Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

 AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Asië en die Midde-Ooste

Asië en die Midde-Ooste
  • LANDE 47

  • BEVOLKING 4 282 178 221

  • VERKONDIGERS 74 011

  • BYBELSTUDIES 672 318

Hulp aan ’n man wat blind, doof en stom is

In 1999 het die gebaretaalgemeente in Kobe, Japan, van ’n man met die naam Hirofoemi te hore gekom. Toe ’n broer Hirofoemi probeer besoek het, het sy ma geweier dat hy hom sien. Die broer het herhaaldelik teruggegaan en Hirofoemi se ma gesmeek om hom te sien, en uiteindelik het sy Hirofoemi na die  deur gebring. Sy hare en sy baard was lank en onversorg. Hy het soos iemand gelyk wat dekades lank op ’n verlate eiland gestrand was. Sy gesig was uitdrukkingloos. Hirofoemi was nie net doof nie, maar ook blind. Die broer was geskok, maar toe het hy Hirofoemi se hande geneem en taktiele gebaretaal begin gebruik. Hy het glad nie daarop gereageer nie. Hirofoemi het geen kontak met ander mense gehad of met enigiemand gekommunikeer sedert hy tien jaar vroeër op 31-jarige ouderdom sy sig verloor het nie.

Twee dae later het die broer weer teruggegaan. Hirofoemi se ma was verbaas, want sy het aangeneem dat die broer sou tou opgooi nadat hy haar seun se toestand gesien het. Die broer het haar weer gesmeek om Hirofoemi te sien, en daarom het sy hom na die deur gebring. Nadat die broer Hirofoemi ’n maand lank besoek het sonder enige reaksie van sy kant af, het sy ma vir die broer gesê om eerder nie meer te kom nie. Maar die broer het nie moed opgegee nie. Hy het vir hulle koek geneem en probeer wys dat hy omgee. Ná nog twee maande en nog steeds geen reaksie van Hirofoemi nie, het die broer gevoel dat sy pogings tevergeefs is.

Die broer het besluit om Hirofoemi nog een keer te besoek. Voordat hy na die huis gegaan het, het hy Jehovah in gebed gevra om hom te help om te bepaal of hy moet voortgaan om hom te besoek. Toe die broer by Hirofoemi se huis kom, het hy sy hande geneem en in gebaretaal gesê dat daar ’n God met die naam Jehovah is wat hom voortdurend uit die hemel dophou en wat sy lyding beter  as enigiemand anders verstaan. Jehovah gee vir hom om en wil hom help. Dit is waarom een van sy Getuies na hom toe gekom het. Eers het Hirofoemi glad nie gereageer nie; maar toe het hy die broer ’n ferm handdruk gegee, en ’n traan het oor sy wang gerol. Dit het die broer so geraak dat hy saam met hom gehuil het. ’n Bybelstudie is begin.

Nadat Hirofoemi 11 jaar lank gestudeer het, het hy met die plaaslike gemeente begin assosieer eerder as om, soos vroeër, die lang afstand na die gebaretaalgemeente af te lê. Niemand in die plaaslike gemeente het gebaretaal geken nie, maar oor die volgende 18 maande het 22 broers en susters in die gemeente gebaretaal geleer sodat hulle Hirofoemi kon help. In Januarie 2012 het Hirofoemi sy  eerste toewysing met die hulp van ’n tolk op die Teokratiese Bedieningskool behartig. In Oktober van dieselfde jaar het hy ’n ongedoopte verkondiger geword.

Hy studeer met sekuriteitswagte

Floren, ’n pionier wat in die Filippyne woon, hou gemiddeld 25 Bybelstudies, waarvan die meeste met sekuriteitswagte is. Hierdie mans werk dikwels saans—party werk regdeur die nag. Daarom moet Floren aanpasbaar wees. Hy gaan na die wagte se werksplekke en studeer met hulle wanneer hulle ’n blaaskans neem of op ander geleë tye wanneer dit nie inbreuk maak op hulle werk nie. Hy hou party studies tussen seweuur en elfuur saans, en ander studies tussen vyfuur en negeuur soggens. Soms reël hy om daar te wees net voordat hulle skofte ruil. Sodoende kan hy met die wag studeer net voordat hy aan diens gaan, en daarna met die wag wat van diens afkom. Floren sê: “Al hierdie Bybelstudies verskaf my ongekende vreugde.” Sommige van die sekuriteitswagte woon nou vergaderinge by die Koninkryksaal by. Een van Floren se Bybelstudente is nou gedoop en dien as ’n gewone pionier.

Filippyne: Floren hou ’n Bybelstudie vroeg in die oggend

Hulle was bereid om ’n kans te waag

Terwyl twee van ons susters op ’n reënerige dag in Armenië in die bediening was, het hulle ’n ma en dogter op straat gesien en vir hulle ’n traktaat aangebied. Tot die susters se verbasing het die ma, wie se naam Marusya is, gesê dat sy en haar dogter, Yeva, reeds twee uur lank buite in die slegte weer was in die hoop dat hulle Jehovah se Getuies sou ontmoet. Hoekom was hulle op soek na Jehovah se Getuies? Terwyl Marusya se broer in die tronk was, het hy die waarheid by broers geleer wat opgesluit is weens hulle neutrale standpunt. Marusya het verwag dat  hy hardvogtig en aggressief sou wees wanneer hy vrygelaat word. Maar hy het eerder meer gebalanseerd en kalmer geword. Hoe langer hy met die Getuies geassosieer het, hoe meer positiewe veranderinge het Marusya se broer gemaak. Vir Marusya en haar dogter het dit glad nie sin gemaak nie, want hulle het herhaaldelik lasterlike propaganda oor Jehovah se Getuies op plakkate in die stad en op televisieprogramme gesien. Yeva het gewonder: ‘My oom is regtig ’n wonderlike mens. Waarom word daar dan soveel slegte dinge oor Jehovah se Getuies gesê?’ Omdat sy vasbeslote was om ’n antwoord op haar vraag te kry, het sy vir haar ma gesê: “Ons sal nooit die waarheid oor hierdie mense uitvind as ons nie bereid is om ’n kans te waag nie. Kom ons gaan soek dadelik na Jehovah se Getuies en klaar hierdie saak op.” En dit is wat hulle besig was om te doen die dag toe die susters hulle ontmoet het. Twee dae later is ’n Bybelstudie met die ma en die dogter begin. Hulle het vergaderinge begin bywoon en het reeds gekwalifiseer om ongedoopte verkondigers te wees.

Die kinders het die tydskrifte gebring

Istanboel, Turkye: ’n Broer gebruik die Goeie nuus-brosjure terwyl hy aan straatgetuieniswerk deelneem

In Adana, Turkye, het ’n vrou wat ernstige persoonlike en gesinsprobleme ondervind het en al selfmoord wou pleeg, twee van ons tydskrifte voor haar deur gevind. Blykbaar het kinders in die buurt dit op die grond gekry en dit daar neergesit omdat hulle gedink het dat dit aan haar behoort. Die lewensverhale in die tydskrifte het die vrou baie beïndruk, en sy het gewens dat sy ook sulke veranderinge in haar lewe kon aanbring. Daar was ’n telefoonnommer op een van die tydskrifte geskryf; dit was die nommer van ’n pioniersuster wat daar naby gewoon het. Sy het die nommer gebel en ’n Bybelstudie is begin.  Die vrou het gehou van wat sy geleer het en het gesê dat sy graag die vergaderinge wil bywoon. Haar woonstel is toevallig naby die Koninkryksaal. Sy het onmiddellik vergaderinge begin bywoon en doen dit steeds.

Selfs ná tien dae in die tronk het hy by sy besluit gebly

Bam, wat ’n polisieman en kerkganger in Nepal was, het ’n spesialepionier-egpaar op straat ontmoet terwyl hy aan diens was. Dit het hom beïndruk dat hulle al sy vrae uit die Bybel beantwoord het. Bam het ’n Bybelstudie aanvaar en kort voor lank vergaderinge begin bywoon. As gevolg van wat hy in sy studie geleer het, het sy gewete hom begin pla oor die tipe werk wat hy doen. Daarom het hy sy meerderes vir ’n kantoorwerk gevra, wat nie sou vereis dat hy wapens dra nie. Hulle het ingestem. Maar nadat Bam ’n streekbyeenkoms bygewoon het, het sy gewete hom weer begin pla, en hy het besluit om die polisiemag heeltemal te verlaat.

Bam se vrou was ongelukkig met hierdie besluit, aangesien werk in die polisiemag nie net sosiale aansien beteken het nie, maar ook ’n goeie salaris, voordele en ’n goeie pensioen. Om hom te oorreed om van besluit te verander, het sy gesê: “As jy in die polisiemag bly, sal ek die Bybel met die Getuies studeer.” Toe dit nie werk nie, het sy die polisiekaptein oorreed om Bam op te sluit, in die hoop dat hy tot ander insigte sou kom. Nadat Bam tien dae in die tronk was, is hy vrygelaat, maar hy was nog steeds vasbeslote om ’n ander werk te vind. Hy het as ’n riksja begin werk, wat beteken het dat hy lang ure in die warm son sou moes deurbring. Ondanks die uitdagings was hy gelukkig. Hy het voortgegaan om geestelike vordering te maak en het ’n verkondiger geword. Mettertyd het sy vrou hom minder begin teëstaan. Omdat die  broers en susters in die gemeente goedhartig was teenoor haar, het sy begin studeer. Bam sorg nog steeds goed vir sy gesin, en hy verdien meer as ’n riksja as toe hy ’n polisieman was. Hy is in Februarie 2013 tydens ’n byeenkoms gedoop, en nou woon sy vrou en seun saam met hom vergaderinge by.

Nepal: Toe Bam ander werk gekry het, kon hy en sy gesin geestelike vordering maak

Sy wou ’n hulppionier wees

Mieong-hee, ’n suster wat in Korea woon, het ’n probleem met een van haar bene weens verlamming op tweejarige ouderdom. Sy word gou moeg en val soms. Sy kry ook dikwels paniekaanvalle en moet die newe-effekte van haar medikasie verduur. Mieong-hee vind dit moeilik om asem te haal, en sy het pyn weens die spanning en angs wat sy ervaar. Ondanks hierdie probleme wou Mieong-hee aan die hulppionierdiens deelneem, en dit is ook presies wat sy die afgelope twee jaar amper elke maand doen. Sy is dankbaar teenoor Jehovah dat hy haar die krag gee om haar bediening uit te voer.

“Ek soek al 30 jaar daarna!”

Agnes, ’n sendeling in Indonesië, het gereeld vir ’n middeljarige vrou getuig wat swanger was. Die vrou het groente in ’n plaaslike mark verkoop. Sy het baie daarvan gehou om ons tydskrifte te lees en het dit geniet om Bybelbesprekings te hê wanneer sy nie te besig was nie. Toe Agnes eendag na die mark gegaan het om die vrou te besoek, was sy nie daar nie. Haar man het vir Agnes gesê dat sy vrou onlangs ’n baba gehad het. Agnes het besluit om haar te besoek. Sy het die boek My boek met Bybelverhale met geskenkpapier toegedraai en dit vir haar gegee. Die  vrou was aangenaam verras dat Agnes haar en die baba kom besoek het, maar sy was selfs meer verbaas toe Agnes vir haar die geskenk gee. Die vrou het die geskenk oopgemaak, in ongeloof daarna gekyk en gesê: “Waar het jy hierdie boek gekry? Ek soek al 30 jaar daarna! Ek het na al wat ’n boekwinkel is, gegaan en almal gevra. Niemand het dit gehad nie, niemand het daarvan geweet nie en geen ander boek kan eers daarmee vergelyk word nie.” Die vrou vertel toe dat haar oom die Bybelverhale-boek gehad het en dat sy as kind baie daarvan gehou het om dit te lees. Nou lees die vrou weer die boek, en haar oudste dogter hou ook baie daarvan. ’n Bybelstudie is met albei van hulle begin.

Indonesië: Agnes met die boek wat sy vir ’n vrou as ’n geskenk gegee het