Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 SIERRA LEONE EN GUINEE

Jehovah het my opgerig

Jay Campbell

Jehovah het my opgerig
  • GEBORE 1966

  • GEDOOP 1986

  • PROFILE ’n Polioslagoffer wat ’n gewone pionier geword het.

EK IS al van kleins af erg gestrem in my onderlyf. Ek het saam met my ma en baie ander arm gesinne in ’n kampong in Freetown gewoon. Omdat ek skaam was en bang was vir wat vreemdelinge van my sou dink, het ek dit net een keer in 18 jaar buite die kampong gewaag.

Toe ek 18 jaar oud was, het Pauline Landis, ’n Getuiesendeling, ons kampong besoek en aangebied om my die Bybel te leer. Toe ek vir haar sê dat ek nie kan lees of skryf nie, het sy gesê dat sy my dit ook sal leer. Ek het dus haar aanbod aanvaar.

Wat ek uit die Bybel geleer het, het my met vreugde vervul. Eendag het ek Pauline gevra of ek ’n gemeentelike vergadering in ’n huis omtrent ’n blok van ons af kan bywoon. “Ek sal op my houtloopblokke soontoe loop”, het ek gesê.

Toe Pauline my kom haal, het my ma en die bure my besorg dopgehou. Ek het my houtloopblokke opgetel, vorentoe gestrek en dit op die grond geplaas. Toe het ek my liggaam  opgelig en dit verby die blokke geswaai. Terwyl ek oor die binnehof beweeg het, het die bure vir Pauline geskreeu: “Jy dwing haar. Sy het al voorheen probeer loop en dit nie reggekry nie.”

“Jay, wil jy gaan?” het Pauline saggies gevra.

“Ja!” het ek geantwoord. “Dit is my besluit.”

Die bure het stil toegekyk terwyl ek die kampong se hek genader het. Toe ek by die hek uitgaan, het hulle my toegejuig.

Hoe het ek tog daardie vergadering geniet! Ek was toe vasbeslote om by die Koninkryksaal uit te kom. Om dit te doen, moes ek tot die einde van die straat “loop”, ’n ent met ’n taxi ry en dan broers kry om my teen ’n steil bult op te dra. Ek het dikwels nat en vol modder by die saal aangekom en moes ander klere daar aantrek. Later het ’n suster in Switserland vir my goedgunstiglik ’n rolstoel gestuur, wat my in staat gestel het om met waardigheid rond te beweeg.

Die ondervindinge wat ek van ander gestremde Getuies gelees het, het my aangespoor om Jehovah in groter mate te dien. In 1988 het ek ’n gewone pionier geword. Ek het tot Jehovah gebid om my te help om my doelwit te bereik, naamlik om iemand in my familie en iemand in my gebied te help om ’n kneg van Jehovah te word. My gebede is verhoor toe ek twee van my ouer suster se seuns en ’n vrou wat ek tydens straatgetuieniswerk ontmoet het, kon help om die waarheid te leer.

My arms is nou baie swak, en ek is afhanklik van ander om my rond te stoot. Ek is ook altyd in pyn. Maar dit help my om van die pyn te vergeet wanneer ek ander van Jehovah leer. Die vreugde wat dít my verskaf, verlig my pyn en vertroos my, want Jehovah het my opgerig, en nou lei ek ’n sinvolle lewe.