr. Green. Toe ons hom besoek het, het ons ook sy buurman Moses Rollins ontmoet. Nadat ons hulle vertel het hoe ons die name en adresse gekry het, het hulle aandagtig na die Koninkryksboodskap geluister en tot ’n Bybelstudie ingestem. Moses het kort daarna die eerste plaaslike Koninkryksverkondiger geword.”

Nog vier sendelinge het vroeg in Junie 1945 daar aangekom, en kort voor lank het hulle baie lektuur versprei  en talle Bybelstudies begin. Teen Oktober was dit duidelik dat ’n vergaderplek nodig was. Gevolglik het die sendelinge die sitkamer en die eetkamer van hulle sendinghuis in ’n tydelike Koninkryksaal omskep. Tot 40 mense het die vergaderinge bygewoon.

Een van die eerste mense wat gunstig op die waarheid gereageer het, was Pablo Bruzaud, wat almal as Palé geken het. Hy het ’n busroete bedryf tussen Santiago en Ciudad Trujillo en het dus dikwels na die hoofstad gereis. Eendag, terwyl Palé in Ciudad Trujillo was, het hy met twee Getuies gepraat en die boek “Die waarheid sal julle vrymaak” aanvaar. Hy het die Bybel elke dag saam met hulle begin studeer. Palé het kort voor lank saam met die sendelinge begin preek en hulle van vervoer voorsien. Later het hy Lennart Johnson ontmoet en saam met hom van Ciudad Trujillo na Santiago en oor die berge na die kusdorp Puerto Plata gereis om ’n groep belangstellendes te besoek wat aan die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, geskryf het om meer inligting te verkry.

’n Besoek van broer Knorr en broer Franz

In Maart 1946 het Nathan Knorr en Frederick Franz van die wêreldhoofkwartier die Dominikaanse Republiek besoek. Almal het baie na die besoek uitgesien, en benewens die broers het 75 belangstellendes ’n toespraak van broer Knorr bygewoon. Gedurende die besoek het broer Knorr reëlings getref om ’n takkantoor in die Dominikaanse Republiek te stig.

Broer Knorr en broer Franz by die land se eerste Koninkryksaal, Ciudad Trujillo

Nog sendelinge het in die land aangekom, en teen die einde van die 1946-diensjaar was daar 28 verkondigers. Aangesien die goeie nuus toe net in die land begin wortelskiet het, het die sendelinge baie aande daaraan gewy  om noukeurige kaarte van die gebied te maak om ’n georganiseerde en deeglike predikingskampanje te verseker.

Die werk brei uit

In 1947 het meer as 59 verkondigers aan die predikingswerk deelgeneem. In dieselfde jaar is ’n paar sendelinge wat in Kuba gedien het, na die Dominikaanse Republiek gestuur. Onder hulle was Roy en Juanita Brandt. Broer Brandt is as die takkneg aangestel en het die volgende tien jaar in daardie toewysing gedien.

Teen die einde van die 1948-diensjaar was daar omtrent 110 verkondigers wat die goeie nuus sy aan sy met die hardwerkende sendelinge verkondig het. Hierdie ywerige verkondigers het egter nie besef dat uiters moeilike tye vir hulle voorlê nie.

^ par. 4 Reeds vanaf 1932 is Wagtoringlektuur in die Dominikaanse Republiek versprei, maar die persoonlike onderrigting van belangstellendes het eers in 1945 begin, toe die Johnsons in die land aangekom het.