Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

14 JANUARIE 2013
FILIPPYNE

Verwoesting in die Filippyne deur die tifoon Bopha

Verwoesting in die Filippyne deur die tifoon Bopha

MANILA, Filippyne—Oor die 1 000 mense is dood en meer as 970 000 is dakloos nadat ’n kragtige tifoon op Dinsdag 4 Desember 2012 verwoesting regoor die Filippyne gesaai het. ’n Maand later is Jehovah se Getuies nog steeds besig om noodleniging te verleen aan die slagoffers van die tifoon Bopha (wat plaaslik Pablo genoem word).

Op 7 Januarie het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Manila bevestig dat vyf Getuies ongelukkig as ’n regstreekse gevolg van die storm gesterf het. Nog ’n Getuie is in die hospitaal opgeneem as gevolg van ’n ernstige ruggraatbesering. Daarbenewens is ongeveer 520 Getuiegesinne dakloos, aangesien 140 huise vernietig en nog 400 beskadig is.

Verteenwoordigers van die takkantoor het die gebied wat deur die tifoon getref is, besoek om die skade vas te stel, noodleniging te organiseer en vertroosting en geestelike hulp aan die oorlewendes te bied. Die Getuies het ’n noodlenigingskomitee saamgestel om sewe noodlenigingsentrums te organiseer en om plaaslike vrywilligers te help om voorraad uit te deel.

In party dele van die land het die storm vername bronne van voedsel en inkomste uitgewis, insluitende ryslande, piesangplantasies en kokospalms. Gevolglik het die Getuies se noodlenigingskomitee vragmotors met byna 13 ton voedsel na die gebied gestuur. Maar dit was feitlik onmoontlik om voorraad in een stormgeteisterde gebied af te lewer omdat ’n brug vernietig is.

Die tifoon Bopha het ook 15 huise van aanbidding, wat Koninkryksale genoem word, beskadig en nog 2 vernietig. Maar party van die mense wat deur die storm dakloos gelaat is, is tydelik gehuisves in Koninkryksale wat nie beskadig is nie. Die noodlenigingskomitee beywer hulle om gepaster huisvesting vir hierdie slagoffers te vind.

Al die noodlenigingspogings word gefinansier deur bydraes van plaaslike Getuies van Jehovah sowel as die groter internasionale gemeenskap van Getuies. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies help om hierdie onkoste te dek deur geld te gebruik wat vir die Getuies se wêreldwye werk bygedra is.

Dean Jacek, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in die Filippyne, het gesê: “Ons almal treur oor die verlies van ons vriende en medeaanbidders en is bedroef oor die skade wat deur hierdie storm aangerig is. Maar ons sal voortgaan om alles in ons vermoë te doen om met die noodlenigingspogings te help, en ook om geestelike hulp en vertroosting aan ons medemens te verskaf.”

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Filippyne: Dean Jacek, tel. +63 2 411 6090