Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 DEEL 15

’n Profeet in ballingskap kry vooruitskouings op die toekoms

’n Profeet in ballingskap kry vooruitskouings op die toekoms

Daniël profeteer oor God se Koninkryk en die koms van die Messias. Babilon val

DANIËL, ’n jongmens met merkwaardige onkreukbaarheid, is in ballingskap na Babilon weggevoer voordat Jerusalem vernietig is. Hy en sommige ander Jode—ballinge uit die verowerde koninkryk van Juda—is ’n mate van vryheid gegee deur hulle gevangenemers. Gedurende sy lang lewe in Babilon is Daniël grootliks deur God geseën; hy het selfs in ’n leeukuil aan die dood ontkom en visioene ontvang wat hom ver in die toekoms laat sien het. Daniël se belangrikste profesieë het oor die Messias en Sy heerskappy gehandel.

Daniël vind uit wanneer die Messias sou verskyn. Daar is vir Daniël gesê wanneer God se volk die koms van “Messias die Leier” kon verwag—69 weke van jare ná die bevel om die mure van Jerusalem te herstel en te herbou. ’n Gewone week bestaan uit sewe dae; ’n week van jare bestaan uit sewe jaar. Daardie bevel is lank ná Daniël se tyd gegee, naamlik in 455 VHJ. Die 69 “weke”, wat toe begin het, het 483 jaar geduur en in die jaar 29 HJ geëindig. In die volgende deel van hierdie publikasie sal ons sien wat in daardie jaar gebeur het. Daniël het ook vooruitgesien dat die Messias “uitgeroei”, of tereggestel, sou word vir die versoening van sonde.—Daniël 9:24-26.

Die Messias sou Koning in die hemel word. In ’n buitengewone visioen van die hemel self het Daniël die Messias, na wie verwys word as “iemand soos ’n seun van die mens”, na die troon van Jehovah sien kom. Jehovah het “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk” aan hom gegee. Hierdie Koninkryk sou vir ewig duur. Daniël het nog ’n opwindende feit oor die Messiaanse Koninkryk geleer—die Koning sou sy heerskappy deel met ander, ’n groep wat “die heiliges van die Opperwese” genoem word.—Daniël 7:13, 14, 27.

Die Koninkryk sal die regerings van hierdie wêreld vernietig. God het Daniël in staat gestel om ’n droom uit te lê wat Nebukadnesar, die koning van Babilon, dronkgeslaan het. Die koning het ’n reusagtige beeld gesien met ’n kop van goud, bors en arms van silwer, maag en dye van koper, bene van yster en voete van yster gemeng met klei. ’n Klip wat uit ’n berg gekap is, het die brose voete getref en die beeld tot poeier verbrysel. Daniël het verduidelik dat die dele van die beeld ’n lang opeenvolging van wêreldmoondhede voorgestel het, wat met Babilon as die kop van goud begin het. Daniël het vooruitgesien dat God se Koninkryk in die tyd van die laaste regeringsmagte van hierdie goddelose wêreld sal optree. Dit sal al die regerings van hierdie wêreld verbrysel. Dan sal dit vir ewig heers.—Daniël, hoofstuk 2.

Daniël het as ’n baie ou man die val van Babilon gesien. Koning Kores het die stad verower net soos die profete voorspel het. Kort daarna is die Jode uiteindelik uit hulle ballingskap bevry—presies op tyd, ná die voorspelde 70 jaar waartydens hulle vaderland woes sou lê. Onder leiding van getroue goewerneurs, priesters en profete het die Jode uiteindelik Jerusalem herbou en die tempel van Jehovah herstel. Maar wat sou gebeur nadat die 483 jaar verloop het?

—Gebaseer op die boek Daniël.