Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 4

Waarom moet ons gesag respekteer?

Waarom moet ons gesag respekteer?

“Eer alle soorte mense.”—1 PETRUS 2:17.

1, 2. (a) Voor watter stryd kom ons te staan wat gesag betref? (b) Watter vrae sal ons ondersoek?

HET jy al ooit gesien hoe ’n klein kindjie reageer wanneer hy gevra word om iets te doen wat hy glad nie wil doen nie? Jy sien moontlik baie duidelik ’n stryd op daardie seuntjie se gesig. Hy hoor wat sy ouer sê, en hy weet dat hy veronderstel is om sy ouer se gesag te respekteer. Maar in hierdie geval wil hy eenvoudig nie gehoorsaam wees nie. Sy stryd lig ’n waarheid toe wat ons almal raak.

2 Dit is nie altyd vir ons maklik om gesag te respekteer nie. Vind jy dit soms moeilik om diegene wat ’n mate van gesag oor jou het, te respekteer? Indien wel, is jy nie alleen in hierdie stryd nie. Ons lewe in ’n tyd wanneer respek vir gesag blykbaar ’n algehele laagtepunt bereik het. Maar die Bybel sê dat ons respek moet toon vir diegene wat gesagsposisies oor ons beklee (Spreuke 24:21). Trouens, dit is noodsaaklik om dit te doen as ons in God se liefde wil bly. Dit laat natuurlik ’n paar vrae ontstaan. Waarom is dit soms vir ons so moeilik om gesag te respekteer? Waarom verlang Jehovah dit van ons, en wat sal ons help om dit te doen? Laastens, op watter maniere kan ons respek vir gesag toon?

WAAROM DIT MOEILIK IS

3, 4. Hoe het sonde en onvolmaaktheid begin, en waarom maak ons sondige natuur dit vir ons moeilik om gesag te respekteer?

3 Kom ons kyk kortliks na twee redes waarom dit soms vir ons so moeilik is om respek te toon vir diegene wat gesag  het. Eerstens, ons is onvolmaak; tweedens, die mense wat oor ons gesag voer, is ook onvolmaak. Die mens se sonde en onvolmaaktheid het lank gelede begin, in die tuin van Eden toe Adam en Eva teen God se gesag in opstand gekom het. Sonde het dus met opstandigheid begin. Tot vandag toe het ons ’n ingebore neiging om opstandig te wees.—Genesis 2:15-17; 3:1-7; Psalm 51:5; Romeine 5:12.

4 As gevolg van ons sondige natuur word die meeste van ons maklik trots en hoogmoedig, terwyl nederigheid ’n seldsame eienskap is wat inspanning verg om aan te kweek en te behou. Selfs ná jare van getroue diens aan God kan ons voor hardkoppigheid en trots swig. Dink byvoorbeeld aan Korag, wat deur baie ontberinge heen saam met Jehovah se volk getrou gebly het. Nogtans het hy gesmag na meer gesag en skaamteloos ’n opstand gelei teen Moses, die sagmoedigste mens wat destyds geleef het (Numeri 12:3; 16:1-3). Dink ook aan koning Ussia, wat deur trots aangedryf is om in Jehovah se tempel in te gaan en ’n heilige plig uit te voer wat slegs deur die priesters uitgevoer kon word (2 Kronieke 26:16-21). Hierdie manne het duur betaal vir hulle opstandigheid. Nogtans is hulle negatiewe voorbeelde nuttige herinneringe vir ons almal. Ons moet stry teen die trots wat dit vir ons moeilik maak om gesag te respekteer.

5. Hoe het onvolmaakte mense hulle gesag misbruik?

5 Aan die ander kant het onvolmaakte mense in magsposisies al baie gedoen om respek vir gesag te ondermyn. Baie was wreed, onderdrukkend of tiranniek. Om die waarheid te sê, die mens se geskiedenis is grotendeels ’n verslag van die misbruik van mag (Prediker 8:9). Byvoorbeeld, Saul was ’n goeie, nederige man toe Jehovah hom gekies het om koning te wees. Maar hy het voor trots en jaloesie geswig, wat daartoe gelei het dat hy die getroue man Dawid vervolg het (1 Samuel 9:20, 21; 10:20-22; 18:7-11). Dawid het later een van die beste konings geword wat Israel ooit gehad het,  maar hy het sy mag misbruik toe hy die vrou van Uria, die Hetiet, gesteel het en daardie onskuldige man na die voorste linie gestuur het sodat hy sou sneuwel (2 Samuel 11:1-17). Ja, weens onvolmaaktheid is dit vir mense moeilik om nie mag te misbruik nie. En wanneer diegene wat mag het, Jehovah nie respekteer nie, vaar hulle nog slegter. Nadat ’n Britse staatsman die manier beskryf het waarop party Katolieke pouse wydverspreide vervolging aangestig het, het hy geskryf: “Mag is geneig om te verderf, en absolute mag verderf absoluut.” Met die oog op hierdie rekord, kom ons ondersoek die vraag: Waarom moet ons gesag respekteer?

WAAROM MOET ONS GESAG RESPEKTEER?

6, 7. (a) Wat beweeg ons liefde vir Jehovah ons om te doen, en waarom? (b) Watter gesindheid is nodig om onderdanig te wees, en hoe kan ons dit openbaar?

6 Die beste redes om gesag te respekteer, spruit uit liefde voort—ons liefde vir Jehovah, vir ons medemens en selfs vir onsself. Omdat ons Jehovah meer as enigiets of enigiemand anders liefhet, wil ons sy hart bly maak (Spreuke 27:11; Markus 12:29, 30). Ons weet dat sy soewereiniteit, sy reg om oor die heelal te regeer, sedert die opstand in Eden op die aarde bevraagteken word en dat die meerderheid van die mensdom hulle aan Satan se kant geskaar en Jehovah se heerskappy verwerp het. Ons neem met vreugde ons standpunt aan die ander kant van die geskil in. Wanneer ons die aangrypende woorde van Openbaring 4:11 lees, word ons diep getref. Hoe duidelik is dit tog vir ons dat Jehovah die regmatige Heerser van die heelal is! Ons aanvaar Jehovah se soewereiniteit, asook sy heerskappy in ons daaglikse lewe.

7 Sulke respek behels nie net gehoorsaamheid nie. Ons gehoorsaam Jehovah geredelik omdat ons hom liefhet. Maar daar sal beslis tye wees wanneer gehoorsaamheid vir ons baie moeilik is. Op sulke tye moet ons, soos die seuntjie wat aan die begin beskryf is, onderdanigheid leer. Ons onthou  dat Jesus hom aan sy Vader se wil onderwerp het, selfs toe dit dalk baie moeilik gelyk het om dit te doen. “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied”, het hy vir sy Vader gesê.—Lukas 22:42.

8. (a) Wat verg onderdanigheid aan Jehovah se gesag vandag dikwels, en wat toon hoe Jehovah hieroor voel? (b) Wat kan ons help om na raad te luister en dissipline te aanvaar? (Sien die venster “ Luister na raad en aanvaar dissipline.”)

8 Vandag praat Jehovah natuurlik nie persoonlik met ons nie; hy gebruik sy Woord en menslike verteenwoordigers op die aarde. Ons toon dus meestal ons onderdanigheid aan Jehovah se gesag deur die mense te respekteer wat hy in gesagsposisies oor ons geplaas het, of wat hy toelaat om in daardie posisies te bly. As ons teen dié mense in opstand kom—deur byvoorbeeld te weier om hulle skriftuurlike raad en teregwysing te aanvaar—sal ons ons God aanstoot gee. Toe die Israeliete gemurmureer en teen Moses in opstand gekom het, het Jehovah hulle optrede beskou asof hulle teen hom in opstand gekom het.—Numeri 14:26, 27.

9. Waarom sal ons liefde vir ons medemens ons beweeg om gesag te respekteer? Lig toe.

9 Ons toon ook respek vir gesag omdat ons ons medemens liefhet. Hoe so? Wel, stel jou voor jy is ’n soldaat in ’n leër. Die sukses, selfs die oorlewing van die leër, hang waarskynlik af van elke soldaat se samewerking met, gehoorsaamheid aan en respek vir diegene in bevel. As jy daardie organisasie sou ondermyn deur in opstand te kom, sal al jou medesoldate heel moontlik in gevaar wees. Toegegee, menseleërs veroorsaak vandag verskriklike verwoesting in die wêreld. Maar Jehovah het leërs wat net goed doen. Die Bybel verwys honderde kere na God as “Jehovah van die leërs” (1 Samuel 1:3). Hy is die Aanvoerder van ’n geweldige aantal magtige geesskepsele. Soms vergelyk Jehovah sy aardse knegte met ’n leër (Psalm 68:11; Esegiël 37:1-10). Sou ons nie dalk ons geestelike medesoldate in gevaar stel as ons in opstand kom teen die mense aan wie Jehovah gesag  oor ons gegee het nie? As ’n Christen teen aangestelde ouer manne in opstand kom, kan ander in die gemeente ook ly (1 Korintiërs 12:14, 25, 26). Wanneer ’n kind in opstand kom, ly die hele gesin moontlik. Ons toon dus ons liefde vir ons medemens deur ’n respekvolle en samewerkende gees aan te kweek.

10, 11. Hoe beweeg ’n gepaste begeerte om onsself te bevoordeel ons om aan gesag gehoorsaam te wees?

10 Ons respekteer ook gesag omdat dit vir ons eie beswil is om dit te doen. Wanneer Jehovah ons vra om gesag te respekteer, noem hy dikwels die voordele wat dit vir ons inhou as ons dit doen. Hy sê byvoorbeeld vir kinders om gehoorsaam te wees aan hulle ouers sodat hulle ’n lang en goeie lewe kan hê (Deuteronomium 5:16; Efesiërs 6:2, 3). Hy sê vir ons om gemeentelike ouer manne te respekteer omdat ons geestelike skade sal ly as ons dit nie doen nie (Hebreërs 13:7, 17). En hy sê vir ons om vir ons eie beskerming aan sekulêre owerhede gehoorsaam te wees.—Romeine 13:4.

 11 Sou jy nie saamstem dat dit ons help om gesag te respekteer as ons weet waarom Jehovah wil hê dat ons daaraan gehoorsaam moet wees nie? Kom ons ondersoek dan hoe ons op drie belangrike gebiede in die lewe respek vir gesag kan toon.

RESPEK IN DIE GESIN

12. Watter rol gee Jehovah aan die man en vader in die gesin, en hoe kan ’n man daardie rol vervul?

12 Jehovah self het die gesinsreëling ontwerp. Aangesien hy ’n God van orde is, het hy die gesin so georganiseer dat dit goed sal werk (1 Korintiërs 14:33). Hy gee die man en vader gesag om as die gesinshoof op te tree. Die man toon respek vir sy Hoof, Christus Jesus, deur die manier na te volg waarop Jesus hoofskap oor die gemeente uitoefen (Efesiërs 5:23). Die man moet dus nie sy verantwoordelikhede van hom afskuif nie, maar moet dit moedig nakom; hy moet ook nie tiranniek of hardvogtig wees nie, maar eerder liefdevol, redelik en goedhartig. Hy hou in gedagte dat sy gesag relatief is—dit is altyd onderworpe aan Jehovah se gesag.

’n Christenvader volg die manier na waarop Christus hoofskap uitoefen

13. Hoe kan ’n vrou en moeder haar rol in die gesin vervul op ’n manier wat Jehovah gelukkig maak?

13 ’n Vrou en moeder moet ’n helper, of komplement, vir haar man wees. Ook aan haar is gesag in die gesin gegee, want die Bybel praat van “die wet  van jou moeder” (Spreuke 1:8). Haar gesag is natuurlik onderworpe aan dié van haar man. ’n Christenvrou toon respek vir haar man se gesag deur hom te help om sy rol as gesinshoof na te kom. Sy verkleineer of manipuleer hom nie of neem nie sy posisie oor nie. Sy ondersteun hom eerder en werk met hom saam. Wanneer sy nie met sy besluite saamstem nie, kan sy haar gedagtes met respek uitspreek, maar sy bly onderdanig. As haar man nie ’n gelowige is nie, kan sy voor moeilike situasies te staan kom, maar haar onderdanige gedrag sal moontlik haar man beweeg om Jehovah te soek.—1 Petrus 3:1.

14. Hoe kan kinders hulle ouers en Jehovah bly maak?

14 Kinders maak Jehovah se hart bly wanneer hulle aan hulle vader en moeder gehoorsaam is. Hulle strek ook hulle ouers tot eer en maak hulle bly (Spreuke 10:1). In enkelouergesinne pas kinders dieselfde beginsel van gehoorsaamheid toe, in die wete dat hulle ouer hulle ondersteuning en samewerking moontlik selfs nodiger het. In gesinne  waar al die lede die rolle vervul wat God hulle gegee het, heers daar groot vrede en vreugde. Dit strek die Insteller van die gesinsreëling, Jehovah God, tot eer.—Efesiërs 3:14, 15.

RESPEK IN DIE GEMEENTE

15. (a) Hoe kan ons in die gemeente toon dat ons Jehovah se gesag respekteer? (b) Watter beginsels kan ons help om gehoorsaam te wees aan dié wat die leiding neem? (Sien die venster “ Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding . . . neem.”)

15 Jehovah het sy Seun as die Heerser oor die Christengemeente aangestel (Kolossense 1:13). Op sy beurt het Jesus sy “getroue en verstandige slaaf” aangestel om na die geestelike behoeftes van God se volk op die aarde om te sien (Matteus 24:45-47). Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies verteenwoordig die slaafklas. Soos in die eerste-eeuse Christengemeentes ontvang ouer manne vandag instruksies en raad van die Bestuursliggaam, hetsy direk of deur sy verteenwoordigers, soos reisende opsieners. Wanneer ons as individue die gesag van Christen- ouer manne respekteer, is ons gehoorsaam aan Jehovah.—Hebreërs 13:17.

16. In watter sin word ouer manne deur die heilige gees aangestel?

16 Ouer manne en bedieningsknegte is nie volmaak nie. Hulle het tekortkominge, net soos ons. Maar die ouer manne is “gawes in die vorm van mense”, wat voorsien word om die gemeente te help om geestelik sterk te bly (Efesiërs 4:8). Ouer manne word deur die heilige gees aangestel (Handelinge 20:28). Hoe so? Deurdat hierdie manne eers aan die vereistes moet voldoen wat in God se geesgeïnspireerde Woord opgeteken is (1 Timoteus 3:1-7, 12; Titus 1:5-9). Wat meer is, die ouer manne wat moet besluit in watter mate ’n broer aan daardie vereistes voldoen, bid ernstig vir die leiding van Jehovah se heilige gees.

17. Waarom dra Christenvroue soms ’n hoofbedekking tydens gemeentelike bedrywighede?

17 In die gemeente kan daar tye wees wanneer geen ouer manne of bedieningsknegte beskikbaar is om ’n taak uit  te voer wat gewoonlik aan hulle toegewys word nie, soos om ’n velddiensvergadering te hou. In sulke gevalle kan ander gedoopte broers dit doen. As een nie beskikbaar is nie, kan ’n bekwame Christensuster hierdie funksie verrig. Maar wanneer ’n vrou iets doen wat gewoonlik deur ’n gedoopte man gedoen moet word, dra sy ’n hoofbedekking (1 Korintiërs 11:3-10). * Hierdie vereiste is nie vernederend vir vroue nie. Dit gee hulle eerder die geleentheid om respek te toon vir Jehovah se hoofskapreëling, in die gesin sowel as in die gemeente.

RESPEK VIR SEKULÊRE OWERHEDE

18, 19. (a) Hoe sou jy die beginsels verduidelik wat in Romeine 13:1-7 uiteengesit word? (b) Hoe toon ons respek vir sekulêre owerhede?

18 Ware Christene hou gewetensgetrou vas aan die beginsels wat in Romeine 13:1-7 genoem word. Wanneer ’n mens daardie gedeelte lees, kan jy sien dat “die hoër owerhede” wat hier genoem word, die sekulêre regerings is. Solank Jehovah hierdie menseowerhede toelaat om te bestaan, vervul hulle belangrike funksies deur ’n mate van orde te bewaar en nodige dienste te voorsien. Ons toon ons respek vir hierdie owerhede deur middel van ons wetsgehoorsame gedrag. Ons sorg dat ons alle belasting betaal wat ons verskuldig is; enige vorms of dokumente wat die regering van ons vereis, ordentlik invul; en enige wette wat op ons, ons gesin, sakeonderneming of besittings van toepassing is, nakom. Maar ons onderwerp ons nie aan die sekulêre owerhede as hulle ons vra om aan God ongehoorsaam te wees nie. Ons antwoord eerder soos die apostels van ouds: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:28, 29; sien die venster “ Wie se gesag moet ek gehoorsaam?.”

 19 Ons toon ook deur ons gedrag respek vir sekulêre owerhede. Soms kry ons persoonlik met regeringsamptenare te doen. Die apostel Paulus het kontak gehad met heersers soos koning Herodes Agrippa en die goewerneur Festus. Hierdie manne het ernstige tekortkominge gehad, maar Paulus het hulle met respek aangespreek (Handelinge 26:2, 25). Ons volg Paulus se voorbeeld na, hetsy die amptenaar met wie ons praat ’n magtige heerser of ’n plaaslike polisieman is. Op skool probeer jong Christene soortgelyke respek aan hulle onderwysers en aan skoolbeamptes en -werknemers betoon. Ons beperk sulke respek natuurlik nie tot diegene wat geen beswaar het teen ons oortuigings nie; ons behandel ook diegene wat Jehovah se Getuies teëstaan, met respek. Ja, mense wat nie soos ons glo nie, moet ons respek kan aanvoel.—Romeine 12:17, 18; 1 Petrus 3:15.

20, 21. Wat is party van die seëninge as ons gepaste respek vir gesag toon?

20 Laat ons nie suinig wees wanneer dit kom by die betoning van respek nie. Die apostel Petrus het geskryf: “Eer alle soorte mense” (1 Petrus 2:17). Wanneer mense aanvoel dat ons opregte respek vir hulle het, sal dit hulle moontlik diep beïndruk. Onthou dat hierdie eienskap al hoe seldsamer word. Om dit te toon, is dus een manier waarop ons gehoor kan gee aan Jesus se gebod: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.”—Matteus 5:16.

21 In hierdie donker wêreld word sagmoedige mense na geestelike lig aangetrek. As ons dus in die gesin, in die gemeente en in sekulêre konteks respek toon, kan dit party aantrek en hulle beweeg om saam met ons in die lig te wandel. Wat ’n wonderlike vooruitsig! Maar al gebeur dit nie, is een ding seker. Ons respek vir mense maak Jehovah God gelukkig en help ons om in sy liefde te bly. Watter groter beloning kan daar wees?

^ par. 17 Die onderwerp “Hoofbedekkings—Wanneer en waarom?”, in die Aanhangsel, bespreek ’n paar praktiese maniere om hierdie beginsel toe te pas.