Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 SIERRA LEONE EN GUINEE

2002-2013 Onlangse verwikkelinge (Deel 2)

2002-2013 Onlangse verwikkelinge (Deel 2)

Hulp vir die dowes

Na raming is daar sowat 3 000 tot 5 000 dowe mense in Sierra Leone, en honderde in Guinee. Dit is Jehovah se “wil . . . dat alle soorte mense gered moet word”. Maar hoe sou die dowes die goeie nuus “hoor”?1 Tim. 2:4.

Michelle Washington, ’n Gileadsendeling wat in 1998 in Sierra Leone aangekom het, vertel: “Ek en my man, Kevin, is gestuur na ’n gemeente waar vier dowe mense vergaderinge bygewoon het. Aangesien ek Amerikaanse Gebaretaal ken, wou ek hulle help. Die takkantoor het my genooi om vir die dowes by vergaderinge en byeenkomste te tolk en het nabygeleë gemeentes van hierdie voorsiening in kennis gestel. Die takkantoor het ook gebaretaalklasse gereël vir verkondigers wat graag die dowes wil help. Ons het begin om dowe mense in die gemeenskap te soek en Bybelstudies met hulle te hou. Baie  mense in die gemeenskap wat gesien het hoe ons ons inspan om die dowes te help, het ons geprys. Maar nie almal was gelukkig oor ons bedrywighede nie. ’n Predikant vir die dowes het gesê dat ons ‘valse profete’ is. Hy het hulle en hulle families gewaarsku om niks met ons te doen te hê nie. Daar is vir party gesê dat hulle nie meer finansiële hulp sal ontvang as hulle met ons assosieer nie. Die dowegemeenskap het gou in twee kampe verdeel: diegene wat ons nog nie ontmoet het nie en die predikant ondersteun het en diegene wat ons al ontmoet het en nie die predikant ondersteun het nie. Party in die laasgenoemde groep het hulle standpunt vir die waarheid ingeneem en tot doop gevorder.”

Femi is byvoorbeeld doof gebore en kon net eenvoudige gebare gebruik om te kommunikeer. Hy was agterdogtig teenoor almal—veral horende mense—en was ongelukkig en het ongeliefd gevoel. Toe het hy die Bybel saam met broers in die gebaretaalgroep begin studeer. Kort voor lank het hy gereeld Christelike vergaderinge bygewoon en self gebaretaal geleer. Femi het tot doop gevorder en geniet dit nou om ander dowes die waarheid te leer.

Femi (heel regs) “sing” ’n Koninkrykslied in gebaretaal

In Julie 2010 het die Amerikaanse Gebaretaalgroep in Freetown ’n gemeente geword. Daar is ook gebaretaalgroepe in Bo en Conakry.

Arm maar “ryk in geloof”

Die Bybel toon dat die meeste eerste-eeuse Christene materieel arm was. Die dissipel Jakobus het geskryf: “God het diegene wat arm is ten opsigte van die wêreld, uitgekies om ryk in geloof . . . te wees” (Jak. 2:5). Geloof in Jehovah het ook vertroosting en hoop gebied aan die verkondigers in Sierra Leone en Guinee.

 Geloof beweeg talle arm Getuiegesinne in afgeleë gebiede om maande lank te spaar sodat hulle streekbyeenkomste kan bywoon. Party kweek gewasse om hulle reiskoste te dek. Groepe van 20 tot 30 byeenkomsgangers reis 20 uur of langer in klein vragmotors oor stowwerige, stamperige paaie in die hitte. Ander byeenkomsgangers loop groot afstande. “Ons het die eerste 80 kilometer na die byeenkoms ’n klomp piesangs gedra”, sê ’n broer. “Ons het die piesangs langs die pad verkoop en sodoende ons vrag ligter gemaak en genoeg geld verdien om die res van die reis per vragmotor af te lê.”

Die reis per vragmotor na ’n streekbyeenkoms

Geloof het baie verkondigers ook die krag gegee om die versoeking te weerstaan om na ’n welvarender land te trek. “Ons vertrou dat Jehovah in ons behoeftes sal  voorsien”, sê Emmanuel Patton, ’n gegradueerde van die Bybelskool vir Ongetroude Broers. “Ons besef dat ons diens baie kosbaar is omdat ons in ’n land woon waar daar ’n groot behoefte aan Koninkryksverkondigers is” (Matt. 6:33). Emmanuel dien nou as ’n gemeentelike ouer man, en hy en sy vrou, Eunice, werk albei onvermoeid om Koninkryksbelange te bevorder. Ander gesinshoofde besluit om nie te trek nie omdat hulle die eenheid en geestelikheid van hulle gesin wil beskerm. “Ek het geweier om werk te aanvaar wat my vir lang tydperke van my gesin sou wegneem”, sê Timothy Nyuma, wat as ’n spesiale pionier en waarnemende kringopsiener  gedien het. “Ek en my vrou, Florence, het ons kinders plaaslik laat skoolgaan pleks van hulle weg te stuur en deur ander mense te laat grootmaak.”

Ander broers en susters toon geloof deur hulle volharding in Christelike bedrywighede ondanks verskillende probleme. Kevin Washington, wat vroeër gemeld is, sê: “Baie verkondigers neem gereeld aan die predikingswerk deel en sien om na gemeentelike verantwoordelikhede ten spyte van probleme wat ons dalk by die huis sal laat bly en knorrig sal maak. Party ly byvoorbeeld aan ’n chroniese siekte en het nie toegang tot die mediese sorg en geneesmiddels wat elders geredelik beskikbaar is nie. Ander doen baie moeite om te leer lees en skryf. As ek ooit krities is oor die manier waarop ’n broer ’n toewysing behartig, vra ek my af: ‘As ek voltyds gewerk het, groot gesondheidsprobleme gehad het, swak oë en geen bril gehad het nie, ’n beperkte teokratiese biblioteek en geen elektrisiteit gehad het nie, sou ek so goed gedoen het?’”

Op hierdie en talle ander maniere verheerlik die broers en susters in Sierra Leone en Guinee Jehovah. Soos hulle eerste-eeuse Christenbroers, beveel hulle hulle as God se bedienaars aan “deur baie te verduur, deur verdrukkinge, deur gevalle van nood, . . . as armes wat talle egter ryk maak, as mense wat niks het nie en tog alles besit”.2 Kor. 6:4, 10.

Hulle gaan die toekoms met vertroue tegemoet

Meer as 90 jaar gelede het Alfred Joseph en Leonard Blackman berig dat Sierra Leone se lande “wit is vir die oes” (Joh. 4:35). Sowat 35 jaar later het Manuel Diogo uit Guinee geskryf en gesê: “Daar is baie belangstelling hier.” Vandag is Jehovah se knegte in albei lande oortuig  dat daar nog baie mense is wat gunstig op die goeie nuus sal reageer.

In 2012 was die Gedenkmaalopkoms in Guinee 3 479, meer as vier en ’n half keer die aantal verkondigers in die land. In Sierra Leone is daar 2 030 verkondigers, maar 7 854 mense het die Gedenkmaal bygewoon, byna vier keer die aantal verkondigers. Een van die Gedenkmaalbywoners was die 93-jarige spesiale pionier Winifred Remmie, wat al lank ’n Getuie is. Sy en haar man, Lichfield, het in 1963 in Sierra Leone aangekom. Ná 60 jaar in die voltydse diens was sy nog steeds ’n spesiale pionier. Winifred het gesê: “Wie sou kon droom dat  daar eendag soveel geestelik sterk broers en susters in Sierra Leone sou wees. Al is ek oud, wil ek nog steeds ’n aandeel hê aan hierdie vreugdevolle toename.” *

Jehovah se Getuies in Sierra Leone en Guinee stem heelhartig saam met Winifred se woorde. Soos statige bome wat genoeg water kry, is hulle vasbeslote om aan te hou vrug dra tot lof van Jehovah (Ps. 1:3). Met Jehovah se krag sal hulle voortgaan om die mensdom se ware hoop op vryheid te verkondig—“die glorieryke vryheid van die kinders van God”.Rom. 8:21.

Takkomitee, van links na regs: Collin Attick, Alfred Gunn, Tamba Josiah en Delroy Williamson

^ par. 16 Winifred Remmie is oorlede terwyl hierdie verslag voorberei is.