Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 LES 36

Jefta se belofte

Jefta se belofte

Die Israeliete het weer opgehou om Jehovah te dien en valse gode begin aanbid. Toe die Ammoniete die Israeliete aanval en teen hulle veg, het hierdie valse gode hulle glad nie gehelp nie. Die Israeliete het jare lank swaargekry. Uiteindelik het hulle vir Jehovah gesê: ‘Ons het gesondig. Red ons asseblief van ons vyande.’ Die Israeliete het hulle afgode vernietig en Jehovah weer begin aanbid. Jehovah wou nie hê dat hulle moes aanhou swaarkry nie.

’n Soldaat met die naam Jefta is gekies om die volk in die geveg teen die Ammoniete te lei. Hy het vir Jehovah gesê: ‘As u ons help om hierdie geveg te wen, belowe ek om die eerste persoon wat uitkom om my te groet wanneer ek weer by die huis  kom, vir u te gee.’ Jehovah het na Jefta se gebed geluister en hom gehelp om die geveg te wen.

Toe Jefta by die huis kom, was sy dogter—sy enigste kind—die eerste persoon wat uitgekom het om hom te kom groet. Sy het gedans en op ’n tamboeryn gespeel. Wat sou Jefta doen? Hy het sy belofte aan Jehovah onthou en gesê: ‘Ag nee, my dogter! Jy het my hart gebreek. Ek het ’n belofte aan Jehovah gemaak. Daarom moet ek jou na die tabernakel in Silo stuur om daar te dien.’ Maar sy dogter het vir hom gesê: ‘Pa, as pa ’n belofte aan Jehovah gemaak het, moet pa daarby bly. Maar ek sal graag twee maande lank saam met my vriendinne na die berge toe wil gaan. Daarna sal ek na Silo gaan.’ Jefta se dogter het getrou gedien by die tabernakel vir die res van haar lewe. Haar vriendinne het elke jaar vir haar in Silo gaan kuier.

“Wie meer geheg is aan sy seun of sy dogter as aan my, verdien nie om my dissipel te wees nie.”—Matteus 10:37