Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Opgesluit & verbied

Opgesluit & verbied

Opgesluit weens hulle neutraliteit

Enrique Glass en die kerker waarin hy twee weke lank opgesluit was

Op 19 Junie 1949 het ’n groep verbanne Dominikaners na die Dominikaanse Republiek gevlieg om die diktator Rafael Trujillo se bewind omver te werp. Hoewel die inval gou onderdruk is, het Trujillo se regering diegene opgesluit wat geweier het om diensplig te doen, asook  enigiemand wat deur die regering as ’n vyand beskou is. Van die eerste Getuies wat opgesluit is omdat hulle geweier het om diensplig te doen, was León, Enrique en Rafael Glass, tesame met party van León se medewerkers, wat ook Getuies was.

“[Ek en my medewerkers] is in hegtenis geneem en deur die militêre geheime diens ondervra”, het León verduidelik. “Nadat hulle ons gedreig het, is ons vrygelaat. Maar net ’n paar dae later is ons vir diensplig opgeroep, sonder die gewone prosedure. Toe ons geweier het om aan die eise te voldoen, is ons tronk toe gestuur. Daar was reeds vier ander Getuies in die tronk,  waarvan twee my vleeslike broers was. Ná ons vrylating is ons weer gevonnis. Dít het drie keer gebeur, en daar was net een of meer dae tussen die vonnisse. Ons was altesaam byna sewe jaar in die tronk, en die laaste vonnis was vyf jaar lank.”

‘Selfs wanneer ons met stokke, swepe en gewere geslaan is, kon ons dit verduur omdat Jehovah ons die nodige krag gegee het’

Die lewe in die tronk was vir die broers ’n voortdurende beproewing. Gevangenes en wagte het hulle dag en nag bespot. Die bevelvoerder van Fort Ozama, waar hulle aanvanklik opgesluit is, het gesê: “Jehovah se Getuies, laat my weet wanneer julle getuies van die Duiwel word sodat ek julle kan vrylaat.” Maar teenstanders kon hierdie getroue broers nie kry om hulle onkreukbaarheid prys te gee nie. León het verduidelik waarom: ‘Jehovah het ons altyd krag gegee om te volhard, en ons kon selfs in klein dinge sien hoe Hy ten behoewe van ons ingryp. Selfs wanneer ons met stokke, swepe en gewere geslaan is, kon ons dit verduur omdat Jehovah ons die nodige krag gegee het.’

Jehovah se Getuies word verbied

Regoor die land het vyande van ware aanbidding die vervolging verskerp. Maar teen Mei 1950 was daar nietemin 238 verkondigers in die Dominikaanse Republiek, bo en behalwe die sendelinge. Een-en-twintig van die verkondigers was gewone pioniers.

’n Koerantartikel kondig tronkvonnisse vir ons broers aan weens hulle neutraliteit

Ongeveer daardie tyd het ’n agent van die geheime diens aan die Presidensiële Sekretaris geskryf: “Die lede van die godsdienssekte Jehovah se Getuies sit hulle bedrywighede in alle dele van hierdie stad [Ciudad Trujillo]  geesdriftig voort.” Hy het verder gesê: “Ek sê weer eens dat spesiale aandag aan Jehovah se Getuies gegee moet word, aangesien hulle prediking en bedrywighede die denke van sekere dele van die publiek mislei, veral die denke van die gewone mense.”

Die minister van binnelandse sake en polisie, J. Antonio Hungría, het broer Brandt gevra om ’n brief te skryf waarin hy die Getuies se standpunt oor diensplig, vlagsaluering en die betaling van belasting verduidelik. In sy brief het hy inligting gebruik uit die boek “Laat God waaragtig wees”. Nogtans het minister Hungría op 21 Junie 1950 ’n verordening uitgereik wat die bedrywighede van Jehovah se Getuies in die Dominikaanse Republiek verbied het. Broer Brandt is na Hungría se kantoor ontbied om self die verordening te hoor. Broer Brandt het gevra of die sendelinge die land moet verlaat. Hungría het hom verseker dat hulle kan bly solank hulle die wet  gehoorsaam en nie met ander oor hulle godsdiens praat nie. *

^ par. 10 In die weke voor die verordening het Katolieke priesters lang koerantartikels geskryf waarin hulle Jehovah se Getuies veroordeel het en hulle valslik met kommunisme verbind het.