Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

’n Onlangse foto van party van die slagoffers in die Gabunia-saak

24 OKTOBER 2017
GEORGIË

Die Europese Hof van Menseregte aanvaar Georgië se erkenning van skuld

Die Europese Hof van Menseregte aanvaar Georgië se erkenning van skuld

Op 12 Oktober 2017 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) hulle beslissing bekendgemaak waarin hulle die Republiek van Georgië se erkenning van skuld aanvaar. Georgië het erken dat hulle die regte van tien Getuies van Jehovah geskend het. In die saak Gabunia and others v. Georgia het die regering ooreengekom dat hulle EUR 800 (R13 378) aan elke slagoffer sal betaal. Dit is ’n vergoeding vir die skending van hulle reg op vryheid van godsdiens en vryheid van diskriminasie, wat beskerm word deur Artikels 9 en 14 van die Europese Konvensie oor Menseregte (Konvensie).

In September 2005 het tien Getuies ’n aansoek by die EHMR ingedien in verband met vier aanvalle deur groepe Ortodokse ekstremiste. Al vier hierdie aanvalle was deel van ’n kampanje van godsdiensvervolging teen Jehovah se Getuies in Georgië wat deur die staat ondersteun was. Hierdie vervolging het plaasgevind tussen Oktober 1999 en November 2003. Beamptes wat die wet moes toepas, was medepligtig aan hierdie aanvalle omdat hulle of aan die geweld deelgeneem het of geweier het om die slagoffers te beskerm.

Die EHMR het Georgië, selfs voor die saak van Gabunia, drie keer skerp veroordeel. In hierdie beslissings het die EHMR die regering veroordeel omdat die regering nie die Getuies se regte beskerm het teen die geweld wat hulle gedurende daardie tyd ondervind het nie. Die EHMR het bevind “dat die gemeenskap kon dink dat die kriminele met die staat saamwerk” omdat beamptes wat die wet moes toepas, niks gedoen het nie. Dit het verder bevind dat “die owerheid van Georgië die indruk geskep het dat sulke optrede nie gestraf sal word nie. En dit het verdere aanvalle teen Jehovah se Getuies regoor die land tot gevolg gehad”. Die EHMR het ook bevind dat “die regstelsel die geweld teen die aansoekers toegelaat het” en dat die howe in Georgië “partydig” was en die sake van slagoffers “nie goed” ondersoek het nie.

Georgië het ’n eensydige verklaring ingedien “waarin daar met spyt erken word” dat slagoffers se regte onder die Konvensie geskend is. Hiermee het hulle ’n vierde beslissing teen hulle vermy wat waarskynlik met die vorige drie veroordelings sou ooreenstem. Vandag is Jehovah se Getuies in Georgië nie meer slagoffers van oproerige groepe en godsdiensvervolging wat deur die staat ondersteun word nie. Hulle geniet nou vryheid van godsdiens.