Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

3 DESEMBER 2012
ARMENIË

Armenië beveel om skadevergoeding te betaal aan 17 Getuies van Jehovah

Armenië beveel om skadevergoeding te betaal aan 17 Getuies van Jehovah

STRAATSBURG, Frankryk—Op 27 November 2012 het die Europese Hof van Menseregte beslis dat die regering van Armenië 112 000 euro (R1 232 000) as skadevergoeding en vir regskoste moet betaal aan 17 gewetensbeswaardes weens menseregteskendings.

In 2005 het 17 jong mans wat Jehovah se Getuies is, alternatiewe burgerlike diens gedoen. Maar toe hulle agterkom dat dit onder die beheer en toesig van die leër is, het hulle gewete hulle nie toegelaat om hulle diens voort te sit nie en het hulle dus hulle poste verlaat. Hulle is toe in hegtenis geneem en vervolg. Party is voor die verhoor etlike maande aangehou, en 11 is uiteindelik gevonnis tot tronkstraf van twee tot drie jaar.

Die Europese Hof het beslis dat hierdie strafvervolging en aanhouding onwettig was, aangesien daar in 2005 geen wet in Armenië bestaan het wat dit ’n misdaad maak om op te hou om alternatiewe burgerlike diens te verrig nie. Die Hof het gesê dat Armenië die Getuies se reg op vryheid en veiligheid geskend het, wat deur Artikel 5 van die Europese Konvensie oor Menseregte beskerm word. Hoewel die regering later die kriminele aanklagte teen die 17 teruggetrek het, het Armenië geweier om hulle te vergoed vir die onwettige strafvervolging en aanhouding. Daarom het die Hof Armenië beveel om vergoeding te betaal vir morele skade en regskoste.

Hierdie uitspraak volg kort op drie ander beslissings deur die Europese Hof teen Armenië in verband met die neutraliteitsgeskil. In al vier gevalle het die Armeense owerheid gewetensbeswaardes wat Jehovah se Getuies is, mishandel en hulle ten onregte soos gevaarlike misdadigers behandel.

“Die uitspraak van die Europese Hof help om die onregte wat hierdie Getuies van Jehovah gely het, reg te stel”, sê André Carbonnea, ’n prokureur van die aansoekers. “Hierdie string oorwinnings teen Armenië in die Europese Hof stuur ’n duidelike boodskap aan ander lande in die Europese Raad asook lande soos Eritrea, Suid-Korea en lande in Sentraal-Asië met betrekking tot Jehovah se Getuies se reg om militêre diens te weier.”

Mediaverteenwoordigers:

David Semonian, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Armenië: Tigran Harutyunyan, tel. +374 93 900 482