Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 VRAAG 1

Hoe het lewe begin?

Hoe het lewe begin?

Het jy as kind ooit jou ouers verbaas met die vraag: “Waar kom babas vandaan?” Hoe het hulle gereageer? Afhangende van jou ouderdom en hulle persoonlikheid het jou ouers moontlik die vraag geïgnoreer of vir jou ’n kort, verleë antwoord gegee. Of dalk het hulle vir jou verbeeldingryke stories vertel wat jy later uitgevind het nie waar is nie. Om behoorlik voorbereid te wees vir volwassenheid en die huwelik, moet ’n kind natuurlik vroeër of later van die wonders van geslagtelike voortplanting leer.

Net soos baie ouers verleë voel om te praat oor waar babas vandaan kom, wil party wetenskaplikes blykbaar nie ’n selfs fundamenteler vraag bespreek nie—Waar het lewe vandaan gekom? ’n Geloofwaardige antwoord op hierdie vraag kan ’n groot invloed op ’n persoon se beskouing van die lewe hê. Hoe het lewe dus begin?

’n Bevrugte menslike eiersel, omtrent 800 keer vergroot

Wat beweer baie wetenskaplikes? Baie wat in evolusie glo, sal vir jou sê dat lewe miljarde jare gelede op die rand van ’n getypoel of diep in die oseaan begin het. Hulle meen dat chemiese stowwe hulle êrens op so ’n plek spontaan tot borrelrige strukture saamgevoeg het, komplekse molekules gevorm het en begin repliseer het. Hulle glo dat alle lewe op aarde toevallig uit een of meer van hierdie “eenvoudige” oorspronklike selle ontstaan het.

Ander ewe gerespekteerde wetenskaplikes stem nie saam nie. Hulle meen dat die eerste selle, of ten minste hulle vernaamste komponente, vanuit die buitenste ruimte op die aarde beland het. Waarom? Omdat wetenskaplikes, ten spyte van alle pogings, nie kon bewys dat lewe spontaan uit lewelose molekules kan ontstaan nie. In 2008 het Alexandre Meinesz, ’n biologieprofessor, die aandag op die dilemma gevestig. Hy het gesê dat daar in die afgelope 50 jaar  “geen proefondervindelike bewyse gevind is ter ondersteuning van die hipotese dat lewe op Aarde spontaan uit niks anders as ’n molekulêre sop verskyn het nie, en geen betekenisvolle vooruitgang in wetenskaplike kennis lei ons in hierdie rigting nie.”1

Wat toon die bewyse? Die antwoord op die vraag: Waar kom babas vandaan? is goed gedokumenteer en kan nie betwis word nie. Lewe spruit altyd voort uit reeds bestaande lewe. Maar is dit moontlik dat hierdie fundamentele wet wel verbreek is as ons net ver genoeg teruggaan in die verlede? Kon lewe werklik spontaan uit lewelose chemiese stowwe ontstaan het? Wat is die kans dat so iets kon gebeur het?

Navorsers het uitgevind dat ’n sel net aan die lewe kan bly as ten minste drie soorte komplekse molekules saamwerk—DNS (deoksiribonukleïensuur), RNS (ribonukleïensuur) en proteïene. Vandag sal min wetenskaplikes beweer dat ’n volledige lewende sel skielik en toevallig uit ’n mengsel van lewelose chemiese stowwe ontstaan het. Maar hoe groot is die kans dat RNS of proteïene toevallig kon ontstaan het? *

Stanley Miller, 1953

Baie wetenskaplikes meen dat lewe toevallig kan ontstaan weens ’n eksperiment wat die eerste keer in 1953 gedoen is. In daardie jaar het Stanley L. Miller daarin geslaag om ’n aantal aminosure, die chemiese boustene van proteïene, voort te bring deur elektrisiteit deur ’n gasmengsel te stuur wat vermoedelik ’n nabootsing van die atmosfeer van die oeraarde was. Sedertdien is daar ook aminosure in ’n meteoriet gevind. Beteken hierdie bevindings dat al die basiese boustene van lewe maklik per toeval kan ontstaan?

“Party skrywers”, sê Robert Shapiro, * emeritusprofessor in chemie aan die Universiteit van New York, “het aangeneem dat al die boustene van lewe maklik in eksperimente soos dié van Miller voortgebring kan word en in meteoriete teenwoordig is. Dit is nie die geval nie.”2 *

Beskou die RNS-molekule. Dit is saamgestel uit kleiner molekules wat nukleotiede genoem word. ’n Nukleotied is ’n ander soort molekule as ’n aminosuur en is net ietwat komplekser. Volgens Shapiro “het niemand nog melding gemaak van enige nukleotiede wat as gevolg van vonkontladingseksperimente ontstaan het of in studies van meteoriete gevind is nie”.3 Hy sê verder dat die kans dat ’n selfrepliserende RNS-molekule toevallig uit ’n poel chemiese boustene sou vorm, “so ontsettend klein is dat dit, al sou dit net een keer êrens in die sigbare heelal plaasvind, as ’n buitengewone gelukslag gereken sou word”.4

RNS (1) is nodig om proteïene te maak (2), maar proteïene is betrokke by die vervaardiging van RNS. Hoe kon enigeen van die twee dan toevallig ontstaan het, wat nog te sê albei? Ribosome (3) sal in deel 2 bespreek word

Wat van proteïenmolekules? Dit kan bestaan uit net 50 of uit etlike duisende aminosure wat in ’n baie spesifieke volgorde aaneengeskakel is. Die gemiddelde  funksionele proteïen in ’n “eenvoudige” sel bevat 200 aminosure. Selfs in hierdie selle is daar duisende verskillende soorte proteïene. Die kans dat net een proteïen wat slegs 100 aminosure bevat, ooit toevallig op die aarde kan vorm, is bereken op een uit duisendbiljoen.

As die vaardigheid van ’n wetenskaplike nodig is om komplekse molekules in die laboratorium voort te bring, kon die baie komplekser molekules in ’n sel dan werklik toevallig ontstaan het?

Die navorser Hubert P. Yockey, wat die evolusieleer ondersteun, gaan nog verder. Hy sê: “Dit is onmoontlik dat die oorsprong van lewe ‘eers proteïene’ was.”5 RNS is nodig om proteïene te maak, maar proteïene is betrokke by die vervaardiging van RNS. Sê nou die hoogs onwaarskynlike het gebeur en proteïene sowel as RNS-molekules het wel gelyktydig op dieselfde plek verskyn? Hoe waarskynlik sou dit gewees het dat hulle sou saamwerk om ’n selfrepliserende, selfonderhoudende lewensvorm voort te bring? “Die kans dat dit toevallig sou gebeur (met ’n willekeurige mengsel van proteïene en RNS), lyk astronomies klein”, sê dr. Carol Cleland *, ’n lid van die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie se Instituut vir Ruimtebiologie. “Maar”, sê sy, “die meeste navorsers neem blykbaar aan dat as hulle kan verstaan hoe proteïene en RNS onder natuurlike oertoestande onafhanklik van mekaar kon ontstaan het, die koördinasie op die een of ander wyse vanself verklaar sal word.” Aangaande die huidige teorieë oor hoe hierdie boustene van lewe toevallig kon ontstaan het, sê sy: “Nie een daarvan het ons ’n baie bevredigende verduideliking gegee van hoe dit gebeur het nie.”6

As ’n intelligente wese nodig is om ’n lewelose robot te maak en te programmeer, wat sal dan nodig wees om ’n lewende sel te maak, wat nog te sê ’n mens?

Waarom is hierdie feite belangrik? Dink aan die uitdaging wat navorsers in die gesig staar wat meen dat lewe toevallig ontstaan het. Hulle het ’n paar aminosure gevind wat ook in lewende selle voorkom. In hulle laboratoriums het hulle, deur middel van noukeurig beplande en gerigte eksperimente, ander komplekser molekules voortgebring. Hulle hoop om uiteindelik al die dele voort te bring wat nodig is om ’n “eenvoudige” sel te bou. Hulle situasie kan vergelyk word met dié van ’n wetenskaplike wat van natuurlik voorkomende elemente staal, plastiek, silikoon en draad maak en ’n robot bou. Dan programmeer hy dit sodat die robot duplikate van homself kan maak. Wat sal hy hierdeur bewys? Hoogstens dat ’n intelligente wese ’n indrukwekkende masjien kan maak.

As wetenskaplikes ooit ’n sel sou bou, sal hulle ook iets baie verbasends doen —maar sal hulle bewys dat die sel toevallig kon ontstaan het? Hulle sal eintlik presies die teendeel bewys, nie waar nie?

Wat dink jy? Alle wetenskaplike bewyse tot op hede toon dat lewe net uit reeds bestaande lewe kan voortspruit. Om te glo dat selfs ’n “eenvoudige” lewende sel toevallig uit lewelose chemiese stowwe ontstaan het, verg blinde geloof.

Is jy, in die lig van die feite, bereid om sulke geloof te toon? Voordat jy hierdie vraag beantwoord, ondersoek eers die manier waarop ’n sel gemaak word. Dit sal jou help onderskei of die teorieë van party wetenskaplikes oor waar lewe vandaan gekom het, redelik is en of dit so vergesog is soos die stories wat party ouers hulle kinders vertel oor waar babas vandaan kom.

^ par. 8 Die kans dat DNS toevallig kon ontstaan het, sal bespreek word in deel 3: “Waar het die instruksies vandaan gekom?

^ par. 10 Professor Shapiro glo nie dat lewe geskep is nie. Hy glo dat lewe toevallig ontstaan het op ’n manier wat nog nie ten volle verstaan word nie.

^ par. 10 In 2009 het wetenskaplikes van die Universiteit van Manchester, Engeland, gesê dat hulle ’n aantal nukleotiede in hulle laboratorium gemaak het. Maar Shapiro sê van hulle metode: “Dit voldoen beslis nie aan my kriteria vir ’n geloofwaardige weg na die RNS-wêreld nie.”

^ par. 13 Dr. Cleland is nie ’n aanhanger van die skeppingsleer nie. Sy glo dat lewe toevallig ontstaan het op ’n manier wat nog nie ten volle verstaan word nie.