Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

“Eendag sal ons hulle vind”

“Eendag sal ons hulle vind”

“Eendag sal ons hulle vind”

In omstreeks 1935, in ’n deel van die land wat die Cibaovallei genoem word, het Pablo González die Bybel begin lees. Hy het ’n rukkie met ’n Protestantse groep geassosieer, maar hy het die groep verlaat toe hy sien dat hulle gedrag nie ooreenstem met wat hy in die Bybel gelees het nie. Pablo het egter voortgegaan om God se Woord op sy eie te bestudeer en het met ander begin praat oor wat hy leer—eers met sy familie en bure en toe met ander in nabygeleë gemeenskappe. Hy het sy plaas en beeste verkoop en die geld vir sy reisende bediening gebruik.

Teen 1942 was Pablo besig om ten minste 200 gesinne in die omliggende gebiede te besoek en gereelde vergaderinge te hou, hoewel hy nog nie met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het nie. Hy het mense aangespoor om die Bybel te bestudeer en om in ooreenstemming daarmee te lewe. Baie het sy woorde ter harte geneem en opgehou om tabak te gebruik en veelwywery te beoefen.

Een van dié wat op Pablo se Bybelboodskap ag geslaan het, was Celeste Rosario. Sy het vertel: “Toe ek 17 was, het  my ma se neef, Negro Jiménez, aan een van die groepe onder Pablo González se leiding behoort. Hy het ons gesin besoek en ’n paar tekste uit die Bybel gelees. Dit was genoeg om my te laat besluit om die Katolieke Kerk te verlaat. In die kerk is daar vir ons in Latyn gelees, wat ons glad nie kon verstaan nie. Kort daarna het Pablo González ons besoek en ons aangemoedig. Hy het gesê: ‘Ons behoort nie aan enigeen van die talle godsdienste wat ons ken nie, maar ons het broers regoor die wêreld. Ons weet nog nie wie hulle is of wat hulle genoem word nie, maar eendag sal ons hulle vind.’”

Pablo het groepe Bybelstudente in Los Cacaos Salcedo, Monte Adentro, Salcedo en Villa Tenares gevorm. In 1948, toe hy in Santiago van ’n bus afklim om op ’n ander bus te klim, het hy twee Getuies op die straat sien preek, en hulle het vir hom ’n Wagtoring gegee. Op ’n ander reis het ’n suster vir Pablo twee boeke gegee en hom na die Herdenking van Christus se dood in Santiago genooi. Wat Pablo by die Gedenkmaal gehoor het, het hom baie beïndruk, en hy het tot die slotsom gekom dat hy uiteindelik die waarheid gevind het en dat diegene by die  vergadering die mense was wat hy gehoop het om te vind.

Die sendelinge het Pablo se Bybelstudente besoek. By een van Pablo se vergaderplekke het hulle 27 volwassenes gekry wat gretig vir hulle gewag het. Party van hulle het 25 kilometer ver geloop; ander het 50 kilometer te perd gery! By die volgende vergaderplek was daar 78 mense, en by nog ’n plek het 69 vir die vergadering bymekaargekom.

Pablo het die sendelinge ’n lys van sowat 150 belangstellendes gegee. Hierdie nederige en geestelike mense was reeds besig om die Bybel te bestudeer en die beginsels daarin toe te pas. Wat hulle nodig gehad het, was organisasie en leiding. “Die sendelinge het ons besoek, en ons het ’n vergadering gehou”, vertel Celeste. “Reëlings is getref vir ’n doopplegtigheid. Ek was die eerste een in my gesin wat gedoop is. Later is my ma, Fidelia Jiménez, en my suster, Carmen, gedoop.”

Die eerste kringbyeenkoms in die Dominikaanse Republiek, wat op 23-25 September 1949 in Santiago gehou is, het die predikingswerk ’n verdere hupstoot gegee. Baie mense wat nuuskierig was, het die byeenkoms bygewoon, en daar was Sondag 260 by die openbare toespraak. Agt-en-twintig is gedoop. Die driedaagse byeenkoms het talle nuwelinge oortuig dat dít die organisasie is wat God gebruik om sy wil te volbring.