Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Duitsland: Openbare getuieniswerk met ’n lektuurtrollie by ’n vlugtelingkamp

 GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

Nuus van regoor die wêreld

Nuus van regoor die wêreld

Vlugtelinge en immigrante hoor die goeie nuus

In Duitsland is daar ’n groot vermeerdering onder die vlugtelinge en immigrante wat die land binnegekom het. Oor ’n tydperk van nege maande is daar 229 groepe en tentatiewe groepe in ander tale gevorm. Ongeveer 800 verkondigers woon omtrent 30 taalkursusse in 13 tale by.

Die broers preek by vlugtelingsentrums. Lektuurtrollies word op meer as 200 plekke gebruik en die broers het al omtrent 640 000 items geplaas.

Die Bestuursliggaam het ’n spesiale predikingskampanje van Mei tot Julie 2016 goedgekeur. Omtrent 700  Arabies-sprekende verkondigers uit sewe lande het na tien plekke in Oostenryk en Duitsland gegaan om vir mense te gaan preek wat Arabies praat.

Hulle tel kleingeld op

Die 50 verkondigers in die Kriol-gemeente in Faber’s Road, Belize, loop gewoonlik na hulle gebied toe om velddiens te doen. Die meeste van die broers is maar arm, maar hulle probeer altyd om vrygewig te wees. ’n Paar jaar gelede het die broers begin om kleingeld op te tel terwyl hulle velddiens doen. Aan die einde van elke jaar het hulle die muntstukke gewas en getel.

Hoewel die meeste van die muntstukke min werd is, het hulle elke jaar op die manier omtrent R3 270 bymekaargemaak. Die broers het die helfte van die geld gebruik om van die gemeente se uitgawes te dek en die res het hulle vir die wêreldwye werk gegee.

Viermiljoen luisteraars!

Broer Anthony Griffin, ’n verteenwoordiger van die hoofkwartier, het die takkantoor in Burundi besoek. Op 5 Maart 2016 is ’n spesiale program vir al die gemeentes oor die radio uitgesaai. Daar word geskat dat omtrent viermiljoen mense na die program geluister het. Dit was een van die hoogtepunte in die teokratiese geskiedenis van Burundi!

Die radio-uitsending was ’n groot getuienis en mense het dit baie geniet. Een van die mense wat by die radiostasie gewerk het, het gesê: “Julle moet nog sulke programme uitsaai!” En iemand anders het gesê: “Hou aan om sulke programme uit te saai. Julle sal baie siele red.”  Busse en taxi’s het die program oor hulle radio’s gespeel.

Die musiek het opgehou

Die broers in ’n afgesonderde gebied in Nepal het ’n dag voor die Gedenkmaal in 2016 gehoor dat daar ’n groot musiekkonsert langs die saal wat hulle gehuur het, gehou gaan word.

Sulke konserte se musiek is gewoonlik oorverdowend. Die oggend van die Gedenkmaal terwyl die broers die saal skoongemaak het, het die organiseerder van die konsert gesê: “Julle gaan net ons musiek hoor.”

Die konsert het in die middag begin, en dit was oorverdowend. Die broers het ’n groter luidspreker gaan huur, maar toe hulle die klank toets, kon hulle hulle klankstelsel nie eers hoor nie. Die broers was raadop, maar hulle het ernstig oor die saak gebid. ’n Halfuur voor die Gedenkmaal moes begin, het die musiek ewe skielik opgehou. ’n Geveg het uitgebreek tussen ’n klomp mense wat gedrink het en die polisie het die konsert stopgesit. Die broers kon die Gedenkmaal in vrede en stilte hou.

“Die beste webwerf in die wêreld!”

Giuseppe is ’n gewone pionier in Italië. Hy werk van die huis af vir ’n Internet-firma. In Mei 2016 het hy en omtrent 70 van sy kollegas ’n vergadering bygewoon waar hulle nuwe idees vir die firma bespreek het. Die maatskappy se hoofbestuurder het gesê dat party webwerwe goeie voorbeelde is van wat hulle wil probeer doen. Hy het toe na ’n voorbeeld op die skerm gewys.  Giuseppe was verstom om die tuisblad van jw.org op die skerm te sien. Die bestuurder het gesê: “Dit is die beste webwerf in die wêreld!” Hy het toe ’n paar tegniese aspekte van jw.org bespreek. Hy het gehou van hoe maklik die skakels gevind kan word en die treffende gebruik van prente.

“My kollegas was verstom oor die aantal tale waarin die webwerf beskikbaar is”, vertel Giuseppe. “Na die aanbieding het een van my kollegas vir almal vertel dat ek een van Jehovah se Getuies is. Toe sê die hoofbestuurder vir my: ‘Julle organisasie moet geprys word. Julle het ’n webwerf ontwerp waarop enige firma of organisasie in die wêreld trots kan wees. Ek kan my net voorstel hoe baie werk dit is om dit op datum te hou en  hoe baie aandag daar aan die inhoud en besonderhede geskenk moet word.’ Ek was ’n bietjie verleë om geprys te word vir iets wat ek nie gedoen het nie. Ek was baie bly dat die webwerf ’n getuienis kon lewer aan mense wat niks van Jehovah se Getuies geweet het nie. Ek praat nou gereeld met party van my kollegas oor die Bybel en het selfs ’n Bybelstudie met drie van hulle begin.” Die firma waar Giuseppe werk, “bestudeer” nog steeds jw.org en Giuseppe bespreek nog steeds die Bybel met sy kollegas.

Hy het ‘nee’ gesê vir sokker

Argentinië: Jorge speel sokker saam met die broers

Jorge woon in Argentinië. In 2010 het Jorge vir die eerste keer van die goeie nuus by ’n klasmaat gehoor. Hy het die Bybel begin studeer uit die boek Wat leer die Bybel werklik? Hy was ook ’n goeie sokkerspeler en is gekies om vir ’n groot sokkerklub te gaan speel. In April 2014 het hy ’n aanloklike aanbod gekry om vir ’n span in Duitsland te gaan speel. Hy was so opgewonde om ’n professionele sokkerspeler te word dat hy die aanbod aanvaar het. ’n Paar dae voordat Jorge na Europa sou vertrek het, het sy afrigter vir hom gesê: “Jy is mos een van Jehovah se Getuies? Moenie jou lewe oorsee gaan opmors nie. Toe ek jonk was, was ek ook ’n Getuie. Ek het vir ’n span in Asië gaan speel. Hulle het my baie dinge belowe en dit het vir my wonderlik geklink. Ek en my gesin het soontoe gegaan, maar ons het baie teleurgesteld teruggekom.” Jorge sê: “Sy woorde het my diep getref en ek het besluit om nie Europa toe te gaan nie. In 2015 het ek ’n verkondiger van die goeie nuus geword, en is ek gedoop.”

’n Ware seën wat niks gekos het nie

In September 2015 was die “Volg Jesus na!”-streekbyeenkoms in Kampala, Uganda, gehou. Daar was baie opgewondenheid toe Mark Sanderson van die Bestuursliggaam die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Luganda vrygestel het.

Een Bybelstudent het gesê: “Ek was so bly om hierdie Bybel te kry! Dit was dieselfde tyd toe die mense voorbereidings vir die pous se besoek getref het. Om geld in te samel, is ‘geseënde’ bidsnoere vir R433 verkoop. Baie wou hierdie ‘geseënde’ bidsnoere hê, maar hulle het nie die geld gehad nie. Maar ek het ’n ware seën gekry wat niks gekos het nie. Jehovah het dit aan almal gegee wat die byeenkoms bygewoon het, en ons kon elkeen ’n vrywillige bydrae gee. Ek lees elke dag uit Jehovah se Woord in my eie taal. Ek leer meer van Jehovah, en dit is ’n ware seëning. Ek dank Jehovah vir my eie Bybel.”

Drukwerk van die Duiwel?

Party kerkleiers in die omgewing van Kongo (Kinshasa) het gesê dat die publikasies van Jehovah se Getuies deur die Duiwel gedruk word in ’n poging om twyfel te saai oor die webwerf www.jw.org. Hulle het gesê dat die letters “www” ooreenstem met die nommer 666 in die boek Openbaring (Op. 13:18). Party mense wou as gevolg hiervan nie meer die Bybel studeer nie.

’n Pionieregpaar het oor die saak gebid. Hulle het hulle Bybelstudente vir ’n ete uitgenooi. Drie paartjies het die uitnodiging aanvaar. Nadat hulle geëet het, het die broer en sy vrou die video Jehovah se Getuies—Georganiseer om die goeie nuus te verkondig vir hulle gewys. Hierdie  video het hulle gehelp om te sien dat dit wat hulle gehoor het, onwaar was. Die volgende week het die man van een van hierdie Bybelstudente ’n bydrae van R1 445 vir die wêreldwye werk gegee, al het hy self nog nie die Bybel gestudeer nie.

Hulle leer die nuwe liedere

Broers in ’n afgeleë deel van Papoea-Nieu-Guinee het geen toegang tot die Internet nie, maar hulle wil baie graag die nuwe Koninkryksliedere leer. Die gemeente in Mundip stuur ’n broer na die naaste dorp wat ongeveer twee ure te voet en nog twee ure per bus is. Die broer skryf die woorde van die nuwe liedere in ’n notaboekie neer. By die Koninkryksaal skryf hy die woorde op die swartbord en dan skryf die gemeente die woorde af. Hulle geniet dit om ook die nuwe liedere te sing as deel van hulle aanbidding van Jehovah, net soos die broers regoor die wêreld.