Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Macao

 AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Asië en die Midde-Ooste

Asië en die Midde-Ooste
  • LANDE 49

  • BEVOLKING 4 464 374 770

  • VERKONDIGERS 728 989

  • BYBELSTUDIES 771 272

Een gesprek help baie om die waarheid te kry

In die Filippyne het Jonathan by ’n hospitaal vir ‘n dokter gewag. ’n Ontvangsdame het opgemerk dat hy netjies aangetrek is en het hom gevra of hy ’n versekeringsagent is. Jonathan het verduidelik dat hy een van Jehovah se Getuies is en dat hy daar is om ’n Getuiepasiënt wat mediese behandeling nodig het, by te  staan. Die ontvangsdame, Laila, was beïndruk en het vir Jonathan vertel dat haar pa, wat onlangs gesterf het, Die Wagtoring gereeld gelees het. Jonathan het Johannes 5:28, 29 vir haar gelees en haar die traktaat Watter hoop vir afgestorwe dierbares? gegee.

Die Filippyne: Jonathan het vir die ontvangsdame getuig

Daarna het hy gereeld vir Laila publikasies gebring wanneer hy die hospitaal besoek het. Hy het ’n suster gevra om Laila te besoek, en sy het ’n Bybelstudie met haar  begin. Binnekort het Laila se man, suster en ma, wat almal saam met haar bly, by die studie aangesluit.

Rose, Laila se buurvrou, het Laila gevra hoekom sy so baie kuiermense kry. Laila het verduidelik dat sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer. Die gevolg was dat Rose ook begin studeer het. Toe sy by haar suster in ’n ander provinsie gaan kuier het, het sy opgewonde vir haar vertel wat sy geleer het. Rose se suster, Abigail, was nuuskierig oor wat sy gehoor het en het vir ’n Bybelstudie gevra. Rose se ma het ook ’n Bybelstudie aanvaar.

Laila is by ’n onlangse streekbyeenkoms gedoop en haar ma is ook nou gedoop. Haar buurvrou, Rose, en Rose se suster is verlede jaar gedoop. Rose se ma woon nou gereeld die vergaderinge by. En party van Laila se familielede studeer nog steeds die Bybel. Dit het alles gebeur as gevolg van een gesprek in ’n hospitaal!

Tegnologie help om die dowes te bereik

Die gebaretaalveld in Sri Lanka is besig om te groei. In 2015 het die Getuies minder as 80 adresse van dowe persone gehad, en hierdie adresse was op stukkies papier neergeskryf. Sedertdien is die eerste Sri Lankaanse gebaretaalgemeente gevorm. Daar is ook ’n rekenaardatabasis opgestel wat omtrent 420 name asook adresse met GPS-koördinate bevat. Die broers het omtrent 80 persent van hierdie mense al gekontak. Hulle het party persoonlik besoek, ander deur video-oproepe gekontak en ook teksboodskappe gestuur. ’n Sendeling-egpaar sê: “Ons kan nou vir ons dowe verkondigers ’n gebied gee om in te werk. Voorheen het hulle net dowe persone besoek wat hulle persoonlik ken.”

 ’n Regeringsamptenaar sê dankie

Die broers in Mongolië neem ywerig deel aan die spesiale getuieniswerk in stede, selfs wanneer die temperatuur tot -30 grade Celsius daal. ’n Regeringsamptenaar het publikasies by ’n trollie geneem en toe ’n dankiesêbriefie geskryf. Dit het die volgende gesê: “Ek is ’n Boeddhis. Maar ek het al verskillende opvattings oorweeg, want ek glo dat ons nie net een weg moet volg nie, maar ook ander moet ondersoek. Nadat ek party van die publikasies gelees het wat julle aan mense beskikbaar maak, het ek besluit om ’n brief te skryf om te verduidelik hoe ek voel. Dit is vir my duidelik dat julle baie tyd en energie daaraan spandeer het om inligting te voorsien wat prakties is en mense help. Een ding wat ek uit julle publikasies geleer het, is dat die Bybel ’n boek is wat ’n mens moet lees. Hierdie boek bevat die waarheid. Die Bybel voorsien ware leiding vir ons lewe. Ek wil graag almal bedank wat hard werk om die lektuur in Mongools te vertaal. Ek wil ook graag dankie sê aan diegene wat lektuur aan mense uitgee, ongeag of dit bloedig warm of yskoud buite is.”

Mongolië: Openbare getuieniswerk in die ysige koue

Sy gebed is verhoor

In Hongkong het ’n pionierbroer met die naam Brett ’n jong man in sy laat 20’s genader en die traktaat Wat is die sleutel tot ’n gelukkige gesinslewe? vir hom gegee. Toe die jong man die traktaat sien, het hy begin huil. Hy het verduidelik dat hy in die waarheid grootgeword het, maar dat hy van die huis af weggeloop het toe hy 16 jaar oud was. Die volgende vyf jaar het hy op die straat gelewe en aan dwelms verslaaf geraak. Hy is toe deur ’n liefdadigheidsorganisasie gevind wat hom gehelp het.

Hy het gesê dat hy daardie selfde oggend gebid het: “As  die godsdiens van my kinderdae die regte een is, gee my asseblief vandag ’n teken.” Hy het gevoel dat sy gebed verhoor is. Die twee is saam na ’n koffiewinkel daar naby waar hulle die brosjure Keer terug na Jehovah bespreek het. Omdat die jong man daardie aand moes teruggaan Frankryk toe, het hulle kontakbesonderhede uitgeruil. Die jong man het later aan Brett geskryf: “My liewe broer, Jehovah het my gebede verhoor. Ek sal Sondag na die naaste Koninkryksaal toe gaan.” Hy het die Getuies in Frankryk gekontak, die Bybel begin studeer en vergaderinge begin bywoon.