Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

9 OKTOBER 2014
WÊRELDNUUS

Jehovah se Getuies reageer op die Ebola-epidemie

Jehovah se Getuies reageer op die Ebola-epidemie

NEW YORK—Terwyl die dodelike Ebola-epidemie Wes-Afrika teister, gaan Jehovah se Getuies voort om hulle lede proaktief in te lig omtrent die siekte.

Toe hulle uitvind dat die Ebola-virus in Guinee voorgekom het en vinnig na nabygeleë Liberië en Sierra Leone versprei het, het takkantore van Jehovah se Getuies in die streek dadelik alle gemeentes in die drie lande per brief daaroor gewaarsku. Die briewe het riglyne en wenke van plaaslike regeringsagentskappe ingesluit en ook verduidelik watter gevare die virus inhou, hoe die virus oorgedra word en watter voorsorgmaatreëls getref moet word om die verspreiding van die siekte te voorkom. “Omdat mediese siektes in hierdie gebied nie goed verstaan word nie en gerugte oor die bron van Ebola wydverspreid was, het baie mense aanvanklik glad nie geweet wat om te doen nie”, sê Collin Attick, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Sierra Leone. “Maar toe ons gemeentelede die instruksies by hulle Koninkryksale hoor, het hulle onmiddellik en positief gereageer.”

In Julie het reisende verteenwoordigers van Jehovah se Getuies spesiale tweedaagse besoeke by elke gemeente in Sierra Leone en Guinee begin aflê. Die besoeke sluit ’n toespraak in met die titel “Gehoorsaamheid red lewens”, wat bedoel is om almal meer bewus te maak van praktiese voorsorgmaatreëls teen die siekte en hulle aan te spoor om by die jongste beskikbare riglyne te hou. Hierdie besoeke sal tot in November 2014 voortgesit word. Daarbenewens het die Getuies in Guinee, Liberië en Sierra Leone houers met ’n mengsel van water en bleikmiddel voorsien by die ingang van al hulle plekke van aanbidding (bekend as Koninkryksale) sodat almal hulle hande kan was. Die meeste Getuies in hierdie lande volg hierdie voorbeeld en het ’n houer by die deur van hulle huis om hande te was.

’n Getuiegesin gehoorsaam ’n voorsorgmaatreël, ’n gebiedskwarantyn in Dolo’s Town, ’n gemeenskap oos van Monrovia, Liberië. Die kwarantyn is op 8 September 2014 opgehef.

Volgens ’n verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gedateer 1 Oktober 2014 is 7 178 gevalle aangemeld en het meer as 3 300 slagoffers in die huidige Ebola-epidemie in Wes-Afrika gesterf, maar daar word verwag dat die syfers sal styg. Teen 2 Oktober het een van die 2 800 Getuies in Guinee en Sierra Leone die Ebola-virus opgedoen en op 25 September 2014 gesterf; sy was ’n verpleegster. En 10 van die 6 365 Getuies in Liberië het weens die siekte gesterf; 6 was gesondheidswerkers. Hoewel die virus onlangs ook na Nigerië versprei het, het geen Getuies wat daar woon, die siekte opgedoen nie. Verder het geen Getuiesendelinge in hierdie lande volgens berig die siekte opgedoen nie; terwyl die virus versprei het, was baie van die sendelinge weg met vakansie of by byeenkomste in Europa en die Verenigde State. Party het onlangs na hulle sendingtoewysing teruggekeer en volg die nodige voorsorgmaatreëls en die instruksies van die plaaslike takkantoor. Ander sendelinge kon nog nie terugkeer weens vlugbeperkings of ander omstandighede nie.

Getuies was hulle hande by ’n Koninkryksaal in Sierra Leone.

Noodlenigingskomitees bestaande uit Getuievrywilligers help plaaslike Getuies om te voorsien in die behoeftes van hulle gesinne en medeaanbidders in die Wes-Afrikalande wat die swaarste deur Ebola getref is. “Gehoorsaamheid aan Bybelbeginsels oor reinheid en kwarantyn help ons in hierdie situasie”, sê Thomas Nyain sr., ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Liberië. “As Jehovah se Getuies vermy ons ook onskriftuurlike begrafnisgebruike. Dit is ’n beskerming vir al ons lede, veral gedurende hierdie kritieke tyd.”

In Sierra Leone het ’n plaaslike radiostasie verduidelik hoe Jehovah se Getuies hulle lede en nie-Getuies in die gemeenskap gehelp het om die Ebola-virus te vermy. Die owerheid daar het ook versoek dat die Getuies se noodlenigingskomitee die regeringsagentskappe in die gebied help.

“Ons is bly om te sien dat ons medegelowiges in Wes-Afrika gesonde verstand aan die dag lê terwyl hulle hulle geestelike bedrywighede en Bybelonderrigtingswerk so goed moontlik voortsit”, sê J.R. Brown, die internasionale woordvoerder by die Getuies se hoofkwartier in New York. “Ons geestelike broers en susters en ander wat deur hierdie Ebola-virus geraak word, is in ons gedagtes en gebede.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Guinee: Thierry Pourthié, tel. +224 631 40 96 50

Liberië: Thomas Nyain sr., tel. +231 886 513 414

Nigerië: Paul Andrew, tel. +234 7080 662 020

Sierra Leone: Collin Attick, tel. +232 77 850 790