Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

29 JUNIE 2015
ISRAEL

Israel se Hooggeregshof handhaaf Getuies se reg om vreedsaam te vergader

Israel se Hooggeregshof handhaaf Getuies se reg om vreedsaam te vergader

Israel se Hooggeregshof en die plaaslike polisie het godsdiensvryheid gehandhaaf deur Jehovah se Getuies se reg om vir aanbidding te vergader, te beskerm. In ’n onlangse beslissing het die Hooggeregshof die stad Ra’anana verplig om sy kontrak na te kom om die stad se Metro West-sportsentrum vir twee godsdiensbyeenkomste aan Jehovah se Getuies te verhuur. Weens druk van party ander godsdiensgroepe het die munisipaliteit die kontrak slegs 36 uur voordat die eerste byeenkomste sou begin, gekanselleer.

Howe veroordeel die munisipaliteit se diskriminerende kansellasie

Jehovah se Getuies het ’n kontrak met die stad Ra’anana geteken om op 18 April en 2 Mei 2015 byeenkomste te hou. Hulle het begin vermoed dat die byeenkomste dalk gekanselleer sal word toe die stad se hoofbestuurder op 15 April gesê het dat sy bekommerd is oor die veiligheid by die geleentheid van 18 April. Ten spyte daarvan dat die plaaslike polisiehoof die stad Ra’anana verseker het dat die polisie vir veiligheid sou sorg, het die stad die kontrak die volgende dag gekanselleer. Die nuusmedia het berig dat die stad ingegee het vir druk van godsdienstige raadslede wat gedreig het om hulle politieke ondersteuning te onttrek as die stad die Getuies toelaat om hulle byeenkomste te hou.

Hoewel die Getuies onmiddellik by die Lod-distrikshof aansoek gedoen het vir ’n interdik om die stad te dwing om die kontrak na te kom, was daar nie genoeg tyd om die kansellasie van die byeenkoms op 18 April te verhoed nie. Hoewel die Getuies dit reggekry het om ’n ander plek vir hulle geleentheid te huur, moes hulle ses keer meer betaal as wat hulle vir die stad se sportsentrum sou betaal het.

Op 29 April het die Lod-distrikshof ’n interdik uitgereik wat vereis het dat die stad sy kontrak nakom. Dit het beslis dat “die munisipaliteit [van Ra’anana] die grondwetlike regte van [Jehovah se Getuies] op vryheid van godsdiens en godsdiensbeoefening, vryheid van assosiasie en vergadering, die reg op waardigheid en vryheid en die reg op gelykheid geskend het”. Die stad het onmiddellik appèl teen die interdik aangeteken. Die Hooggeregshof het dit op 1 Mei verwerp. ’n Ander appèl is ook verwerp, en die distrikshof se beslissing bly geldig.

Die polisie beskerm die Getuies

Die tydige beslissing deur die Hooggeregshof het Jehovah se Getuies in staat gestel om hulle byeenkoms op 2 Mei te hou. Plaaslike godsdiensleiers, insluitende die stad se hoofrabbi en lede van ’n fanatiese ortodokse organisasie wat bekend is vir sy aggressiewe taktieke, het op die beslissing gereageer met ’n sessie vir “gesamentlike gebed” wat na raming 1 500 mense gelok het. Hulle het voor die sportsentrum bymekaargekom toe 600 Getuies gekom het om die byeenkoms by te woon. Die “gesamentlike gebed” het gou in massaprotes verander. Party van die mense het die Getuies aangeval—insluitende vroue en kinders. Hulle het hulle beledig, op hulle gespoeg, hulle bespot, aanstootlike gebare gemaak en privaat voertuie beskadig. Die polisie het gou ingegryp om die Getuies te beskerm. Die polisie se optrede het die Getuies in staat gestel om hulle godsdiensbyeenkoms te hou en aan die einde van die dag veilig terug te keer huis toe.

Jehovah se Getuies in Israel is dankbaar dat owerhede in Israel ’n standpunt ingeneem het teen godsdiensonverdraagsaamheid en diskriminasie deur hulle reg te verdedig om vreedsaam vir aanbidding te vergader.