Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LES 5

Wat is God se voorneme met die aarde?

Wat is God se voorneme met die aarde?

1. Waarom het God die aarde geskep?

Jehovah het die aarde aan die mens gegee. Dit is ons tuiste. Die eerste mensepaar, Adam en Eva, is dus nie geskep om die hemele te bevolk nie—God het reeds engele geskep om in die hemel te woon (Job 38:4, 7). God het eerder die eerste mens geneem en hom in ’n lieflike paradys geplaas wat die tuin van Eden genoem is. (Genesis 2:15-17). Jehovah het hom en sy toekomstige nageslag die vooruitsig gegee om eindelose lewe op die aarde te geniet.​—Lees Psalm 37:29; 115:16.

Oorspronklik was net die tuin van Eden ’n paradys. Die eerste mensepaar moes die aarde met hulle nageslag vul. Mettertyd moes hulle die hele aarde onderwerp en dit ’n paradys maak (Genesis 1:28). Die aarde sal nooit vernietig word nie. Dit sal altyd die mensdom se tuiste wees.​—Lees Psalm 104:5.

Kyk na die video Hoekom het God die aarde geskep?

2. Waarom is die aarde nie nou ’n paradys nie?

Adam en Eva was ongehoorsaam aan God, en daarom het Jehovah hulle uit die tuin gesit. Die Paradys is verloor, en geen mens het daarin geslaag om dit te herstel nie. Die Bybel sê: “Die aarde is in die hand van die goddelose gegee.”—Job 9:24.​—Lees Genesis 3:23, 24.

Het Jehovah sy oorspronklike voorneme met die mens laat vaar? Nee! Hy is almagtig. Hy kan nie misluk nie (Jesaja 45:18). Hy sal die mensdom herstel tot die toestand waarin hy oorspronklik bedoel het dit moet wees.​—Lees Psalm 37:11, 34.

3. Hoe sal die Paradys herstel word?

Die Paradys sal gedurende Jesus se heerskappy as God se Koning op die aarde herstel word. In ’n oorlog wat Armageddon  genoem word, sal Jesus God se engele aanvoer en almal vernietig wat God teëstaan. Dan sal Jesus Satan vir 1 000 jaar opsluit. God se volk sal die vernietiging oorleef omdat Jesus hulle sal lei en beskerm. Hulle sal die ewige lewe in die Paradys op aarde geniet.​—Lees Openbaring 20:1-3; 21:3, 4.

4. Wanneer sal lyding tot ’n einde kom?

Wanneer sal God boosheid op die aarde tot ’n einde bring? Jesus het ’n “teken” gegee om aan te dui wanneer die einde naby is. Huidige wêreldtoestande bedreig die mens se bestaan en toon dat ons nou gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” lewe.​—Lees Matteus 24:3, 7-14, 21, 22.

Gedurende Jesus se 1 000-jarige heerskappy uit die hemel oor die aarde sal hy alle lyding tot ’n einde bring (Jesaja 9:6, 7; 11:9). Jesus sal nie net as Koning dien nie, maar sal ook as Hoëpriester optree en die sondes uitwis van diegene wat vir God lief is. Deur middel van Jesus sal God dus siekte, ouderdom en die dood uit die weg ruim.​—Lees Jesaja 25:8; 33:24.

5. Wie sal in die toekomstige Paradys lewe?

By die Koninkryksaal sal jy mense ontmoet wat vir God lief is en wil leer hoe om hom te behaag

Mense wat aan God gehoorsaam is, sal in die Paradys lewe (1 Johannes 2:17). Jesus het sy volgelinge uitgestuur om na sagmoediges te soek en om hulle te leer hoe om vir God aanneemlik te wees. Vandag berei Jehovah miljoene mense voor vir lewe in die toekomstige Paradys op aarde (Sefanja 2:3). By Koninkryksale van Jehovah se Getuies leer mense om beter mans en vaders en beter vrouens en moeders te wees. Kinders en ouers aanbid saam en leer hoe om by die goeie nuus baat te vind.​—Lees Miga 4:1-4.