Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 AANHANGSEL

Hoe om sakegeskille op te los

Hoe om sakegeskille op te los

In 1 Korintiërs 6:1-8 het die apostel Paulus regsgedinge tussen medegelowiges bespreek. Hy het sy onsteltenis uitgespreek dat party Christene in Korinte ‘hof toe durf gaan om voor onregverdiges te verskyn’ (Vers 1). Paulus het kragtige redes aangevoer waarom Christene mekaar nie voor ’n sekulêre hof moet daag nie, maar geskille eerder in die gemeente moet oplos. Kom ons bespreek ’n paar van die redes vir hierdie geïnspireerde raad en kyk dan na ’n paar situasies waar hierdie riglyn nie noodwendig van toepassing is nie.

As ons ’n sakegeskil met ’n medegelowige het, moet ons dit eerstens op Jehovah se manier probeer hanteer, nie op ons eie manier nie (Spreuke 14:12). Soos Jesus getoon het, is dit die beste as ’n verskil vinnig opgelos word, voordat dit in ’n groot geskil ontaard (Matteus 5:23-26). Maar ongelukkig raak party Christene so twisgierig dat hulle geskille selfs na sekulêre howe neem. Paulus het gesê: “Dit beteken dan geheel en al ’n nederlaag vir julle dat julle regsgedinge met mekaar het.” Waarom? ’n Vername rede is dat sulke regstappe heel moontlik die goeie naam van die gemeente en die God wat ons aanbid, oneer sal aandoen. Ons neem dus Paulus se vraag ter harte: “Waarom laat julle julle nie liewer veronreg nie?”—Vers 7.

Paulus het ook geredeneer dat God ’n goeie reëling voorsien het waarvolgens baie geskille in die gemeente opgelos kan word. Die ouer manne is Christenmanne wat wys is weens hulle kennis van skriftuurlike waarhede, en Paulus sê dat hulle ‘tussen broers kan oordeel’ in “sake van hierdie lewe” (Verse 3-5). Jesus het getoon dat geskille as gevolg van ernstige oortredings, soos laster en bedrog, volgens ’n proses met drie stappe besleg moet word: eerstens, probeer die saak privaat oplos tussen die betrokkenes; tweedens, as die eerste stap nie slaag nie, neem een of twee getuies  saam; en derdens, as die vorige stap nie slaag nie, neem die saak na die gemeente, soos verteenwoordig deur die ouer manne.—Matteus 18:15-17.

Christen- ouer manne is natuurlik nie noodwendig prokureurs of sakemanne nie, en hulle hoef nie as sodanig op te tree nie. Hulle stel nie die bepalings vas waarvolgens sakegeskille tussen broers opgelos moet word nie. Hulle probeer al die betrokkenes eerder help om die Skrif toe te pas en ’n vriendskaplike oplossing te vind. In komplekse sake kan hulle die kringopsiener of die takkantoor van Jehovah se Getuies raadpleeg. Maar daar is situasies wat nie deur Paulus se raad gedek word nie. Wat is party hiervan?

In party gevalle is ’n hofsaak bloot ’n formaliteit of ’n wetlike vereiste om ’n onselfsugtige en vreedsame oplossing te vind. Byvoorbeeld, ’n hofsaak is dalk die enigste beskikbare manier om ’n egskeidingsbevel te verkry, toesig oor ’n kind te kry, onderhoudsbetalings vas te stel, versekeringsvergoeding te verkry, in ’n bankrotskapsaak as ’n skuldeiser gelys te word en om die egtheid van ’n testament te bepaal. Daar is ook gevalle waar ’n broer kan voel dat hy ’n teeneis moet instel om homself in ’n hofsaak te beskerm. *

As dit nie ’n twisgierige gees is wat aanleiding gee tot sulke hofsake nie, word die gees van Paulus se geïnspireerde raad dalk nie geskend nie. * Nietemin moet die heiliging van Jehovah se naam en die vrede en eenheid van die gemeente vir ’n Christen van die allergrootste belang wees. Christus se volgelinge word hoofsaaklik gekenmerk deur hulle liefde, en “die liefde . . . soek nie sy eie belang nie”.—1 Korintiërs 13:4, 5; Johannes 13:34, 35.

^ par. 2 In seldsame gevalle pleeg een Christen dalk ’n ernstige misdaad teen ’n ander—soos verkragting, aanranding, moord of diefstal. In sulke gevalle sou dit nie onchristelik wees om die saak by die owerhede aan te meld nie, al sou dit tot ’n hofsaak of ’n kriminele verhoor lei.

^ par. 3 Vir verdere inligting, sien gerus Die Wagtoring van 15 Maart 1997, bladsye 17-22, en 15 Oktober 1991, bladsye 25-8.