Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

’n Vergadering in 1989 aan die kus naby Soechoemi

 GEORGIË | 1924-1990

Die eerste waarheidsoekers

Die eerste waarheidsoekers

 SEDERT die 1920’s het die Bybelstudente hard gewerk om opregte waarheidsoekers in Georgië te bereik. In 1924 is ’n kantoor in Beiroet, Libanon, oopgemaak om die predikingswerk te rig in die gebied wat Armenië, Georgië, Sirië en Turkye ingesluit het.

Hoewel ’n paar saadjies van waarheid gedurende daardie tyd in Georgië gesaai is, kon die resultate daarvan nie dadelik gesien word nie (Matt. 13:33). Maar met verloop van tyd het die Koninkryksboodskap versprei, en dit het groot veranderinge in die lewe van baie mense in Georgië gebring.

Hy wou graag geregtigheid hê

Vaso Kweniasjwili was ’n tiener toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Omdat Georgië deel was van  die Sowjetunie, is sy pa kort voor lank opgeroep om in die Sowjet-weermag te dien. Teen daardie tyd was Vaso se ma al oorlede. Vaso was die oudste kind en het begin steel om in sy behoeftes en dié van sy broers en suster te voorsien.

Vaso het deel van ’n bende geword en was uiteindelik baie betrokke by georganiseerde misdaad. Hy sê: “Ek het gedink dat daar meer geregtigheid in die misdaadwêreld is as in die regering of in die gemeenskap.” Maar Vaso het gou besef dat hy na iets soek wat mense hom nie kon gee nie. Hy sê: “Ek wou graag geregtigheid hê.”

Vaso Kweniasjwili in 1964, kort nadat hy uit die tronk vrygelaat is

Vaso is uiteindelik vir sy kriminele bedrywighede in hegtenis geneem en na ’n strafkamp in Siberië gestuur. Hy het daar een van Jehovah se Getuies ontmoet, wat vir  sy geloof opgesluit was. Vaso vertel: “Ek het uiteindelik gevind waarna ek gesoek het. Hoewel ons nie lektuur gehad het nie, het ek my bes gedoen om te onthou wat die broer my geleer het.”

Toe Vaso in 1964 vrygelaat is, het hy na Georgië teruggekeer en na die Getuies gesoek. Intussen het hy deur middel van briewe in kontak gebly met die broer wat saam met hom ’n gevangene was. Maar ongelukkig het sy getroue vriend gesterf en toe het Vaso alle kontak met God se volk verloor. Hy moes toe amper twee dekades lank wag voordat hy weer die Getuies gevind het. Ons sal later uitvind wat met hom gebeur het.

Moeilike tye wat tot seëninge gelei het

’n Vergadering in die woud

Dit het vir Valentina Miminosjwili, ’n jong Georgiese vrou, tot groot seëninge gelei toe sy in ’n Nazi-konsentrasiekamp gevange gehou is. Sy het daar Jehovah se  Getuies vir die eerste keer ontmoet. Hulle sterk geloof het haar baie beïndruk. Wat hulle haar uit die Bybel geleer het, het haar hart diep geraak.

Toe Valentina ná die oorlog huis toe gegaan het, het sy ander vertel wat sy geleer het. Maar haar bedrywighede het kort voor lank die aandag getrek van die plaaslike owerheid. Hulle het haar vir tien jaar na ’n strafkamp in Rusland gestuur. Daar het sy weer met Jehovah se Getuies in kontak gekom en is later gedoop.

Nadat Valentina in 1967 vrygelaat is, het sy na Wes-Georgië getrek waar sy gepreek het sonder om aandag te trek. Min het sy besef dat sy kort voor lank die antwoord op ’n innige gebed sou word.

Jehovah verhoor haar gebede

In 1962 het suster Antonina Goedadze van Siberië na Georgië getrek omdat haar ongelowige man besluit het om na sy tuisland terug te keer. Antonina, wat oorspronklik van Siberië kom, het die waarheid leer ken deur Getuies wat daarheen verban is. Omdat sy toe in Khashuri, ’n stad in Oos-Georgië, gewoon het, was sy ver van haar medegelowiges.

Die Goedadze-gesin in die 1960’s

Antonina dink terug aan hoe Jehovah haar gebede verhoor het en sê: “Eendag het my ma vir my ’n pakkie uit Siberië gestuur. Sy het Bybellektuur in die pakkie weggesteek. Op hierdie manier het ek ses jaar lank geestelike voedsel ontvang. Elke keer het ek vir Jehovah dankie gesê vir sy geestelike leiding, aanmoediging en sorg.”

Maar Antonina was alleen. Sy sê: “Ek het Jehovah aanhou vra dat ek weer by my broers en susters kan  wees. Eendag het twee vroue by die winkel ingekom waar ek gewerk het. Hulle het my gevra: ‘Is jy Antonina?’ Hulle vriendelikheid het my oortuig dat hulle my geestelike susters is. Ons het mekaar drukkies gegee en in trane uitgebars.”

Valentina Miminosjwili was een van die susters. Antonina was baie opgewonde toe sy uitvind dat daar vergaderinge in Wes-Georgië gehou word! Sy het een keer per maand na die vergaderinge gegaan, al was dit meer as 300 kilometer van haar huis af.

Die waarheid versprei in Wes-Georgië

In die 1960’s wou party Getuies wat deur die regering in ander dele van die Sowjetunie vervolg is, na plekke trek waar toestande beter was. Wladimir Gladjoek, ’n ywerige en lewenslustige broer, was een van hulle. In 1969 het hy van die Oekraïne na die stad Zoegdidi, in Wes-Georgië, getrek.

Lioeba en Wladimir Gladjoek

Dié wat na Georgië gekom het, het die vergaderinge eers in Russies gehou. Maar omdat al hoe meer  Georgiërs die vergaderinge gereeld begin bywoon het, is die vergaderinge later in Georgies gehou. Die dissipelmaakwerk was so suksesvol dat 12 mense van die gebied in Augustus 1970 gedoop is.

In die lente van 1972 het Wladimir en sy gesin verder wes na die stad Soechoemi aan die kus van die Swartsee getrek. Wladimir verduidelik: “Ons het geestelik ryk gevoel en was dankbaar dat Jehovah ons geseën het. Die gemeente daar het baie vinnig gegroei.” Die eerste Gedenkmaal wat daardie lente in Soechoemi gehou is, is deur 45 persone bygewoon.

“Ek het met my hele hart en siel geluister”

Baboetsa Jejelawa, wat nou in haar 90’s is, was een van die eerste mense wat vroeg in 1973 in Soechoemi die waarheid aanvaar het. Sy sê: “Eendag het ek gehoor  hoe vier vroue ’n lewendige gesprek het. Twee van hulle was nonne, en die ander twee, soos ek later ontdek het, was Getuies van Jehovah.” Die een suster was Wladimir Gladjoek se vrou, Lioeba, en die ander suster was Itta Soedarenko, ’n baie ywerige pionier van die Oekraïne.

Baboetsa Jejelawa in 1979 en 2016

Baboetsa onthou hoe sy gevoel het terwyl sy die gesprek afgeluister het en sê: “Ek het met my hele hart en siel geluister.” Toe sy hoor dat God ’n persoonlike naam het, het sy dadelik aan die gesprek begin deelneem en gevra om dit in die Bybel te sien. Sy het soveel vrae gevra dat die gesprek drie uur lank aangehou het.

Baboetsa was bang dat sy nie die Getuies weer sou sien nie, en daarom het sy gevra: “Gaan julle my nou net hier los?”

Die susters het geantwoord: “Nee, ons sal jou nie los nie. Ons sal volgende Saterdag terugkom.”

Toe die twee susters die volgende Saterdag teruggekom het, was Baboetsa baie bly! Hulle het dadelik ’n Bybelstudie met haar begin. Teen die einde van die studie wou Baboetsa weer seker maak dat sy nie kontak verloor met die Getuies nie. Sy het vir haarself gesê: ‘Ek het hierdie mense gevind. Nou moet ek seker maak dat ek hulle nie verloor nie.’

Baboetsa het ’n plan gemaak. Sy sê: “Ek het geweet dat Lioeba getroud is, en ek het toe vir Itta gevra of sy ook getroud is. Itta het gesê dat sy nie getroud is nie. Ek roep toe uit: ‘Kom woon dan by my! Daar is twee beddens, en daar is ’n lamp tussenin. Ons kan die Bybel onder die lamp sit en selfs in die nag daaroor praat!’” Itta het ingestem en by Baboetsa ingetrek.

 Baboetsa dink terug aan daardie tyd en sê: “Party aande kon ek nie slaap nie en het ek gelê en dink oor wat ek geleer het. Wanneer ’n vraag by my opgekom het, het ek vir Itta wakker gemaak en gesê: ‘Itta, bring jou Bybel. Ek het ’n vraag!’ Itta het dan haar oë gevryf en geantwoord: ‘Oukei, hartjie.’ Dan het sy vir my die antwoord in die Bybel gewys.” Net drie dae nadat Itta ingetrek het, het Baboetsa die goeie nuus begin verkondig!

Baboetsa het ’n goeie vriendin, Natela Tsjargeisjwili, gehad. Baboetsa sê: “Ek het gedink dat rykdom haar sou keer om die waarheid te aanvaar, maar gelukkig was ek verkeerd. Van ons eerste gesprek af het die waarheid in haar hart gebrand.” Kort voor lank het hulle albei vir hulle vriende, werksmaats en bure ywerig vertel van hulle hoop.