Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VERHAAL 10

Die groot Vloed

Die groot Vloed

BUITE die ark het die mense net aangehou lewe soos voorheen. Hulle het nog steeds nie geglo dat die Vloed gaan kom nie. Hulle het seker meer as ooit gelag. Maar hulle het gou opgehou lag.

Skielik het water begin val. Dit het uit die lug gestort soos wanneer jy water uit ’n emmer gooi. Noag was reg! Maar dit was nou te laat vir enigiemand anders om in die ark in te gaan. Jehovah het die deur styf toegemaak.

Al die lae gebiede was gou oorstroom. Die water het soos groot riviere geword. Dit het bome omgestoot en groot klippe rondgerol en baie geraas gemaak. Die mense was bang. Hulle het na hoër grond geklim. O, hoe het hulle tog gewens dat hulle na Noag geluister het en in die ark ingegaan het toe die deur nog oop was! Maar nou was dit te laat.

Die water het al hoe hoër geword. Veertig dae en 40 nagte lank het die water uit die lug neergestort. Dit het teen die berge opgestoot, en selfs die hoogste berge was gou bedek. Al die mense en diere buite die ark het doodgegaan, net soos God gesê het. Maar almal binne-in die ark was veilig.

Noag en sy seuns het die ark goed gebou. Die water het dit opgelig, en dit het bo-op die water gedryf. Toe, eendag nadat die reën opgehou val het, het die son begin skyn. Wat ’n gesig was dit tog! Daar was oral net een groot see. En die enigste ding wat ’n mens kon sien, was die ark wat daarop gedryf het.

Die reuse was nou dood. Hulle sou mense nooit weer kon seermaak nie. Hulle het saam met hulle ma’s en al die ander slegte mense verdrink. Maar wat het met hulle pa’s gebeur?

Die reuse se pa’s was nie regtig mense soos ons nie. Hulle was engele wat afgekom het om soos mense op die aarde te lewe. Daarom het hulle nie saam met die res van die mense doodgegaan toe die Vloed gekom het nie. Hulle het opgehou om die menseliggame te gebruik wat hulle gemaak het en het as engele teruggegaan hemel toe. Maar hulle is nie meer toegelaat om deel te wees van God se gesin van engele nie. Hulle het toe die engele van Satan geword. In die Bybel word hulle demone genoem.

God het nou ’n wind laat waai, en die water van die Vloed het begin sak. Vyf maande later het die ark op die top van ’n berg tot rus gekom. Nog baie dae het verbygegaan, en die mense in die ark kon uitkyk en die toppe van die berge sien. Die water het al hoe laer gesak.

Toe het Noag ’n swart voël wat ’n raaf genoem word, uit die ark gestuur. Dit het ’n paar keer ’n ruk lank weggevlieg en dan weer teruggekom, want dit kon nie ’n plek kry om te gaan sit nie. Dit het aangehou om dit te doen, en elke keer as dit teruggekom het, het dit op die ark kom sit.

Noag wou sien of die water van die aarde af weggevloei het, en daarom het hy toe ’n duif uit die ark gestuur. Maar die duif het ook teruggekom omdat dit nie ’n plek kon kry om te bly nie. Noag het dit ’n tweede keer uitgestuur, en dit het teruggekom met ’n olyfblaar in sy snawel. Toe het Noag geweet dat die water gesak het. Noag het die duif ’n derde keer uitgestuur, en uiteindelik het dit ’n droë plek gekry waar dit kon bly.

God het toe met Noag gepraat. Hy het gesê: ‘Gaan uit die ark uit. Vat jou hele gesin en die diere saam met jou.’ Hulle was meer as ’n jaar lank in die ark. Dink net hoe bly hulle was om weer buite te kom en om nog te lewe!