Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 12

Gebruik woorde “wat goed is vir opbouing”

Gebruik woorde “wat goed is vir opbouing”

“Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir opbouing.”—EFESIËRS 4:29.

1-3. (a) Wat is een gawe wat Jehovah ons gegee het, en hoe kan dit misbruik word? (b) Hoe moet ons die gawe van spraak gebruik as ons in God se liefde wil bly?

HOE sou jy voel as jy vir ’n geliefde ’n geskenk gee en hy misbruik dit moedswillig? Sê nou jy het hom ’n motor gegee, en jy vind later uit dat hy dit roekeloos bestuur het en ander beseer het. Sou jy nie teleurgesteld wees nie?

2 Die vermoë om verstaanbare spraak te gebruik, is ’n gawe van Jehovah, die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17). Hierdie gawe, wat die mensdom onderskei van die diereryk, stel ons in staat om nie net ons gedagtes nie, maar ook ons gevoelens aan ander oor te dra. Soos ’n motor, kan die gawe van spraak egter misbruik word. Hoe moet dit Jehovah tog teleurstel wanneer spraak roekeloos gebruik word sodat dit vir ander hartseer en pyn veroorsaak!

3 Om in God se liefde te bly, moet ons die gawe van spraak gebruik soos die Gewer dit wou hê. Jehovah laat geen twyfel oor die soort spraak wat sy goedkeuring wegdra nie. Sy Woord sê: “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel” (Efesiërs 4:29). Kom ons bespreek waarom ons altyd op ons spraak moet let, watter spraak  ons moet vermy, en hoe ons woorde kan gebruik “wat goed is vir opbouing”.

WAAROM ONS OP ONS SPRAAK MOET LET

4, 5. Hoe beskryf party Bybelspreuke die krag van woorde?

4 Een belangrike rede om op ons spraak te let, is omdat woorde krag het. Spreuke 15:4 sê: “Die kalmte van die tong is ’n lewensboom, maar verdraaidheid daarin breek die gees af.” * Net soos water ’n droë boom laat herlewe, kan die kalm woorde van ’n strelende tong die gees van dié wat dit hoor, verkwik. In teenstelling hiermee kan die verdraaide woorde van ’n verdorwe tong die gees van ander verpletter. Ja, die woorde wat ons spreek, het die krag om seer te maak of om te genees.—Spreuke 18:21.

5 ’n Ander spreuk gee ’n treffende beskrywing van die krag van woorde en sê: “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke” (Spreuke 12:18). Onnadenkende woorde wat op die ingewing van die oomblik gesê word, kan diep emosionele wonde veroorsaak en verhoudings vernietig. Het woorde al ooit jou hart deurboor asof deur die steke van ’n swaard? Aan die positiewe kant sê  dieselfde spreuk: “Die tong van die wyses is genesing.” Weldeurdagte woorde van iemand wat goddelike wysheid openbaar, kan ’n seer hart troos en verhoudings herstel. Kan jy ’n geval onthou toe jy die genesende krag van vriendelike woorde ervaar het? (Spreuke 16:24). As ons besef dat die gesproke woord krag het, sal ons sekerlik ons spraak wil gebruik om ander te genees, nie om hulle seer te maak nie.

Kalm woorde is verkwikkend

6. Waarom is dit ’n ware stryd om ons tong te beheers?

6 Ongeag hoe hard ons probeer, ons kan nie ons tong ten volle beheers nie. Hier is dan die tweede rede waarom ons moet aanhou om op ons spraak te let: Sonde en onvolmaaktheid laat ons ons tong misbruik. Woorde is ’n produk van ons hart, en “die neiging van die mens se hart is sleg” (Genesis 8:21; Lukas 6:45). Dit is dus ’n ware stryd om ons tong in toom te hou (Jakobus 3:2-4). Al kan ons nie volmaakte beheer oor ons tong kry nie, kan ons ons voortdurend inspan om te verbeter in ons gebruik daarvan. Net soos ’n swemmer wat stroomop probeer swem, voortdurend teen die stroom moet veg, moet ons aanhou stry teen die sondige neiging om ons tong te misbruik.

7, 8. Tot watter mate hou Jehovah ons aanspreeklik vir ons woorde?

7 ’n Derde rede waarom ons op ons spraak moet let, is dat Jehovah ons aanspreeklik hou vir ons woorde. Die manier waarop ons ons tong gebruik, het nie net ’n uitwerking op ons verhouding met ons medemens nie, maar ook op ons posisie voor Jehovah. Jakobus 1:26 sê: “As iemand meen dat hy ’n vormlike aanbidder is en tog nie sy tong in toom hou nie, maar voortgaan om sy eie hart te bedrieg, dié man se vorm van aanbidding is vergeefs.” * Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, kan  ons spraak nie van ons aanbidding geskei word nie. As ons ’n onbeheerste tong het—as dit skadelike, giftige woorde voortbring—kan dit al ons Christelike werke in God se oë waardeloos laat word. Is dit nie ernstige stof tot nadenke nie?—Jakobus 3:8-10.

8 Dit is duidelik dat ons kragtige redes het om seker te maak dat ons nie die gawe van spraak misbruik nie. Voordat ons kyk na heilsame vorme van spraak wat opbouend is, kom ons bespreek spraak wat beslis geen plek in die lewe van ’n ware Christen het nie.

SPRAAK WAT AFBREEK

9, 10. (a) Watter soort taal het ’n deel van alledaagse spraak in vandag se wêreld geword? (b) Waarom moet ons onwelvoeglike taal verwerp? (Sien ook voetnoot.)

9 Onwelvoeglike taal. Vloekery, godslastering en ander vorme van onwelvoeglike taal is ’n deel van alledaagse spraak in vandag se wêreld. Baie gebruik kragwoorde om te beklemtoon wat hulle sê of om te vergoed vir ’n gebrekkige woordeskat. Komediante vertel dikwels vulgêre, seksgeoriënteerde stories om mense te laat lag. Maar onwelvoeglike taal is geen grap nie. Sowat 2 000 jaar gelede het die geïnspireerde apostel Paulus die gemeente in Kolosse vermaan om “onwelvoeglike praatjies” van hulle te verwyder (Kolossense 3:8). Paulus het vir die gemeente in Efese gesê dat “onwelvoeglike skertsery” onder die dinge is wat “nie eens onder [ware Christene] genoem [moet] word nie”.—Efesiërs 5:3, 4.

10 Onwelvoeglike spraak is vir Jehovah aanstootlik. Dit is ook aanstootlik vir diegene wat hom liefhet. Ja, ons liefde vir Jehovah beweeg ons om onwelvoeglike taal te verwerp. Wanneer Paulus “die werke van die vlees” opnoem, noem hy “onreinheid”, wat onrein spraak kan insluit (Galasiërs 5:19-21). Dit is ’n ernstige saak. Iemand kan uit die  gemeente gesit word as hy ten spyte van herhaalde raad onberouvol ’n gewoonte daarvan maak om spraak te gebruik wat verwys na dinge wat onsedelik, verlagend en verderflik is of wat dit bevorder. *

11, 12. (a) Wat is skinderpraatjies, en hoe kan dit skadelik word? (b) Waarom moet aanbidders van Jehovah laster vermy?

11 Skadelike skinderpraatjies, laster. Skinderpraatjies is kletspraatjies oor mense en hulle lewe. Is alle skinderpraatjies sleg? Nie as ons verwys na onskuldige gesprekke waarin ons moontlik positiewe of nuttige inligting meedeel nie, soos wie onlangs gedoop is of wie ’n bietjie aanmoediging nodig het. Eerste-eeuse Christene het ’n lewendige belangstelling in mekaar se welsyn gehad en het gepaste inligting oor medegelowiges aan mekaar oorgedra (Efesiërs 6:21, 22; Kolossense 4:8, 9). Maar skinderpraatjies kan skadelik wees as dit die feite verdraai of private sake openbaar. Selfs ernstiger, dit kan tot laster lei, wat altyd skadelik is. Laster is “die uiting van valse aantygings . . . wat iemand se reputasie skend en dit skade berokken”. Die Fariseërs het Jesus byvoorbeeld deur middel van kwaadwillige laster in onguns probeer bring (Matteus 9:32-34; 12:22-24). Laster veroorsaak dikwels twis.—Spreuke 26:20.

12 Jehovah keur nie diegene goed wat die gawe van spraak gebruik om ander te belaster of om verdeeldheid te veroorsaak nie. Hy haat dié wat “twis onder broers” veroorsaak (Spreuke 6:16-19). Die Griekse woord wat as “lasteraar” vertaal word, is di·aʹbo·los, wat ook gebruik word  as ’n titel van Satan. Hy is die “Duiwel”, die bose lasteraar teen God (Openbaring 12:9, 10). Ons wil beslis spraak vermy wat ons as ’t ware ’n duiwel sal laat word. Daar is geen plek in die gemeente vir lasterlike spraak wat werke van die vlees soos “rusies” en “verdeeldhede” sal aanblaas nie (Galasiërs 5:19-21). Voordat jy dus die een of ander nuusbrokkie oor iemand oorvertel, vra jou af: ‘Is dit waar? Sou dit liefdevol wees om dit oor te vertel? Is dit nodig of raadsaam om hierdie inligting bekend te maak?’—1 Tessalonisense 4:11.

13, 14. (a) Watter uitwerking kan smadende taal op diegene hê wat daarna luister? (b) Wat is skeltaal, en waarom plaas iemand wat skeltaal gebruik, hom in ’n gevaarlike posisie?

13 Smadende taal. Soos vroeër gesê is, het woorde die krag om seer te maak. Toegegee, weens menslike onvolmaaktheid sê ons almal soms dinge waaroor ons spyt is. Maar die Bybel waarsku teen ’n patroon van spraak wat hoegenaamd geen plek in ’n Christenhuis of in die gemeente het nie. Paulus het Christene vermaan: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word” (Efesiërs 4:31). Ander vertalings vertaal die frase “smadende taal” as “bose woorde”, “krenkende woorde” en “beledigende taal”. Smadende taal—insluitende vernederende skelname en ongevoelige, voortdurende kritiek—kan ander hulle waardigheid ontneem en hulle waardeloos laat voel. Die tere en vertrouende harte van kinders is besonder kwesbaar vir die verpletterende uitwerking van smadende taal.—Kolossense 3:21.

14 In die Bybel word skeltaal—die gebruik om ander sleg te sê met beledigende, vernederende of smadende taal—ten sterkste veroordeel. Iemand wat ’n gewoonte daarvan maak om sulke spraak te gebruik, plaas hom in ’n gevaarlike posisie, want ’n kwaadspreker kan uit die  gemeente verwyder word as hy nie reageer op herhaalde pogings om hom te help om te verander nie. Tensy hy sy weë verander, kan hy ook Koninkrykseëninge verbeur (1 Korintiërs 5:11-13; 6:9, 10). Dit is dus duidelik dat dit onmoontlik is om in God se liefde te bly as ons ’n gewoonte daarvan maak om spraak te gebruik wat onheilsaam, onwaar of liefdeloos is. Sulke spraak is afbrekend.

WOORDE “WAT GOED IS VIR OPBOUING”

15. Watter soort spraak is “goed . . . vir opbouing”?

15 Hoe kan ons die gawe van spraak gebruik soos die Gewer dit wou hê? Onthou dat God se Woord ons aanspoor om woorde te gebruik “wat goed is vir opbouing” (Efesiërs 4:29). Dit maak Jehovah bly wanneer ons woorde gebruik wat ander opbou, aanmoedig en versterk. ’n Mens moet dink voor jy sulke woorde kan gebruik. Die Bybel voorsien nie ’n formule hiervoor nie; en dit bevat ook nie ’n lys van goedgekeurde soorte “heilsame spraak” nie (Titus 2:8). As ons woorde wil gebruik “wat goed is vir opbouing”, sal dit goed wees as ons drie eenvoudige maar belangrike faktore in gedagte hou wat kenmerke is van opbouende spraak: Dit is heilsaam, dit is waar, en dit is liefdevol. Kom ons kyk met die oog op hierdie faktore na ’n paar spesifieke voorbeelde van spraak wat opbou.—Sien die venster “ Is my spraak opbouend?

16, 17. (a) Waarom moet ons ander prys? (b) Watter geleenthede is daar om ander te prys in die gemeente? in die gesin?

16 Opregte lof. Jehovah sowel as Jesus weet hoe belangrik dit is om woorde van lof en goedkeuring uit te spreek (Matteus 3:17; 25:19-23; Johannes 1:47). Dit is ook goed as ons as Christene ander opreg prys. Waarom? Spreuke 15:23 sê: “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!” Vra jou af: ‘Hoe voel ek wanneer iemand my opreg prys? Laat dit nie my hart warm klop en verhef dit nie my gees nie?’ Ja,  ’n opregte woord van lof sê vir jou dat iemand jou raakgesien het, dat iemand vir jou omgee, en dat wat jy gedoen het, beslis die moeite werd was. Hierdie versekering gee jou meer selfvertroue en spoor jou aan om in die toekoms selfs harder te werk. Aangesien jy dit waardeer wanneer jy lof ontvang, behoort jy dan nie op jou beurt jou bes te doen om aan ander lof te gee nie?—Matteus 7:12.

17 Leer om na die goeie in ander te soek en sê dan iets positiefs daaroor. In die gemeente hoor jy dalk ’n goeie toespraak, sien jy dalk ’n jong persoon wat geestelike doelwitte nastreef of ’n bejaarde persoon wat vergaderinge getrou bywoon ondanks die beperkings van die ouderdom. ’n Opregte woord van lof sal moontlik die harte van sulke persone raak en hulle geestelik versterk. In die gesin moet mans en vrouens woorde van hartlike lof en waardering teenoor mekaar uitspreek (Spreuke 31:10, 28). Veral kinders floreer wanneer hulle voel dat hulle raakgesien en waardeer word. Lof en goedkeuring doen vir ’n kind wat sonskyn en water vir ’n plant doen. Ouers, soek na geleenthede om julle kinders vir hulle lofwaardige eienskappe en pogings te prys. Sulke lof kan moed en selfvertroue in julle kinders opbou en hulle aanspoor om selfs harder te probeer om te doen wat reg is.

18, 19. Waarom moet ons ons bes doen om medegelowiges te vertroos, en hoe kan ons dit doen?

18 Vertroosting. Jehovah is diep besorg oor “die nederiges” en “die verbryseldes” (Jesaja 57:15). Sy Woord spoor ons aan om ‘aan te hou om mekaar te vertroos’ en om “vertroostend [te praat] met die terneergedrukte siele” (1 Tessalonisense 5:11, 14). Ons kan seker wees dat ons pogings om medegelowiges te vertroos wie se harte beswaar is met droefheid, deur God raakgesien en waardeer word.

Dit maak Jehovah bly wanneer ons woorde gebruik wat ander opbou

19 Maar wat kan jy sê om ’n mede-Christen wat mismoedig of terneergedruk is, op te bou? Moenie voel  dat jy die probleem moet oplos nie. Dikwels is ’n paar eenvoudige woorde die beste. Verseker die terneergedrukte persoon van jou besorgdheid. Bied aan om hardop saam met die mismoedige persoon te bid; jy kan Jehovah smeek om die persoon te help om te besef hoe lief ander en God vir hom of haar is (Jakobus 5:14, 15). Verseker hom dat hy ’n nuttige en gewaardeerde lid van die gemeente is (1 Korintiërs 12:12-26). Lees ’n aanmoedigende Bybelvers om hom te verseker dat Jehovah werklik vir hom as persoon omgee (Psalm 34:18; Matteus 10:29-31). As jy genoeg tyd gebruik om ’n “goeie woord” aan die mismoedige persoon mee te deel en as jy uit jou hart praat, sal dit hom ongetwyfeld help om geliefd en gewaardeer te voel.—Spreuke 12:25.

20, 21. Watter faktore maak raad doeltreffend?

20 Doeltreffende raad. Omdat ons onvolmaak is, het ons almal van tyd tot tyd raad nodig. Die Bybel spoor ons aan: “Luister na raad en aanvaar dissipline, sodat jy in jou toekoms wys kan word” (Spreuke 19:20). Dit is nie net die ouer manne wat raad kan gee nie. Ouers gee hulle kinders raad (Efesiërs 6:4). Ryp susters moet dalk aan jonger vroue raad gee (Titus 2:3-5). Liefde vir ander beweeg ons om raad te wil gee wat die ontvanger kan aanvaar sonder  om seergemaak te voel. Wat kan ons help om hierdie soort raad te gee? Kyk na drie faktore wat raad doeltreffender maak: die gesindheid en beweegrede van die raadgewer, die grondslag van die raad en die manier waarop dit gegee word.

21 Doeltreffende raad begin by die raadgewer. Vra jou af: ‘Wanneer is dit vir my maklik om raad te aanvaar?’ Dit is makliker om raad te aanvaar wanneer jy weet dat die persoon wat jou raad gee, oor jou besorg is, dat hy nie uit persoonlike frustrasie praat nie en dat hy geen bybedoelings het nie. Behoort dit dan nie ook gesê te kan word van jou gesindheid en beweegredes wanneer jy aan ander raad gee nie? Suksesvolle raad word ook op God se Woord gegrond (2 Timoteus 3:16). Hetsy ons direk uit die Bybel aanhaal of nie, ons moet ’n skriftuurlike grondslag hê vir enige raad wat ons gee. Ouer manne is dus versigtig om nie hulle beskouings op ander af te dwing nie; en hulle buig of verdraai ook nie die Skrif sodat dit lyk of die Bybel hulle persoonlike beskouing ondersteun nie. Raad is ook doeltreffender as dit op die regte manier oorgedra word. Raad wat met liefde gegee word, is makliker om te aanvaar en laat die een wat dit ontvang, toe om sy waardigheid te behou.—Kolossense 4:6.

22. Wat is jy vasbeslote om te doen met betrekking tot die gawe van spraak?

22 Spraak is beslis ’n kosbare gawe van God. Ons liefde vir Jehovah behoort ons aan te spoor om hierdie gawe nie te misbruik nie, maar dit goed te gebruik. Laat ons onthou dat die woorde wat ons aan ander sê, krag het—die krag om op te bou of af te breek. Laat ons dan daarna streef om hierdie gawe te gebruik soos die Gewer dit wou hê—“vir opbouing”. Ons spraak sal dus ’n seën vir diegene om ons wees en sal ons help om in God se liefde te bly.

^ par. 4 Die Hebreeuse woord wat in Spreuke 15:4 met “verdraaidheid” vertaal word, kan ook “oneerlikheid, verdorwenheid” beteken.

^ par. 7 Die Griekse woord wat met “vergeefs” vertaal word, word ook as “nutteloos” en ‘vrugteloos’ vertaal.—1 Korintiërs 15:17; 1 Petrus 1:18.

^ par. 10 Soos dit in die Skrif gebruik word, is “onreinheid” ’n omvattende term wat ’n breë spektrum van sondes kan insluit. Hoewel nie alle onreinheid regterlike optrede vereis nie, kan ’n persoon uit die gemeente gesit word as hy onberouvol growwe onreinheid beoefen.—2 Korintiërs 12:21; Efesiërs 4:19; sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Julie 2006.