Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LES 7

Wat is God se Koninkryk?

Wat is God se Koninkryk?

1. Wat is God se Koninkryk?

Wat maak Jesus ’n ideale Koning?​—MARKUS 1:40-42.

Die Koninkryk van God is ’n hemelse regering. Dit sal alle ander regerings vervang en sal God se wil in die hemel en op die aarde laat geskied. Die nuus omtrent God se Koninkryk is goed. God se Koninkryk sal binnekort in die mens se behoefte aan ’n goeie regering voorsien. Dit sal almal verenig wat op die aarde woon.​—Lees Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10; 24:14.

’n Koninkryk moet ’n koning hê. Jehovah het sy Seun, Jesus Christus, aangestel om die Koning van Sy Koninkryk te wees.​—Lees Openbaring 11:15.

Kyk na die video Wat is God se Koninkryk?

2. Waarom is Jesus die ideale Koning?

God se Seun is die ideale Koning omdat hy goedhartig is en vasstaan vir wat reg is (Matteus 11:28-30). En hy is magtig genoeg om mense te help omdat hy vanuit die hemel oor die aarde sal regeer. Nadat hy opgewek is, het hy na die hemel opgevaar en aan die regterhand van Jehovah gaan sit en gewag (Hebreërs 10:12, 13). Uiteindelik het God hom die mag gegee om te begin regeer.​—Lees Daniël 7:13, 14.

3. Wie sal saam met Jesus regeer?

’n Groep wat “die heiliges” genoem word, sal saam met Jesus in die hemel regeer (Daniël 7:27). Die eerste heiliges wat gekies is, was Jesus se getroue apostels. Jehovah het tot nou toe voortgegaan om getroue manne en vroue as heiliges te kies. Soos Jesus, word hulle met ’n geestelike liggaam opgewek.​—Lees Johannes 14:1-3; 1 Korintiërs 15:42-44.

 Hoeveel mense gaan hemel toe? Jesus het hulle ’n “klein kuddetjie” genoem (Lukas 12:32). Daar sal uiteindelik 144 000 wees. Hulle sal saam met Jesus oor die aarde regeer.​—Lees Openbaring 14:1.

4. Wat het gebeur toe Jesus begin regeer het?

God se Koninkryk het in 1914 begin regeer. * Jesus se eerste daad as Koning was om Satan en sy demone na die aarde neer te werp. Satan het woedend geword en het regoor die aarde moeilikheid begin veroorsaak (Openbaring 12:7-10, 12). Van toe af het die mensdom se probleme skerp toegeneem. Oorloë, hongersnode, epidemies en aardbewings is alles deel van ’n “teken” dat die Koninkryk binnekort volle beheer van die aarde se aangeleenthede sal oorneem.​—Lees Lukas 21:7, 10, 11, 31.

5. Wat bring God se Koninkryk tot stand?

Deur middel van ’n wêreldwye predikingswerk verenig God se Koninkryk reeds ’n groot menigte mense uit alle nasies. Miljoene sagmoedige mense word onderdane van Jesus. God se Koninkryk sal hulle beskerm wanneer dit die teenswoordige goddelose stelsel van dinge op die aarde vernietig. Almal wat by God se Koninkryk wil baat vind, moet dus leer om gehoorsame onderdane van Jesus te wees.​—Lees Openbaring 7:9, 14, 16, 17.

Gedurende ’n tydperk van 1 000 jaar sal die Koninkryk God se oorspronklike voorneme met die mensdom verwesenlik. Die hele aarde sal ’n paradys word. Uiteindelik sal Jesus die Koninkryk aan sy Vader teruggee (1 Korintiërs 15:24-26). Ken jy iemand vir wie jy graag van God se Koninkryk wil vertel?​—Lees Psalm 37:10, 11, 29.

 

^ par. 6 Vir besonderhede oor hoe Bybelprofesieë die jaar 1914 voorspel het, sien bladsye 215-218 van die boek Wat leer die Bybel werklik?