Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

22 AUGUSTUS 2017
OOSTENRYK

Dorp in Oostenryk vereer 31 Getuies van Jehovah, wat slagoffers van die Nazi-regime was

Dorp in Oostenryk vereer 31 Getuies van Jehovah, wat slagoffers van die Nazi-regime was

Die burgemeester van Techelsberg, mnr. Johann Koban (middel), onthul die gedenkplaat in Techelsberg saam met Peter Stocker (regs) en staatsgoewerneur van Karintië, dr. Peter Kaiser (links).

SELTERS, Duitsland — Op die oggend van 19 Mei 2017 het die munisipaliteit van Techelsberg, Oostenryk, ’n spesiale seremonie gehou. Dit was gehou ter herdenking van Jehovah se Getuies wat deur die Nazi’s tereggestel of in konsentrasiekampe opgesluit was. ’n Gedenkplaat is onthul wat erkenning gee aan 31 Getuies wat “slagoffers van Nasionale Sosialisme in Techelsberg en in die omgewing daarvan” was.

Die program het begin met 60 sangers wat die lied “Voorwaarts, Getuies!” sonder begeleiding gesing het. ’n Weergawe van hierdie lied word vandag nog by die Getuies se vergaderinge regoor die wêreld gesing. Dit is oorspronklik deur Erich Frost gekomponeer. Hy was ’n Getuie wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s in Sachsenhausen-konsentrasiekamp opgesluit was. Ná die lied is die ongeveer 350 mense wat daar teenwoordig was, toegespreek deur die volgende gassprekers: mnr. Johann Koban (burgemeester van Techelsberg), mnr. Peter Stocker (kleinseun van Gregor Wohlfahrt sr., een van die Techelsberg-slagoffers), prof. Peter Gstettner, prof. Vinzenz Jobst en dr. Peter Kaiser (staatsgoewerneur). Twee nuusstasies in Oostenryk, ORF 2 en ORF Kärnten, het saam met ’n hele paar plaaslike koerante oor hierdie geleentheid berig gelewer.

Prof. Peter Gstettner spreek diegene wat teenwoordig is toe.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is 212 van die 550 Getuies in Oostenryk na konsentrasiekampe gestuur. Omdat hulle polities neutraal was en geweier het om aan die oorlog deel te neem, is hulle verkeerdelik beskou as ’n bedreiging vir Duitsland se Nasionale Sosialistiese regime. In die konsentrasiekampe is Jehovah se Getuies gedwing om pers driehoeke op hulle uniforms te dra om hulle te identifiseer. Altesaam 154 Getuies van Oostenryk is in die Nazi-slagting dood.

Die vyf Getuies van Techelsberg wat slagoffers van die Nazi’s was (Johann Stossier, Anton Uran, Gregor Wohlfahrt sr., Gregor Wohlfahrt jr. en Willibald Wohlfahrt) se name was voorheen op die lys van “vermiste persone” op ’n oorlogsgedenkteken. Dit was nie geskiedkundig korrek nie. Prof. Gstettner het verduidelik wat die betekenis van die gedenkplaat is: “Dit help ons om te sien wat presies in die geskiedenis gebeur het en om hierdie getroue mense altyd te onthou. Hulle was ongelooflik dapper en deur aan hulle geloof getrou te bly, het hulle bewys dat dit reg is om vasberade weerstand te bied teen die eise van ’n onmenslike stelsel. Dit het op die ou einde tot oorwinning gelei.”

Die gedenkplaat in Techelsberg ter herdenking van 31 Getuies van Jehovah wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog doodgemaak, opgesluit of op ander maniere slagoffers van die Nazi’s was. Op die gedenkplaat is daar ’n gedig deur Franz Wohlfahrt (sien venster hieronder) en die name van die vyf Getuies van Techelsberg wat oorsponklik op die lys van “vermiste persone” op ’n oorlogsgedenkteken was.

Johann Zimmermann, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Oostenryk, sê: “Ons waardeer geleenthede soos hierdie wat Jehovah se Getuies se moed en geloof ten spyte van wrede vervolging, erken. Ons hoop dat hierdie geleentheid almal herinner het aan die wreedheid wat dit tot gevolg kan hê wanneer ’n minderheidsgroep verkeerdelik beskou word as ’n bedreiging vir die staat.”

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Oostenryk: Johann Zimmermann, +43-1-804-53-45

Duitsland: Wolfram Slupina, +49-6483-41-3110