Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 DEEL 13

Goeie konings en slegte konings

Goeie konings en slegte konings

Israel word verdeel. Met verloop van tyd heers baie konings oor die Israeliete, en die meeste van hulle is ontrou. Jerusalem word deur die Babiloniërs vernietig

NET soos Jehovah voorspel het, is Israel verdeel nadat Salomo rein aanbidding versaak het. Sy seun en opvolger, Rehabeam, was hardvogtig. In reaksie hierop het tien van Israel se stamme in opstand gekom en die noordelike koninkryk van Israel gevorm. Twee stamme het lojaal gebly aan die koning op Dawid se troon in Jerusalem en het die suidelike koninkryk van Juda uitgemaak.

Albei koninkryke het ’n onstuimige geskiedenis gehad, hoofsaaklik weens ontroue en ongehoorsame konings. Israel het nog slegter as Juda gevaar, want sy konings het van die begin af valse aanbidding bevorder. Ondanks die kragtige werke van profete soos Elia en Elisa—wat albei selfs dooies opgewek het—het Israel bly terugkeer na ’n goddelose weg. Uiteindelik het God toegelaat dat die noordelike koninkryk deur Assirië vernietig word.

Juda het net meer as ’n eeu langer as Israel voortbestaan, maar ook hulle sou deur God gestraf word. Slegs ’n paar Judese konings het ag geslaan op die waarskuwings van God se profete en die nasie na Jehovah probeer teruglei. Koning Josia het Juda byvoorbeeld van valse aanbidding begin reinig en Jehovah se tempel herstel. Toe ’n oorspronklike eksemplaar van God se Wet wat deur middel van Moses gegee is, gevind is, het dit Josia diep getref en het hy gevolglik sy hervormingsveldtog verskerp.

Maar ongelukkig het Josia se opvolgers nie dié koning se goeie voorbeeld gevolg nie. Jehovah het dus toegelaat dat die Babiloniërs Juda verower en Jerusalem en sy tempel vernietig. Die oorlewendes is in ballingskap na Babilon weggevoer. God het voorspel dat die ballingskap 70 jaar sou duur. Juda het gedurende hierdie hele tyd woes gelê—totdat die nasie, soos belowe is, toegelaat is om na hulle eie land terug te keer.

Maar geen konings in Dawid se geslagslyn sou meer heers tot die heerskappy van die beloofde Verlosser, die voorspelde Messias, nie. Die meeste van die konings wat op Dawid se troon in Jerusalem gesit het, het bewys dat onvolmaakte mense nie bevoeg is om te heers nie. Net die Messias sou werklik bevoeg wees. Jehovah het dus vir die laaste van hierdie Dawidiese konings gesê: “Haal die kroon af. . . . Dit sal beslis niemand s’n word nie totdat hy kom wat die wetlike reg het, en ek sal dit aan hom gee.”—Esegiël 21:26, 27.

—Gebaseer op 1 Konings; 2 Konings; 2 Kronieke hoofstukke 10 tot 36; Jeremia 25:8-11.