Spring na inhoud

RUSLAND

In die tronk weens hulle geloof

In die tronk weens hulle geloof

Die Russiese regering hou aan met hulle aggressiewe aanval op Jehovah se Getuies. Hulle is besig met ’n kampanje van vrees wat ’n mens herinner aan hoe dinge in die Sowjet-tydperk was. Vanaf 20 Julie 2020 het die owerheid 42 Getuies tot tronkstraf gevonnis of hulle in die tronk gesit voordat hulle verhoor word en 27 Getuies onder huisarres gesit. En 157 word nie toegelaat om hulle tuisdorp te verlaat nie. Hulle almal word daarvan aangekla dat hulle die bedrywighede van ’n “ekstremistiese” organisasie reël, daaraan deelneem of dit finansieel ondersteun. Ten minste 381 Getuies word op die oomblik deur die owerheid ondersoek. Hulle is tussen die ouderdomme van 20 en 89 jaar oud.

Amptenare probeer regverdig wat hulle doen deur te verwys na die verbod van April 2017 op die Getuies se regsentiteite. Hulle pas ook Artikel 282 van die Russiese Federasie se Strafwet (RFCC) verkeerd toe wat te doen het met ekstremistiese bedrywigheid. In werklikheid vervolg hulle Jehovah se Getuies omdat hulle hulle godsdiens vreedsaam beoefen. As hulle skuldig bevind word, kan party wat gearresteer is, tot tien jaar tronkstraf kry.

Rusland se patroon van hoe hulle Jehovah se Getuies arresteer, aanhou en in die tronk sit

Vanaf Februarie 2018 het die polisie dieselfde patroon gevolg wanneer hulle Jehovah se Getuies arresteer en aanhou. Swaar gewapende polisiemanne storm die Getuies se huise in, dreig die inwoners met hulle vuurwapens – insluitende kinders en bejaardes – en dwing hulle om op die vloer te lê. Terwyl die polisie die plek deursoek, vat hulle persoonlike besittings en neem hulle party Getuies om hulle verder te ondervra. Speurders lê dan kriminele klagtes teen sekere Getuies vir beweerde ekstremistiese bedrywighede en vra die howe om hierdie Getuies in aanhouding te sit totdat hulle verhoor word. Wanneer die Getuies in die tronk is, vra die staatsaanklaers die howe om die Getuies langer aan te hou, en die howe doen dit gewoonlik. Hier volg ’n oorsig van wat met agt Getuies gebeur het wat krimineel vervolg is en tot tronkstraf gevonnis is onder aanklagte van ekstremisme. *

Dennis Christensen se aansoek om vroeg vrygelaat te word, is toegestaan nadat hy meer as drie jaar van sy ses jaar tronkstraf uitgedien het. Op 23 Junie 2020 het die Lgofski-distrikshof in die Koersk-streek mnr. Christensen se vonnis verander na ’n boete van meer as R97 000. Maar mnr. Aleksei Sjatoenof van die streeksaanklaer se kantoor in Koersk het die hofuitspraak geappelleer en aangedring dat dit gekanselleer word. Die appèl is gebaseer op valse berigte dat mnr. Christensen nie ’n goeie rekord het van harde werk en goeie gedrag by die tronk nie. Mnr. Christensen sal nou in die tronk moet bly en wag vir die uitkoms van die nuwe verhoor, waarvan die datum nog nie vasgestel is nie. Intussen het die tronkowerheid hom in ’n strafsel vir tien dae lank gesit omdat hy na bewering tronkreëls oortree het wat nie so ernstig is nie. Hulle het dit gedoen al het hy swak gesondheid.

Mnr. Christensen is ’n Deense burger wat 46 jaar oud is. Hy is op 25 Mei 2017 in Oriol gearresteer toe swaar gewapende polisiebeamptes en agente van die Federale Veiligheidsdiens die vreedsame weeklikse godsdiensvergadering van Jehovah se Getuies, wat hy bygewoon het, onderbreek het. Ná ’n verhoor van amper ’n jaar lank en nadat mnr. Christensen meer as 50 keer in die hof verskyn het, is hy tot ses jaar tronkstraf gevonnis net omdat hy sy geloof as een van Jehovah se Getuies beoefen het. Op 6 Februarie 2019 het regter Aleksei Roednef in die Zjeleznodorozjni-streekhof van Oriol die beslissing gelewer teen mnr. Christensen op die valse aanklag dat hy ‘die bedrywigheid van ’n ekstremistiese organisasie gereël het’ onder Artikel 282.2(1) van die RFCC. Op 23 Mei 2019 het ’n paneel van drie regters van die Oriol-streekhof mnr. Christensen se appèl verwerp. Hulle het by die beslissing van ses jaar tronkstraf gebly wat hy vroeër gekry het.

Sergei Klimof is op 3 Junie 2018 gearresteer nadat die polisie en spesiale polisiemagte twee huise van Jehovah se Getuies deursoek het. Sowat 30 Getuies, insluitende ’n 83-jarige vrou, is ingeneem om ondervra te word. Almal behalwe mnr. Klimof is vrygelaat. Die plaaslike owerheid het kriminele klagte teen hom gelê, en hy is twee maande in aanhouding gesit voor sy verhoor. Hierdie aanhouding is sewe keer verleng. So hy was ’n jaar en vyf maande weg van sy vrou en familie voordat hy uiteindelik verhoor en gevonnis is. Op 5 November 2019 het die Oktjabrski-distrikshof in Tomsk mnr. Klimof tot ses jaar tronkstraf gevonnis omdat hy blykbaar ‘ekstremistiese bedrywigheid gereël het’. Mnr. Klimof sal in Julie 2023 vrygelaat word.

Konstantin Bazjenof, Aleksei Boedentjoek, Feliks Machammadijef, Roman Gridasof, Gennadi German en Aleksei Miretski is krimineel aangekla nadat die Russiese owerheid op 12 Junie 2018 sewe huise van Getuies in Saratof deursoek het. Op daardie dag het die polisie deure van woonstelle afgebreek, persoonlike besittings afgevat en in party gevalle verbode godsdienspublikasies van Jehovah se Getuies weggesteek in Getuies se huise. Hulle het meer as tien Getuies gearresteer en hulle tot amper middernag ondervra. Drie van die mans is in hegtenis geneem en is amper ’n jaar lank aangehou totdat hulle verhoor is.

Op 19 September 2019 het regter Dmitri Larin van die Leninski-distrikshof in Saratof die ses mans tot lang tronkstrawwe gevonnis net omdat hulle blykbaar ‘ekstremistiese bedrywigheid gereël het’. Twee van die mans is tot drie jaar en ses maande tronkstraf gevonnis, een is tot drie jaar gevonnis en die drie ander is tot twee jaar gevonnis. Volgens die uitspraak sal die broers, nadat hulle hulle tronkstraf uitgedien het, ook nie toegelaat word om vir vyf jaar leierskap posisies in publieke organisasies te hê nie. Hierdie mans is ook wreed mishandel in die tronk. Op 6 Februarie 2020 het tronkbewaarders van Strafkolonie Nr. 1 in Rusland Aleksei Boedentjoek, Gennadi German, Roman Gridasof, Feliks Machammadijef en Aleksei Miretski wreed geslaan met knuppels. Mnr. Machammadijef is so erg geslaan dat hy hospitaal toe gestuur moes word nadat sy rib gebreek is en sy long en nier beskadig is.

Baie huise in Julie 2020 deursoek

Op 12 Julie 2020 het FSB-offisiere ten minste drie huise van Getuies in Prokopiefsk, Kemerowo-streek, deursoek. ’n Hele paar Getuies is na die hoofkantoor van die FSB geneem om ondervra te word en is toe daarna vrygelaat. Maar Andrei Wlasof, ’n gestremde Getuie wat met ’n kierie loop, is twee dae lank aangehou. Die owerheid het ’n kriminele saak teen hom gemaak, en hy is op 14 Julie tot huisarres vir twee maande gevonnis.

Op 13 Julie is meer as 100 huise van Getuies in verskillende dorpe in die Woronezj-streek en in die stad Stari Oskol, Belgorod-streek, deursoek. Kriminele sake is gemaak en tien Getuie-mans is tot aanhouding voor hulle verhoor tot 3 September gevonnis. Ten minste twee Getuies is wreed geslaan deur offisiere van die Spesiale Vinnige Reaksie-eenheid wat met geweld die huis van Alexander Bokof ingestorm het. Mnr. Bokof was in die maag met die vuis geslaan, op die kop geslaan, en toe geforseer om op sy hurke te sit terwyl die offisiere hom ondervra het. Dmitri Katirof was ook tot op die grond gestoot, geslaan en geskop totdat hy van die pyn geskree het.

Verdere pogings om ’n einde te maak aan die onregverdige opsluiting

Prokureurs vir Getuies wat in die tronk is, het klagtes by die VN se Menseregtekomitee en die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting (WGAD) ingedien. Hulle het ook 57 aansoeke by die Europese Hof van Menseregte ingegee. Tot dusver het hulle dit nie reggekry om ’n einde te maak aan die onregverdige opsluiting nie.

Party internasionale howe het Rusland openlik veroordeel vir sy behandeling van Jehovah se Getuies. Byvoorbeeld, in ’n beslissing wat op 26 April 2019 deur die WGAD gegee is, het hulle Rusland se stelselmatige vervolging van Jehovah se Getuies veroordeel. Die saak het te doen gehad met mnr. Dmitri Michailof van die stad Sjoeja. Die WGAD het tot die gevolgtrekking gekom dat mnr. Michailof se arrestasie en aanhouding voor sy verhoor as gevolg van godsdiensdiskriminasie was. Hulle het erken dat sy saak “net een van al hoe meer Jehovah se Getuies in Rusland is wat gearresteer, aangehou en aangekla is van kriminele bedrywighede net omdat hulle hulle godsdiensvryheid uitgeoefen het”.

Op 12 Maart 2020 het die Permanente Raad van die OSCE en die Europese Unie ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin hulle die Russiese regering veroordeel vir hulle behandeling van Jehovah se Getuies: “Die Europese Unie is baie bekommerd oor die situasie van Jehovah se Getuies in Rusland wat stelselmatig vervolg word . . . Ons is baie bekommerd oor spesifieke onlangse berigte van marteling en ander slegte behandeling van verskillende lede van Jehovah se Getuies wat in aanhouding is.” Die verklaring sê verder: “Marteling skend internasionale wetgewing oor menseregte, veral die VN se Konvensie teen Marteling en Ander Wrede, Onmenslike of Vernederende Behandeling of Straf, die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte en die Europese Konvensie oor Menseregte, wat die Russiese Federasie ingestem het om te gehoorsaam.”

Tydlyn

  1. 20 Julie 2020

    Altesaam 42 Getuies in die tronk.

  2. 13 Julie 2020

    Ten minste 100 Getuie-huise is in die Woronezj- en Belgorod-streke deursoek.

  3. 9 Junie 2020

    Pskof-stadshof bevind 61-jarige Gennadi Sjpakofski skuldig en vonnis hom tot ses en ’n half jaar tronkstraf.

  4. 6 Februarie 2020

    Vyf van die ses Getuies wat op 19 September 2019 skuldig bevind is, is oorgeplaas na Strafkolonie Nr. 1 in Orenburg. Toe hulle daar aankom, het die tronkbewaarders hulle wreed geslaan – hulle herhaaldelik geskop en hulle met knuppels geslaan. Mnr. Machammadijef het ’n gebreekte rib gehad, sy long het platgeval en hy het nierskade gehad.

  5. 19 September 2019

    Regter Dmitri Larin van die Leninski-distrikshof in Saratof vonnis ses Getuie-mans tot tronkstraf – Konstantin Bazjenof, Aleksei Boedentjoek, Feliks Machammadijef, Roman Gridasof, Gennadi German en Aleksei Miretski – omdat hulle blykbaar ‘ekstremistiese bedrywigheid gereël het’.

  6. 23 Mei 2019

    Oriol-streekhof verwerp Dennis Christensen se appèl en bly by ses jaar tronkstraf.

  7. 26 April 2019

    VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting beslis dat die regte van Dmitri Michailof geskend is en veroordeel Rusland se vervolging van Jehovah se Getuies.

  8. 6 Februarie 2019

    Die Zjeleznodorozjni-streekhof bevind Dennis Christensen skuldig en vonnis hom tot ses jaar tronkstraf.

  9. 9 Oktober 2018

    Polisie en spesiale weermag deursoek huise in Kirof. ’n Aantal getuie-mans, insluitende Andrzej Oniszczuk, wat ’n burger van Pole is, is gearresteer en in aanhouding gesit totdat hulle verhoor word.

  10. 15 Julie 2018

    Polisie deursoek die huise van verskillende Getuies in Penza. Wladimir Aloesjkin word gearresteer en in aanhouding gesit totdat hy verhoor word.

  11. 4 Julie 2018

    Polisie deursoek huise in Omsk. Sergei en Anastasija Poljakof word gearresteer en is in aanhouding gesit totdat hulle verhoor word. Mev. Poljakowa is die eerste Getuie-vrou wat in die Russiese Federasie gearresteer is op aanklagte van ekstremisme.

  12. 12 Junie 2018

    Die polisie deursoek huise in Saratof. Konstantin Bazjenof, Aleksei Boedentjoek en Feliks Machammadijef word gearresteer en in aanhouding gesit totdat hulle verhoor word. Drie ander Getuies, Gennadi German, Roman Gridasof en Aleksei Miretski, word beveel om ’n ooreenkoms te teken om nie die stad te verlaat nie.

  13. 3 Junie 2018

    Die polisie deursoek huise in Tomsk en Pskof. Sergei Klimof word gearresteer en in aanhouding gesit totdat hy verhoor word.

  14. 19 Februarie 2018

    Kriminele verhoor van Dennis Christensen begin in Zjeleznodorozjni-streekhof met Aleksei Roednef as regter.

  15. 20 Julie 2017 – November 2018

    Dennis Christensen se aanhouding voor sy verhoor word ’n paar keer verleng: eers deur die Sowjet-streekhof en dan deur die Zjeleznodorozjni-streekhof.

  16. 26 Mei 2017

    Die Sowjet-streekhof in Oriol vonnis Dennis Christensen om twee maande in aanhouding te bly totdat sy saak verhoor word.

  17. 25 Mei 2017

    Polisie ontwrig ’n godsdiensvergadering in Oriol, en Dennis Christensen word gearresteer.

  18. 20 April 2017

    Die Hooggeregshof van die Russiese Federasie beslis dat die nasionale kantoor van Jehovah se Getuies en 395 Plaaslike Godsdiensorganisasies gelikwideer moet word.

^ par. 5 Besoek jw.org vir meer inligting oor ander Getuies wat vervolg word vir hulle geloof in Rusland.