Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 HOOFSTUK 15

Die stryd om godsdiensvryheid

Die stryd om godsdiensvryheid

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Hoe Christus sy volgelinge gehelp het in die stryd om wetlike erkenning en die reg om God se wette te gehoorsaam

1, 2. (a) Wat bewys dat jy ’n burger van God se Koninkryk is? (b) Waarom moes Jehovah se Getuies soms vir godsdiensvryheid stry?

IS JY ’n burger van God se Koninkryk? As een van Jehovah se Getuies is jy beslis! En wat is die bewys van jou burgerskap? Nie ’n paspoort of enige ander staatsdokument nie. Die bewys is eerder die manier waarop jy Jehovah God aanbid. Ware aanbidding behels meer as wat jy glo. Dit behels wat jy doen—jou gehoorsaamheid aan die wette van God se Koninkryk. Ons aanbidding beïnvloed elke aspek van ons lewe, insluitende die manier waarop ons ons kinders grootmaak en selfs die manier waarop ons op sekere gesondheidsprobleme reageer.

2 Maar die wêreld waarin ons lewe, respekteer nie altyd ons kosbare burgerskap of die vereistes daarvoor nie. Party regerings het probeer om ons aanbidding te beperk of dit selfs heeltemal stop te sit. Soms moes Christus se onderdane stry vir die vryheid om volgens die wette van die Messiaanse Koning te lewe. Is dit verbasend? Nee. In Bybeltye moes Jehovah se volk dikwels stry vir die vryheid om Jehovah te aanbid.

3. Waarvoor moes God se volk in die dae van koningin Ester stry?

3 Byvoorbeeld, in die dae van koningin Ester moes God se volk stry vir hulle lewe. Waarom? Die goddelose eerste minister Haman het vir die Persiese koning Ahasveros gesê dat al die Jode wat in die koning se ryk woon, doodgemaak moet word, want “hulle wette is anders as alle ander volke s’n” (Est. 3:8, 9, 13). Het Jehovah sy knegte in die steek gelaat? Nee, hy het Ester en Mordegai se pogings geseën toe hulle hulle op die Persiese koning beroep het om God se volk te beskerm.—Est. 9:20-22.

4. Wat sal ons in hierdie hoofstuk bespreek?

4 Wat van vandag? Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het sekulêre magte Jehovah se Getuies soms teëgestaan. In hierdie hoofstuk sal ons ’n paar maniere bespreek waarop sulke regerings ons manier van aanbidding probeer beperk het. Ons sal veral na drie algemene gebiede kyk: (1) ons reg om as ’n organisasie te bestaan en om te aanbid soos ons verkies, (2) die vryheid om mediese behandeling te kies wat met Bybelbeginsels ooreenstem en (3) die reg van ouers om kinders volgens Jehovah se standaarde groot te maak. Ons sal sien  hoe lojale burgers van die Messiaanse Koninkryk op al drie gebiede moedig gestry het om hulle kosbare burgerskap te beskerm en hoe hulle pogings geseën is.

Die stryd om wetlike erkenning en basiese vryhede

5. Watter voordele hou wetlike erkenning vir ware Christene in?

5 Het ons wetlike erkenning van menseregerings nodig om Jehovah te aanbid? Nee, maar wetlike erkenning maak dit vir ons makliker om ons aanbidding uit te voer—byvoorbeeld, om vryelik in ons eie Koninkryksale en Byeenkomssale bymekaar te kom, om Bybellektuur te druk en in te voer en om openlik en ongehinderd met ons bure oor die goeie nuus te praat. In baie lande is Jehovah se Getuies wetlik geregistreer en geniet hulle dieselfde vryhede om te aanbid as die lidmate van ander wetlik erkende godsdienste. Maar wat het al gebeur wanneer regerings wetlike erkenning geweier het of ons basiese vryhede probeer beperk het?

6. Met watter uitdaging het Jehovah se Getuies in Australië in die vroeë 1940’s te kampe gehad?

6 Australië. In die vroeë 1940’s het die goewerneur-generaal van Australië ons oortuigings beskou as “nadelig” vir die oorlogspoging. ’n Verbod is ingestel. Getuies kon nie openlik vergader of preek nie, die bedrywighede by Bethel is stopgesit en daar is op Koninkryksale beslag gelê. Mense is verbied om selfs net ons Bybellektuur te besit. Maar nadat die Getuies in Australië ’n paar jaar in die geheim gewerk het, was daar uiteindelik verligting. Op 14 Junie 1943 het die Hooggeregshof van Australië die verbod opgehef.

7, 8. Beskryf die stryd om godsdiensvryheid wat ons broers in Rusland oor die jare gevoer het.

7 Rusland. Jehovah se Getuies was dekades lank onder ’n kommunistiese verbod, maar is uiteindelik in 1991 geregistreer. Ná die ontbinding van die voormalige Sowjetunie het ons in 1992 wetlike erkenning in die Russiese Federasie verkry. Maar kort voor lank het party teenstanders—veral dié wat bande met die Russies-Ortodokse Kerk gehad het—ontsteld geraak oor die vinnige toename in die aantal Getuies. Teenstanders het tussen 1995 en 1998 ’n reeks van vyf kriminele aanklagte teen Jehovah se Getuies ingebring. Die aanklaer kon nie een keer enige bewys van oortreding vind nie. Die vasbeslote teenstanders het toe in 1998 ’n siviele klag ingedien. Die Getuies het aanvanklik geseëvier, maar die teenstanders het die uitspraak verwerp, en in Mei 2001 het die Getuies die appèlsaak verloor. ’n Herverhoor het in Oktober daardie jaar begin, en dit het in 2004 gelei tot die beslissing om die geregistreerde regspersoon wat die Getuies in Moskou gebruik, te likwideer en ’n verbod op die bedrywighede daarvan te plaas.

8 Dit het tot ’n vlaag van vervolging aanleiding gegee. (Lees 2 Timoteus 3:12.) Getuies moes teistering en fisiese aanvalle verduur. Godsdienslektuur is gekonfiskeer, en streng beperkings is op die huur en bou van huise van aanbidding geplaas. Stel jou voor hoe ons broers en susters te midde van hierdie  ontberinge moes gevoel het! In 2001 het die Getuies hulle tot die Europese Hof van Menseregte (EHMR) gewend, en in 2004 het hulle bykomende inligting by die Hof ingedien. In 2010 het die EHMR ’n beslissing bereik. Die Hof het duidelik gesien dat godsdiensonverdraagsaamheid agter Rusland se verbod op die Getuies skuil en het beslis dat daar geen rede is om die uitsprake van die laer howe te handhaaf nie, aangesien daar geen bewyse van oortreding deur enige Getuie was nie. Die Hof het verder gesê dat die verbod bedoel is om die Getuies hulle wetlike regte te ontneem. Die Hof se beslissing het die Getuies se reg op godsdiensvryheid bevestig. Hoewel verskeie Russiese owerhede nie die EHMR se beslissing gehoorsaam het nie, het God se volk in hierdie land groot moed uit sulke oorwinnings geput.

Titos Manoussakis (Sien paragraaf 9)

9-11. Hoe het Jehovah se volk in Griekeland gestry vir die vryheid om saam te aanbid, en wat was die resultate?

9 Griekeland. In 1983 het Titos Manoussakis ’n kamer in Heraklion, Kreta, gehuur sodat ’n klein groepie Getuies van Jehovah daar vir aanbidding kon vergader (Heb. 10:24, 25). Maar kort voor lank het ’n Ortodokse priester ’n klag by die regeringsowerheid ingedien waarin hy beswaar gemaak het teen die Getuies se gebruik van die kamer vir aanbidding. Waarom? Bloot omdat die Getuies se opvattings verskil van dié van die Ortodokse Kerk! Die owerheid het ’n strafsaak teen Titos Manoussakis en drie ander plaaslike Getuies aanhangig gemaak. Hulle is ’n boete opgelê en tot twee maande tronkstraf gevonnis. As lojale burgers van God se Koninkryk het die Getuies die hof se beslissing as ’n skending van hulle godsdiensvryheid beskou, en daarom het hulle hulle saak na nog plaaslike howe geneem en hulle uiteindelik tot die EHMR gewend.

10 Uiteindelik, in 1996, het die EHMR teenstanders van rein aanbidding ’n verpletterende slag toegedien. Die Hof het gesê dat “die definisie van ‘bekende godsdiens’, waarvoor die Griekse wetgewing voorsiening maak, op Jehovah se Getuies van toepassing is” en dat die laer howe se beslissings ’n “direkte uitwerking op die aansoekers se godsdiensvryheid het”. Die Hof het verder bevind dat die regering van Griekeland nie die reg het om te “besluit of godsdiensoortuigings of die manier waarop sulke oortuigings uitgeleef word, aanvaarbaar is of nie”. Die Getuies se vonnisse is nietig verklaar, en hulle godsdiensvryheid is bevestig!

11 Het hierdie oorwinning ’n einde gemaak aan die probleme in Griekeland? Ongelukkig nie. In 2012 is ’n soortgelyke saak uiteindelik ná ’n 12 jaar lange regstryd in Kassandreia, Griekeland, beslis. In hierdie saak is die teenstand deur ’n Ortodokse biskop aangeblaas. Die Staatsraad, die hoogste administratiewe hof van Griekeland, het in hierdie saak ten  gunste van God se volk beslis. Die beslissing het Griekeland se eie grondwetlike waarborg van godsdiensvryheid aangehaal en die dikwels herhaalde aantyging dat Jehovah se Getuies nie ’n bekende godsdiens is nie, weerlê. Die Hof het gesê: “Die leerstellings van ‘Jehovah se Getuies’ is nie ’n geheim nie, en gevolglik beoefen hulle ’n bekende godsdiens.” Die lede van die klein gemeente in Kassandreia is verheug dat hulle nou vergaderinge vir aanbidding in hulle eie Koninkryksaal kan hou.

12, 13. Hoe het teenstanders in Frankryk “moeilikheid deur verordening” probeer beraam, en met watter resultaat?

12 Frankryk. Party teenstanders van God se volk het die taktiek gebruik om “moeilikheid deur verordening [te] beraam”. (Lees Psalm 94:20.) Byvoorbeeld, in die middel-1990’s het die belastingowerheid in Frankryk ’n oudit begin van die finansies van die Association Les Témoins de Jéhovah (ATJ), een van die regspersone wat Jehovah se Getuies vir hulle bedrywighede in Frankryk gebruik. Die minister van die begroting het geopenbaar wat die ware oogmerk van die oudit was: “Die oudit kan tot geregtelike likwidasie of ’n strafgeding lei . . . , wat waarskynlik die assosiasie se bedrywighede sal ontwrig of dit sal dwing om alle bedrywighede in ons gebied te staak.” Hoewel die oudit geen onreëlmatighede aan die lig gebring het nie, het die belastingowerheid ’n buitensporige belasting teen ATJ gehef. As die taktiek suksesvol was, sou die broers geen ander keuse gehad het as om die takkantoor te sluit en die geboue te verkoop om die swaar belasting te betaal nie. Dit was ’n harde slag, maar God se volk het nie moed opgegee nie. Die Getuies het heftig beswaar gemaak teen hierdie onregverdige behandeling en het die saak uiteindelik in 2005 by die EHMR ingedien.

13 Die Hof het op 30 Junie 2011 sy beslissing gelewer. Dit het geredeneer dat die reg op godsdiensvryheid die Staat daarvan behoort te weerhou om, behalwe in uiterste gevalle, die aanvaarbaarheid van godsdiensoortuigings of die manier waarop dit uitgeleef word, te bepaal. Verder het die Hof gesê: “Die belasting . . . het die bron van die assosiasie se noodsaaklike middele afgesny en dit sodoende verhinder om te verseker dat sy lidmate die praktiese aspekte van hulle aanbidding vryelik kan beoefen.” Die Hof het eenparig ten gunste van Jehovah se Getuies beslis! Tot die vreugde van Jehovah se volk het die Franse regering uiteindelik die belasting wat teen ATJ gehef is, met rente terugbetaal en die pandreg op die takkantoor se eiendom in ooreenstemming met die Hof se beslissing verwyder.

Jy kan gereeld bid vir jou geestelike broers en susters wat tans weens wetlike onregte ly

14. Hoe kan jy ’n deelname hê aan die stryd om godsdiensvryheid?

14 Soos Ester en Mordegai van ouds, stry Jehovah se hedendaagse volk vir die vryheid om Jehovah te aanbid op die manier wat hy beveel het (Est. 4:13-16). Kan jy ’n deelname hieraan hê? Ja. Jy kan gereeld bid vir jou geestelike broers en  susters wat tans weens wetlike onregte ly. Sulke gebede kan ’n groot hulp wees vir ons broers en susters wat ontberinge en vervolging verduur. (Lees Jakobus 5:16.) Beweeg sulke gebede Jehovah om op te tree? Ons oorwinnings in die hof gee te kenne dat dit beslis die geval is!—Heb. 13:18, 19.

Die vryheid om mediese behandeling te kies wat met ons oortuigings ooreenstem

15. Watter faktore neem God se volk in ag wanneer dit by die gebruik van bloed kom?

15 Soos ons in Hoofstuk 11 gesien het, het burgers van God se Koninkryk duidelike skriftuurlike leiding ontvang om bloed nie te misbruik nie, iets wat vandag baie algemeen is. (Gen. 9:5, 6; Lev. 17:11; lees Handelinge 15:28, 29.) Hoewel ons nie bloedoortappings aanvaar nie, wil ons die beste moontlike mediese sorg vir ons en ons geliefdes hê solank daardie behandeling nie in stryd is met God se wette nie. Die hoogste howe van baie lande het erken dat mense die reg het om mediese behandeling te kies of te weier na gelang van hulle gewete en godsdiensoortuigings. Maar in party lande het God se volk in hierdie opsig voor groot uitdagings te staan gekom. Kyk na ’n paar voorbeelde.

16, 17. Watter mediese behandeling het ’n suster in Japan ontvang wat vir haar ’n skok was, en hoe is haar gebede verhoor?

16 Japan. Misae Takeda, ’n 63-jarige huisvrou in Japan, het ’n groot operasie nodig gehad. As ’n lojale burger van God se Koninkryk het sy dit vir haar dokter duidelik gemaak dat sy sonder bloed behandel wil word. Maar maande later was sy geskok om uit te vind dat sy gedurende haar operasie ’n bloedoortapping gegee is. Suster Takeda het gevoel asof haar liggaam onteer is en dat sy bedrieg is, en daarom het sy in Junie 1993 ’n hofsaak teen die dokters en die hospitaal aanhangig gemaak. Hierdie beskeie, saggeaarde vrou het onwrikbare geloof gehad. Sy het voor ’n stampvol hofsaal moedig getuienis afgelê en was meer as ’n uur lank op die getuiebank ondanks haar verswakkende toestand. Sy het net ’n maand voor haar dood die laaste keer in die hof verskyn. Bewonder ons nie haar moed en geloof nie? Suster Takeda het gesê dat sy Jehovah voortdurend gesmeek het om haar stryd te seën. Sy was oortuig dat haar gebede verhoor sou word. Is dit?

17 Drie jaar nadat suster Takeda oorlede is, het die Hooggeregshof van Japan in haar guns beslis. Dit het saamgestem dat dit verkeerd was om haar ’n bloedoortapping te gee in stryd met haar uitdruklike wense. Die beslissing van 29 Februarie 2000 het gesê dat “die reg om te besluit” in sulke gevalle “as ’n persoonlike reg gerespekteer moet word”. Danksy suster Takeda se vasbeslotenheid om te stry vir die vryheid om mediese behandeling in ooreenstemming met haar Bybelopgeleide gewete te kies, kan Getuies in Japan nou mediese behandeling ontvang sonder die vrees dat ’n bloedoortapping op hulle afgedwing sal word.

Pablo Albarracini (Sien paragrawe 18 tot 20)

18-20. (a) Hoe het ’n appèlhof en die Hooggeregshof in Argentinië die reg bevestig om bloedoortappings deur middel van ’n mediese dokument te weier? (b) Hoe kan ons onderdanigheid toon aan Christus se leierskap wanneer dit by die misbruik van bloed kom?

 18 Argentinië. Watter voorsorgmaatreëls kan burgers van die Koninkryk tref ingeval ’n mediese besluit geneem moet word terwyl hulle bewusteloos is? Ons kan ’n regsdokument saam met ons dra wat namens ons sal praat, soos Pablo Albarracini gedoen het. In Mei 2012 was hy die slagoffer van ’n poging tot roof en is hy etlike kere geskiet. Hy was bewusteloos toe hy in die hospitaal opgeneem is en kon dus nie sy standpunt oor bloedoortappings verduidelik nie. Maar hy het ’n amptelike mediese dokument met sy wense by hom gehad wat hy meer as vier jaar tevore geteken het. Hoewel sy toestand ernstig was en party dokters gemeen het dat ’n bloedoortapping noodsaaklik is om sy lewe te red, was die mediese personeel bereid om sy wense te respekteer. Maar Pablo se pa, wat nie een van Jehovah se Getuies was nie, het ’n hofbevel verkry om sy seun se wense te ignoreer.

19 Die regsgeleerde wat Pablo se vrou verteenwoordig het, het onmiddellik appèl aangeteken. Binne ure het die appèlhof die laer hof se bevel nietig verklaar en beslis dat die pasiënt se wense, soos uiteengesit in die mediese dokument, gerespekteer moet word. Pablo se pa het by Argentinië se Hooggeregshof geappelleer. Maar die Hooggeregshof kon “geen redes vind om te twyfel dat [Pablo se mediese dokument wat getoon het dat hy nie ’n bloedoortapping wil hê nie] met onderskeidingsvermoë asook doelbewus en uit vrye wil saamgestel is nie”. Die Hof het gesê: “Elke persoon wat bevoeg en by sy volle verstand is, het die reg om vooraf wense oor [sy] gesondheid op skrif te stel en mag sekere mediese behandeling aanvaar of weier . . . Hierdie wense moet deur die behandelende dokter aanvaar word.”

Het jy al jou mediese wense op skrif gestel?

20 Broer Albarracini het sedertdien ten volle herstel. Hy en sy vrou is dankbaar dat hy sy wense op skrif gestel het. Deur hierdie eenvoudige—maar belangrike—stap te doen, het hy sy onderdanigheid getoon aan Christus se heerskappy deur God se Koninkryk. Het jy en jou gesin soortgelyke maatreëls getref?

April Cadoreth (Sien paragrawe 21 tot 24)

21-24. (a) Hoe het dit gebeur dat die Hooggeregshof van Kanada ’n merkwaardige beslissing in verband met minderjariges en die gebruik van bloed gelewer het? (b) Hoe kan hierdie saak jong knegte van Jehovah aanmoedig?

21 Kanada. Howe erken oor die algemeen die reg van ouers om die beste mediese sorg vir hulle kinders te kies. Soms het howe selfs beslis dat ’n volwasse minderjarige gerespekteer moet word wanneer dit by mediese besluite kom. Dit was die geval met April Cadoreth. Toe sy 14 jaar oud was, is April weens ernstige interne bloeding in die hospitaal opgeneem. Sy het ’n paar maande vroeër ’n Advance Medical Directive-kaart ingevul met geskrewe instruksies dat sy nie eens in ’n noodgeval ’n bloedoortapping gegee moet word nie. Die behandelende dokter het besluit om April se uitdruklike wense te ignoreer en het aansoek gedoen vir ’n hofbevel om haar bloed  te gee. ’n Oortapping van drie eenhede verpakte rooibloedselle is op haar afgedwing. April het hierdie ondervinding later met verkragting vergelyk.

22 April en haar ouers het hulle tot die howe gewend vir geregtigheid. Ná twee jaar het die saak voor die Hooggeregshof van Kanada gekom. Hoewel April tegnies gesproke haar klag teen die grondwet verloor het, het die Hof beveel dat haar regsonkoste betaal moet word en het dit ’n beslissing gelewer ten gunste van haar en ander volwasse minderjariges wat hulle reg wil uitoefen om self op hulle mediese behandeling te besluit. Die Hof het gesê: “Wat mediese behandeling betref, moet jongmense onder 16 toegelaat word om te probeer bewys dat hulle beskouing van sekere mediese behandeling voldoende onafhanklikheid van denke en volwassenheid weerspieël.”

23 Hierdie hofsaak is betekenisvol in die sin dat die Hooggeregshof die grondwetlike regte van volwasse minderjariges bevestig het. Voor hierdie beslissing kon ’n Kanadese hof goedkeur dat ’n kind onder 16 sekere mediese behandeling ontvang as die hof gemeen het dat die behandeling in die kind se  belang is. Maar ná hierdie beslissing kan ’n hof geen behandeling teen die wil van jongmense onder die ouderdom van 16 goedkeur sonder om hulle eers die kans te gee om te bewys dat hulle volwasse genoeg is om hulle eie besluite te neem nie.

“Die wete dat ek ’n klein aandeel daaraan gehad het om God se naam te probeer verheerlik en Satan ’n leuenaar te bewys, maak my werklik gelukkig”

24 Was die drie jaar lange stryd die moeite werd? April, wat nou ’n gewone pionier is en goeie gesondheid geniet, sê: “Ja! Die wete dat ek ’n klein aandeel daaraan gehad het om God se naam te probeer verheerlik en Satan ’n leuenaar te bewys, maak my werklik gelukkig.” April se ondervinding toon dat ons jongmense ’n moedige standpunt kan inneem en kan bewys dat hulle ware burgers van God se Koninkryk is.—Matt. 21:16.

Die vryheid om kinders volgens Jehovah se standaarde groot te maak

25, 26. Watter situasie ontstaan soms ná ’n egskeiding?

25 Jehovah gee ouers die verantwoordelikheid om hulle kinders volgens sy standaarde groot te maak (Deut. 6:6-8; Ef. 6:4). Hierdie toewysing is ’n uitdaging, maar dit kan selfs ’n groter uitdaging word in die geval van ’n egskeiding. Die ouers se beskouings oor die grootmaak van kinders, verskil dalk grootliks. Byvoorbeeld, ’n Getuie-ouer is vas oortuig dat ’n kind volgens Christelike standaarde grootgemaak moet word, terwyl ’n ouer wat nie ’n Getuie is nie, moontlik nie daarmee saamstem nie. Die Getuie-ouer moet natuurlik respekvol erken dat hoewel ’n egskeiding die huweliksband verbreek, die band tussen ouer en kind nog bestaan.

26 Die ouer wat nie ’n Getuie is nie, versoek die hof dalk om toesig oor die kind of kinders te kry sodat hy of sy hulle godsdiensopvoeding kan beheer. Party beweer dat dit vir ’n kind nadelig is om as een van Jehovah se Getuies grootgemaak te word. Hulle voer moontlik aan dat die kinders verjaarsdagvierings, feesdagvierings en, in ’n mediese noodgeval, ’n “lewensreddende” bloedoortapping ontsê sal word. Gelukkig neem die meeste howe die belange van die kind in ag in plaas daarvan om te oordeel of hulle die godsdiens van een ouer as nadelig beskou of nie. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

27, 28. Hoe het die Hooggeregshof van Ohio gereageer op die aantyging dat dit vir ’n kind nadelig is om as een van Jehovah se Getuies grootgemaak te word?

27 Verenigde State. In 1992 het die Hooggeregshof van Ohio ’n saak verhoor waarin ’n pa, wat nie ’n Getuie was nie, beweer het dat dit vir sy jong seun nadelig sou wees om as een van Jehovah se Getuies grootgemaak te word. ’n Laer hof het daarmee saamgestem en toesig oor die kind aan die pa toegeken. Die ma, Jennifer Pater, is besoekregte gegee, maar sy is beveel om “die kind nie oor die oortuigings van Jehovah [se] Getuies te leer of hom op enige manier daaraan bloot te stel nie”. Hierdie bevel van die laer hof was so omvattend dat dit geïnterpreteer kon word dat suster Pater nie eens met haar seun, Bobby, oor die Bybel of die sedelike standaarde daarin kon  praat nie! Kan jy jou voorstel hoe sy gevoel het? Jennifer was verpletterd, maar sy sê dat sy geleer het om geduldig te wees en op Jehovah te wag om op te tree. Sy sê: “Jehovah was altyd aan my sy.” Haar regsverteenwoordiger het met behulp van Jehovah se organisasie by die Hooggeregshof van Ohio appèl aangeteken.

28 Die Hof het nie met die beslissing van die laer hof saamgestem nie en het verklaar dat “ouers ’n grondwetlike reg het om hulle kinders op te voed, insluitende die reg om hulle sedelike standaarde en godsdienswaardes [aan hulle kinders] te leer”. Die Hof het gesê dat, tensy daar bewys kan word dat die godsdienswaardes wat deur Jehovah se Getuies voorgestaan word, die fisiese en geestesgesondheid van die kind benadeel, die hof geen reg het om ’n ouer se toesigregte op grond van godsdiens te beperk nie. Die Hof het geen bewyse gevind dat die Getuies se godsdiensoortuigings die fisiese of geestesgesondheid van die kind sal benadeel nie.

Talle howe het aan Christenouers toesig oor hulle kinders toegeken

29-31. Waarom het ’n suster in Denemarke toesig oor haar dogter verloor, en wat was die beslissing van die Deense Hooggeregshof in hierdie saak?

29 Denemarke. Anita Hansen het voor ’n soortgelyke uitdaging te staan gekom toe haar gewese man ’n hof versoek het om hom toesig oor die sewejarige Amanda te gee. Hoewel die distrikshof in 2000 toesig aan suster Hansen toegeken het, het Amanda se pa appèl aangeteken by ’n hoër hof, wat die distrikshof se beslissing nietig verklaar het en hom toesig oor  haar gegee het. Die hoër hof het geredeneer dat die pa in ’n beter posisie sou wees om konflikte te hanteer wat moontlik sou ontstaan weens die ouers se teenstrydige lewensbeskouings as gevolg van hulle godsdiensoortuigings. Kortom, suster Hansen het toesig oor Amanda verloor omdat sy een van Jehovah se Getuies is!

30 Gedurende hierdie beproewing het suster Hansen soms so wanhopig gevoel dat sy nie geweet het waarvoor om te bid nie. “Maar”, vertel sy, “die gedagtes in Romeine 8:26 en 27 was baie vertroostend. Ek het altyd gevoel dat Jehovah verstaan wat ek bedoel. Hy het sy oog op my gehou en was altyd daar vir my.”—Lees Psalm 32:8; Jesaja 41:10.

31 Suster Hansen het by die Hooggeregshof van Denemarke appèl aangeteken. Die Hof het in sy uitspraak gesê: “Die kwessie van toesig moet beslis word op grond van ’n deeglike ondersoek van wat in die kind se belang sal wees.” Verder het die Hof gesê dat die beslissing oor toesig gebaseer moet word op die manier waarop elke ouer konflik hanteer, nie op die “leerstellings en standpunte” van Jehovah se Getuies nie. Tot suster Hansen se groot verligting het die Hof haar bevoegdheid as ouer erken en haar weer toesig oor Amanda gegee.

32. Hoe het die Europese Hof van Menseregte Getuie-ouers teen diskriminasie beskerm?

32 Verskeie lande in Europa. In party gevalle is regstryde in verband met die toesig oor kinders verder geneem as die hoogste landshowe. Die Europese Hof van Menseregte (EHMR) het ook al sulke sake verhoor. In twee hofsake het die EHMR erken dat landshowe Getuie- en nie-Getuie-ouers verskillend behandel het bloot op grond van godsdiens. Die EHMR het gesê dat sulke behandeling diskriminerend is en het beslis dat “dit onaanvaarbaar is om ’n onderskeid te tref bloot op grond van ’n verskil in godsdiens”. ’n Getuiema wat by so ’n beslissing van die EHMR baat gevind het, was baie verlig en het gesê: “Dit het my so seergemaak dat ek daarvan beskuldig is dat ek my kinders benadeel, terwyl ek net probeer het om hulle te gee wat ek gedink het vir hulle die beste is—’n Christelike opvoeding.”

33. Hoe kan Getuie-ouers die beginsel in Filippense 4:5 toepas?

33 Getuie-ouers wat te staan kom voor wetlike uitdagings met betrekking tot hulle reg om Bybelstandaarde in die harte van hulle kinders in te skerp, probeer natuurlik redelikheid aan die dag lê. (Lees Filippense 4:5.) Net soos hulle die reg waardeer om hulle kinders in God se weg op te lei, erken hulle dat die ouer wat nie ’n Getuie is nie, ook in die ouerlike verantwoordelikhede deel, as hy of sy wil. Hoe ernstig beskou ’n Getuie-ouer die verantwoordelikheid om ’n kind op te lei?

34. Hoe kan Christenouers vandag by die voorbeeld van die Jode in Nehemia se dag baat vind?

34 ’n Voorbeeld uit Nehemia se dag is insiggewend. Die Jode het hard gewerk om die mure van Jerusalem te herstel en te herbou. Hulle het geweet dat dit hulle en hulle gesinne teen  die vyandelike nasies om hulle sou beskerm. Daarom het Nehemia hulle aangespoor: “Veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise” (Neh. 4:14). Vir daardie Jode was die stryd al die inspanning werd. Net so span ouers wat Jehovah se Getuies is, hulle vandag in om hulle kinders in die weg van die waarheid groot te maak. Hulle weet dat hulle kinders heeltyd by die skool en in die buurt aan onheilsame invloede blootgestel word. Sulke invloede kan selfs die huis deur middel van die media binnedring. Ouers, moet nooit vergeet dat dit al die inspanning werd is om vir julle seuns en dogters te stry nie sodat julle ’n veilige omgewing kan voorsien waarin hulle geestelik sal floreer.

Vertrou dat Jehovah ware aanbidding ondersteun

35, 36. Watter voordele geniet Jehovah se Getuies omdat ons vir ons wetlike regte gestry het, en wat is jy vasbeslote om te doen?

35 Jehovah het beslis die pogings van sy hedendaagse organisasie geseën in die stryd om godsdiensvryheid. Wanneer God se volk sulke regstryde gevoer het, kon hulle dikwels ’n kragtige getuienis in die hof en aan die algemene publiek gee (Rom. 1:8). ’n Bykomende voordeel van al hulle regsoorwinnings is dat hulle die burgerregte van baie mense wat nie Getuies is nie, bevestig het. Maar as God se knegte is ons nie maatskaplike hervormers nie; ons stel ook nie belang in selfregverdiging nie. Die vernaamste rede waarom Jehovah se Getuies vir hulle wetlike regte in die howe stry, is om rein aanbidding te bevestig en te bevorder.—Lees Filippense 1:7.

36 Mag ons nooit die lesse van geloof wat ons kan leer by diegene wat gestry het vir die reg om Jehovah vryelik te aanbid, as vanselfsprekend aanneem nie! Laat ons ook getrou bly, in die volle vertroue dat Jehovah ons werk ondersteun en voortgaan om ons die krag te gee om sy wil te doen.—Jes. 54:17.